17 Februarie 2002

Lydenstyd

Inleiding

Die kerklike jaar wil die geboorte, lewe, sterwe, opstanding en hemelvaart van Jesus Christus – voortgesit deur die

uitstorting van die Heilige Gees – in een verband saamvat. In hierdie verband wil dit God se heil volledig weergee

en aan die gemeente verkondig. Daarom is Christus die middelpunt van die kerklike jaar, want in Hom het God tyd

en wêreld betree met die doel om tyd en wêreld te red.

Lydenstyd is die oudste onderdeel van die kerklike jaar en strek van Aswoensdag tot die Saterdag voor Paassondag.

Die veertig dae Lydenstyd, wat met Aswoensdag begin, is ’n tyd waarin die gemeente haar verootmoedig

en nadink oor die lyding van Christus wat aan die gemeente die verlossing gebring het. Die ses Sondae in

Lydenstyd word nie by die veertig dae ingetel nie omdat hierdie Sondae, soos al die ander, ook vierdae van Jesus

se opstanding is.

God handel in Lydenstyd met ons saak

Die erediens moet in Lydenstyd hierdie wete – dat Jesus se lyding en dood ter wille van ons gebeur het – nuut by

die gemeente vestig. God bewerk ons verlossing, maar Hy doen dit deur sy Seun mens te laat word. Ons verlossing

– en die verstaan daarvan – is dat Jesus regtig ’n mens was wat kon verstaan wat die sonde aan mense doen. Hy

ly as mens sodat ons (mense) vry kan kom. Die liturgie is die voertuig waarmee ons hierdie mens-karakter van

Jesus se lyding, dood en oorwinning só kan beklemtoon dat die gemeente hulle eie lyding, vir Christus, en

oorwinning nuut aan die lyf kan voel. Al die mense rondom Jesus, selfs sy dissipels, is in hulle sonde ontbloot. In

Lydenstyd moet ons sonde en nood nuut blootgelê word, maar nie sonder om ook die oorwinning te vier nie. Ons

moet deur die liturgie op die Lydensondae en deur ons doen en late by die huis in hierdie weke nuut leer om saam

met Christus te ly. Dr Willie Jonker sê: Ons ken geen lyding om Christus ontwil nie omdat ons nie meer vir die wêreld

’n bedreiging is nie. Ons sal op ’n manier deur die liturgie en ons lewe in die wêreld weer iets moet leer prysgee om

Christus ontwil. Sien later meer hieroor by Liturgie en lewe in Lydenstyd. Die liturgie, die preek is natuurlik daarby

ingesluit, bied in Lydenstyd die uitdaging om die lyding van Christus op so ’n manier voor oë te stel dat dit die gemeente

tot verootmoediging lei en tog ook telkens steeds die Sondae in Lydenstyd as vierdae van Jesus se

opstanding laat beleef. ’n Eerste stap in hierdie rigting is om op hierdie ses Sondae die eredienste só te laat verloop

dat die gemeente telkens dieselfde lyn ontdek. Dieselfde votum, seëngroet en seën kan deurlopend gebruik word.

Daar kan selfs gekies word vir ’n vaste liturgiese orde vir die hele Lydenstyd.

Liturgie in Lydenstyd

Pers is die dominante kleur vir Lydenstyd. Die hele binnekant van die kerkgebou maar veral die liturgiese ruimte

behoort ’n atmosfeer van soberheid te vertoon. Geen blomme of ander tekens van vrolikheid word in die kerkgebou

geplaas nie. Dit herinner ons aan die lyding van Christus en aan ons eie sonde en sterflikheid. Lidmate behoort in

Lydenstyd ruim kans gegee te word om in stilte na te dink oor die betekenis van Christus se lyding en oor hulle eie

skuld.

In die lydensgeskiedenis van Jesus speel stilte nogal ’n groot rol. Stilte herinner ons in hierdie tyd daaraan dat

Jesus, onmiddellik ná sy doop deur Johannes die Doper, veertig dae en veertig nagte lank die stilte van die woestyn

opgesoek het. Daar het Hy in voorbereiding vir sy bediening gevas en gebid en het Hy in die stilte van die woestyn

geworstel met die skadukant van sy eie mensheid. In die Skrifgedeeltes oor Christus se lyding en opstanding is daar

weer stilte – Christus se swye (stilte). Te midde van die gedreun en geraas rondom Hom hoor ons op Goeie Vrydag

net ’n paar woorde uit die mond van Jesus. "These words," skryf Luke Stubbs, "extend love and mercy: ‘Father,

forgive them,’ express the depth of our human losses and fears: ‘My God, my God why have you forsaken me?’ and

the hope of faith: ‘Father, into your hands I commend my spirit.’"

En op Paassondag, gekonfronteer met die vreemde en doodse stilte van die leë graf, word ons uitgedaag om nuut

te wees en nuut te lewe.

In die Anglikaanse (en Roomse) tradisie sak daar op Aswoensdag, wanneer Christene met hulle veertig dae lange

Lydenstydvas begin, ’n stilte oor die kerk toe. Kerkklokke lui nie of word gedemp en die Halleluja-gedeeltes en die

Gloria in excelsis Deo in die eucharistiegebed word selfs uitgelaat.

Die liturgie in Lydenstyd moet ons deur stilte en vas en gebed tot verootmoediging lei en voorberei vir die Paastyd,

die hoogtepunt van die kerklike jaar. ’n Oproep tot stilte, verootmoediging en ’n verbintenis tot geestelike dissiplines

behoort deur die liturgie oorgedra te word.

Ons eerste reaksie op die teenwoordigheid van God in die erediens behoort te wees: swye (stilte), ontsag en bepeinsing

(verwondering, eerbied en vrees). Ons tweede reaksie: liefdevolle beweging na ons naaste. Ons mislukking

om in verdraagsaamheid en liefde met ander saam te leef lê juis in die kroniese vrees om stil te raak en God

God te laat wees. Ons moet leer om stil te raak en te hoor en onmiddellik daarna te reageer op die uitroep van hulle,

die armes en die "ander". (Tussen hakkies, dit kan ons help om genees te raak van die "ons-hulle-sindroom".) Stilte

in die teenwoordigheid van God neem ons dieper in die misterie van God en ons eie mensheid in. Dit stroop ons

van alle pretensie en eie sekerheid. In hierdie stilte kom ons agter dat alle gesag of eie vermoë, wat ons meen ons

het en wat ons so graag ten toon stel, soek is wanneer ons voor God staan. Dit is veeleer deur hierdie stilte, as deur

ons eindelose preke en programme, dat ons deel kry aan die misterie van die armes wat in elk geval geen stem het

nie (stil is).

