Matteus 10:40-42 (Averell Rust)

27 Junie 1999

Vierde Sondag in Koninkrykstyd

 

Ander Tekste: Gen 22:1-14;  Rom 6:12-23; Ps 13

God voorsien vir sy dissipels.

Teks

1.1 Die Matteus evangelie handel by uitstek oor die leringe van Jesus, terwyl die Markus evangelie meer handel oor die gebeure rakende Jesus se lewe.  Matteus se verhaal sentreer rondom Jesus se radikale aansprake op dissipelskap en gehoorsaamheid aan God se wil en Jesus se eie lewe as model vir hierdie hoë etiese eise.  In hierdie gedeelte word die klem daarop geplaas dat die dissipels Jesus in so 'n mate verteenwoordig sodat wanneer mense hulle ontvang, is dit asof die mense Jesus self ontvang (10:40).

 

1.2. Dit word algemeen aanvaar dat die Matteus evangelie uit vyf boeke bestaan.  Hierdie gedeelte vorm deel van die ‘Tweede Boek’ wat begin by 8:1 en eindig by 11:1.  In die voorafgaande gedeelte maak Jesus dit duidelik dat dissipelskap gepaardgaan met verwerping en vervolging.  Met hierdie teks word die tweede boek afgesluit, met die klem op die beloning wat die dissipels sal ontvang indien hulle die opdrag van die Here uitvoer.

 

1.3. Die gedeelte volg op Hoofstukke 5-7 wat handel oor Jesus se gesaghebbende woorde (Die Bergrede) en sy magtige dade (Hoofstukke 8-9).  Hoofstukke 5-10 beskryf op 'n omvattend wyse Jesus se werk in twee fases: i).  Jesus se eie bediening (5-9) en ii).  sy bediening deur sy dissipels (10).  Hulle is sy verteenwoordigers op aarde, wat sy werk in woord en daad moet voortsit, waarvoor hulle sowel as diegene wat hulle ontvang, beloon sal word (10:41-42).

 

1.4. In hoofstuk 10 word die dissipels uitdruklik daarop gewys dat die getroue uitoefening van hul pligte ernstige gevolge sal hê, soos vervolging, konflik met die familie ens. (10:22), maar hulle mag weet dat die Vader vir hulle sal sorg, en Jesus voortdurend by hulle sal wees (10:40).

 

1.5 Die Matteus evangelie word feitlik omraam deur 1:23 en 28:20 waarin ons iets van die Ou Testamentiese verbond tussen God en sy volk kan lees.  In 1:23 word Jesus se naam as Emmanuel (God met ons) aangedui, terwyl in 28:20 Jesus self die verbondsformule hanteer:  'Ek sal met julle wees'.  Die groot mate van ooreenstemming in die taak en opdrag van die dissipels (vgl. Matt 10) met Jesus se optrede, moet juis in die lig van 'Ek met julle' gesien word (vgl.10:24v, 40).

 

1.6 In die nouer verband sluit dit aan by 10:5-14 waar Jesus sy dissipels uitstuur.  Hulle is naamlik totaal en al aangewese op vreemde mense om vir hulle sorg te dra.  Sommiges sal hulle ontvang, en andere sal hulle wegwys.

Konteks

2.1 'n Treffende aspek van hierdie gedeelte is Jesus se identifikasie met sy volgelinge.  Dit herinner aan Jesus se woorde aan Saulus wat die Christene vuriglik vervolg het.  Op die Damaskuspad word aan hom gevra:  ‘Saul, Saul waarom vervolg jy My? (Hand 9:4).  Alhoewel Saulus die Christene vervolg het, was dit asof hy inderwaarheid vir Christus vervolg het.  In die gedeelte word dit beklemtoon dat die een wat die boodskapper ontvang, die een wat gasvryheid verleen, eintlik 'n diens aan Christus verleen.

