1.1. Die breër verband waarbinne die gedeelte staan begin by 11:2 en
eindig by 12:50. Net soos Hoofstukke
8-9 handel oor die tema van Jesus se outoriteit, wat ook prominent funksioneer
in die Bergrede (Matt 5-7), handel Matt 11-12 oor die tema van weerstand en
vervolging van Jesus en sy dissipels, wat sterk na vore kom in Hoofstuk 10 oor
die sending van die dissipels. Die
vergelykende uitsprake oor die verwerping van Johannes en Jesus deur ‘hierdie
geslag’(vv 16-19) beklemtoon die tema.
Dit blyk duidelik dat die
Skrifgeleerdes en Fariseërs die oorsprong is van Jesus en sy dissipels
se probleme (11:25-30). Die Fariseërs
se beskuldiging teenoor die dissipels (12:1-8) en Jesus (12:9-13) vind sy
klimaks in 12:14 in hul plan om Jesus om die lewe te bring. Hierdie verhalende deel eindig op 'n
positiewe versekering met verwysing na die ware lede van Jesus se familie
(12:46-50).
1.2. Hierdie derde deel van die Matteus evangelie word bymekaar gehou
deur die tema van reaksie, of tekort aan reaksie, of die verkondiging die
Koninkryk in Jesus se bediening. Mense
hoor die gesaghebbende woorde van Jesus, sien die wonderwerke wat Hy doen, maar
tog reageer hulle nie, vandaar die oproep 'Wie ore het moet luister' (11:15).
1.3. In die gedeelte word die Messiaanse aansprake van Jesus sterk
beklemtoon. Hiermee saam word die
verwerping van Jesus ook op die spits gedryf.
Dit word wel ingelei deur die vraag van Johannes die Doper oor Jesus se
Messiasskap. Maar dit gaan nie soseer
oor Johannes nie, maar eerder oor Jesus.
Die antieke uitverkore volk van God, wat God se seuns en dogters was, en
aan wie sy teenwoordigheid, die verbond, die wet, die tempel aanbidding, die
beloftes, die aartsvaders, en die Messias behoort het (Rom 9:4-5), het
grootliks vir Jesus verwerp. Matteus
handel oor hierdie tema van die Godsvolk wat Jesus verwerp het. Hy wys eerstens daarop dat alhoewel Johannes
en sy dissipels nie aan die Jesus beweging behoort het nie, was Johannes se
werk 'n profetiese voorbereiding vir die Messias. Alhoewel Jesus die koninkryk in die openbaar verkondig, glo
Matteus net soos Markus dat slegs 'n klein groepie gereed is om sy leringe te
aanvaar. Die openbaring is tegelyk
verborge en geopenbaar. Maar terwyl
Markus die 'stompsinnigheid' van die dissipels beklemtoon, dui Matteus op hul
ontvanklikheid en insig (13:16).
1.4 Matteus beskryf Jesus se werk as 'n suksesverhaal. Groot skares het Hom gevolg en met
verwondering na hom geluister. Hulle
het in Hom 'n gesaghebbende persoon gevind in teenstelling met hul
Skrifgeleerdes (7:28 vv), en het sy genesings -wonderwerke bewonder (9:33). Die skare het so groot geraak dat Jesus aan
sy dissipels die gesag gee om soos Hy op te tree. Die oes was groot en ryp en daarom moes Hy werkers uitstuur. In die hoofstukke wat volg verander die
atmosfeer egter. Dit is nie meer 'n
verhaal van sukses en populariteit nie.
Jesus begin om twyfel te wek en word bevraagteken en daar is selfs
sprake van openlike verwerping. Johannes die Doper twyfel oor die aansprake van
Jesus. Dieselfde mense wat Johannes
gekritiseer het vir sy asketiese leefwyse, kritiseer ook nou vir Jesus
(11:15-19). Die inwoners van die dorpe
wat sy wonderwerke aanskou het het nie gereageer op sy oproep tot bekering nie
(11:20 vv.); selfs Kapernaüm waar Hy sy hoofkwartier opgerig het.
Die stemme van kritici klink al hoe harder op (12:1-8). Wanneer Jesus 'n wonderwerk doen op die Sabbat
smee die Fariseërs 'n komplot om Hom te vernietig (12:9-15). In 12:22-24 word hy uitgemaak as prins van
die duiwel, omdat hy 'n duiwel wou uitdryf.
Hy moes finaal breek met sy eie familie, sodat diegene wat die wil van
sy Vader doen sy broers, susters en moeder word (12:46-50).
1.5 Hieruit word dit duidelik dat die uitsprake van Jesus na aanleiding
van die navraag van Johannes die Doper 'n onderdeel van die veel groter verband
is, wat strek tot by 13:58, waarin 'twyfel, kritiek en openlike vyandigheid'
teenoor Jesus en sy dissipels al hoe sterker groei. Dit volg dus goed op Matt 10 waarin die twaalf apostels
uitgestuur word en waarin baie uitvoerig gehandel word met die weerstand,
verwerping en selfs vervolging wat hulle sou meemaak.
