16 Desember 2001

Derde Sondag van Advent

LITURGIESE VOORSTEL

Fokusteks: Matteus 11:2-11.

Ander tekste: Jesaja 35:1-10; Psalm 146:5-10; Jakobus 5:7-10.

INLEIDING

Die derde Sondag van Advent staan bekend as Gaudete ("Verbly julle", vgl Fil 4:4). Doen moeite om aan hierdie

vreugdetema reg te laat geskied nie net met die liedere wat gesing word nie, maar ook met dít wat gesê word en

veral met jou lyftaal. Die gemeente moenie beveel word om bly te wees nie, maar opnuut hulle vreugde in die Here

ontdek deur wat in die diens gebeur.

In aansluiting hierby word die skuldbelydenis en genadeverkondiging dan ook vandag op die kinders gemik.

Versoeningsdag val ook in 2001 saam met Gaudete. Daarom is die liturgie van vandag n unieke geleentheid om

iets te maak van God se versoening van Homself met die mens, en mense se versoening met mekaar. Onthou dat

die diepte van die mens se ellende alleen bely kan word vanuit die tot vreugde en vryheid roepende genade. Ons

hoef dus geensins weens die vreugdetema die skuldbelydenis weg te laat nie.

GOD VERGADER ONS VOOR HOM

n Kind kom weer saam met n kerkraadslid in en steek die derde Adventskers aan waarna die kerkraadslid sê:

"Sedert die dae van Johannes die Doper tot nou toe breek die koninkryk van die hemel vir homself n pad oop, en

mense wat hulle kragtig inspan, kry dit in besit" (Matt 11:12).

Votum

Laat die gemeente hulle Bybels oopmaak by Psalm 146 sodat hulle responsories kan deelneem aan die votum.

Liturg: Ek wil die Here prys.

Gemeente: Ek wil die Here prys so lank ek lewe,

ek wil die lof van my God besing

so lank ek daar is.

Moenie op magtiges vertrou nie,

nie op n mens nie;

hy kan jou nie red nie.

Sy asem verlaat hom,

hy word weer grond

en sy planne is daarmee heen.

Dit gaan goed met die mens

Wat sy hulp van die God van Jakob ontvang,

die mens wie se hoop gevestig is

op die Here, sy God.

Seëngroet

Liewe gemeente, wees sterk, moenie bang wees nie, julle God is hier, Hy kom om wraak te neem, om julle vyande

te straf; God kom julle red! (nav Jes 35:4).

Of:

Genade en vrede van God die Vader wat sy Seun na die wêreld gestuur het,

genade en vrede van die Seun, Immanuel, wat in Betlehem gebore is, en

genade en vrede van die Heilige Gees wat nou hier in ons midde is. Amen.

Antwoord op groet

Gemeente sing Psalm 146:1, 3, 8/NSG 113.

DIENS VAN DIE WOORD

Epiklese

Here, U wag op ons

totdat ons oopgaan voor U.

Ons wag op u Woord

wat ons ontvanklik maak.

Stem ons af op u Woord,

op u stilte.

Amen.

Skriflesing

Matteus 11:2-11 (laat n kind die gedeelte lees).

Sang

Gesang 305:1/NSG 337.

Jesaja 35:1-10.

Kindertyd

Prediking

Voorbidding

(In die voorbidding kan aangesluit word by die tema van Versoeningsdag.)

DIENS VAN DIE TAFEL

Geloofsbelydenis

Gereedmaak van die tafel

Nagmaalepiklese en berig

Ons Vader wat in die hemel is,

vervul met u heerlikheid

hierdie lofoffer van ons.

Seën, vervolmaak en aanvaar

hierdie offer as beeld

van die een en enigste offer van ons Heer, Jesus Christus.

Stuur u Heilige Gees na ons en ons nagmaal:

Laat u Skeppergees die woorde van u geliefde Seun vervul:

wat in die nag toe Hy oorgelewer is, brood geneem het,

en nadat Hy God daarvoor gedank het, het Hy dit gebreek en gesê:

"Dit is my liggaam; dit is vir julle. Gebruik dit tot my gedagtenis."

Net so het Hy ook ná die maaltyd die beker geneem en gesê:

"Hierdie beker is die nuwe verbond, wat deur my bloed beseël is.

Gebruik dit, elke keer as julle daaruit drink, tot my gedagtenis."

Elke keer as julle van hierdie brood eet en van hierdie wyn drink,

verkondig julle die dood van die Here totdat Hy kom.

Instelling

Uitdeling

Kommunie

Offergawes

UITSENDING

Sy wil

Jakobus 5:7-11.

