30 Desember 2001

Sondag ná Kersfees

LITURGIESE VOORSTEL

Fokusteks: Matteus 2:13-23.

Ander tekste: Jesaja 63:7-9; Psalm 148; Hebreërs 2:1-18.

Tema: God se nuwe definisie van wen laat die Kind as oorwinnaar uitdraf.

INLEIDING: HOE DIE LITURGIE ONTVOU

Wanneer die druk kwaai word, verdink ons God soms daarvan dat Hy ons vyand is (Jes 63:9). Die goeie nuus is

dat Hy dit beslis nie is nie, ten spyte van die bitter stryd en konflik wat ons in die lewe teëkom. Dink maar net aan

die groot supermoondhede (Egipte en Babel, waarna Trito-Jesaja waarskynlik verwys) uit wie se mag God sy

kinders gelei het, en ons sal weet dat oorwinning altyd moontlik is.

God het nie net n engel gestuur nie, Hy self was die Engel wat tot hulp gekom het (Jes 63:9). Maar dis nie engele

wat die oorwinnaars is nie. Hemelwesens is bloot toeskouers (Ps 148). God wil mense laat triomfeer. Daarom, ten

spyte van baie vermoedens of bewyse tot die teendeel, kan ons inval by die lofliedere van die ganse skepping

omdat ons glo dat God sy kinders sterk maak en naby hulle is (Ps 148) sodat hulle nie sal verloor nie.

Sy meesterskuif het God in die Nuwe Testament geopenbaar. Hy het as Kind verskyn sonder enige mag en die

aanslag teen Hom (en ons) verrassend gefnuik deur die spel teen die Bose anders te speel (sien die preekhulp).

Nou vra die Here ons om so n bietjie stywer vas te klou (Heb 2:1) aan die boodskap van Jesus se mensheid. Dit

is immers deur sy mensheid, waardeur Hy selfs minder as n engel geword het, dat Hy oorwin het. So het Hy die

toekoms mak gemaak (Heb 2:5). Daar is hoop vir ons swakke menswees.

Die liturgiese verhaal kan daarom soos volg verloop: God sê Hy is baie lief vir mense, vir ons. Hy het nie sy vertroue

verloor dat mense kan triomfeer nie. Ons dink aan teenspoed en konflik en wonder of ons ongeskonde kan

deurkom. God sê Hy sal sorg. Terwyl ons dink aan sy vroeëre verlossingsdade, sing ons dus solank saam met die

hemelwesens en die ganse skepping. Ons probeer onsself oortuig God sal die oorwinning bewerk en die Gees sê

Hy sal. Ons vertrou Hom. Die prediker verduidelik so goed hy kan hoe God se plan nou eintlik vorm aangeneem

het, sodat ons kan verstaan hoe ons die wenspel kan speel. Nou vat ons die nuwe reëls, die gebreekte brood en n

druppel bloed (want bloed sal dalk weer vloei) en ons stap met n nuwe spelplan, singend, die wêreld tegemoet.

GOD VERGADER ONS VOOR HOM

Intreelied

"Want so lief het God die wêreld gehad ..."

Votum

"Ek sal die troue liefde van die Here verkondig,

die roemryke dade van die Here,

alles wat Hy vir ons gedoen het,

sy groot goedheid vir Israel,

in sy groot liefde" (Jes 63:7).

Seëngroet

"Mag julle bemoedig en gesterk word deur ons Here Jesus Christus en God die Vader. Hy het aan ons sy liefde

bewys en aan ons deur sy genade n blywende troos en goeie hoop gegee" (2 Tess 2:16-17).

Of:

"God het julle innig lief.

Daarom het Jesus julle van julle sondes kom verlos.

Sy Gees sal julle vandag meer van sy troos en hoop laat ondervind."

Antwoord

Sing "God is liefde, juig ons harte" (Ges 74).

God hernu sy verbond met ons

Gebed vir (sommige) nood in die wêreld met die belydenis van ons eie aandadigheid (verkieslik deur twee persone

beurtelings voorgedra).

Here, ons dink hier voor u troon aan ...

Ons bely dat ons mense nie slaag nie.

U het ons goed gemaak, maar ons het nie goed opgetree teenoor u skepping en teenoor mekaar nie.