 

2.2 Die parallelle gedeeltes vind ons in Mark 9:41, 37; Luk 10:16; 9:48; Joh 13:20). Die Matteus evangelie plaas sterk klem op die kerk.  Die woord ekklesia kom in die evangelies slegs by Matt 16:18 en 18:17 voor.  Matteus gebruik die begrip dissipel/leerling op so 'n wyse dat dit vanselfsprekend op Jesus se volgelinge dui, maar tog ook as verteenwoordigers, voorbeelde, van die Christene van die kerk/gemeente vir wie hy skrywe (vgl. 12:46-50).  Wat gesê word in verband met die roeping, onderrig en sending van die dissipels, word ook bedoel vir die Christene van Matteus se gemeente wat hulleself in die roepingsgeskiedenisse moet herken, onderrig moet ontvang en uitgestuur word met die evangelie.  Die beslissende kenmerk van dissipels is dat hulle dissipels van Jesus is. ‘Wie julle ontvang, ontvang My’ (vgl. 18:20 en 28:20).

 

2.3 Volgens sommiges reflekteer hierdie gedeelte iets van die struktuur van die destydse kerk(gemeente).  Matteus rangskik die ‘gestuurdes’ in rangorde:  Eerstens die Apostels ('julle'), en profete (die besondere leiers van die gemeente), daarna die regverdiges of goeie mense (prominente lede van die kerk), en laastens die geringstes (gewone lede van die kerk). 

 

2.4 In v.40 reflekteer die dinamiese verhouding tussen die apostels en Jesus en dié tussen Jesus en die Vader.  Matteus maak ook gebruik van die frase ‘die Een wat my gestuur het’, wat hoofsaaklik in die Johannes evangelie voorkom.  Diegene wat die dissipels ontvang, in hul ware kapasiteit, as ten volle gesaghebbende verteenwoordigers van Christus, word verseker van die belofte dat hulle Jesus Christus self ontvang.  Die Vader het Jesus die gesag gegee om die dissipels uit te stuur (Matt 28:18-20; Joh 17:28; 20:21). As die mense die dissipels ontvang, is dit asof hulle die Vader in hul harte, lewens en huise ontvang.  In die Pauliniese briewe was die aangeleentheid rakende Paulus se apostoliese gesag juis van besondere belang.  Die mense sou eers na hom luister as hy hulle kon oortuig dat hy inderdaad 'n apostel is, 'n gesant van die Here.

 

2.5. Daar staan letterlik in v.41 'Hy wat 'n profeet ontvang in (die) naam van 'n profeet.'  Dit word egter algemeen vertaal met, ' ... omdat hy 'n profeet is.'  Die verwysing na profeet dui nie soseer op een van die Twaalf dissipels nie, maar enigeen wat die reg het om die waarheid aangaande God te verkondig.  Iemand wat so 'n profeet ontvang, nie alleen op grond van beleefdheid nie, maar omdat hy hierdie persoon as 'n profeet beskou, sal dieselfde beloning ontvang, asof die ontvanger, self 'n profeet is.

 

2.6 Die verwysing na 'n goeie mens/regverdige hou moontlik verband met iemand wat die ware godsdiens beoefen.  Die man wat sy lewe daaraan wy om huisvesting te voorsien, om sy samewerking te gee en God se reisende kinders te bemoedig, word dieselfde beloning belowe as diegene met wie hy bevriend geraak het, en hom oor ontferm het.  Hierdie konsep vind sterk aansluiting by die rabbiniese stellings oor 'n shaliah, 'n boodskapper wat gemagtig is om namens die persoon wat hom gestuur het op te tree.