Verootmoediging

Liturg: Here, dit is oor u koms na die wêreld as n Babaseun dat ons vanoggend bly is. Ons vreugde vind

ons ook vandag in die dood en opstanding van die Christuskind. Here, ons wil jubel omdat ons

saam met Jesus ons Here oorwinnaars is, en omdat u wederkoms naby is.

Maar Here dit is ook juis in hierdie dade wat vir ons vreugde bring dat ons sien hoe ver ons te kort

skiet. U liefdesdade wys ons vanoggend dat ons swak volharders is en dat ons maar ongeduldig

is.

Daarom wil ons vanoggend ook bely dat ons ten spyte van u liefde, nie genoeg sorg vir ons kinders

in Suid-Afrika nie. Ons erken en bely dat ons baie ongeregtigheid teenoor kinders oorsien. Ons

bely dat ons n aandeel het aan die bestaan van straatkinders. Ons erken dat ons in ons besige

lewe as ouers nie altyd genoeg tyd afstaan aan ons kinders nie. Ons bely dat ons nie altyd goeie

rolmodelle is nie. Ons vra U om vergifnis dat soveel kinders die teikens van geweld en misbruik is.

Hoor ons gebed en vergewe ons, o God. Amen.

Gemeente: (Sing Gesang 9:2/NSG 61.)

Vryspraak

Liturg: Jakobus sê in die gedeelte wat ons gelees het dat die Regter al voor die deur staan. Dit is n Regter

wat kom om te oordeel. Maar vir elkeen wat die Seun Jesus Christus aangeneem het, elkeen wat

in Hom glo, verkondig die Woord van God die vergifnis van sonde.

Gemeente: (Sing Gesang 89:1, 2/NSG 88.)

(n Simboolhandeling tussen n kind en n volwasse persoon kan hier gebruik word. Vgl die voorbeelde by die

vryspraak van verlede week.)

Slotsang

Gesang 91:1, 2, 4/NSG 77.

Seën

"Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees sal by

julle almal wees." Amen.

Tema

Jesus laat sy koninkryk op sy manier kom. Ons kan aanstoot neem, of Hom vertrou en gelukkig wees.

Teks

Neem n mens die sleutelfrase "en toe Jesus klaar was" in Matteus 7:28, 11:1, 13:53, 19:1 en 26:1 as merkers, vorm

ons perikoop die inleiding tot die derde verhalende gedeelte (ná die tweede van Jesus se vyf groot toesprake).

Indien n mens die gelykluidende frase in Matteus 4:17 en 16:21, naamlik "van toe af het Jesus begin om te", as

merkers neem, val die indeling van hierdie Evangelie ietwat anders uit. Kingsbury (1988:72-75; 1989:x-xi) dui aan

dat die storiekarakter van die Evangelie op laasgenoemde manier beter na vore kom. Die Evangelie het dan, soos

enige storie, n begin, n middel en n einde. In die verhaal wat dié Evangelie van Jesus se lewe vertel, kom veral

die konflik tussen Jesus en Israel as sentrale tema na vore. Israel word geskets as bestaande uit die godsdienstige

leiers en die skares.

PREEKSTUDIE - MATTEUS 11:2-11

1. Aan die begin van die vertelling (1:1-4:16) word Jesus deur Matteus, die verteller, aan die leser voorgestel.

2. In die middelste gedeelte (4:17-16:20) vertel Matteus ons van Jesus se bediening aan Israel.

2.1 Die eerste helfte van Jesus se bediening (4:17-11:1) word opgesom in die gelykluidende Matteus 4:23 en

9:35 as sleuteltekste. Sy bediening bestaan hoofsaaklik daaruit dat Hy leer, preek/verkondig en gesond

maak. Die eerste twee van hierdie drie sake word weer in 11:1 beklemtoon.

2.2 Die tweede helfte van Jesus se bediening aan Israel verhaal Israel se verwerping van Jesus as respons

op sy bediening (11:2-16:20). In hierdie tweede gedeelte van die middelste gedeelte is Matteus 11:2-6 en

13:53-58 sleuteltekste. In albei perikope kom daar n vraag na Jesus se identiteit voor, en die feit dat daar

aan Hom aanstoot geneem word, is prominent. Dit dui op die aard van Israel se respons op Jesus se

bediening. Die twee deurlopende temas in dié gedeelte is: om aanstoot aan Jesus te neem (skandalizo

11:6; 13:57), en om oor sy identiteit te twyfel (11:2; 13:55).

3. Aan die einde van sy verhaal vertel Matteus van Jesus se reis na Jerusalem, sy lyding, dood en opstanding

(16:21-28:20).