Ons het ons nie teenoor U goed gedra nie. Ons doen dit steeds nie.

Ons mense laat alles skeef loop.

Vergeef ons. (Vergeef ons.)

U het alle rede om vertroue in ons te verloor. Selfs die bestes onder ons,

skitter nie soos die hemelwesens nie.

U sou met engele meer kon uitrig, maar U het ons liefgehad.

Ons dank U daarvoor.

U het u vertroue in ons bewys deur self mens te word.

Moenie nou met ons tou opgooi nie.

Help ons ons eie menslike waarde ken. Help ons ons potensiaal vir U bereik.

Amen.

Sing

"Om ons vry te maak van sonde ... Liefd het U na ons gebring" (Ges 57:4).

Skriflesing (Ou Testament)

Lei die Skriflesing in deur iets te sê soos: "Sommige mense vermoed dat God teen ons is wanneer dit swaar gaan.

Dalk hou God nie meer van ons nie. Destyds, terwyl Jesaja besig was om God se kinders te waarsku dat sy straf

op hulle sondes onkeerbaar geword het, moes hy homself in die rede val. Hoor hoe verwonder Jesaja hom aan God

se houding teenoor sy kinders."

Lees Jesaja 63:8-9.

Lees weer vers 9.

Laat n kort stilte toe.

Kindertyd

Doopherinnering

Wys n voorwerp wat herwin is, byvoorbeeld n ou stoel wat reggemaak is. Verduidelik dat God ons eerder regmaak

as weggooi. Die doop is die bewys dat ons herstel is omdat God ons kosbaar ag. God dink ons is die moeite werd.

Vryspraak

1 Johannes 1:9.

Of:

Omdat God ons sy kinders gemaak het, vergewe Hy ons meer as wat ons verdien om vergewe te word.

Daarom sing ons altyd oor God se groot wonderdade veral dat Hy vir Jesus gestuur het.

Sang

Sing verse uit Psalm 148.

DIENS VAN DIE WOORD

Gebed (epiklese)

Skriflesing (Evangelie fokusteks)

Preek en antwoordgebed

DIENS VAN DIE TAFEL

Dankoffers en gereedmaak van tafel

Geloofsbelydenis

Skriflesing

Lei in met woorde soos: "God het sy vertroue in ons menswees bevestig toe Hy Jesus gestuur het. Al is ons

menslikheid deurspek van swakheid en sonde is dit juis God se bedoeling om dit nie prys te gee nie. Hy wou nie

engele red nie, maar mense. Hy wil ons in die nagmaal met Jesus se mensheid laat een word. Luister weer na God

se gedagtes oor die waarde van n swakke mens:

Lees Hebreërs 2:1-18 (of sekere kernverse daaruit).

Eucharistiegebed (vervang die formulier)

Liturg: U kom ons dank toe, Here ons God,

oral en altyd

deur Jesus Christus, ons Heer.

n Nuwe dag is gebore.

U toekoms het begin.

Toe die aarde nog donker was,

het ons u lewenslig aanskou:

die hemel gaan vir ons oop

en u heil kom binne ons bereik,

U self word ons naaste

en ons vrede word u eer.

Daarom, Here ons God,

verhef ons ons stem

om saam met engele, herders en wyses,

met die vroue, manne en kinders

wat u lig ontdek het as hulle lewenslig,

U diep uit die hart die lof toe te sing:

Gemeente: Sing "Heilig, heilig, heilig".

Liturg: Lof aan U ons Vader,

en lof aan Jesus wat in u Naam gekom het,

want Hy het in ons nag verskyn as die blink môrester

in stralende lig

wat deur niks en niemand uitgedoof kan word nie,

wat tot in die diepste donkerte reik.

Laat u Gees sy Woord vervul

wanneer ons doen wat U ons opdra.

Amen.

In die nag waarin Hy oorgelewer is,

het Hy brood geneem,

en nadat Hy God daarvoor gedank het,

dit gebreek en aan sy dissipels gegee en gesê:

"Neem, eet, dit is my liggaam wat vir julle gegee word,

Dink dan aan My."

Net so het Hy ook ná die ete die beker geneem,

God daarvoor gedank,

dit omgestuur en gesê:

"Drink almal daaruit.

