13 Januarie 2002

Eerste Sondag ná Epifanie

LITURGIESE VOORSTEL

Fokusteks: Matteus 3:13-17.

Ander tekste: Jesaja 42:1-9; Psalm 29; Handelinge 10:34-43.

GOD VERGADER ONS VOOR HOM

Oomblik van stilte (gevolg deur drumpelgebed)

Here, die Seun van Josef,

het die beker geneem en gedrink.

Hy het deur die dood gegaan,

omdat die duif

wat bo die waters sirkel

op aarde n plek gevind het om te woon.

"My Seun" het U Hom genoem.

Op Hom het U u Heilige Gees gelê.

Here, laat ons deel in die nuwe lewe

wat uit die dood verrys het. Amen.

Of, as alternatief op drumpelgebed, sing meditatief:

SOM 30:1, 2: "Lei U ons, Lig ..."

NJB 45 (3x): "Spreek, Heer ..."

NSG 238: "Net soos ons is ..."

Votum (Ps 29 as alternatiewe votum)

Liturg: Prys die Here, julle hemelinge!

Prys die Here om sy eer en mag!

Gemeente: Prys die Here om die eer van sy Naam!

Buig voor die Here by sy heilige verskyning!

Liturg: Die stem van die Here weerklink oor die waters.

Dit is die magtige God wat die weer laat dreun.

Gemeente: Die Here self is op die groot waters!

Liturg: Die stem van die Here is magtig en vol majesteit.

Gemeente: Die stem van die Here laat weerlig uitslaan.

Liturg: Die stem van die Here laat die woestyn bewe.

Gemeente: Die stem van die Here laat die Kadeswoestyn bewe.

Liturg: Die stem van Here laat die wildsbokke ruk van skrik.

Gemeente: Dit stroop die bosse kaal.

Liturg: In sy paleis roep almal uit:

Gemeente: "Hoe geweldig!"

Liturg: Die Here heers oor die watermassas.

Gemeente: Hy heers vir altyd as koning.

Liturg: Die Here gee krag aan sy kinders.

Gemeente: Die Here seën sy volk met oorvloed.

Liturg: Amen.

Gemeente: Amen.

Seëngroet

Lig, verlossing en vrede van Jesus die Koning wat regeer oor die hele aarde.

Antwoord op groet: lofsang (staande)

Gesang 65:1, 2, 3/NSG 46: "Ons loof U, troue Heer ..."

Of:

NJB 19:1, 2: "Helder skyn ons lig vir die nasies ..."

Kindertyd en verbondsluiting

Al is dit skoolvakansie kan die kinders vorentoe geroep word om voor in die liturgiese ruimte, rondom die doopvont,

te kom sit. Die verhaal van Jesus se doop kan dan dramaties aan die kinders vertel word (vertel fokusteks oor).

Verduidelik aan hulle hoekom Jesus gedoop is. Dit was die begin van sy openbare bediening onder die mense. Vra

aan die kinders of hulle nog hulle doop kan onthou. Natuurlik nie. Vra vir hulle wat die betekenis van die doopwater

is. Bring vir hulle die doopwater in verband met Jesus se bloed wat vir ons sondes gevloei het. Verduidelik vir hulle

dat omdat ons in Jesus se Naam gedoop is, ons ook n (publieke) verantwoordelikheid (teenoor die wêreld) het. Wie

gedoop is, is geroep. Die kinders se roeping moet vir hulle in hulle eie leefwêreld gekonkretiseer word.

Gebed ná doopherinnering

Toe Jesus, as mens, ondergaan

in die water van dood en lewe

en die Gees op Hom neerdaal

het U Hom aangewys, God,

as u geliefde Seun.

Help ons om deur u Gees

na sy stem te luister

en in sy voetspoor te doen

wat U van ons vra,

sodat ons mense kan wees

in wie U n welbehae het.

Toewydingslied (sittend)

SOM 36:1, 2/NSG 310: "Vader, neem ons hande ..."