Plaas n mens 11:2-16:20 (2.2 hier bo) verder onder die vergrootglas, is Jesus se verwerping duidelik: Johannes is

n askeet en Jesus n vraat en n wynsuiper (11:16-19); stede waarin kragtige dade plaasvind, weier om hulle te

bekeer (11:20-24); godsdienstige leiers bots met Hom oor sabbatsonderhouding (12:1-8) en genesing op die sabbat

(12:9-14). Bewus van die gevaar waarin Hy verkeer, onttrek Hy Hom tydelik (12:15). Ná nog n genesing (12:22-23)

vererger die konflik in so n mate dat n teken van Jesus gevra word (12:38), en ten slotte verlaat selfs sy familie

Hom (12:46). Verwerp deur al die sektore van Israel verklaar Hy dat die hart van die volk verhard het (13:15) en Hy

demonstreer dit deur in gelykenisse (parabole, raaisels) te praat wat hulle nie verstaan nie (13:2-3, 10-13).

Daarenteen is die dissipels gelukkig/geseënd en word hulle in die verborgenhede van die koninkryk onderrig (13:11,

36 en 51).

Nou verweef met bogenoemde motief van verwerping is egter ook die verwondering en spekulasie oor Jesus se

identiteit: dit begin met die vraag van Johannes in ons perikoop; die menigte wonder ook (12:23); die inwoners van

Nasaret vra ook na sy identiteit en neem terselfdertyd aanstoot (13:55); selfs Herodes Antipas spekuleer (14:1- 2).

In 16:13 en volgende verse word hierdie saak tot n spits gedryf wanneer Jesus self vra wie die mense dink Hy is,

en wie die dissipels dink Hy is. Die dissipels se halwe begrip (teenoor die volk se onbegrip) kom na vore in die feit

dat hulle verbied word om te praat oor wie Hy is (16:20). Hulle moet nog eers herhaaldelik geleer word dat Hy moet

ly, doodgemaak moet word en op die derde dag moet opstaan (16:21; 17:22; 20:17) voordat húlle dissipels kan

maak (28:19; vgl met 10:1 se voorlopige uitsending waar die opdrag nie lering insluit nie).

n Eerste eksegetiese keuse wentel rondom die verstaan van ta erga tou Christou in vers 2. Is dit "suitably vague"

om na sowel Jesus se woorde as sy dade te verwys (vgl Gundry 1982:261: "what he was doing" en NAV: "wat Christus

alles gedoen het"), of moet dit verstaan word as "Jesus deeds without taking into account his words"? (vgl Patte

1987:157 en OAV: "gehoor van die werke van Christus"). In hierdie studie word daarvan uitgegaan dat ta erga tou

Christou net na sy optrede verwys en nie ook sy woorde insluit nie: erga ontbreek in die parallelle gedeelte in Lukas

(wat nader aan Q is); 11:1 verwys na Jesus se optrede net by wyse van spraak; Matteus verander die volgorde van

Jesus se antwoord in Lukas (Q) van "gesien en gehoor het" na "wat julle hoor en sien"; elders in Matteus verwys

erga net na dade (23:3). Johannes het gehoor van Jesus se dade, maar dit is nie genoeg om hom te oortuig nie.

Indien hy Jesus se optrede binne konteks van sy verkondiging (11:1) sal plaas, sal sy twyfel en aanstoot verwyder

word. "When one takes into account both Jesus deeds his miracles, the healings of the blind, the lame, lepers,

the deaf and the raising of the dead (11:5a) and Jesus words the poor have good news preached to them

(11:5b) then one is not scandalized by Jesus and does not reject him and his authority" (Patte 1987:159, sy

kursivering).

Bydraend tot sy twyfel is die feit dat die Komende vir Johannes nie die messiaanse Heilbrenger is nie, maar die

Regter wat met vuur doop, wat sy skop in die hand het en die dorsvloer sal skoonmaak, die koring sal versamel en

die kaf met n onblusbare vuur sal brand (3:12).

Inhoudelik verwys Jesus se antwoord na Jesaja 29:18-19, 35:5-6 en 61:1-2 wat hoofstukke 8 en 9 se wonderdade

voor die gees roep, maar wat nie los van wat hulle hoor (hfst 5 en 7) geïnterpreteer moet word nie.