Hierdie beker is die nuwe verbond wat met my bloed bevestig word

tot vergewing van sondes.

Dink elke keer aan My

wanneer julle daaruit drink."

Gemeente: Ons herdenk u dood.

Ons bely u opstanding.

Ons verwag u toekoms.

Maranata.

Liturg: In herinnering aan U

nader ons U, o God,

met hierdie brood en hierdie wyn

en bid ons:

Laat ons ons eenheid met die liggaam van Jesus ter harte neem.

Laat sy gebroke liggaam ons bemoedig

wanneer ons van ons eie swakheid pynlik bewus word.

Laat sy bloed ons vry maak om ook ons lewe kan te gee

wanneer dit vir iemand anders lewe mag gee.

Stuur u Gees in ons midde

en versterk die hoop en die liefde in ons almal

sodat ons lig kan bring waar duisternis heers

en self durf voortgaan

die grote toekoms tegemoet

waarin dit uiteindelik waar sal wees:

Vrede op aarde.

Nou wil ons U eer

saam met al die ander aan wie ons voor U dink:

en saam met almal wat ons vooruit is

vir wie ons lief was

vir wie ons mis

en saam met almal wat geheilig is

en die ontelbare vergete mense

u hele menslike bevolking

wat na u maal genooi is.

Geseënd is U, ons God,

wat is en wat was en wat kom;

geseënd hier en nou

en tot in lengte van dae

deur Jesus Christus, ons Here.

Amen.

Sing

Sing die "Ons Vader".

Instelling

Uitdeel en gebruik

Lofprysing

UITSENDING

Lees

1 Johannes 3:1.

God noem ons nie sonder rede "kinders" nie. Die Kind van Betlehem het nuwe spelreëls kom neerlê wat net kinders

kan speel. Laat ons dan as kinders van God uitdraf en die opposisie gaan aandurf in die wete dat ons beslis die

oorhand gaan voer. Hier is enkele sake waarmee ons besig gaan wees

Oproep (bulletin of aankondigings)

Sang

"Dit is die dag deur God geskenk" (Ges 106:1, 3, 4).

Seën

Met (gesingde) "Amen".

Inleiding

Die Matteusevangelie is nie n objektiewe geskiedenis van die lewe van Jesus Christus nie. Dikwels word die fout

gemaak om die Matteusevangelie (en ook die ander Sinoptiese Evangelies) te lees los van die konteks waarbinne

dit geskryf is en van die plan en bedoeling wat Matteus met die geskrif gehad het. Wanneer dít gebeur, gaan die

oorspronklike aktualiteit van dié geskrif by die leser verby en daarmee saam ook heelwat moontlikhede om die teks

op n aktuele manier binne ons eie konteks te hoor. Daar is die afgelope twintig jaar vanuit onderskeidelik die meer

literêre sowel as die meer sosiologiese benaderings baie lig gewerp op die historiese bedding waarbinne die

Matteusevangelie geplant is. Eers wanneer hiermee erns gemaak word, kan gesien word hoe die Matteusplantjie

rank tot in ons eie tyd.

Teks

Die Mattiaanse gemeenskap

Die Matteusevangelie is teen die einde van die eerste eeu (85-90 nC) geskryf. Die bedoelde eerste lesers was n

gemeenskap van Christengelowiges van sowel Joodse as heidense agtergrond wat hulleself waarskynlik in n stad

(moontlik Antiogië) bevind het. Van hierdie gemeenskap word gepraat as die Mattiaanse gemeenskap. Die sosiale

en godsdienstige klimaat waarin hulle geleef het, was deurdrenk van intense konflik intern sowel as ekstern. Hulle

het geleef tussen heidene sowel as Jode en het verdrukking en vervolging uit albei oorde beleef. Die gemeenskap

aan wie die Matteusevangelie gerig is, was beslis nie onder Joodse godsdienstige beheer nie. Dit lyk veeleer asof

hierdie gemeenskap reeds beskik het oor n eie vorm van organisasie waarin moeilike sake soos dogmatiese en

dissiplinêre kwessies gehanteer is. Die Mattiaanse gemeenskap het hulleself gesien nie as die nuwe Israel of dan

as n nuwe godsdiens nie, maar eerder as die ware Israel. Matteus wil nie n nuwe godsdiens begin nie, maar wil

eerder aantoon hoe Jesus Christus die Ou Testament tot vervulling gebring het. Matteus is egter nie geskryf as n

soort apologie teenoor Jode of nie-Jode van buite die geloofsgemeenskap nie, maar met die oog op die Mattiaanse

gemeenskap self. Matteus is die mees Joods van al die Evangelies omdat Jesus en die kerk omskryf word in terme

van simbole wat vereenselwig is met wat later sou ontwikkel in rabbynse Judaïsme. Anders gestel, die