(Kinders gaan terug na hulle ouers toe.)

DIENS VAN DIE WOORD

Epiklese

Groot is u Naam, God,

want U kom ons bestaan verlig en verryk

in Jesus, u beminde Seun.

Skenk ons sy Gees,

open vir ons u Woord,

omdat ons ook blindes se oë wil open

en u genade aan armes wil toesê,

sodat U alles in almal kan wees,

alle dae van ons lewe tot in ewigheid.

Skriflesing

Matteus 3:13-17.

Prediking

DIENS VAN DIE TAFEL

Die liturg gaan af en staan by die nagmaaltafel, neem die brood en beker en verduidelik dat die Here se liggaam

en bloed onder ons is om ons voortdurend te herinner dat God vir die hele wêreld verantwoordelikheid geneem het

deur die versoeningsdood van sy Seun.

Geloofsbelydenis

Voorbidding

Ons gedoopte mense bid vir alles en almal

tot ons God, die Liefdevolle, die Enigste:

Skeur ons werklikheid oop, U, die Enigste,

want ons wêreld is dikwels geslote,

besig met n geveg om eiebelang:

Here, laat daar mense wees wat u ryk dien.

Breek gevestigde standpunte oop,

U wat vrede wil,

deur mans en vroue wat u boodskap uitdra,

wat woorde van versoening spreek

en opkom vir die klag van verdruktes.

Reinig en genees die wonde

van vroue, onteer en verkrag,

van kinders, uitgebuit, fisiek en emosioneel verwaarloos,

van mans, oorwerk en moeg.

Stuur u Heilige Gees

oor ons wat hier saam is,

vroue, mans, kinders

in wie U n welbehae het.

U, Liefdevolle, Unieke,

wat ook gedoop is

en met die Gees beklee is,

ons bid tot U:

Verhoor ons gebede

en skenk aan ons krag

om self te doen

dít wat ons van ander verlang.

Ons vra dit deur Jesus Christus, ons Heer. Amen.

Dankoffers

UITSENDING

Slotsang

Gesang 222:1, 3, 4/NSG 186: "Bring aan die volke die boodskap ..."

NJB 20:1, 2: "Here Jesus, U skyn oor almal ..."

Seën

Jesus Christus, ons Koning,

doop elkeen van ons met sy Heilige Gees

om met hart en hoof

goed te wees vir mekaar,

om die swakkes nie verby te gaan,

maar op te rig en te versterk,

sodat sy koninkryk onder ons groei

alle dae van ons lewe,

tot in ewigheid. Amen.

Tema

Jesus is waarlik die Seun van God en het aarde toe gekom om met n doel: om vir die sonde van die wêreld te

betaal.

Inleiding

Hierdie perikoop is n uiters interessante en akademies stimulerende perikoop. Dis egter minder maklik om keuses

te maak vir die prediking. Daar is al fel gedebatteer oor die betekenis van hierdie verhaal. Daar is n verskeidenheid

wetenskaplike publikasies oor die saak en net soveel uiteenlopende teorieë en standpunte bestaan hieroor.

Dit maak dit vir die prediker baie moeilik. Die probleem word vererger deurdat daar soveel verskillende weergawes

in die Bybel is van die doopgebeure, naamlik Matteus 3:13-17; Markus 1:9-11; Lukas 3:21-22, en Johannes 1:29-

35. Elkeen van hierdie weergawes dra n ander klem.

Tog moet die prediker aan die einde n keuse maak met die oog op die prediking. Daar moet in gedagte gehou word

dat ons in die prediking in die eerste plek met die gegewe teks moet werk en wel met Matteus se weergawe. Die

prediker moet bewus wees van die gevaar om bloot n dorre dogmatiese preek hiervan te maak sonder om by

Matteus se bedoeling stil te staan.