Matteus kan nouliks die volgorde verontagsaam waarvolgens die dinge wat gesien word (die genesing van blindes,

lammes, melaatses en dowes en die opwekking van dooies) die dinge wat gehoor word (die evangelie aan die

armes) voorafgaan. Lukas het n kai tussen die reiniging van melaatses en die dowes wat hoor. Matteus behou die

kai en voeg nog n kai in tussen blindes wat sig ontvang en lammes wat loop. So verkry Matteus twee parallelle

pare. Hy voeg kai nog twee keer in voor die opwekking van die dooies en die verkondiging van die goeie nuus aan

die armes. Dus:

Gaan vertel wat julle hoor

en sien

Blindes sien weer en lammes loop;

Melaatses word gereinig en dowes hoor

en dooies word opgewek

en aan armes word die evangelie verkondig

Op hierdie manier val die klem op "hoor" en "aan armes word " n feit wat deur latere oorskrywers nie begryp is

nie en gevolglik het hulle die bedoelde slotwoorde vroeër in die sin geplaas (sien die tekskritiese apparaat).

Die beslissende punt is dat Jesus nie soseer na sy wonders wys as antwoord op Johannes die Doper se vraag nie.

Eerder is dit dat Hy in sy selfgetuienis die Ou-Testamentiese heilsprofesieë in vervulling sien gaan. Jesus antwoord

dus bevestigend op Johannes se vraag. "Hy is die Een wat sou kom. Die bevestiging geskied egter op n verborge of

indirekte manier. Hy roep deur sy selfgetuienis Johannes op tot (nuwe) geloof en vertroue Hy beroep Hom op die

Skrifte en maak dit op Hom van toepassing. So plaas Hy Johannes (saam met alle hoorders en toekomstige hoorders

en lesers) stééds in die posisie van die geloofsbeslissing. Daar is geen ander antwoord op twyfel nie, geen omweg nie,

geen bewys, argumente of verifikasie wat die verantwoordelikheid van die geloof verminder nie. Die getuienis sowel

die selfgetuienis van Jesus as die oog- en oorgetuienis van die dissipels roep op tot hoor en glo. Terselfdertyd bied

die antwoord n korreksie van Johannes se aanvanklike verwagtings van die Een wat sou kom" (Smit 1983:84).

Johannes die Doper kry n antwoord wat vir hom dubbel skokkend is. Nie net legitimeer Jesus Homself net met

tekens van heil teenoor die verwagte oordeel van Johannes nie, daar ontbreek boonop n teken van heil wat op

Johannes persoonlik van toepassing sou wees die bevryding van gevangenes (Jes 61:1). In plaas daarvan staan

die verkondiging van die goeie nuus aan die armes.

Waaraan moet nie aanstoot geneem word nie? Die feit dat Hy nie aan die populêre messiasverwagtinge voldoen

nie; sy onasketiese optrede? "Perhaps his wording was deliberately general to allow for all kinds of offense taking"

(Gundry 1982:207).

Gundry (1982:208-209) spekuleer oor die mikroteros en meizon van vers 11. Hy wys enige dispensasionele

beperkings van die hand. Hy bring vers 11 met 18:4 en 23:11 in verband en kom tot die gevolgtrekking: "That the

least in the kingdom of heaven is greater than the greatest ie, than John is more a challenge than a statement

of fact, than, a challenge to humble Christian service that exposes the disciples to persecution."

Die oop einde is opvallend. Johannes se reaksie word nie gemeld nie. Aan die einde van vers 11 is die hoorder óf

gelukkig óf neem aanstoot.

Konteks

Enkele opmerkings en uittreksels uit preke en meditasies:

"Dit is dan ook nie vreemd dat van die Christelike kerke juis hierdie perikoop uitgekies het as amptelike preekteks

vir die derde Sondag van Advent nie. Dit is asof die kerk in die feestyd homself as t ware tot stilstand wil bring om

eers eerlik en ernstig te vra of die boodskap aangaande die Een wat sou kom wel waar is, in die lig van sovele

teleurgestelde verwagtings en beproewende omstandighede" (Smit 1983:86).

Oor onvervulde verwagtings

Aan die begin van sy oordenking vertel Veltkamp (1985:34) van die rabbyn aan wie daar vertel is dat die Messias

gekom het en dat hy daarom die sjofar moet gaan blaas. Die rabbyn loop toe na die venster, maak dit oop en staar

na buite. Hy maak toe die venster toe en sê: "Nee, Hy het nog nie gekom nie, alles daar buite lyk nog dieselfde."

Theron in n preek tydens n TV-diens met Geloftefees 16 Desember 1983: "Vandag, soos elke Sondag, vier die

Christendom dwarsdeur die wêreld die opstanding van Jesus uit die dood. Terselfdertyd herdenk ons vandag, soos

elke jaar op die l6de Desember, een van die grootste veldslae wat ooit op Suid-Afrikaanse bodem plaasgevind het,

naamlik die slag van Bloedrivier op 16 Desember 1838.