Op die ses Sondae in Lydenstyd kan daar, as vaste gebruik, veral aan die begin van die diens en by die skuldbelydenis

en verootmoediging kans gegee word om in stilte na te dink oor ons eie sonde en die nood wat dit in ons

eie lewe bring. By die vryspraak kan daar weer geleentheid gegee word om in stilte na te dink en te besluit wat ons

vir ander gaan doen noudat ons deur Jesus se sterwe vrygespreek is. Mag ons dalk die orrel ook ’n enkele keer stil

maak? Een of meer verse van ’n lied kan sonder begeleiding gesing word. ’n Mens hoor nogal anders en wat jy

sing, veral wanneer jy jou skuld bely.

Sakramente in Lydenstyd

Die doop

Jesus se doop is sy dood. Deur sy doop sê Hy: Ek neem dit op My om vir die sonde van die volk te sterf. Deur sy

doop neem Hy letterlik sy eerste tree na die kruis. Die doop simboliseer sigbaar en op die duidelikste manier denkbaar

die gelowige se sterwe en opstanding saam met Christus. Die veertig dae in Lydenstyd is in die vroeë kerk

gebruik om nuwe bekeerlinge voor te berei met die oog op hulle belydenisaflegging en doop op Paassondag. Sommige

Anglikaanse Kerke het steeds die gebruik om nie op een van die Lydensondae te doop nie. Die doop word

teruggehou tot Paassondag.

Deur in die gemeente so ’n tradisie te skep kan die betekenis van die doop vars en nuut gemaak word vir die gemeente.

Dit sal ook die betekenis en sin van die doop op ander tye verryk. Op die ses Lydensondae kan daar reeds

verwys word na die betekenis van die doop in samehang met Goeie Vrydag en Paassondag deur op hierdie Sondae

telkens ’n doopherinnering in die liturgie in te pas.

Die nagmaal

Daar is seker maar min gemeentes wat reeds elke Sondag die nagmaal vier. Lydenstyd bied uitnemend die geleentheid

om die betekenis van die nagmaal by die gemeente tuis te bring. Nagmaal kan op die ses Lydensondae,

die aand voor Goeie Vrydag en op Paassondag gevier word. Daar kan by elke geleentheid, in aansluiting by die

prediking, op ’n ander aspek van die betekenis van die nagmaal gefokus word. Vergelyk die nagmaalformuliere van

die VGK en die NG Kerk.

Liturgie en lewe in Lydenstyd

Ons moet probeer om iets van die betekenis van Lydenstyd oor te dra huis toe. Johan van der Merwe maak, in die

Preekstudies met liturgiese voorstelle vir die jaar 1999/2000, ’n duidelike saak uit om die gemeente gaandeweg

bloot te stel aan sekere gebruike in Lydenstyd in die vroeë kerk (vgl pp 91, 93). Hy merk onder meer op: "Lydenstyd

is ’n tyd vir self ondersoek, skuldbelydenis, vas, gebed en diens aan ander (die gee van aalmoese)."

Vanuit die erediens kan gemeentelede aangemoedig word om sekere van die simbole in Lydenstyd by die huis aan

te bring of te gebruik.

Die Bybel of Kinderbybel met goeie sketse oor die lyding van Jesus kan oop by die sketse in die voorportaal neergesit

word. Besoekers wat dit vreemd vind en ’n opmerking daaroor maak, kan in ’n gesprek oor Jesus se lyding en

die betekenis daarvan betrek word. Dit is vir kinders ’n hele ervaring om klein kruisies te vleg of van stokke te maak.

Maats wat kom speel of kuier, kan gevra word om ook ’n kruis te maak of te vleg.

Verskeie gelowiges doen in Lydenstyd mee aan die een of ander soort vas. (Dit word natuurlik nie gedoen om God

te beïndruk nie, maar dit is maniere om ons soveel kere moontlik te herinner aan Jesus se lyding ter wille van ons.)

Vas neem verskillende vorme aan, byvoorbeeld om een ete per dag oor te slaan, een dag in die week volledig te

vas, of om selektief te vas deur af te sien van seker luukshede vir die duur van Lydenstyd (voorbeelde is koffie,

sjokolade, gaskoeldrank, die Internet).

Die vraag is net: Wat word van die kos en sjokolade wat ons nie eet nie, of die koffie en gaskoeldrank wat ons nie

drink nie? Ons weet heimlik dit bly in die koskas of yskas. As ons nie kan uithou nie, kan ons dit maklik in die hande

kry. Die sjokolade sal gelukkig ook vars bly in die yskas tot ná die vas en dan kan ons dit weer eet.

Hierdie en ander geestelike dissiplines kan in hierdie tyd ingeoefen word, want Lydenstyd is ’n tyd om na ander uit

te reik en aalmoese te gee. Waarom gee ons nie die kos, koffie, sjokolade en koeldrank wat ons nie gebruik nie weg

aan ander wat dit nie het nie? Op hierdie manier sal ons meer voel wat vas beteken, veral as ons nie stilletjies in

die yskas kan neem wat ons besig is om ons van te onthou nie. Dit sal ons ook daaraan herinner dat die luukshede

soos koffie, sjokolade, gaskoeldrank waaraan ons onsself onthou, vir die grootste deel van die mense in ons land

in elk geval nie bestaan nie. Daar is ’n menigte mense wat, as gevolg van hulle armoede, in elk geval nooit sjokolade

het om te eet nie. Dit wat ons tydens vastyd ontbeer, ontbeer hulle in elk geval elke dag. Ons sal ons vas meer aan

die lyf moet voel as net om ’n paar weke lank nie sjokolade of rooivleis te eet nie. Wanneer ons dít weggee wat ons

meen ons self nodig het, sal dit ons aan die lyding van Jesus herinner.

BASISLITURGIE VIR LYDENSTYD 2002

Voorstelle

1. Die basiese verhaallyn op die ses Lydensondae is die lyding en sterwe van Jesus Christus. Die fokusteks

van die bepaalde week sal die spesifieke verhaallyn bepaal.

2. Gebruik en vertoon deurlopend die simbole van Lydenstyd, soos die kruis, doringkroon en die kleur pers –

wat die liturgiese kleur vir Lydenstyd is. ’n Droërangskikking kan vir die duur van Lydenstyd in die voorportaal

van die kerk of in die liturgiese ruimte geplaas word.

3. Probeer om die eredienste in die algemeen, tydens Lydenstyd, met ’n stemming van stilte en verootmoediging

te deuradem.

4. Versterk die boodskap van Jesus se lyding deur op die ses Sondae in Lydenstyd ’n vaste liturgiese orde te

gebruik. Laat die skuldbesef, skuld- en geloofsbelydenis telkens op dieselfde plek in die liturgie onder die

aandag kom.

5. Gebruik op hierdie ses Sondae dieselfde votum, seëngroet en seën. Die skuldbelydenis kan afgewissel

word deur die ander tekste te gebruik wat by die besondere week aan die orde kom.

6. Skep ruim geleentheid vir stilte en nadenke by die aanvang van die erediens, by die skuldbelydenis en verootmoediging

en tydens die gebruik van die nagmaal.