Teks

Matteus spring aan die einde van hoofstuk 2 dadelik na die optrede van Johannes die Doper in hoofstuk 3. Anders

as Lukas, waar ons verneem dat daar intussen drie dekades verloop het, begin Matteus onmiddellik om die nuwe

periode te beskryf (Matt 3:1-2). Matteus 3:1-12 handel oor die optrede van Johannes die Doper. Omdat Johannes

die Doper se rol in die uitleg van Matteus 3:13-17 belangrik is, sou dit goed wees om die eerste gedeelte in die

Skriflesing in te sluit. Verse 13, 16 en 17 stem ooreen met Markus se weergawe. Verse 14 en 15 kom slegs in die

Matteusweergawe voor.

Die rol van Johannes die Doper

Johannes word in die woestyn geroep en Jesaja 40:3 word aangehaal. Volgens Jesaja het Johannes n oorbruggingsfunksie

gehad. Die woestyn waarin hy geroep word, was volgens die Joodse verwagting die plek waarvandaan

die Messias sou kom. Sy leefwyse en kleredrag (Matt 3:4; Mark 1:6) het sy rol as wegbereider van Jesus bevestig.

Johannes die Doper se lewenstaak was om die weg vir Jesus voor te berei (Joh 1:23, 29). Verse 1-12 vorm n

eenheid met die daaropvolgende verse 13-17.

Ons teks (Matt 3:13-17) val maklik uiteen in twee hoofmomente. (1) Verse 13-15: Hierdie gedeelte vertel van Jesus

wat deur Johannes die Doper gedoop word. (2) Verse 16-17: God bevestig Jesus se Seunskap met n sigbare teken

en n stem wat gehoor word.

Vers 13: Terwyl Johannes die Doper praat, kom Jesus om gedoop te word. Dit blyk uit die oorspronklike betekenis

van hierdie gedeelte dat Jesus daar aangekom het toe Johannes op die hoogtepunt van sy prediking was. Verder

was Jesus se aankoms die begin van sy openbare optrede. Dieselfde woorde wat met Johannes die Doper se

aanvanklike optrede (3:1) gebruik word, is hier ter sprake.

Vers 14: Hier is Johannes nie te geneë om Jesus te doop nie, want volgens verse 11-12 glo hy hy is nie werd om

Jesus te doop nie. Met hierdie gedeelte is dit Matteus se bedoeling om die Koningskap van Jesus te beklemtoon.

Matteus skryf hoofsaaklik vir n Joodse gehoor wat op die koms van die Messias wag. Dis vir hom belangrik om

Jesus as koning bekend te stel. Matteus is meer as Markus geïnteresseerd daarin om Jesus histories vir die Joodse

gemeenskap te regverdig. Daarom handel hy met die vraag: Kan Jesus Hom aan Johannes onderwerp? Johannes

erken Jesus as die Messias. Daarom wil hy Hom nie doop nie. Volgens Johannes het die Messias nie die doop van

Johannes nodig nie. Met hierdie gedeelte erken Johannes die Doper Jesus se Messiasskap.

Vers 15: Jesus versoek Johannes dat hulle "saam" aan God se wil moet voldoen. Hulle albei moet gehoorsaam

wees aan God se wil.

Wat beteken die frase "wil van God" hier? Matteus praat van Jesus se vrywillige aanvaarding van God se opdrag.

Schweitzer beklemtoon dat daar in Matteus 6:33 n verbintenis is tussen die koninkryk van God en die geregtigheid

van God. Dit sou vir hom dui daarop dat die wil van God hier ook dui op die geregtigheid van God wat vir die mens

se sondes sou betaal (regverdigmaking). Nielsen sê dat dit vir sowel Johannes as Jesus gaan oor die gehoorsaamheid

aan God. Hierdie gehoorsaamheid beteken n solidariteit met die Joodse volk dat Jesus hulle sonde sal

vergewe. Ons sou kon aflei dat die plan van God daarop dui dat Jesus geïdentifiseer moes word as die Een wat vir

die wêreld se sonde sou betaal. Hy is die Messias wat sou kom.