"Net soos vandag, was 16 Desember 1838 ook n Sondag. Wat n skreiende teenstrydigheid, wat n pynlike

paradoks: oorlog op die opstandingsmôre. Verskrikking, bloed, dood, terwyl die kerk die oorwinning oor die dood

vier. Dit wil n mens mos byna ook laat wonder: Is U die Een wat sou kom?" (Theron 1989:81).

"Juis in so n tyd (Advent) van veronderstelde gesinsvreugde, oorvloed, liefde, vrede, word n mens as t ware

meer as gewoonlik ontstel deur ongelukkige huise, die broodgebrek van miljoene, die vooroordele en agterdog,

die haat en onvrede wat skynbaar in die wêreld heers. In so n tyd vra die kerk daarom elke keer weer: Het die

Kersevangelie die verskil gebring waarop ons gehoop het? Of het ons ons dalk misgis?" (Smit 1983:87-8).

"Waarom het Johannes begin twyfel? Die verklaring is nie moeilik nie. Johannes sit in die tronk, en hy bly daar sit.

Hy het stellig verwag dat Jesus tot sy redding sou kom. Jesus het immers gekom as die hersteller van wat reg is.

Hy sal tog sonder twyfel sy eie voorloper uit die kloue van onreg bevry.

"Maar daar gebeur niks. Jesus gaan rustig voort met sy dade en lering en het skynbaar heeltemal vergeet van sy

voorloper en vriend daar eenkant in sy donker sel. Waarom tree Jesus nie tussenbeide nie? Hy sou tog maklik kon!

Is Hy dan nie die langverwagte Messias wat Gods koninkryk aarde toe bring nie? Of moet ons n ander een verwag?

"Ons kan die angs agter hierdie vrae verstaan. Ons sit nou wel nie fisiek in n tronk nie, maar ons sit wel dikwels

vasgekerker binne die grou mure van n lewe vol skuld en leed en angs en sorg. Ons worstel met die raaisels van

lewe en dood, ons word magteloos meegesleur in die inflasiespiraal, ons vrees vir ons toekoms in die land van ons

geboorte, ons steier onder die verslawende dwang van sonde en skuld. Deur dit alles heen weet ons darem ook

van Jesus. In die kerk hoor, sê en sing ons ook nogal allerlei mooi en voortreflike dinge in verband met Jesus. As

die Kerstyd nader kom, sing ons graag van Christus as die diepste verlange van elke sterweling. Maar ag, ons

bedoel dit tog so half. Eintlik hoop en verlang ons na ander dinge as na Jesus. As ek tog maar kon weet hoekom

ek my eksamen nie kan slaag nie! As ek tog weer net n keer my rekeninge kan betaal en my bankbestuurder van

my nek af kan kry. As ek tog net weer my verbroude liefdesverhouding kan herstel. So word daar oor Jesus gepreek

as die Een wat kom, die Een wat ons kan verwag. Dit raak ons nie meer nie, want Jesus kom nie soos ons Hom

verwag nie. Hy help ons nie uit die tronk nie. Daar gebeur niks. Alles bly dieselfde, of word net erger. Dit waarop

ons gehoop het, gee God nie. En dan kom die twyfel: Is Hy dan wel die Een wat sou kom? Is dit nie vir ons beter

om na iets of na iemand anders uit te sien nie?

"Gevolglik begin Johannes twyfel. Maar op die bodem van sy gemoed lê tog meer as twyfel. Daar lê aanstoot en

ergernis. Johannes neem aanstoot aan die gewone, ondramatiese, teleurstellende styl van hierdie sogenaamde

verlosser soos Jesus se dorpsgenote aanstoot geneem het omdat Hy tog eintlik maar net uit n timmermansfamilie

kom

"So lê daar ook op die bodem van ons harte ons wat wel van Hom sing as ons diepste verlange, maar wat so min

sien gebeur nie net twyfel nie, maar ook aanstoot en ergernis " (Van Niekerk 1986:52-54).

Oor twyfel

"We moesten met die twijfel maar niet te veel koketteren Want echte twijfel is niet interessant maar vreselijk"

(Veltkamp 1985:34).

Die feit dat dit juis Johannes was wat getwyfel het, beteken "dat geen mens ooit so vas kan staan om nie ook

aangeveg te kan word deur die angs van twyfel nie ... Johannes se twyfel het immers met die skeptiese houding

van n ongelowige mens niks te make nie. Sy twyfel aan Jesus word juis gebore uit sy hoop op God. Indien n mens

onverskillig en ongeërg is, niks van God verwag nie en ook nie gekwel word deur die nood van die wêreld nie, vra

jy nie hierdie soort vraag nie. Dis slegs die mens wat diep in sy hart wil glo aan Gods heil, en sy beloftes nie kan of

wil laat los nie, wat so swaar kry. Dis eers n mens wat van harte begeer dat die Kersevangelie van vrede en

welbehae tog moet waar word in die wêreld, wat iets van hierdie aanvegting ervaar. Eers as n mens vas glo dat dit

tog anders behoort te wees, meer nog, dat juis God dit anders wil hê, sug en verlang hy na verlossing" (Smit

1983:88).