7. Gebruik dieselfde formulier en/of litanie en epiklese by die viering van die nagmaal. Vier van die fokustekste

op die ses Sondae in Lydenstyd sowel as die fokusteks van Goeie Vrydag kom vanjaar uit Johannes se

Evangelie. Wat van ’n formulier in Johannes-woorde in plaas van die bekende Paulus-woorde? ’n Voorstel

volg in die basisliturgie.

8. Gebruik een of meer van die elemente soos dit in die basisliturgie aangebied word.

9. Skep geleentheid vir lidmate om net voor die viering van die nagmaal hulle offers vir die armes vorentoe te

bring – geld of in natura. Dit is onder meer die offers wat beskikbaar kom omdat lidmate vas.

GOD VERGADER ONS VOOR HOM

Ons raak stil

Ons kom met groot spoed by die kerk aan. Die laastes van ons het so pas op ons sitplekke neergesak. Daarom

gaan ons vanoggend nie sommer wegval met die erediens nie. Ons gaan eers ’n minuut of twee stil raak. In jou

stilgebed kan jy vir die Here dankie sê dat jy sy kind is, maar ook erken dat jy nog ’n sondaar is. Onthou ook Hy is

die Een wat ons in liefde met Hom versoen het, daarom mag jy gerus met Hom praat.

Votum

Gemeente sing sittend Gesang 131:1-3. (Dié lied is besonder gepas om in Lydenstyd as votum gesing te word. Dit

kan as vaste votum vir al die Sondae in Lydenstyd gebruik word. Of gebruik die woorde van hierdie lied in

responsiewe vorm as votum.)

Liturg: Ons eer God om sy liefde vir sondaars – diep verlore.

Gemeente: Here, ons kniel aan u voete neer.

Liturg: God ontsien geen kruis, geen vloek, geen dood om sondaars te bevry nie.

Gemeente: Here, u liefde is onpeilbaar groot.

Liturg: God is die Lig en die Lewe, ver bo ons lof verhewe.

Gemeente: Here, ons loof U om u groot liefde. (Of sing hier spontaan JSB 2 21:2, 3.)

Seëngroet

Genade en vrede vir julle van Hom wat was en wat is en wat kom,

en van die sewe geeste voor sy troon,

en van Jesus Christus, die getroue getuie,

wat Homself vir ons sondes gegee het,

die Eerste wat uit die dood opgestaan het,

die Heerser oor die konings van die aarde.

(Uit Op 1:4, 5 en Gal 1:3.)

Antwoord op seëngroet

Geloofsbelydenis

(Ons kan in Lydenstyd op die seëngroet met ons geloofsbelydenis antwoord. Miskien is dit goed om veral in

Lydenstyd eers te bevestig dat ons een is en glo in die Vader, Seun en Heilige Gees. Daarna luister ons na die

Woord wat ons, in die besonder in Lydenstyd, lei tot die ervaring van ons eie sonde en skuld, juis oor wat dit Jesus

gekos het – sy dood.)

Ek glo in God – God die Vader.

Ek glo dat Hy alles gemaak het en steeds daarvoor sorg.

Ek glo in God – God die Seun.

Ek glo dat Hy as die ware mens Jesus gely en aan die kruis vir die sonde wat my van God skei, gesterf het.

Ek glo dat Hy die sonde oorwin en die ellende van my lewe op aarde onherroeplik verander het.

Ek glo dat Hy ook persoonlik die sonde in my lewe oorwin het.

Ek glo dat Hy weer opgestaan het. Dit bewys vir my dat Hy die kwaad oorwin het.

Ek glo dat Hy nou by God die Vader is en dat Hy weer terugkom om finaal alles heel te maak.

Ek glo in God – God die Heilige Gees.

Ek glo dat Hy dít wat Jesus vir my verwerf het, waar maak in my lewe en my oortuig van die sonde in my lewe

en my verseker van die verlossing.

(Na Geloofsverklaring 2000.)

’n Tweede moontlikheid:

Ek glo in God – God die Vader.

Ek glo dat Hy alles gemaak het en steeds daarvoor sorg.

Ek glo in God – God die Seun.

Ek glo dat Hy moes ly om die toorn van God op my sonde te dra.

Ek glo dat Hy juis onder Pontius Pilatus gely het en onregverdig veroordeel is om die oordeel van God oor my

sonde te dra.

Ek glo dat Hy juis ’n kruisdood moes sterf om die vloek van God oor my sonde te dra.

Ek glo dat Hy dit vir my persoonlik gedoen het.

Ek glo dat Hy weer opgestaan het as bewys daarvan dat Hy die kwaad oorwin het.

Ek glo in God – God die Heilige Gees.

Ek glo dat Hy dít wat Jesus vir my verwerf het, waar maak in my lewe, my oortuig van die sonde in my lewe en

my verseker van die verlossing.

(Na die Heidelbergse Kategismus.)

Die geloofsbelydenis kan aangevul word met die sing van een of meer van die volgende liedere: SOM 19:1, 3;

Gesang 201; Gesang 307:1-3/NSG 332:1-3.

Doopherinnering (liturg staan by doopvont met water)

Deur sy doop aanvaar Jesus om te doen wat sy Vader van Hom vra. Met sy doop neem Jesus dus letterlik sy eerste

tree op pad na die kruis. Deur sy doop sê Hy: Ek neem dit op My om vir die sonde van die volk te sterf. Jesus se

doop beteken vir Hom sy dood en sy dood beteken vir ons die lewe.

Die doopwater is die teken van die bloed (skep ’n handvol water en laat dit sigbaar voor die gemeente terugval in die

doopvont) van die Here Jesus Christus wat vir ons sonde gestort is en wat vir ons die verlossing van sonde beteken.

Jy en jou kinders dra reeds hierdie teken op die voorkop. Plaas gerus jou hand op jou voorkop en voel waar jy gemerk

is met sy bloed en leef in hierdie versekering. Doen dit gereeld met jou kind. Plaas jou hand op jou kind se voorkop en

wys waar hy of sy gemerk is met Jesus se bloed as teken daarvan dat ons sy kinders is. Die doop simboliseer sigbaar

en op die duidelikste manier denkbaar dat ons saam met Jesus gesterwe en weer opgestaan het en lewe.

(Die doopherinnering kan ook goed as Kindertyd diens doen. Die doop is nogal ’n logiese vertrekpunt om die lyding

van Jesus aan kinders te verduidelik.)

DIENS VAN DIE WOORD

Epiklese

Skriflesings

Genesis 2:15-17, 3:1-7; Romeine 5:12-19; Psalm 32; Matteus 4:1-11 (tekste van Sondag 17 Feb 2002).

Preek

Ons pleit skuldig

Here, solank ek my sonde bly wegsteek en my oortredings nie bely nie;

solank ek aanhou swyg, hoe hard my gewete my ook al aankla;

solank word dit al hoe donkerder in my lewe.

Omdat ek bly swyg , bly U ook stil.