Matteusevangelie het probeer sin maak uit al die begrippemateriaal wat binne die Mattiaanse gemeenskap se

verwysingsraamwerk was. Die Matteusevangelie wou dus ook binne die pluralistiese gemeenskap waarbinne die

Mattiaanse gemeenskap geleef het, sin maak uit kompeterende waarheidsaansprake. Om die verhaal van Jesus en

die kerk van Farisese Judaïsme te onderskei, was dit nodig om die simbole van die Joodse tradisie te gebruik en

te herinterpreteer. Matteus is dus geskryf aan die Mattiaanse geloofsgemeenskap self om hulle te help in hulle

proses van selfverstaan binne n pluralistiese gemeenskap in terme van veral Joodse simbole en begrippemateriaal.

Die onmiddellike konteks

Matteus 2:13-23 is geplaas binne Matteus 1:1-4:16 wat n eenheid vorm. Hierin word die leser aan Jesus

bekendgestel voordat Matteus 4:17 Jesus se bediening inlei met die bekende: "Van toe af het Jesus begin preek en

gesê: Bekeer julle, want die koninkryk van God het naby gekom." Maar hoe stel Matteus lesers aan Jesus bekend

in 1:1-4:16? Jesus word bekendgestel as die Seun van Dawid en die Seun van God. Die titels Seun van Dawid en

PREEKSTUDIE - MATTEUS 2:13-23

Seun van God is Markaanse opvattings van Jesus wat deur Matteus op n unieke manier uitgebeeld word as gevolg

van die invloed van die Tora sowel as die interaksie met Farisese Judaïsme. Verder dien Matteus 1:1-4:16 as n

soort ouverture tot die res van die Matteusverhaal. Verskeie belangrike temas word ingelei en belangrike verbande

word met latere gebeure gelê.

Die samestelling van Matteus 2:13-23

Matteus 2:13-23 vertoon n logiese en eenvoudige uiteensetting:

Teks Gebeurtenis Vervullingsitaat ingelei Leidende figuur

Verse 13-15 Die vlug na Egipte Vers 15: "So is vervul " Jose

Verse 16-18 Die kindermoord Vers 17: "Toe is vervul " Herodes

Verse 19-23 Die terugkoms uit Egipte Vers 23: "So is vervul " Josef

Dit is opvallend hoe elkeen van die onderafdelings eindig met n vervullingsitaat wat telkens begin met "So is vervul

" (vgl vv 15, 17 en 23). Dit is nodig om die vervullingsitate binne n breër verband te verstaan. Tereg sê Combrink

(1991:7): "Hier is dit van belang om raak te sien dat dit nie alleen gaan om die vervulling van spesifieke voorspellings

in die lewe van Jesus nie, maar ook om die breër Ou-Testamentiese plan van God wat in Jesus in vervulling gaan."

Vervulling van die Ou Testament

Daar is reeds gesê dat Matteus graag vir sy lesers wil aantoon hoe die breër Ou-Testamentiese plan van God

in Jesus in vervulling tree. Daar is ook reeds genoem dat die Mattiaanse gemeenskap hulleself gesien het as

die ware Israel en dat die Matteusevangelie hulle help om hulle identiteit te vind en te formuleer in n breër

gemeenskap waarin die Joodse gemeenskap kennelik groot druk op hulle toegepas het. Deur aan te toon hoe

Jesus die vervulling van God se Ou-Testamentiese plan is, gee Matteus n teologiese basis vir die Mattiaanse

geloofsgemeenskap se identiteit.

Matteus maak gebruik van vervullingsitate waardeur Ou-Testamentiese voorspellings hulle vervulling in Jesus

vind (Kingsbury 1988:41). Elkeen van die vervullings het n eie dinamika, maar dien uiteindelik Matteus se

oorkoepelende doel.