"Lewe as sodanig, u en my lewe, verkeer deur hierdie vraag in n krisis. Gestel Jesus is nie die Lewe nie, is daar

dan nog iets om voor te lewe? Gestel Jesus is nie die Weg nie, waarheen wentel hierdie wêreld? Sou dit dan nog

sin hê om enige historiese gebeure te herdenk? Gestel Jesus is nie die Waarheid nie, dan klink die woorde van

Macbeth na die finale konklusie: Life is a tale told by an idiot, full of sound and fury, signifying nothing" (Theron

1989:83).

Oor Jesus se antwoord

" (het kan ons) niet ontgaan dat zowel in de vraag van Johannes als in het antwoord van Jezus de ergernis van

het kruis doorklinkt. Echte twijfel, voortkomend uit lijden en verdrukking, wordt door Jezus niet afgewezen, maar

volstrekt serieus genomen. Ook al gaat de werking van de tekenen, waar Jezus naar verwijst, aan Johannes

persoonlijk voorbij. In plaats van het voor de gevangenen bevrijding (Is 61:1) hoort hij zalig degenen voor wie Ik

niet een struikelblok word. In dat licht gezien blijken én de vraag van een vertwijfelde Johannes én het antwoord

van Jezus beide heel concreet de ergernis van het kruis in zich te herbergen. Een gedesillusioneerde verwachting

van het koninkrijk krijgt geen goedkope vertroosting (Johannes blijft gevangen!), maar wordt uitgedaagd het niet op

te geven ook als je zelf niet meer het goede zien zult" (Veltkamp 1985:35).

"Eintlik is Jesus se antwoord baie vreemder as Johannes se vraag. Jesus laat weet vir Johannes wat hy reeds weet.

In Matteus 11:1 lees ons dat juis Jesus se dade aanleiding gegee het tot Johannes se vraag. Wat Jesus doen, skep

vir Johannes blykbaar verwarring. Tog sê Jesus sy dissipels moet maar net nog n keer gaan vertel wat hulle sien,

en voeg Hy dan by: "Salig is elkeen wat aan My nie aanstoot neem nie."

"Juis wat Jesus doen, hou die moontlikheid in dat mense aanstoot aan Hom mag neem. Die gevaar bestaan dat

Jesus se styl Johannes nie sal aanstaan nie. Johannes het blykbaar n meer gespierde Messias, n veel forser

Bevryder, verwag. Een wat soos n byl sal kap (Matt 3:10), wat die kaf sal verbrand (Matt 3:12), wat die gespuis sal

opruim.

"Maar nou sit Johannes in die tronk, terwyl Jesus besig is met barmhartigheidsdiens. Hy genees, wek op en

verkondig aan armes die blye boodskap. Dit is die armes van gees, wat bid soos die tollenaar: "O God, wees my,

sondaar, genadig" (Luk 18:13), en ook die armes aan goed, soos die bedelaar wat leef van oorskiet (Luk 16:20 ev).

"Dit is n vreemde vrede wat die Vredevors bring. Dit staan vyandig teenoor sowel die onvrede as die vrede van

hierdie wêreld (Joh 14:27). Hierdie vrede is veel meer as net n pouse in die oorlog. Veel eerder is dit die radikaal

teenoorgestelde van oorlog, naamlik liefde vir die vyand (Matt 5:44)" (Theron 1989:84).

"Dit is n bevestigende, n ja-antwoord. Hy stel Johannes as t ware gerus deur te sê dat Hy wel die Een is wat sou

kom, maar Hy sê dit op n half verborge manier Dit is dus geen oplossing vir Johannes se probleme of verklaring

of bewys nie. Dis ten diepste n uitnodiging tot nuwe geloof, oorgawe en vertroue" (Smit 1983:89).

Weer Smit: "Gaan vertel vir Johannes wat julle sien en hoor. Die heilsbeloftes van die Ou Testament wórd vervul.

Mense in nood kry nuwe lewenskanse. Alles word saamgebundel in (die) sleuteluitdrukking: En aan armes word

die evangelie, die goeie nuus van Gods liefde, verkondig.

"Gaan vertel dit vir Johannes. Dit gebeur tog. Wat meer wil hy hê? Hoekom is hy teleurgesteld en ongeduldig?