Die pyn van my sonde maak my al skoon lyfseer, dit voel of my lyf uitgeteer is.

My krag droog op soos water in die somerson.

Ek bely nou openlik voor U die sonde waaroor ek stilgebly het; laat die lig weer deurbreek Here, dat ek weer bly

kan wees (Ps 32:3-5 [vry] - teks van Son 17 Feb).

SOM 18; Kyrie Eleison of Liedboek van die kerk; Psalm 130 volgens die beryming van Lina Spies – tweede melodie.

Vryspraak

Liturg: Ek, sê die Here, vergewe jou sonde en straf nie jou oortredings nie.

Gemeente: Dit gaan goed met my, o Here.

Liturg: Ek, sê die Here, dink nie meer aan jou oortredings nie.

Gemeente: Ek is bly en gelukkig, o Here.

Lofsang

Psalm 103:1, 2.

DIENS VAN DIE TAFEL

(Die verhaal van die instelling: By die uitnodiging hier onder is die moontlikheid wat in die inleiding vermeld is – die

verhaal saamgestel uit Johannes se Evangelie. Dit pas ook goed by Sondag 14 Februarie waar dit onder meer ook

gaan oor die versoeking van Satan dat Jesus klippe in brood moet verander. Jesus verander nie klippe in brood nie,

maar word deur sy dood brood vir ons. Daarmee word besonder klem gelê op die noodsaak dat ons Jesus se liggaam

sal eet en sy bloed sal drink. (Anders kan daar met die viering van die nagmaal op die ses Sondae in Lydenstyd telkens

op ’n ander aspek van die betekenis van die nagmaal, soos in die bestaande formuliere, gefokus word.) Daar behoort

ook baie duidelike rigtingwysers wees wat die nagmaalgangers na die wêreld daar buite laat gaan. "Lydenstyd is ’n tyd

vir selfondersoek, skuldbelydenis, vas, gebed en diens aan ander (die gee van aalmoese)."

Gereedmaak van die tafel

(In die lig van wat daar by die inleidende deel gesê is, kan daar in Lydenstyd by die nagmaalviering klem gelê word

op feit van die sterwe van Jesus en die betekenis soos dit in die tekens na vore kom. Lê op hierdie Sondae sterk

klem op dít wat met die tekens gebeur – breek die brood duidelik sigbaar en eers wanneer die woorde dat sy

liggaam net so gebreek is, uitgespreek word. Ook met die wyn – skink dit duidelik sigbaar in ’n groot beker en eers

wanneer die woorde dat sy bloed net so gestort is, uitgespreek word.)

Terwyl die tafel gereedgemaak word, sing ons sittend Gesang 337:2/NSG 384.

Vredeshandeling

Verbeel jou jy is een van twee mense wat mekaar raakloop. Draai nou na die persoon langs jou en vra vir ’n seën.

’n Seën, asseblief.

Waarop die suster of broer dan reageer. God seën jou.

Die uitnodiging

Neem ’n klein reis terug in tyd. Dis die vooraand van Paasfees in die vroeë jare 30 nC. Jy is deel van die

wriemelende massa mense wat Jerusalem binnestroom vir die jaarlikse Paasfees. Op soek na iets om te eet kom

jy by ’n stil eetplek uit, in die bokamer van ’n huis. Hier is daar net 13 gaste aan tafel ... Jesus van Nasaret en twaalf

van sy volgelinge, sy sogenaamde dissipels. Hulle eet saam. Daar is aan dié besonderse tafel vir jou nog ’n sitplek.

As ’n vreemdeling in Jerusalem neem jy die uitnodiging aan om aan te sit. Daarmee word jy deel van ’n maaltyd

waar jy die betekenis van die liefde in sy volle omvang leer ken.

Daar is nou en hier ook plek aan die tafel vir jou – en jy kan weer daardie liefdeservaring herleef. Jesus het self die

nagmaal ingestel en die betekenis daarvan verklaar.

In Johannes 6:35 en 54-55 praat Jesus daaroor.

Ná die vermeerdering van die brood, toe die skare weer na Hom kom soek, sê Jesus: Hier staan die brood wat God

gee voor julle. Die brood wat God gee, is Hy wat uit die hemel kom en aan die wêreld die lewe gee. Ek is die

lewende brood wat uit die hemel gekom het. As iemand van hierdie brood eet, sal hy vir ewig lewe. En die brood

wat Ek gee, is my liggaam. Dit verseker Ek julle, as julle nie die liggaam van die Seun van die mens eet en sy bloed

drink nie, het julle nie die lewe in julle nie. Wie my liggaam eet en my bloed drink, het die ewige lewe, en Ek sal hom

op die laaste dag uit die dood laat opstaan. My liggaam is die ware voedsel en my bloed is die ware drank. Wie my

liggaam eet en my bloed drink, bly in My en Ek in hom ... so sal hy wat My eet, ook deur My lewe.

Kom, alles is nou gereed.

Nagmaalepiklese

Liturg: Ons dank U, Vader, dat U ons met die brood en wyn, wat tekens is van Jesus se liggaam en bloed,

voed en versterk sodat ons die ewige lewe haal. Maak dat ons nou nie net teen die tekens, die

brood en wyn, sal vaskyk nie, maar dat ons Jesus Christus sal sien, na wie dit heenwys. Daar waar

Hy ons voorspraak by U is. Gee dat u Gees ons so sal versterk dat die uitwerking van die brood

en die wyn, wat ons gaan eet en drink, ons ywerige dissipels in u koninkryk sal maak. Ons loof en

prys u Naam. Amen.

Gemeente: Lam van God wat die sonde van die wêreld wegdra, ontferm U oor ons;

Lam van God wat die sonde van die wêreld wegdra, gee ons vrede;

Lam van God wat die sonde van die wêreld wegdra, gee ons vrede. Amen.

Of:

Sing Gesang 131:4/NSG 107:4.

Kommunie

Instellingswoorde

Die brood wat ons eet, is teken van die liggaam van die Here Jesus Christus. Neem, eet sy liggaam, dink daaraan

en glo dat sy liggaam net so gebreek is tot volkome versoening van ons sonde.

Die wyn wat ons drink, is teken van die bloed van die Here Jesus Christus. Neem, drink sy bloed en dink daaraan

dat sy bloed net so gestort is tot volkome versoening van ons sonde.

Uitdeel en gebruik van tekens

(In die lig van wat hier bo oor "stilte" gesê is, sal dit goed wees om veral in Lydenstyd nie te sing of die orrel te laat

speel tydens die uitdeel en gebruik van die tekens nie. Dit gee die gemeente – en ook die orrelis – kans om ’n slag

in stilte die tekens te gebruik en daaroor na te dink.)

Offergawes

Laat ons dan vas glo dat ons ewig sal lewe op grond van Jesus se liggaam en sy bloed wat ons nou weer geëet en

gedrink het, en wat die teken is daarvan dat ons sonde vergewe is.