Deur die eksodus-tipologie word Jesus enersyds uitgebeeld as die nuwe Moses en andersyds as soortgelyk

aan die volk tydens hulle verblyf in Egipte in die tyd van Josef en ook in die tyd van hulle uittog uit Egipte in die

tyd van Moses (Hagner 1993:34). Let byvoorbeeld op hoe Herodes uitgebeeld word as die farao. Die farao het

al die manlike Hebreeuse babas laat doodmaak (Eks 1:22). Jesus word uitgebeeld as die nuwe Moses. Ook

Moses moes vlug omdat sy lewe deur die farao bedreig is (Eks 2:15). Soos die afsterwe van die farao aan

Moses die geleentheid gegee het om terug te keer (Eks 4:19-20), gee Herodes se dood aan die Jesuskind die

geleentheid om na Israel terug te keer.

Konflik in die Matteusevangelie

Konflik is een van die belangrikste temas in die eerste Evangelie. Dit sluit baie nou aan by n tweede tema wat ook

deur Matteus loop, naamlik die keuse om Jesus te aanvaar of te verwerp. (Volgende week word meer hierop

ingegaan wanneer Matt 2:1-12 behandel word.) Die keuse om Jesus te verwerp of te aanvaar het altyd konflik tot

gevolg. In Matteus 2 staan Herodus en sy ondersteuners, die Joodse leiers, sowel as "die hele Jerusalem" teenoor

die Jesuskind en sy ondersteuners, die sterrekykers en sy ouers, met God wat agter die skerms werk en soms van

engele se hulp gebruik maak. Dit is opvallend hoe Herodus en die Joodse leiers deur Matteus oor dieselfde kam

geskeer word omdat hulle opponente van Jesus is. Tóg is daar verskillende beweegredes vir hulle teenstand.

Enersyds word Herodus (die amptelike "koning van die Jode") se koningskap direk bedreig deur die Jesuskind

omdat sy geboorte onder die titel Koning van die Jode afgewag word. Andersyds word die Joodse leiers se

magsposisies as gesagvolle kenners en interpreteerders van die Skrifte bedreig deur Jesus wat na vore tree as die

nuwe Moses en die vervulling van die Ou Testament. Hagner (1993:34) stel dit duidelik dat vir Matteus "all Israels

history finds its recapitulation in the life of Jesus". Uiteindelik is die Mattiaanse gemeenskap gebou op die lewe van

hierdie Jesus. Die konflik wat die Matteusevangelie uitbeeld ten opsigte van Jesus en die Joodse leiers is dieselfde

konflik wat die Mattiaanse gemeenskap met die Joodse gemeenskap in hulle eie konteks beleef het. Die verhaal

wat Matteus van Jesus vertel, help dus die Mattiaanse gemeenskap om hulle eie identiteit te vind en bied as sodanig

n teologiese basis vir hulle bestaan as geloofsgemeenskap. Dit is bekend dat Matteus die mees kerklike van al die

Evangelies is. Dit is die enigste Evangelie wat na die kerk verwys (16:18).

Gehoorsaamheid

Gehoorsaamheid is n belangrike tema in Matteus 2. Let op hoe Josef se gehoorsaamheid beklemtoon word en ook

hoe die vertellings van Josef dié van Herodes omring. Matteus is n Evangelie van kontraste. Hier word Josef

gekontrasteer met Herodes. Volgende week (Matt 2:1-12) sal ons sien hoe Herodes gekontrasteer word met die

sterrekykers.

Josef (vv 13-15)

Herodes (vv 16-18)

Josef (vv 19-23).

Konteks

Eerste preekmoontlikheid

J H Cilliers (1990:153-154) se preekvoorstel in Woord teen die Lig I/7 word kortliks hier weergegee.

Die teks is eintlik "hard" in vergelyking met die Kersverhaal wat pas tevore uitgebeeld is. Matteus wil lesers herinner

aan die hardheid van die wêreld waarbinne die Jesuskind gebore is.

Tog, sê Cilliers, hoort hierdie hardheid eintlik by Kersfees, want Kersfees het n kruiskant. Die Kersevangelie is

wesenlik n kruisevangelie Jesus se lyding begin reeds met sy geboorte.