1.6 Die engere verband is voor-die hand-liggend. Verse 16-19 vorm 'n eenheid. Nadat Jesus in 15 gesê het wie ore het om te
hoor, moet hoor, soek Hy nou na 'n beeld om 'hierdie geslag' se reaksie mee te
beskryf (16a). Hy doen dit deur 'n kort
gelykenis van die spelende kinders op die markplein (16b-17). Hy pas self die
gelykenis toe (18-19b) en sluit af met 'n soort spreekwoord (19c).
1.7 Die ander gedeelte 25-30 handel oor die feit dat God Hom openbaar
deur Jesus Christus en dat eenvoudiges, nie soseer Skrifgeleerdes en Fariseërs
nie, maar eenvoudige vissermanne Hom herken.
Verse 7-11 en 16-19 stem feitlik woordeliks ooreen met Luk 7:24-28 en
31-43.
2.1 Die eerste gedeelte van die teks (11:16-19) word redelik volledig
behandel deur D.J. Smit in Woord teen die Lig 11/2 pp. 27-39. Ons gee daarvan 'n samevatting. In die gelykenis word 'n bepaalde prentjie voorgehou wat nie al te
duidelik is nie. Dit is nie duidelik of
dit Jesus en Johannes is wat die Jode verwyt dat niks vir hulle aanvaarbaar is
nie of aan die ander kant dat die Jode vir Johannes en Jesus verwyt dat hulle
nie wil inpas en saamspeel nie. Binne
die konteks maak eersgenoemde meer sin.
2.2 By enige gelykenis is dit belangrik om te vra na die eintlike punt
wat met die gelykenis na vore gebring word, oftewel die skopus. Daar word meermale gewys op die toeskouersmentaliteit van die volk wat
deur Jesus afgewys word. Die volk wil
'kommandeer en kritiseer', maar wil nie self inval en speel nie. Die dieper oorsaak agter hierdie
toeskouersmentaliteit vind ons in die onvermoë om die erns van die oomblik te
peil.
2.3 Dit gaan egter selfs verder as dit, naamlik die onvermoë of onwil om
God se aansprake in hierdie spesifieke gestaltes van Johannes en Jesus te her-
en te erken. Tussen Johannes en Jesus
bestaan wel belangrike verskille, maar 'in albei gestaltes gryp God na die hart
van sy volk ... maar hulle-wil-nie' (Brunner).
God is aan die werk en openbaar Homself deur die heilshistoriese
gestaltes van Jesus en Johannes, maar die volk herken en erken dit nie. Die ware boodskappers van God word deur die
volk afgemaak as duiwelbesetenes, vrate, wynsuipers en vriende van tollenaars
en sondaars (18-19). Daardeur toon die
volk dat hulle God hoegenaamd nie verstaan nie. Die afsku teenoor Jesus het juis gegroei omdat sy optrede en
manier van omgang met mense, nie ingepas het by die skema van die volk nie.
2.4 Die woord 'werke' (19) speel by Matteus 'n belangrike rol. Vanaf hoofstuk 8 volg die wonderwerke mekaar
deurentyd op. Wanneer Johannes die
Doper in die gevangenis hoor van die 'werke' van Christus (11:2) doen hy
navraag oor Christus. Ook in Jesus se
antwoord word Johannes gewys op die werke (11:4-5) met die implikasie dat hy
nie verkeerd moet reageer en die werke se diepste betekenis miskyk nie.
2.5 Die tweede gedeelte van ons teks (11:25-30) hou verband met die
dissipels (eenvoudiges) wat wel Jesus se werke herken en erken as dade van
God. Hulle word teenoor die 'slim en
geleerde mense (Skrifgeleerdes en Fariseërs) gestel. Hierdie gedeelte bevat drie dele. Die eerste twee (25-26) en (27) stem ooreen met Luk
10:21-22. Die derde (28-30) vind ons
slegs in Matteus. Nêrens in die
sinoptiese evangelies word Jesus se aanspraak op sy unieke seunskap tot God so
sterk beklemtoon as juis hier nie. Die
drie dele waaruit die gedeelte bestaan handel oor: a). Danksegging aan die
Vader vir die openbaring wat ontvang word, b).
'n Stelling oor wat die openbaring inhou; en c). 'n Oproep tot die hoorders om die openbaring
en die voordele wat dit inhou te aanvaar.
Hierdie skema vergelyk goed met van die Gnostiese geskrifte.
2.6 Matteus volg steeds die tradisie agter Luk 10. Omdat hy reeds die gesegde in Luk 10:16
gebruik het, (sien Matt 10:40) haal hy dit nie weer hier aan nie. Omdat hy ook nêrens die sending van die 72
dissipels meld nie, laat hy ook die gegewens in Luk 10:17-20 aangaande hul
terugkeer uit. Dit is veral vers 27 wat
sterk Semitiese trekke toon in terme van styl, taal en inhoud. Hierdie gedeelte toon ook sterk Johannese
trekke: (Joh 3:35; 17:2; 7:29; 10:14,15).