Jesus het sy lewe prysgegee om ons lief te hê. Laat ons mekaar liefhê soos Jesus ons liefgehad het en laat ons

bereid wees om ons lewe vir mekaar prys te gee. Laat ons nou ook iets van ons besittings prysgee om daarmee te

sê: Ek gee om vir ander omdat Jesus vir my omgegee het.

(Die offergawes word hier ingesamel. Dis ook ’n goeie geleentheid vir lidmate wat kos of komberse of ander dinge

vir die armes gebring het, om dit in die liturgiese ruimte te gaan neersit.)

Danksegging

Liturg: Soos u Gees ons lei, wil ons U dien met krag en liefde deur U self voorsien!

Waar ons gelowig volg, waar U ook lei, doen ons die goeie werk deur U berei.

In Hom was daar lewe en die lewe was brood en wyn vir ons.

Ons loof U vir die volle maat van genade en waarheid wat U gee.

Here, U laat alles vir ons goed afloop.

Aan u liefde, Here, is daar geen einde nie.

Gemeente: (Sing Gesang 312:1, 2 – op melodie van Ps 134 en sittend.)

UITSENDING

Voorbidding

Sang

SOM 36:1, 2.

Seën

Liturg: Die Here het Homself opnuut aan ons gegee hier aan tafel. Dink daaraan dat ons nou weer die

barmhartigheid wat God aan ons bewys het, moet gaan vier. Die nagmaal stuur ons noodgedwonge

na die mense wat in nood is en gebrek ly.

Die Here wat die Brood is, gaan jou nou seën. Kyk mooi na die voorganger se hande – die palms

wys na onder. Die seën is nie ’n presentjie, ’n stukkie brood, wat die Here vir jou gee nie. Dis ’n

opdrag wat Hy op jou lê, om ’n seën vir ander te gaan wees. Om brood vir ander te gaan gee.

Die Here sal jou seën en jou beskerm;

die Here sal tot jou redding verskyn en jou genadig wees;

die Here sal jou gebede verhoor en aan jou vrede gee.

Amen.

Gemeente: (Sing spontaan wanneer die orrel begin speel die Amen. Liedboek van die kerk, lied 313.)

Fokusteks: Matteus 4:1-11.

Ander tekste: Genesis 2:15-17; 3:1-7; Psalm 32; Romeine 5:12-19.

Opmerking

Daar is in groot mate van bogenoemde tekste gebruik gemaak by die ontwikkeling van die Basisliturgie vir

Lydenstyd 2002.

Waar van toepassing, is dit ook tussen hakies aangedui. Die gedagte is dat die basisliturgie in groot mate net so vir

die eerste Sondag in Lydenstyd gebruik kan word. Vir die daaropvolgende weke verskyn die verrykende materiaal

by die afsonderlike Lydensondae.

Tema

Die fokus in hierdie eerste Lydensweek val op Jesus Christus. Hierdie week se uiteenlopende tekste het een

ooreenkoms: almal word tipologies vertolk om kommentaar te lewer op die betekenis van Jesus.

Teks

Die versoekingsverhaal kom in al drie die Sinoptiese Evangelies voor (Matt 4:1-11; Mark 1:12-13; Luk 4:1-13). Al

drie verhale word voorafgegaan deur die doop van Jesus. Die verband tussen Matteus 4:1-11 en die voorafgaande

doopverhaal (Matt 3:13-17) lê in die frase "Seun van God" wat in albei verhale voorkom. Vir Jesus se missie is sy

Seunskap lewensbelangrik. Ons teks toon ’n baie interessante parallel met Israel se ervarings in die woestyn. Net

PREEKSTUDIE - MATTEUS 4:1-11

LITURGIESE VOORSTEL

soos Israel in die woestyn versoek is, word Jesus ook in die woestyn versoek. Matteus se verhaal van Jesus het

dieselfde volgorde. Ná Josef en Maria se terugkeer uit Egipte word Jesus gedoop en verklaar God dat Jesus sy

Seun is. Daarna volg die versoekingsverhaal. Dié parallel kry verdere profiel deurdat Jesus vir die versoeker die

Skrif aanhaal uit Deuteronomium 6-8, die gedeelte wat Israel se ervarings in die woestyn beskryf. Matteus hou

Jesus dus hier as argetipe van Israel voor.

Hierdie perikoop bestaan uit drie versoekingsgedeeltes wat omraam word deur ’n inleidende sin (vv 1-2) en ’n slotsin

(v 11): (A) om klippe in brood te verander (vv 3-4); (B) om van die nok van die tempel af te spring (vv 5-7), en (C)

om al die koninkryke van die wêreld te ontvang deur die duiwel te aanbid (vv 8-10). Die opvallendste kenmerk van

hierdie drie versoekingsgedeeltes is Jesus se aanhaling uit die Skrif (in al drie gevalle uit Deuteronomium met die

inleiding "Daar staan geskrywe") in antwoord op die duiwel se woorde. Die versoekings toon ’n eenvoudige patroon:

(a) die omraming; (b) die woorde van Satan, en (c) die reaksie van Jesus. Nietemin word die merkwaardige

parallelisme in dié gedeelte op twee punte verbreek: eerstens deur die verrassende aanhaling van Skriftuur deur

Satan in vers 6 en tweedens in die weglaat van die woorde "as jy die Seun van God is" in vers 9.

Matteus 4:1-11 behoort tot die genre van die haggadic midrash. Die vier sitate uit die Ou Testament is van sentrale

betekenis vir die hele gedeelte. Die verhaal van Jesus se versoeking word uiteengesit en vertolk in terme van dié

sitate. Sodoende word die sleutelsake in Matteus 4:1-11, naamlik Jesus se eie identiteit as die Seun van God, sy

konstante gehoorsaamheid aan en vertroue op die Vader, die aard van sy Messiasskap en die parallel met Israel

se eie ervaringe, teologies beklemtoon.

Die woestyn was ’n baie geskikte plek om die Seun te versoek. In die geval van Israel het Jahwe Israel, sy seun

(Eks 4:22), die woestyn ingelei. Die Gees lei Jesus, God se Seun, die woestyn in. Soos in die geval van Moses (Eks

34:28) en Elia (1 Kon 19:8) wat veertig dae lank gevas het, moes Jesus ook op bevel van God veertig dae lank vas.

In Deuteronomium 9:9 en Deuteronomium 6-8, Israel se swerftog in die woestyn, word ook verwys na Moses se

vas.