Om Kersfees te vier is gevaarlik, sê Cilliers, en boonop word die kerk meegeneem in die lyding van Christus. Cilliers

verduidelik dat die kindermoord lyding na twee kante toe rig, wat van mekaar onderskei behoort te word in die

prediking. Enersyds is daar die lyding van Christus aan die kruis. Andersyds is daar die lyding van die kerk wat in

navolging van Christus sy eie kruis moet dra. "Omdat Christus ly, ly die kerk; wanneer die kerk ly, ly Christus."

Laastens wys Cilliers op die feit dat die kerk deur die lyding heen bewaar word. Soos God in beheer bly in die

verhaal van die Jesuskind, bly God in beheer wanneer die kerk ly. Herodes se mag is blote skyn. Hierteenoor staan

die skynbaar onmagtige Jesus as die Een wat eintlik magtig is. God se sorg bied troos in die proses van kruisdra.

Tweede preekmoontlikheid

Dit is ook moontlik om Matteus 2:13-23 binne n breër verband te preek. Die prediker kan vra wat Matteus in die

breë sou beteken vir die eerste lesers en hoe Matteus 2:13-23 spesifiek bygedra het daartoe. n Mens sou kon fokus

op die heilshistoriese rol wat die Matteusevangelie vervul. Op n meesterlike manier sien Matteus hoe die era van

die Ou Testament in die Persoon van Jesus vervul word. Dit is duidelik dat dit die teologiese onderbou gevorm het

van n hele nuwe geloofsgemeenskap wat geworstel het om hulleself te verstaan in n pluralistiese stadsgemeenskap.

Só gesien, kry die kleiner verhaaleenheid wat ons in Matteus 2:13-23 aantref besonderse betekenis.

Die prediker kan die kleiner Matteus 2:13-23 dus gebruik om aan te toon wat die Matteusevangelie in die breë wou

regkry. Dit is die moeite werd om kortliks te kyk na Matteus se heilshistoriese belang.

Heilsgeskiedenis by Matteus

Tereg sê Combrink (1991:20) dat daar "geen twyfel daaroor bestaan dat vir Matteus die koms van Jesus n radikale

keerpunt in die heilsgeskiedenis beteken nie. Dit is reeds duidelik uit die geboortegeskiedenis, maar dit blyk ook uit

die Evangelie as geheel dat die ganse geskiedenis van heil in Jesus sy vervulling bereik".

Vir die prediking, en vir die tweede preekmoontlikheid hier bo, beteken dit ten minste:

dat God in Jesus n nuwe era van verlossing inlei;

dat Jesus as Persoon n nuwe era van verlossing beliggaam;

dat hierdie verlossing eintlik ou nuus is wat nou op n nuwe manier gehoor moet word,

en dat hierdie Jesus die gebroke werklikheid wat verander moet word, aandurf as n Kind.

Preekvoorstel

Hierdie preekvoorstel kan in vier bewegings voltrek word. Die bedoeling is om aan te toon hoe die koms van die

Jesuskind n nuwe era van verlossing veroorsaak het, wat die gevolge daarvan was en hoe dit ons raak. Verskeie

metafore kan gebruik word om die boodskap te kommunikeer.

Sport (spel) as sentrale metafoor: Die spel (wêreld) was in chaos. Die doel was nie alleen om te wen (die Bose

te oorwin) nie, maar om die spel self te suiwer deur die reëls te verander (wat soms na verloor kan lyk: bv om

die minste te wees; die kruisiging). Die volgende illustrasie kan gebruik word in só n preek:

Hy is gebore in 1806 en sou later die predikant word van die St Georges Kapel in Albermale, Londen. Op 16-

jarige leeftyd doen hy iets waarvan die gevolge meer as 180 jaar later steeds gevier sou word. Hy was besig

om sokker te speel toe hy die reëls breek deur die bal op te tel en daarmee te begin hardloop. Dit was die begin

van die spel met die naam rugby. En sy naam was William Webb Ellis. Op die fondamente van n ouer sportsoort

word n nuwe gebou bloot deurdat die reëls verander word. Matteus wil wys hoe Jesus gekom het om die reëls

van die spel te verander. Dit was nie genoeg om te wen nie ook die manier van wen moes verander. Let op

hoe die druk van n drie in sokker nie sin sou maak nie. Net so het die geboorte van Jesus nog nie sin gemaak

nie dit is vir iets heeltemal anders aangesien.