Hoekom begin hy te twyfel? Hoekom is dit dan nie langer vir hom goed genoeg nie? Dis tog die evangelieboodskap.

Dis tog die vervulling van God se genadebeloftes. Hoekom is hy dan nie meer daarmee tevrede nie?" (1999:77).

Oor aanstoot neem

"Sê vir Johannes wat julle sien en hoor. En sê vir hom voeg Jesus by salig, gelukkig is die mens wat aan My

nie aanstoot neem nie. Gelukkig is die mense wat hulle nie verset teen hierdie evangelie nie.

"Gelukkig is diegene wat nie ontevrede is omdat God sy liefde op hierdie manier aan mense in nood bewys nie.

Gelukkig is die mense wat nie kwaad word oor en weerstand bied teen hierdie sending van My nie.

"Gelukkig is die mense wat nie wens dat God darem liewer op n ander manier te werk wou gaan nie

"Wanneer Hy hom tot die skare wend, raak Hy ernstig: Hulle moenie neersien op Johannes, omdat hy in die

gevangenis begin twyfel het nie. Hy is nie n onbetroubare, wankelende riet wat heen en weer gewaai word deur

die wind nie. Nee, hy is die grootste profeet wat daar ooit was. Trouens, hy is meer as n profeet: die boodskapper

van God. Hy is die grootste onder alle mense wat op aarde gebore is. Want dit is nie n sonde of n skande dat hy

begin twyfel het nie. Profete twyfel ook.

"Boodskappers van God word ook aangeveg deur diepe vrae. Die kerk kan ook in vertwyfeling verval oor al die

mislukkings en teenslae en gebrek aan sukses. Verlangende gelowiges kan ook begin wonder oor die sinvolheid

van dit alles, oor die waarheid van die evangelie. Twyfel is geen sonde of skande nie. Dit is deel van die brose lewe

van die geloof.

"Gelukkig is hulle oor wie hierdie vrae egter nie die oorhand kry nie. Gelukkig as hulle weer kan onthou wat hulle

gesien en gehoor het. As hulle tog getroos word deur die tekens van Gods genade aan diegene in nood. As hulle

nie aanstoot neem aan die inhoud van die evangelie en aan die manier waarop die Godsryk kom nie (Smit 1999:77-

8).

"Wat Johannes egter nie kan verstaan nie en wat hom aanstoot laat neem, is dat Jesus die voorkeur gee aan die

genesing en die minder opvallende barmhartigheid teenoor gewone mense wat ly. Waarom eers dit? Waarom nie

dadelik die oordeel nie? Johannes praat in die taal van oordeel en suiwering. Jesus antwoord hom in die taal van

barmhartigheid, deernis en sorg. Jesus weet ook van ellende wat roep om hulp en genade. Dit kan Johannes nie

verstaan nie. Waarom uitstel wat onvermydelik is? Waarom tree die Messias nie direk op as koning en regter nie,

maar eers as profeet en priester? Waarom gryp God nie in met die sweepslae van sy Gesalfde nie?

"O Johannes, salig is jy as jy aan hierdie Messias nie aanstoot neem nie! Vir Jesus is sonde nie maar net, soos vir

jou, skuld wat gestraf en vernietig moet word nie. Sonde is vir Jesus n ramp waarby dit beter pas om te huil as om

brand te stig. Hy sien die mense vir wie Hy preek, as blindes, kreupeles, melaatses, dowes en armes. Die Bybel

praat ook van Jesus se toorn oor die sonde, maar die Bybel laat daar geen twyfel oor dat Jesus se ontferming

sterker is as sy toorn nie. Daarom wil Hy nie dat n sondaar sterf nie, maar dat hy hom sal bekeer en lewe. Hy wil

nie oordeel nie, maar red. Daarom genees Hy liewer mense as om hulle te striem. Daarom vergewe Hy liewer as

om te vernietig.

"Daarom, Johannes, kom Hy eers na ons in n ander gestalte die gestalte van die lydende dienskneg. As Johannes

Jesaja 53 nie so gerieflik vergeet het nie, sou dit alles nie vir hom so vreemd gewees het nie. Want in Jesaja 53 is

die Messias nie koning nie, maar priester, nie leeu nie, maar lam: die lam van God wat ons sonde van ons wegdra.

Daarom kom Hy nie om n oordeel oor ons te voltrek nie, maar om in ons plek n oordeel te dra. Daarom preek en

leef Hy genade. Die koninkryk kom, maar dit kom langs die ompad van die kruis. Die verlossing kom, maar nie voor

die versoening eers plaasgevind het nie

"Nou, ons kan aan Hom bly aanstoot neem. Daar het immers nog nie veel gebeur nie. Ons ongeduld oor Jesus se

uitstel van die finale opruiming kan bly groei. Ons kan aan Jesus begin twyfel omdat niks gebeur nie.