Die sleutelfrase in die perikoop is: "As U die Seun van God is". Die verhouding van die Seun tot die wil van die Vader

word hier bevraagteken. Hoewel die versoeking teen die agtergrond van Deuteronomium 8 met die manna in die

woestyn verstaan moet word, gaan dit nie in vers 3 oor die voeding van menigtes in ’n Messiaanse sin nie. Vas en

honger was in hierdie stadium die wil van die Vader vir die Seun. Om dus die klippe in brood te verander sou in

werklikheid beteken om die Vader se wil te weier. So ’n ongehoorsaamheid sou Jesus se Seunskap weerspreek. In

die versoeking gaan dit dus oor die vraag: Sal Jesus sy Messiaanse krag misbruik ter wille van Homself op ’n manier

wat pyn en lyding vermy? Of sal Hy bereid wees om die pad van lyding (en dood) te aanvaar soos wat dit sy Vader

se wil is? Jesus se reaksie in vers 4 beklemtoon dat brood vir die lewe nie genoeg is nie (Deut 8:3). Van

fundamentele belang is ons verhouding tot die wil van God. Daarom dat Jesus sê: "My voedsel is om die wil te doen

van Hom wat My gestuur het." Jesus het dus nie sy Messiaanse mag gebruik om sy eie begeertes te bevredig nie.

Hy het onwrikbaar gehoorsaam gebly aan die Vader en aan sy rol as Messias, wat vernedering en lyding ingesluit

het (Heb 5:8).

Die tempel (v 5) word hier uitgebeeld as die plek van besondere toetsing, nie omdat dit gesien is as openbare

skouspel nie, maar omdat die tempelomgewing altyd gedien het as ’n plek van spesiale goddelike beskerming. In

vers 6 word Jesus beveel om Homself in dodelike gevaar te stel en God so te forseer om Hom te bewaar. In

sommige Joodse kringe het die verwagting geleef dat ’n messias op die dak van die tempel sou verskyn. Die duiwel

wou Jesus hier uitdaag om kragdadig sy Messiaanse glorie te toon en só misbruik te maak van God se belofte van

bewaring in Psalm 91:11-12. Deur te weier om te spring kies Jesus die weg van voortgesette gevaar en lyding. Hy

het weer eens nie sy posisie as die Seun van God misbruik nie. Anders as die Israeliete wat in die woestyn aan God

ongehoorsaam was, haal Jesus Deuteronomium 6:16 aan en verklaar onomwonde dat Hy God nie op die proef sal

stel en sy belofte van beskerming misbruik nie. Hy sal God nie dwing om Hom te openbaar nie.

In die laaste versoeking (v 8) offer Satan alle koninkryke van die aarde aan Jesus as ’n bespotting van dít wat God

alreeds belowe het aan die Messiaanse koning as die Seun van God (Ps 2:8). Hierdie situasie herinner sterk aan

Deuteronomium 34 waar God vanaf Nebo die hele beloofde land aan Moses wys. Weer probeer die duiwel Jesus

langs ’n ompad weglei van God se wil deur Hom iets aan te bied wat Hom toekom, maar dan ter bevordering van

afgodediens. So bereik die kosmiese stryd tussen Satan en Jesus ’n klimaks wanneer Satan homself as ’n god

voorstel wat aanbid moet word. Toe Satan die stryd verloor, stuur Jesus hom met ’n bevel weg. Hierdie bevel vestig

die aandag op Jesus se oorwinning en sy gesag. Deur Deuteronomium 6:13 aan te haal spreek Jesus weer eens

die kern van die saak aan: Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart. Jesus triomfeer oor Satan, terwyl Ou

Israel in die woestyn gefaal het.

Vers 11 vestig die aandag op die oorwinning van die gehoorsame Seun (vgl Heb 1:6) en is sodoende simbolies van

die ware identiteit van die Seun (vgl Matt 26:53). Vers 11 bevestig ook God se trou teenoor die gehoorsame Seun.

Konteks

Matteus het geskryf vir Jode wat verskillende verwagtings van die Messias gehad het, wat nie met die Skrif geklop

het nie. Sommige van hulle het uit die Ou Testament en die apokriewe boeke baie beelde van ’n skouspelagtige,

nasionalistiese messias ontwikkel wat vanuit die hemel op die wolke sou kom. Baie van die Jode het van Jesus en

die ander messiasse van die tyd tekens en wonders gevra om te bewys wie hulle is. Sommige Jode het verwag dat

die Messias ’n onsterflike generaal sou wees wat die nasionalistiese Selote en die heilige engele teen die Romeine

in oorlog kon aanvoer en hulle in die see injaag. Sommige Jode, soos die Ortodokse Jode van vandag, het verwag

dat die Messias, of sy voorloper Elia, Hom op die vooraand van die pasga sou openbaar deur die breek van brood.

Ander het selfs verder gegaan en verwag dat die Messias op ’n dramatiese manier in die tempel sou verskyn en

Hom deur ’n besondere daad sou openbaar sodat al die teenwoordige pelgrims Hom sou herken. Daar was ook

Jode wat ’n aardse heerser verwag het wat in staat sou wees om al die aansien van die koninkryk van Salomo te

herwin, asook die grondgebied van Dawid en Omri.

Die versoekingsgeskiedenis (4:1-11) vorm deel van die inleiding tot die Matteusevangelie (1:1-4:16). In hierdie

inleiding gaan dit vir Matteus oor die identiteit (herkoms) en betekenis van Jesus Christus. Matteus beklemtoon hier

op ’n besondere manier die probleem van die nederigheid van Jesus se aardse weg as die Seun van God wat Hom

alreeds by die doop van Johannes aan God onderwerp het om alle geregtigheid te vervul. Tog bly Jesus se

Goddelike herkoms en afstamming hier as ‘t ware verborge agter sy geboorte. Die genealogie van Matteus 1:1

maak alreeds iets bekend van sy betekenis deur te verwys na "Jesus Christus, die Seun van Dawid, die Seun van

Abraham". In die daaropvolgende perikoop word die betekenis en ware identiteit van Jesus verder belig wanneer

die engel vir Josef, wat wil skei, sê: "Sy sal ’n Seun in die wêreld bring, en jy moet Hom Jesus noem, want dit is Hy

wat sy volk van hulle sondes sal verlos" (Matt 1:21). Matteus 2:15 ("Uit Egipte het Ek my Seun geroep") dui nie net

hierdie geskiedenis as ’n vervulling van die profesie van Hosea 11:1 aan nie, maar dien ook as ’n versluierde

uitspraak van God oor sy Seun. In samehang met die versluierde uitspraak staan God se eksplisiete erkenning in

Matteus 3:17: "Dit is my geliefde Seun. Oor Hom verheug Ek My." In die versoekingsverhaal wil Matteus aandui dat

Jesus wel die Seun van God is deurdat Hy ten spyte van al Satan se strikke aan God gehoorsaam gebly en nie sy

Messiaanse mag misbruik het nie. Ten einde Jesus se ware identiteit as die Seun van God aan te dui span Matteus

’n boog ná Jesus se berisping van Petrus en die verhaal van die kruisiging (Matt 27:40). Die duiwel wou Hom ook

via Petrus en die skare tot ’n kortpad verby die kruis verlei. Daarom berispe Jesus Petrus: "Moenie in my pad staan

nie, Satan! Jy is vir My ’n struikelblok, want jy dink nie aan wat God wil hê nie, maar aan wat die mense wil hê" (Matt

16:23). Wanneer die skare Jesus aan die kruis spot en sê: "Red jouself as jy die Seun van God is, en kom van die

kruis af!" (Matt 27:40) is dit weer eens Satan wat probeer om Hom te verlei en in sy missie te laat misluk. Die basiese

vraag agter die versoekings, en in die hele Evangelie, is dus: Wat is Jesus se identiteit? Wie is Jesus werklik?

