Januarie 2002
Epifanie 6
Basisliturgie vir Epifanie en die Sondae daarna
INLEIDING
1. Epifanie se eiesoortige boodskap van Christus as die geopenbaarde Lig vir die wêreld dien as vertrekpunt en
dra die liturgie vir die volgende Sondae tot die verheerliking. Epifanie as fees voltooi die herdenking van God
se openbaring aan ons as die Woord wat vlees geword het. Die volkere van die wêreld word opgeroep om hulle
hulde en gawes aan hierdie Koning te wy. Die wyses uit die ooste is die sentrale motief vir die fees. Dis n
vreugdevolle fees. Lig en openbaring is sentrale begrippe.
2. Hierdie jaar is die tydperk ná Epifanie besonder kort. Dit vra vir n kompakte en kernagtige viering van hierdie
periode. Die impak kan verhoog word deur eenvormigheid in die liturgie vol te hou. Indien momente bygevoeg
of weggelaat word, behoort dit sover moontlik vir die hele gety onveranderd gehou te word.
3. Die perspektief van die Evangelie volgens Matteus (Jaar A) moet in gedagte gehou word. Jesus se aardse
verskyning word deur Matteus belig om die fokus te laat val op sy posisie as Koning op die troon van Dawid.
Epifanie en die volgende Sondae kan dus benut word om Jesus (weer) te betuig in sy vorstelike rol as Messias.
4. Is daar n deurlopende tema in die fokustekste te vind? Watter motiewe kom na vore?
Matteus 2:1-12: Besoek van die wyses koningshulde.
Matteus 3:13-17: Doop hemelse salwing/aanstelling (om God se werk te doen). Die teks gryp vooruit na
verheerliking (op die berg en aan die kruis). Hy alleen is deur God aangewys.
Johannes 1:29-42: (Hierdie Sondag gebruik elke jaar n Johannesteks.) Die Lam van God, Hy is die Een
wat met die Heilige Gees doop. Die erediens wentel om die erkenning van wie Jesus is en met watter gesag
Hy beklee is.
Psalm 27 (met Matt 4:12-23): Toewyding aan eie roeping, gewilligheid om te volg en te dien. As
toewydingsdiens mag sommige gemeentes dit te laat vind aangesien die skole lankal reeds heropen het.
Gemeentes sal egter goed doen om die voorafgaande Sondae as voorbereiding in te rig met die oog op n
besonderse toewyding op hierdie dag.
Miga 6:1-8 (met Matt 5:1-12): Bekendmaking van wat God waarlik verlang die ryksbeginsels.
Sondag van Verheerliking (10 Feb) Psalm 2 (en Ps 99): Die koningspsalm is as fokus gekies. Hierdie
oorgang-Sondag dien as hoogtepunt en fokuspunt vir die Epifanietyd en lei terselfdertyd die Lydenstyd in.
Samevattend: Jesus bring in sy Persoon die koninkryk en beginsel(s) daarvan na ons toe. Die tydperk begin
met hulde deur die wêreld (sterre en vorste; Matt 2) en eindig by n roep tot onderwerping aan sy gesag (Ps 2).
Sy kerk word allereers opgeroep om hulde te gee en verbind hulle toenemend om sy roepstem te gehoorsaam
en om aan die nuwe "wet" van God uitvoering te gee.
5. Jesus se ryk en Suid-Afrika vandag: Ons bevestig Jesus se ryk liturgies as die anker vir ons eie land. Nie net
die prediking nie, maar ook die liturgie moet uitdrukking gee aan die realiteit van Jesus se teenwoordigheid en
heerskappy in Suid-Afrika vandag. Die "magte" van ons land moet voor Hom buig: politici en gesagsdraers,
beheerders van die geldmag, bende- en misdaadleiers, meningsvormers en opvoeders, dié wat die media
beheer en natuurlik kerkleiers en ander. Ook "geestelike" magte soos die gees van mismoedigheid, aggressie
en belangeloosheid moet swig voor die Vors van lewe.
6. Liturgiese ontplooiing: Die sentrale tema sou saamgevat kan word as "Bring hulde aan God en aan sy Vors
van verering tot onderwerping".