 

2.7 God is egter nie alleen besorg oor hierdie belangrike persone nie, maar ook oor die geringstes van die gemeenskap, die gewone dissipels wat so maklik oor die hoof gesien word.  Dit blyk asof v.42 oorspronklik verwys het na kinders, maar Matteus gebruik die uitdrukking ‘geringstes’ met verwysing na dissipels (vgl. 18:10).  Nie eers ten volle gasvryheid nie, maar selfs net 'n glas koue water sal beloon word deur die Een wat sy oog hou oor sy kinders (vgl. 25:31-46). 'Die geringstes' waarvan hier sprake is verwys ook na diegene wat hul afhanklikheid van God besef, en hul vertroue in God stel. Vir die wêreld mag hierdie dissipel onbelangrik volgens posisie en status wees.  Nieteenstaande word alles wat aan daardie dissipel gegee word beskou asof dit aan die Here gegee is.  Die geskenk mag so eenvoudig wees soos 'n beker koue water.  Dit is nie die geskenk nie, maar die motief daaragter wat belangrik is, en die gesindheid waarmee dit gegee word.(25:35,37,40; Heb 6:10).

 

2.8 Die verwysing na ''n beker koue water' is 'n spreekwoordelike uitdrukking vir 'n eenvoudige weldaad.  Soos in die gelykenis van die laaste oordeel (Matt 25:31-46) vat Matteus 'n belangrike leerstellige gedeelte saam deur die noodsaaklikheid van praktiese sorgsaamheid te beklemtoon.  Dit is die finale resultaat en toets van dissipelskap. Verder word daar nie duidelik gesê wat hierdie beloning is nie.  Dit is egter genoegsaam om te weet dat God dit sal gee. Chrisostomus verwys na die beloning as die ewige lewe.

Preekvoorstel

3.1 Die prediking kan aan die hand van die tema ‘God voorsien vir Sy dissipels’ gedoen word.  Hier word die klem geplaas op die dissipel asook diegene wat die dissipels sal ontvang.  Gedurende die 16de eeuse Reformasie was daar 'n prys op die kop van Menno Simons, 'n ‘Vrye Kerk’ leier.  Mense wat hom aan huis sou ontvang, was gearresteer en selfs in een geval om die lewe gebring. In sommige gevalle sou diegene wat die Christene aan huis ontvang het, dieselfde vervolginge trotseer.  Vir hierdie waagmoed sal hulle beloon word.

 

3.2 Die volgeling van Jesus is sy verteenwoordiger, sy gesant, sy gestuurde.  Daarom gaan hy nie die wêreld in met sy eie boodskap nie, maar verkondig dit wat hy van die Here ontvang het.  Hy tree nie op in eie gesag nie, maar met gesag van Christus.  ‘Wie julle ontvang ontvang My.’  Dit is 'n groot verantwoordelikheid om te besef dat ons God se verteenwoordigers in die wêreld is.

 

3.3 Alhoewel hier sprake is van hiërargiese rangskikking van profeet tot ‘die geringste’, word hulle in 'n sin ook gelykgestel.  Of die mense die profeet ontvang en of hulle die gewone volgeling ontvang, indien hulle ontvang word as gesante van Christus, sal hulle beloon word.

 

3.4 Ons het dus almal die verantwoordelikheid om Christus in die wêreld te verteenwoordig.  As volgelinge vervul ons verskillende funksies, maar ons kan met dieselfde gesag optree, want ‘Aan almal wat Hom aangeneem het, … het Hy die reg gegee om kinders van God te word.’(Joh 1:12).  Die 1933 vertaling gebruik die woord ‘mag’ in plaas van ‘reg’ wat die gesag wat aan die sogenaamde gewone gelowige verleen word sterker beklemtoon.

 

3.5 Ons word nie onkundig gelaat oor die feit dat ons nie altyd en orals welkom sal wees nie.  Reg deur die eeue was Christene nie altyd met ope arms ontvang nie.  Andersyds het baie Christene ook weer 'n negatiewe beeld na buite uitgestraal wat andere antagonisties teenoor Christenskap gemaak het.  Soveel so dat sommige soos Mahatma Ghandi op 'n vraag oor sy siening van die Christelike geloof reageer dat hy liewer die voorbeeld van Christus sal navolg as dat hy die voorbeeld van Christene sal volg.