Jesus het Satan se versoekings weerstaan om nie voortydig die heerlikheid wat aan Hom voorgehou is, kortpad

langs verby die kruis te bereik nie (Heb 12:2). Jesus het Hom nie deur die duiwel in ’n Messiasbeeld laat ingiet wat

nie by sy ware identiteit pas nie. So het Hy baie duidelik getoon dat Hy nie net gekom het om om te sien na die

liggaamlike en sosiale behoeftes van die mens nie. Hy het ook bewys dat Hy Hom nie tot die skouspelagtige sou

laat verlei om God se trou aan Hom te toon nie. Hy het ook nie toegelaat dat Satan van Hom ’n militêre bevryder

op ’n strydwa maak nie, want krag en geweld is nie deel van sy strategie nie. Inteendeel. Hy het gekom om God se

liefde en ontferming vir ’n verloregaande wêreld ten toon te stel. Jesus het gekom om die verbond te herstel en nie

om ’n nuwe troon oor aardse koninkryke op te rig nie. Hy het nie gekom om ons aardse en politieke probleme op

te los nie, maar om ons deur sy lewe en Woord terug te bring tot die besef van God se teenwoordigheid. Jesus het

Hom dus as die gehoorsame Seun van God geopenbaar, nie deur Homself te handhaaf nie, nie deur sy mag en

gesag uit te oefen nie, maar langs die weg van nederigheid, diens en lyding.

Die versoekings staan altyd in verband met Christus se Middelaarskap. Satan het alles gedoen om Hom van die

kruisweg te laat afsien. Die triomf van Christus lê daarin dat Hy dwars teen alles in aan sy roeping en amp vasgehou

het, aan God gehoorsaam was, die kruis verdra, die skande verag en aan die regterkant van die troon van God

gaan sit het (Heb 12:2). As Hy dit nie gedoen het nie sou hierdie wêreld geen Verlosser gehad het nie en in

duisternis ondergegaan het.

Carl Wolf meen die kerk se ware identiteit en missie word ook bedreig deurdat Satan sy versoekings aan Jesus in

die kerk as sy liggaam voortsit. Die kerk staan ook voor die versoeking om toe te gee aan gerief en gemak, welvaart

en voorspoed, asook aan mag. Daarom moet ons as kerk ons voortdurend afvra: Is ons diensknegte van God? Of

maak ons van God ons dienskneg? Soek ons na publisiteit, prestige en meer invloed? Of is ons bereid om nederige

diensknegte van God en die wêreld te wees? So dikwels probeer ons om God deur ons ongeduld en ons lastigheid

in gebed te forseer om ons wil te doen, in plaas daarvan om onsself te verneder deur sy wil te doen soos dit

diensknegte betaam. Ons verwag ook soms dat God sy hand deur ’n skouspelagtige daad sal openbaar. Ons

probeer God ook so ver te kry om tekens te gee van sy teenwoordigheid onder ons. God verwag van óns om die

teken van sy teenwoordigheid te wees.

Preekvoorstel

Om die evangelie, die goeie nuus van die verlossing, te verstaan moet ’n mens verstaan wie Jesus Christus werklik

is. As die kerk nie verstaan wie Jesus is nie, sal ons ook nie die evangelie verstaan nie. En dan sal ons altyd na

ander verlossingsweë soek. In Israel het daar destyds verskillende verwagtings rondom die komende Messias

bestaan. Sommige het gemeen Hy sou ’n skouspelagtige, nasionalistiese figuur wees wat op die wolke van die

hemel sou kom om sy volk te verlos. Ander het verwag dat die Messias allerhande wondere sou kon doen om te

bewys dat Hy die verwagte Messias is. Party het geglo dat die Messias ’n onsterflike generaal sou wees wat die

nasionalistiese Jode en die engele teen die gehate Romeine in oorlog sou aanvoer en hulle in die see sou jaag.

Sommige Jode, soos ook die Ortodokse Jode vandag, was oortuig die Messias Hom op die vooraand van die pasga

sou openbaar deur die brood te breek. Nog ander het verwag dat die Messias op ’n dramatiese manier op die dak

van die tempel sou verskyn en Hom deur ’n buitengewone daad sou openbaar sodat al die teenwoordige pelgrims

sou weet Hy is die Messias. Sommige van die Jode het gemeen dat die Messias ’n aardse heerser moes wees wat

in staat sou wees om al die aansien van die ou koninkryk van Salomo te herwin, asook die hele grondgebied wat

aan Dawid en Omri behoort het. Hierdie beelde en verwagtings van die Messias het baie min verband met die Skrif

gehad.

Die frase "die Seun van God" vorm die sleutel tot die verstaan van ons teks. Matteus het sy hele Evangelie juis

saamgestel om vir ons te beklemtoon dat Jesus Christus wel die Seun van God, die verwagte Messias, is. Daarom

vorm die versoekingsgeskiedenis deel van die inleiding tot sy hele Evangelie (1:1-4:16). Reeds in die

geslagsregister trek Matteus die gordyn op Jesus se identiteit oop wanneer hy skryf: "Jesus Christus, die Seun van

Dawid, die Seun van Abraham". In die volgende perikoop trek Matteus die gordyn verder oop wanneer die engel vir

Josef, wat in die geheim van Maria wil skei, sê: "Sy sal ’n Seun in die wêreld bring, en jy moet Hom Jesus noem,

want dit is Hy wat sy volk van hulle sondes sal verlos" (Matt 1:21). In Matteus 2:15 maak Matteus Hosea 11:1 van

toepassing op Jesus wat saam met sy ouers na Egipte moes vlug: "Uit Egipte het Ek my Seun geroep." Wanneer

Johannes die Doper Jesus in die Jordaan doop, is dit God self wat vanuit die hemel sê wie Hy is: "Dit is my geliefde

Seun. Oor Hom verheug Ek My" (Matt 3:17). Vervolgens vertel Matteus die versoekingsgeskiedenis om aan sy

lesers te illustreer wie Jesus is. Met die eerste versoeking wil Matteus juis aantoon dat Jesus nie die soort Messias

is wat net gekom het om in mense se fisieke en sosiale behoeftes te voorsien nie, want die mens kan nie van brood

alleen leef nie. Met die tweede versoeking wil Matteus aantoon dat Jesus nie die soort Messias is wat sy mag

misbruik om met ’n skouspelagtige sprong van die tempel se dak af God se trou aan Hom te bewys nie. Met die

derde versoeking wil Matteus aantoon dat Jesus nie gekom het as ’n politieke bevryder wat al die aardse politieke

probleme kom oplos nie. Jesus het geweet dat Hy ’n koning is en dat die koninkryk van God aan Hom behoort, maar