PREEKSTUDIE - MATTEUS 3:13-17

Dit was die wil van God dat Jesus gedoop moes word sodat Hy nie net geïdentifiseer word as die Een wat sou

kom nie, maar dat die doel waarom Jesus na die aarde gekom het duidelik sou wees (Matt 1:21).

Die doop wys dus hier op die solidariteit wat Jesus met die mense het en sy gehoorsaamheid aan God. Met sy doop

vereenselwig Hy Hom as God met die mens. Hy illustreer sy ware mensheid. Dit sou n kwalifikasie wees om te

betaal vir die sonde van die wêreld.

Die metode van doop word nie hier gemeld nie.

Ná die doop in verse 16-17 gebeur daar drie dinge:

1. Die hemel gaan bokant Jesus oop. Dit was nie bloot hulle belewenis nie. Dit het definitief gebeur. Soortgelyke

gebeurtenisse is opgeteken in Esegiël 1:1, Markus 1:10 en Openbaring 4. Dit is n uitdrukkingsvorm om aan te dui

dat God Hom openbaar.

2. Johannes sien die Gees neerdaal soos n duif. Hierdie beeld is Joods. Hier het dit te doen met n herinnering aan

Genesis 1:2 sodat hierdie gebeure ook n nuwe skepping genoem kan word. Daar is heelwat teoloë wat baie van

die opening van die hemel en die neerdaal van die duif maak. Die duif funksioneer as n boodskapper van God.

Sommige kommentators toon aan dat die reinheid, grasie en sagtheid van die duif dui op karaktertrekke van die

Heilige Gees. Om ons te red moes Hy rein en suiwer wees. Die eenheid tussen Vader, Seun en Gees kom hier na

vore. Deur hierdie handeling ontvang Jesus opnuut die Gees en die verbintenis aan God sodat Hy toegerus kan

wees vir sy taak op aarde. Hierdie gebeure ondersteun nie n soort teologie wat sê dat Jesus deur die gebeure

"aangeneem" is tot Seun van God nie. Jesus was van die begin af Seun van God. Hier word dit net bevestig en

word Jesus toegerus vir sy groot taak wat op Hom wag.

3. n Stem uit die hemel wat sê: "Dit is my geliefde Seun". Dié stem uit die hemel is ook n Joodse beeld. Ná die tyd

van die profete was Israel aangewese op die "Bath Qol" (letterlik: die dogter van die stem). Maar die Bath Qol het

n lang tyd nie plaasgevind nie. Nou kom die stem weer uit die hemel. Wat die stem sê, is deel van die Messiaanse

profesie van Jesaja 42:1. Alles dui daarop dat Jesus die Messias is en dat Hy n Israeliet by uitstek was. Die Messias

is die Seun van God. Dié uitdrukking bevestig dat daar reeds n besonderse verband tussen Jesus en die Vader

was. Hier word twee Messiaanse lyne (tradisies) bymekaargebring: Die Messias as kneg van die Here en die Messias

as Seun van God. Die tradisie-historiese van die Messiasverwagting is die hele tyd in Matteus se weergawe

ter sprake. Uit hierdie gedeelte kom die beklemtoning van die Drie-eenheid ook ter sprake.

Die uitdrukking "my geliefde" bevestig verder die besonderse band tussen Vader en Seun wat reeds bestaan het.

Hierdie toesegging van die Vader is n bevestiging van die gesag van Jesus Hy wat met gesag (goedkeuring/

opdrag) die sonde van die wêreld op Hom sou neem.

Konteks

Hierdie teks sou met groot vrug op die eerste Sondag van Januarie behandel kon word of op die eerste Sondag ná

Epifanie. Dit is voor die hand liggend hoe die motief van n blywende oop hemel ook gebruik kan word met die oog

op die nuwe jaar.