Die nodigheid dat die wêreld moet verander: In n poging om die wêreld te verander is dit nie genoeg om alleen

te fokus op die eindbestemming (oorwinning oor die Bose) nie, maar daar moet ook gefokus word op die manier

waarop die oorwinning behaal word.

Dit is duidelik dat die krag van Matteus se boodskap geleë is in die paradoks van die kruis. In Matteus 2:13-23 bied

die uitbeelding van die Verlosser as Kind die ideale geleentheid wat in enige van bogenoemde benaderings gebruik

kan word.

1. Die wêreld moet verander

Predikers kan voorbeelde uit die wêreld van vandag noem. Gebruik verkieslik voorbeelde van gebrokenheid wat lê

binne die ervaringsveld van die hoorders.

2. Die reëls van die spel wat gespeel word

Die samelewing het n manier om deur middel van geskrewe sowel as ongeskrewe reëls aan mense voor te skryf

hoe om te lewe. Die gedagte is om te wys hoe hierdie reëls op verskeie maniere in stryd sal wees met die hartklop

van die evangelie.

3. God se Idee verander die reëls

Die versoeking is om die spel te speel volgens die wêreld se reëls. God se oplossing is n Kind. Wanneer God deur

Jesus tot die stryd toetree, is die manier waarop die spel gespeel word sowel as die eindbestemming totaal

geïntegreer. Die verskoning "die doel heilig die middele" geld dus alleen in soverre die middele dieselfde gees adem

as die doel.

4. n Nuwe spel word gespeel

God wil dus nie alleen die wedstryd wen nie; Hy wil ook die reëls waarvolgens gespeel word, verander.

Stimulerende gedagtes

In die film Pay it forward rig n onderwyser n uitdaging aan sy klas deur op die swartbord te skryf: "Come up with

an idea that would change the world then put it into action." Die kinders is totaal oorbluf. Die opdrag is beslis te

groot en te omvangryk om dit ooit suksesvol uit te voer. Net een outjie in die klas neem die opdrag ernstig op en tot

almal se verbasing rimpel sy idee al hoe wyer uit totdat dit selfs ander stede begin bereik. Miskien was dít wat almal

die meeste verbaas het die feit dat dit n kind was wat so iets begin het.

God is baie oorspronklik. In sekere sin kan n mens sê dat God spesialiseer in idees wat die wêreld kan verander.

God se karakter is nou maar eenmaal so verlossing is sy hartsbegeerte vir die hele wêreld. In die Ou Testament

het God die wet gegee as só n idee. Matteus (22:34-40) sê dat die hele wet opgesom kan word in liefde vir God

en vir die medemens. Maar Matteus het nie sommer vanself by só n uitstekende opsomming van die wet uitgekom

nie. Iets ongeloofliks het gebeur in die geskiedenis tussen die ontvangs van die wet en Matteus se vernuftige

interpretasie daarvan: God het met n briljante idee vorendag gekom. Met hierdie idee wou God die wêreld verander

en, só het die geskiedenis ons geleer, hierdie idee hét inderdaad die wêreldgeskiedenis verander.

Iemand het gesê: "Verwag altyd die minste dan word jy nie teleurgestel nie." Maar mense het groot dinge verwag

van Jesus. Matteus vertel ons dat die sterrekykers na Hom verwys as "die koning van die Jode" (2:2) en dat Herodes

na Hom verwys as "die Christus" (2:4). Wanneer n mens sien dat daar in één tydgleuf na twee mense verwys is as

"die koning van die Jode" moet jy weet dat daar moeilikheid op pad is. Herodes was die heerser oor die Jode en

toe die sterrekykers begin soek na n ander koning van die Jode, moes hy sterk teenstand verwag het. En Herodes

hanteer hierdie politieke en magsbedreiging soos n mens sou verwag van n koning met al die magsvertoon en

slinksheid waaroor hy beskik het: hy laat al die seuntjies van twee jaar en jonger vermoor. Só n wêreld het nodig

om te verander n wêreld waarin die koning n massamoord pleeg sonder om n oog te knip.