Hy het ook geweet dat daar net een weg was waarlangs Hy sy missie kon volvoer, en dit is die kruisweg wat oor

Golgota loop – die pad van lyding en sterwe. Daarom lees ons in Johannes 6:15: "Toe Jesus merk dat hulle Hom

met geweld wil kom koning maak, het Hy verder die berg opgegaan, Hy alleen." Matteus koppel ook Jesus se

berisping van Petrus in Matteus 16 aan die versoekingsgeskiedenis om te illustreer wie Jesus regtig is. Wanneer

Satan Jesus dus via Petrus weer eens op ’n ompad om die kruis en lyding wil verlei om Hom in sy missie te laat

misluk, berispe Jesus vir Petrus: "Moenie in my pad staan nie, Satan! Jy is vir My ’n struikelblok, want jy dink nie

aan wat God wil hê nie, maar aan wat die mense wil hê" (Matt 16:23). In die verhaal van die kruisiging lig Matteus

die sluier finaal oor Jesus se ware identiteit wanneer Satan Jesus via die skare bespot en Hom weer eens versoek:

"Red jouself as jy die Seun van God is, en kom van die kruis af!" (Matt 27:40). So toon Matteus in sy Evangelie aan

dat Jesus die Seun van God, die verwagte Messias is, nie deur Homself te handhaaf nie, nie deur sy mag en gesag

uit te oefen nie, maar langs die weg van nederigheid, diens en lyding. Satan het alles gedoen om Hom van die kruisweg

te laat afsien. Die triomf van Christus lê daarin dat Hy dwars teen alles in aan sy roeping en amp vasgehou

het, aan God gehoorsaam was, die kruis verdra, die skande verag en aan die regterkant van die troon van God

gaan sit het (Heb 12:2). Jesus het die verlossing vir hierdie wêreld moontlik gemaak deur die weg van lyding en die

kruis te kies. Die lig van verlossing het soos ’n nuwe dag oor hierdie aardbodem opgekom omdat Jesus nie aan sy

mag en heerlikheid vasgeklem het nie, maar Hom soos ’n terdoodveroordeelde buite die stadspoorte aan ’n kruis

laat vaskap het.

Die versoeking waaraan Jesus blootgestel is, word in die kerk as sy liggaam voortgesit. Soos Satan Jesus probeer

verlei het om af te sien van die kruisweg om seker te maak dat Hy sy doel mis en dat sy missie misluk, so stel Satan

steeds vir die kerk, vir jou en vir my, elke dag baie strikke om ons in ons missie as kerk te laat misluk. Die kerk staan

daagliks voor die groot versoeking om toe te gee aan ’n gerieflikheidsgodsdiens, ’n godsdiens wat nie veel van ons

vra nie. ’n Godsdiens sonder ’n kruis. Navolging sonder kruisdra, sonder selfverloëning, sonder ’n sterwe aan selfbelang.

’n Godsdiens, soos D Bonnhoefer dit noem, waarin ons die genade van God goedkoop maak. Ons geniet

al God se goeie gawes, maar is nie regtig bereid om uit dankbaarheid daarvoor offers te bring nie. Daarom staan

ons dikwels skuldig dat ons allerhande beloftes aflê by belydenisaflegging, by die doopbak, by huweliksbevestigings,

by kerkraadsbevestigings, sonder dat ons dit regtig ernstig bedoel en ons daaraan steur. In so ’n

godsdiens gaan dit nie om God nie, maar om onsself. Ons teks waarsku ons teen hierdie soort kortpaaie en die

soeke na "gain without pain". So ’n godsdiens maak ons nie vry nie. So ’n godsdiens laat ons God se arm draai om

ons wil te laat geskied in plaas daarvan dat ons ons verneder deur sy wil te doen soos dit diensknegte betaam. Een

TV-prediker het selfs ’n gesinkroniseerde getimmer op ’n TV-stel voorgestel terwyl almal vir genesing bid, om die

Here aan te help om gouer te reageer. Soos die Jode destyds, verwag ons ook dikwels dat God sy hand deur ’n

skouspelagtige daad sal openbaar. Die groot gevaar wat die kerk loop, is om God vir die vinnige regmakers (quick

fixes) te gebruik. Ons span Hom voor ons karretjie in en Hy moet net ons behoeftes en strewes vervul. Dink maar

aan al die mense wat tans Nigerië toe gaan om daar ’n wondergenesing te beleef. Ons teks waarsku ons teen

hierdie soort welvaartsevangelie (prosperity gospel) wat altyd kortpaaie soek na ekonomiese of politieke sukses.

Van nature wil ons mos nie swak verloorders of kruispad-mense wees nie.

Ons bevind ons in ’n wêreld wat in een groot magstryd gewikkel is. Dag ná dag is daar ’n wedywering aan die gang

om so vinnig moontlik soveel ekonomiese, politieke en sosiale mag moontlik in die hande te kry. Hy wat die mag

het, bepaal wie wat wanneer vir hom gaan doen. Kortpaaie na mag en aansien (pomp and power) bly een van die

grootste versoekings vir die kerk van die Here. Sedert die dae van keiser Konstantyn het die kerk in die Westerse

wêreld ’n posisie van mag en eer beklee, maar teen ’n prys, want daarmee het sy haar geestelike karakter ingeboet.

Wanneer die kerk verval in ’n soeke na mag en heerskappy verstaan sy nie die evangelie nie. As die kerk regtig

kerk wil wees van Jesus Christus die Gekruisigde, moet ons afklim van die suksestrein en die weg van Filippense

2 gaan: die weg van selfvernedering en selfontlediging. Sukses maak dat ons so maklik te groot word vir ons skoene

en die prooi van die duiwel word. In plaas daarvan om op ons eie regte te staan en ons eie belang te soek, sal ons

moet leer om soos Jesus af te buk en voete te was, want in die koninkryk van God lê ware grootheid in selfverloëning

en nederige diens. Die kerk kan net getrou wees aan haar ware identiteit wanneer sy as dienskneg van die

wêreld met al sy materiële, liggaamlike, psigiese en geestelike nood funksioneer. Verlede jaar het die NG Kerk voor

die uitdaging gestaan om deur sy dienskneggestalte hoop aan mense in Suid-Afrika te gee.

Die kerk kan alleen kerk van die Here wees en haar missie vervul as sy die evangelie van die Here Jesus Christus

verstaan en in die geloof aanvaar en Jesus op sy kruisweg van vernedering, selfontlediging en selfverloëning volg.

Ons kan net diensknegte van hierdie wêreld wees as ons ’n kerk is wat aan die voet van die kruis leef in diepe

gehoorsaamheid aan Hom, die Dienskneg by uitnemendheid, wat ons geregtigheid en heiligheid geword het.