Die gemeente is steeds besig om die Nuwe Ryk te proklameer. Ons vier die teenwoordige ryk liturgies
terwyl ons aan die Vors van vrede hulde bring. So bevestig ons ons geloof, internaliseer ons sy beginsels, streef
ons volhardend na sy koms en leer ons leef in die ongelyktydigheid van God se koninkryk.
7. Doop: n Doopbediening tydens Epifanie is van besonderse betekenis. Deur sy doop is Jesus immers bekendgestel
en vir sy lewenstaak toegerus.
8. Moontlike liturgiese draers van die boodskap van Epifanie:
Embleem van Koningskap.
Groen as (tradisionele) liturgiese kleur.
n Vaste votum wat die temas van die eredienste tot n eenheid smee.
n Vaste seëngroet om elke diens mee af te sluit.
n Temalied (van eie keuse).
n Doop of doopherinnering wat elke lidmaat aan sy of haar eie "salwing" herinner en dit bevestig. Die
inkleding kan elke Sondag afgewissel word na gelang van die fokus van die diens.
n Belydenis waarin Jesus se heerskappy beaam en gekonkretiseer word.
n Vaste (volhardende) gebed om te vra vir die onderwerping van duistere magte in die land aan Jesus se
gesag.
GOD VERGADER ONS VOOR HOM
Simboliek
n Embleem van Christus se Koningskap is elke Sondag teenwoordig, byvoorbeeld n goue kroon.
Voorbereidende sang
Liedere oor die koninkryk van God.
Votum (gebaseer op Ps 99; n alternatiewe psalm vir 10 Feb)
Liturg: "Die Here regeer: die volke erken sy gesag.
Gemeente: Hy troon oor die gerubs: die aarde sidder van ontsag.
Liturg: Hulle moet u groot en gevreesde Naam prys:
Gemeente: Sing "Heilig, heilig, heilig" (v 1; enige weergawe).
Liturg: "U is die magtige Koning, U het die reg lief.
Gemeente: Alles wat reg is, het U tot stand gebring.
Liturg: U het reg en geregtigheid onder u volk gevestig.
Gemeente: Sing "Heilig, heilig, heilig" (v 2).
Liturg: Here ons God, U het u kinders se gebede verhoor.
U was vir hulle n vergewende God,
maar ook Een wat sondes gestraf het.
Gemeente: Prys die Here ons God.
Liturg: Buig voor Hom in sy heilige woning,
want die Here ons God is heilig.
Gemeente: Sing "Amen".
Nota: Musiekbegeleiding kan vir die duur van die hele tweespraak volgehou word.
Of:
Ek maak jou n lig vir die nasies
sodat die redding wat Ek bewerk,
die uithoeke van die aarde sal bereik.
So sê die Here, die Heilige van Israel, sy Verlosser,
vir dié een wat diep verag is,
wat deur die nasies verafsku word
en wat n dienaar van regeerders is:
Konings sal sien wat gebeur
en sal opstaan,
leiers sal buig
tot eer van die Here wat getrou is,
die Heilige van Israel
wat jou uitverkies het (Jes 49:6-7).
Groet
Lig, verlossing en vrede van Jesus die Koning wat regeer oor die hele aarde.
Aanbiddingslied
Kindertyd en verbondsvernuwing
Skriflesing
Ou Testament.
Erkenning van nood en skuld
Gebed (by die doop of doopherinnering)
Here, ons wat in u Naam gedoop is
en in u lewe deel,
dank U dat die hemel vir ons oopgegaan het
en dat u Gees in die gestalte van die duif
wat van voltooide oordeel getuig
(soos in die dae van Noag)
ons as u geliefde kinders bevestig en heilig
sodat ook ons ons publieke roeping kan volbring.
Vryspraak
"Deur die bloed van sy Seun is ons verlos
en is ons oortredinge vergewe
kragtens die ryke genade van God ..." (Ef 1:7).
"In Christus het die Heilige Gees
wat deur God belowe is,
julle as die eiendom van God beseël.
Die Heilige Gees is die waarborg
dat ons ook verder sal ontvang
wat God belowe het,
wanneer Hy almal wat aan Hom behoort,
volkome sal verlos.