"Maar ons moet liewer aan onsself begin twyfel. Ons moet liewer goed begin nadink oor wat die finale opruiming

werklik gaan behels. Ons moet ons eerlik afvra aan watter kant, dié van die kaf óf dié van die koring, ons na regte

behoort te eindig. Want as ons daar eerlik oor wil wees, behoort ons die opruiming nie te begeer nie, maar te

vrees. Dan eers word ons soos die armes wat leef in verwondering dat die evangelie ook aan húlle verkondig word.

Jesus is n ergernis vir alle mense wat sommer net wil toeslaan. Maar Hy is die vreugde van die armes. Die armes

is die mense wat God dank omdat die Messias nie alleen koning is nie, maar ook en eers priester. Want hulle weet

dat dit hul enigste redding is. Dit maak dat selfs ook die armes n deel het in God se koninkryk.

" Ek moet nie van Jesus probeer maak wat my ongeduldige, ergerlike self my van Hom wysmaak nie. Salig is

elkeen wat eerder aan homself aanstoot neem, en daarom nie aan Jesus nie. So n mens ontdek en verstaan dat

hy juis n Verlosser soos Jesus nodig het en alleen so die lewe kan vind. Die keuse is tussen geloof en ergernis.

"Want waarop Johannes hoop, sal óók eendag kom. Dan val die byl, dan kom die suiwering, dan breek Gods ryk

aan. Dan word die Priester Koning en die Redder word Regter. Wee hom wat toe aan die nederige gestalte van die

Priester en die Redder aanstoot geneem het. Gelukkig is wel die arme wat dankbaar is oor Gods geduld en

barmhartigheid waarvan hy mag lewe. Hy is gelukkig omdat niks nog gebeur het nie, of liewer, omdat Kersfees,

Golgota en Paasfees wel gebeur het.

"Wie homself oorgee aan Jesus se priesterlike sorg en leef in die beskermende genade daarvan, is gelukkig. Hy

kan uithou ook in die tronk" (Van Niekerk 1986:55-6).

Aan die einde van sy oordenking vertel Veltkamp (1985:35) van twee rabbis. Hierdie storie staan in kontras met die

rabbi aan die begin van sy oordenking. Waar die eerste hom doodstaar teen alles wat dieselfde bly, kry rabbi

Jehoshua opdrag om op die regte plek te gaan soek: "Rabbi Jehoshua vraagt: Wanneer komt de Messias? Rabbi

Simon antwoordt hem: Ga en vraag het hem zelf! En waar zit hij? Hij zit bij de armen, en bij hen die met ziekte zijn

beladen.

"Johannes deed dat allebei. Hij vroeg het Hem zelf. En hij wist Hem te vinden" (Veltkamp 1985:34-5).

Preekvoorstel

Die lyne wat die teks bied, kan goedskiks gevolg word. Eerstens die vraag van Johannes wat vandag ook die vraag

van die kerk is. Tweedens kan dit gaan oor twyfel versus ongeloof. Hier kan Jesus se antwoord aan die orde kom

met die vermaning aan die einde. Ten slotte moet die vermaning in n uitnodiging oorgaan sodat die oop einde van

die perikoop behou word.

Bibliografie

Gundry, R H 1982. Matthew. A commentary on his literary and theological art. Grand Rapids: Eerdmans. Kingsbury,

J D 1988. Matthew as story. Philadelphia: Fortress. Kingsbury, J D 1989. Matthew. Structure, Christology, kingdom.

Minneapolis: Fortress. Patte, D 1987. The Gospel according to Matthew. A structural commentary on Matthews

faith. Philadelphia: Fortress. Smit, D J 1983. Vierde Advent: Lukas 7:18-23, in Burger, C W, Müller, B A & Smit, D J

(reds). Woord teen die Lig I/1: Riglyne vir Adventsprediking, pp 83-89. Kaapstad: NG Kerk-uitgewers. Smit, D J

1999. Verlange na méér. Wellington: Lux Verbi.BM. Theron, P F 1989. Die aanstoot van die evangelie, in Jonker, W

D en Theron, P F Vreemde bevryding, pp 81-86. Wellington: Lux Verbi.BM. Van Niekerk, A 1986. Om die onsienlike

te sien. Meditasies oor geloof, hoop en liefde. Kaapstad: Tafelberg. Veltkamp, H J 1985. Derde Advent: Matteüs

11:2-11, in Van der Laan, J H, Klijn, A F J & Noort, E (reds). Woord in beweging 1 Advent tot Epifanie 11, pp 28-

35. Kampen: Kok.