Matteus gebruik Herodes as n soort voorganger van die Joodse leiers: die priesterhoofde en die skrifgeleerdes van

die volk. Ook die godsdienstige leiers het hulle aandeel daaraan om van die wêreld n slegte plek te maak. Hulle

het n Messias verwag wat hulle van politieke onderdrukking sou bevry. Eintlik wou hulle iemand hê wat vuur met

vuur sou beveg n magtige politieke leier. Die verwagtings was groot té groot, en God se oplossing was klein

té klein. Herodes se eerste moordpoging op Jesus het misluk, maar uiteindelik sou dit die godsdienstige leiers wees

wat Jesus se ondergang bewerkstellig. Die tweede moordpoging was suksesvol.

Die film Pay it forward is n doelbewuste omkeer van die bekende pay back. In plaas daarvan om iets terug te betaal,

word dit vorentoe betaal. Kortom, om iets vir iemand anders te doen sonder om iets terug te verwag. Dít is die idee

waarmee die jong skoolseun vorendag gekom het om die wêreld te verander. Die krag daarvan was dat hy nie

probeer het om die een of ander bestaande sisteem te vervolmaak nie, maar dat dit n bestaande sisteem heeltemal

onderstebo gekeer het.

Herodes verwag teenstand. Al wat hy kry, is n voortvlugtende gesin. Herodes verwag teenstand. Al wat hy kry, is n

Kind. Só nietig beeld Matteus die Jesuskind uit dat Hy niks sê of doen in die eerste twee hoofstukke nie. Hy is totaal

passief. Dít is die idee waarmee God die wêreld wil verander. Die verhaal is eintlik baie humoristies. Die koning voel

bedreig deur n Kind!

Wanneer ons na rugby kyk op die TV sien ons dikwels hoe die span nog in die kleedkamer gereed staan om op die

veld te draf. Voor staan die kaptein en heel voor staan daar gewoonlik n klein seuntjie wat die eer het om as n soort

gelukbringer op die veld uit te draf. Dink net hoe groot die skok sou wees indien dit blyk dat die seuntjie nie n

gelukbringertjie is nie, maar die vaskopvoorry. God stuur verlossing in n baie onwaarskynlike vorm, maar met n

doel. Vir God is dit nie genoeg om die spel te wen nie. In sekere sin kan n mens sê God herdefinieer die

wenkonsep. Vir God is dit nie net die resultaat wat tel nie, maar die proses. Vir God gaan dit ook oor die manier

waarop n mens die spel speel. Die enigste manier waarop ons kan verstaan waarom Jesus se kruisiging as n

oorwinning bestempel kan word, is as ons saam met God op n ander manier kyk na WEN. Die reëls moet verander.

Bibliografie

Kommentare: Gundry, R H 1982. Matthew. A Commentary on his litenerary and theological art. Grand Rapids:

Eerdmans. Hagner, D A 1993. Matthew 1-13. Word Biblical Commentary. Volume 33A. Dallas: Word Books

Publisher. Hare, D R 1993. Matthew. Interpretation. A Bible Commentary for Teaching and Preaching. Louisville:

John Knox Press.

Homileties: Cilliers, J H 1990. Matteus 2:13-23, in Woord teen die Lig I/7, pp 148-154.

Ander literatuur: Combrink, H J B 1991. Dissipelskap as die doen van God se wil in die wêreld, in Roberts, J H et

al (reds). Teologie in konteks. Pretoria: Orion. Edwards, R A 1985. Matthews story of Jesus. Philadelphia: Fortress

Press. France, R T 1989. Matthew: Evangelist and Teacher. Exeter: Paternoster Press. Howell, D B 1990. Matthews

inclusive story. A study in the narrative rhetoric of the first Gospel. JSOT Supplement Series 42. Sheffield. Johnson,

LT 1986. The writings of the New Testament. An interpretation. Philadelphia: Fortress Press. Keck, LE (red) 1995.

The New Interpreters Bible. Volume VIII. Nashville: Abingdon Press. Kingsbury, J D 1988. Matthew as story.

Tweede Druk. Philadelphia: Fortress Press. Neyrey, J H 1998. Honor and shame in the Gospel of Matthew.

Louisville: Westminister John Knox Press.