Hier is n kans om die klem te laat val op die begin van Christus se bediening en om die aandag van mense weg te

neem van die opgewonde gesindheid van n wêreldse Kersviering.

Die vroeë kerk het geweldig baie waarde geheg aan die doopgebeure van Jesus. Markus en Johannes noem glad

nie eens die geboorte nie, maar begin by die doop. In sekere sin begin alles by die doop. Hier wys dit op die begin

van Jesus se bediening, van sy openbare werk, van sy lydensweg, van sy verheerliking.

Onderliggend aan hierdie perikoop is n rykdom van teologiese vraagstukke.

Die leer van die Drie-eenheid: In verse 16 en 17 kom die eenheid tussen Vader, Seun en Heilige Gees ter sprake.

Daar is bewegings wat hierdie deel gebruik om aan te voer dat Jesus nooit God se Seun was nie en dat God by die

doop Jesus aangeneem het as sy Seun. So n siening moet egter afgewys word. Hier is dit duidelik dat Jesus van

die begin af die Seun van God was. Dit is eerder n openbare erkenning van God hierdie om die Seun se gesag aan

te toon, maar ook om aan die Joodse gehoor te wys dat dit die Messias is waarop hulle al so lank wag.

Is die Christelike doop en die doop van Johannes die Doper dieselfde? Al benader Dirkie Smit die antwoord op

hierdie vraagstuk uit die perspektief van Markus, sou dit sinvol wees om sy uiteensetting van die verskillende teorieë

te lees in Woord teen die Lig I/5 (pp 86-89). Cas Vos staan ook stil by dié vraagstuk in Woord teen die Lig I/5 (pp

105-106). Adrio König het ook n sterk standpunt dat die twee dope beslis nie dieselfde is nie. Dit is duidelik dat ons

in hierdie gedeelte nie n direkte verband tussen Jesus se doop en die doop van die Christelike kerk kan trek nie.

Johannes die Doper se doop was nie in die Naam van die drie-enige God nie. Dit het nie gewys na die opstanding

nie. Johannes se doop was n bekeringsdoop. Jesus se doop was om Homself met die mensdom te vereenselwig.

Al was Hy sonder sonde het Hy alreeds aangedui dat Hy die sonde van die wêreld op sy skouers sou dra. Dirkie

Smit stel dit so: "Dit gaan hier om heilsgeskiedenis, om Christologie, om die onherhaalbare begin van Jesus se

openbare bediening en nie om n voorbeeldige dooppraktyk nie."

In Handelinge 19 doop Paulus selfs mense oor wat deur Johannes die Doper gedoop is.

Die skopus en doel van hierdie perikoop is om die begin van Jesus se bediening op aarde aan te dui. Dit was eintlik

n amptelike aankondiging dat Jesus die Seun van God is en dat Hy n heilshistoriese taak het om te vervul. Goppelt

sê: "Jesus se bediening het begin op die rivierbedding van die Jordaanrivier."

Jesus se doop was die begin van sy pad van versoening. Met sy doop het Hy gewys dat Hy werklik mens geword

het. Hy het gewys dat Hy in solidariteit met die mens die pad van versoening sou stap. Met sy doop word sy werklike

menswees geïllustreer. Sy koningskap word geïllustreer. Hy word gedoop met die oog op sy dood. Wat hier begin,

sou op Golgota eindig. Hy vereenselwig Hom met sondaars en verbind Hom hier om aan die kruis hulle sondes af

te was.

Daar is predikers soos F A Kock wat van hierdie perikoop n baie sterk Lydenspreek gemaak het. Gesien in die lig

dat dit die begin van Jesus se bediening op aarde was, sou dit hiervoor kon deug. Hy lig die keuse-aspek van Jesus

uit. Dít was sy keuse-daad om te sterf vir die sondaar. Hy het met sy doop gewys dat Hy die pad enduit wou stap.

Hy wou enduit aan die ontroue wêreld sy getrouheid bewys. Hy wou enduit aan die verlorenes getrou wees.