2.7 Die verse staan ook hier in 'n besondere plek in die Matteus
evangelie. Verwerp deur die stede van
Galilea, die wyses van sy tyd (Skrifgeleerdes en Fariseërs) wend Jesus hom na
diegene wat swaar gebuk gaan onder die las van Joodse legalisme ('n sisteem wat
sentraal staan tot die kontroversie in 12:1-14). Dit stem ooreen met 'n sinsnede vanuit Jer 6:16. Die uitnodiging om na Hom te kom word gerig aan
almal wat swaar belas word deur die Skrifgeleerdes (Luk 11:46; Matt 23:4). Die uitdrukking in vers 29, 'Neem my juk op
julle' staan waarskynlik teenoor die 'juk van die wet' (bv. gehoorsaamheid aan
die insettinge en gebooie). Dit is ook
'n algemene uitdrukking in die rabbynse leringe. Om die juk van Jesus op te neem is om Hom te volg en om van Hom
te leer wie se wet (halakhah) nie
swaar is nie, maar gekenmerk word deur nederigheid en 'n ontferming vir die
veragtes.
2.8 Ander kleiner aspekte is die verwysing na: a). 'Want Ek is sagmoedig en nederig van
hart'. Hierdie selfbeskrywing hou
verband met die Kneg van die Here in Jes 42:2v en 53:1 vv, en Sag 9:9. b). 'rus kry vir julle gemoed' Jer 6:16. Hierdie rus is nie die innerlike
genoegdoening of passiwiteit nie. Dit
kom wanneer mense hulle tot God keer en die wil van God gehoorsaam. c). 'My juk is sag en my las is lig'. Die sagtheid/ ligtheid van Jesus se juk
impliseer nie dat hy minder gehoorsaamheid van die dissipels verwag, as
byvoorbeeld die Joodse rabbi's nie. Hy
verwag eintlik meer (vgl 5:17-20), maar op 'n ander wyse. Dit is die juk van die Koninkryk, waarin
'Abba, Vader' die almagtige is. Daar
word in sy diens getree. Dit beteken om
Jesus te volg en te leer om God en mens te volg in liefde.
3.1 Wat die preek betref vind ons ook aansluiting by D.J.Smit (Woord teen
die Lig 11/2 p.39). Daar kan eerstens
aangetoon word dat dit gaan om die onboetvaardige reaksie van hoorders op die
boodskappers van God. Daarna kan gewys
word op die toeskouersmentaliteit, wat ontwikkel vanweë mense se onvermoë om
die erns van die oomblik te peil. Dit
veroorsaak weer dat mense toekyk en nie self wil mee doen nie. Hulle doen nie mee nie, omdat hulle onwillig
is om die gestaltes en die aansprake van God te her- en te erken.
3.2 'n Tema vir die preek : 'Dissipels herken God se koninkryk in die
alledaagse' bring die eintlike boodskap van die gedeelte goed na vore. 'n Mens sou egter kon vra hoe dit in die
praktyk plaasvind. Ons is baie haastig
om die destydse Skrifgeleerdes, Fariseërs en volk te kritiseer vir hul houding
teenoor Jesus. Ons vaar uit teenoor
hulle omdat hulle Jesus en andere soos Johannes nie herken en erken het as
boodskappers van God nie. Ons moet
egter hand in eie boesem steek, want ons maak onsself telkemale skuldig daaraan
dat ons die gestaltes waarin God na ons toe kom, die stem waarmee God met ons
praat, nie altyd sien of hoor nie.
3.3 Die belangrikste vraag is dus waarin en hoe God tans besig is om aan
ons te verskyn en met ons te handel.
Hieroor sal predikers verskillende idees hê. Want die antwoorde op hierdie vrae word uiteindelik bepaal deur
ons totaalvisie, teologieë, ons lewens- of wêreldsbeskouinge. Ons kom na hierdie teks met ons eie
leefwêreld, standpunte, geloofsoortuiginge, agtergrond en konteks.
3.4 Wat met die
Skrifgeleerdes en Fariseërs gebeur het, kan ook met ons as Christene of kerk
vandag gebeur. Ook ons kan die ware
boodskappers van God nie herken nie, maar hulle as belaglik en minderwaardig
probeer uitmaak. Dit is derhalwe
belangrik dat die kerk sal probeer om so selfkrities en sensitief as moontlik
te wees.
3.5 In aansluiting by verse 28-30 moet die uitnodiging van Jesus beklemtoon word. Ons word uitgenooi om nie aan Hom aanstoot te gee nie, maar eerder om Hom te volg soos hy Hom in die alledaagse dinge aan ons bekend maak.