Preekvoorstel

Skriflesing: Matteus 1:21; 3:1-16. Teksvers: Matteus 3:13-17.

Inleiding

Die verhaal van die doop van Jesus laat my dink aan n land se kroningsplegtigheid. (n Mens sou n spesifieke land

in die onlangse verlede as voorbeeld kon gebruik.)

Baie lande het die gebruik dat die koning se oudste kind hom opvolg as koning. Soms word die kind só weggesteek

dat die meeste mense nie eens weet hoe hy lyk nie. Tog weet almal dat hy koning sal word. Die koning hou

gewoonlik n seremonie om sy troonopvolger aan die volk bekend te stel. Gewoonlik begin sy voorbereiding as

koning ook in hierdie tyd. By so n seremonie word hy as koning uitgewys al is hy lankal as koning bestem.

Die verhaal van die doop van Jesus laat my aan so n inwydingseremonie dink.

Johannes die Doper moes Jesus eers aan die Joodse volk uitwys (bekendstel). Terselfdertyd het God sy Seunskap

bevestig en bemagtig. Die doop van Jesus was die begin van sy aardse missie. Dit was sy inhuldiging. Nie as

troonopvolger soos in die voorbeeld nie, maar as n herbevestiging as Seun van God. Hier het God sy Seun se

missie op aarde weer eens bekendgestel en dit geïllustreer met sy doop. Jesus se doop is sy inhuldiging as die

koning wat sou ly, betaal en heers.

Ek is van mening dat ten minste die volgende twee aksente deel moet vorm van die preek:

Met Jesus se doop word bevestig dat Hy die Seun van God is.

Hier word aan die wêreld verklaar dat Jesus inderdaad die Seun van God is. Hy is die Een wat sou kom om die

sondes van die wêreld weg te neem. Met die doop was dit as t ware n gesagtoewysing van: "Daar is die Lam van

God" (Joh 1:29). Johannes die Doper was die een wat Jesus moes uitwys (Hy was van die begin af reeds die Seun

van God en het dit nie nou eers geword nie). Met die neerdaal van die Gees van God soos n duif het God as t

ware aan Jesus die mag gegee om namens Hom op aarde op te tree. Die eenheid van die Vader, Seun en Gees is

hierdeur bevestig.

Dit is ook Matteus se doel om Jesus se koningskap te beklemtoon. Deurgaans speel die koningskap die gesag

van Jesus n belangrike rol in die Evangelie van Matteus.

Dit is ook die rede waarom Johannes huiwerig is om Jesus te doop, want Hy is dan die koning. Alles dui daarop dat

hierdie gedeelte vir ons wil sê dat Jesus die koning is wat sou kom. Hy is die Seun van God. In Hom word die

beloftes wat nou al so lank in die mense leef waar. Hy is die Messias wat sou kom. Sy doop is n "kroningsplegtigheid".

Hier sou die prediker die belangrikheid van die doop vir die vroeë kerk kon aandui (vgl die opmerkings by Konteks.)

Met sy doop bevestig Jesus sy ongelooflike liefde vir die sondaar.

Ons moet versigtig wees om nie Jesus se doop te vergelyk met die doop wat ons vandag ken nie. Sy doop was om

vir die wêreld te wys: Hy is God se Seun. Maar dit was ook om Hom met die mensdom se vereenselwig. Met sy

doop wou Hy sê: Hy is bereid om die sonde van die mensdom op Hom te neem.

Dit was nie soos ons doop n terugwysing na die kruisdood van Jesus en n bewys dat Hy ons sondes reeds afgewas

het nie.

Daarom is sy doop anders as die doop wat ons vandag ken as die kleindoop of die grootdoop. Jesus se doop is n

demonstratiewe doop. Hy sou die pad van versoening gewillig stap en dit sou eindig op Golgota.

Die doop van Jesus vertel dat ons nie n ander pad kan stap as juis deur Hom nie. Johannes die Doper se doop

was n bekeringsdoop, nie die Christelike doop wat ons vandag ken nie. Dit was n oorgangsgebruik wat ná Jesus

se opstanding vervang is met die Christelike doop. Johannes die Doper se doop was nie in die Naam van die drieenige

God nie. Dit het ook nie die dopeling met die opstanding verenig nie. Johannes die Doper se doop was n

doop van bekering en sondevergifnis. Mense wat hulle deur Johannes laat doop het, moes bely dat hulle sondaars

is en dat hulle hulle bekeer (Matt 3:2). Jesus was natuurlik sonder sonde en om hierdie rede hoef Johannes Hom

nie te gedoop het nie, maar die feit dat hy dit wel doen, wys vir ons: soos Hy later vir ons sonde sou sterf, laat Hy

Hom deur Johannes vir ons sonde doop. Jesus se doop was nie n teken dat Hy sonde gehad het nie. Dit was n

teken dat Hy ons sonde sou dra en ons sonde sou afwas. Hy het nie sy eie sondes gehad om te dra nie, maar Hy

het ons sondes gehad om te dra. Deur die doop van Johannes verbind Jesus Hom aan sy volk om hulle sondes op

Hom te neem (Matt 1:21). Hy begin met die vervulling van sy doel soos aangedui in vers 21.

As jy n dodelike gif ingekry het, sal jy eers n teenmiddel moet inneem om die gif onskadelik te stel. Met die doop

van Jesus het God Hom as teenmiddel vir die wêreld se sonde gestuur. Hy moes in ons plek gewas word en skoon

word sodat ons vir ewig skoon kan wees van die gif van die sonde. Jesus se doop was die begin van sy bediening

op aarde. Hy wat volmaakte God was, moes Homself verneder Hy moes op aarde begin om die pad van

versoening te stap. Hy wat volmaakte God is, stap die pad om vir die mense te sê: Ek wat ware mens is, is ook

ware God en sonder dat Ek sonde het, vereenselwig Ek My met al julle sonde en pyn.

Dit ruk elke keer aan my hart wanneer ek dink aan die groot en moeilike pad wat Jesus gestap het. Hy het ons

werklik baie lief. Met sy doop het Hy nie net mens in vlees geword nie. Hy het daardeur gewys dat Hy reeds die

sondeskuld van die mens begin dra het. Hy het mens geword wat vir die mens wou betaal. Sy doop vertel van n

liefde wat al ons sondes op Hom wil neem. Dit vertel van n liefde wat ons pyn en hartseer vir ons dra. Met sy doop

vertel Jesus vir ons dat Hy al die sondes en die gevolge van die sondes, soos hongersnood en lyding, op sy skouers

dra. Sy doop is n illustrasie van liefde.

Die doop van Jesus is die proklamasie dat Hy die mag van die God van die hemel het, dat Hy die Heilige Gees het

en dat Hy die mag en gesag het om al ons sondes op Hom te neem. Wanneer hierdie groot boodskap voor jou

staan, kan jy nie anders nie as om in asemrowende bewondering voor sy liefde en genade te buig.

Bibliografie

Kommentare: W Hendriksen (Matteus, NTC); W Grundmann (Matteus, THNT); J T Nielsen (Matteus, PNT); E

Schweitzer (Matteus, SPCK).

Ander bronne: Burger ea, Woord teen Lig I/5. G C Berkouwer, The Sacraments. LFloor , Hy wat met die Heilige

Gees doop. Leonard Goppelt, Theology of the New Testament Vol 1. Donald Guthrie, New Testament Theology. W

D Jonker, Die Gees van Christus. F A Kock, Die lydende Christus. A König, Die doop as kinderdoop en grootdoop.

Neotestamentica 11 (1977), The structure of Matthew 1-13 an exploration into discourse analysis; F Malan, Elke

dag saam met Jesus.