Daarom moet ons sy grootheid prys"
(Ef 1:13b-14 teks van Sondag 6 Jan).
Lofsang
DIENS VAN DIE WOORD
Gebed (epiklese)
Skriflesing
Psalm.
Sang
Skriflesing
Fokusteks.
Preek
49
Antwoordgebed
Die gebed is die geskikste plek vir voorbidding vir die onderwerping van die magte in die gemeenskap.
DIENS VAN DIE TAFEL
Gereedmaak van tafel
Dankoffer
Geloofsbelydenis
Lui die geloofsbelydenis in met Efesiërs 3:10-11:
"Maar nou het God die ryke verskeidenheid van sy wysheid
deur die kerk bekend laat word
aan elke mag en gesag in die hemelruim,
soos Hy Hom van ewigheid al af voorgeneem het
om dit deur Christus Jesus, ons Here, tot uitvoering te bring."
Ons, sy kerk, bely voor die ganse heelal die volgende:
Apostoliese Geloofsbelydenis.
Epiklese
Sing "Heer, wees ons genadig (2x) (NSG 233).
Eucharistiegebed (vervang die formulier)
Liturg: U kom ons dank toe, Here ons God,
oral en altyd
deur Jesus Christus, ons Heer.
n Nuwe dag is gebore.
U toekoms het begin.
Toe die aarde nog donker was,
het ons u lewenslig aanskou:
die hemel gaan vir ons oop
en u heil kom binne ons bereik,
U self word ons naaste
en ons vrede word u eer.
Daarom, Here ons God,
verhef ons ons stem
om saam met engele, herders en wyses,
met die vroue, manne en kinders
wat U lig ontdek het as hulle lewenslig
U diep uit die hart die lof toe te sing:
Gemeente: Sing "Heilig, heilig, heilig" (Ges 6/NSG 5).
Liturg: Lof aan U ons Vader,
en lof aan Jesus wat in u Naam gekom het,
want Hy het in ons nag verskyn as die blink môrester
in stralende lig
wat deur niks en niemand uitgedoof kan word nie,
wat tot in die diepste donkerte reik.
Laat u Gees sy Woord vervul
wanneer ons doen wat U ons opdra.
Amen.
In die nag waarin Hy oorgelewer is,
het Hy brood geneem,
en nadat Hy God daarvoor gedank het,
dit gebreek en aan sy dissipels gegee en gesê:
"Neem, eet, dit is my liggaam wat vir julle gegee word.
Dink dan aan My."
Net so het Hy ook ná die ete die beker geneem,
God daarvoor gedank,
dit omgestuur en gesê:
"Drink almal daaruit.
Hierdie beker is die nuwe verbond wat met my bloed bevestig word
tot vergewing van sondes.
Dink elke keer aan My
wanneer julle daaruit drink."
Gemeente: Ons herdenk u dood.
Ons bely u opstanding.
Ons verwag u toekoms.
Maranata.
Liturg: Saam in herinnering aan U
nader ons U, o God,
met hierdie brood en hierdie wyn
en bid ons:
onthou die offer van die Seun van u liefde
en aanvaar ons offer van dank.
Stuur u Gees in ons midde
en versterk die hoop en die liefde in ons almal
sodat ons lig kan bring waar duisternis heers
en self durf voortgaan
die grote toekoms tegemoet
waarin dit uiteindelik waar sal wees:
Vrede op aarde.
Nou wil ons U eer
saam met al die ander aan wie ons voor U dink:
en saam met almal wat ons vooruit is
vir wie ons lief was
vir wie ons mis
en saam met almal wat geheilig is
en die ontelbare vergete mense
u hele menslike bevolking
wat na u maal genooi is.
Geseënd is U, ons God,
wat is en wat was en wat kom;
geseënd hier en nou
en tot in lengte van dae
deur Jesus Christus, ons Here.
Amen.
Sing
"Ons Vader" (Ges 294/NSG 325).
Instelling
Uitdeel en gebruik
Lofprysing
UITSENDING
Die wet
Oproep tot diens (met aankondigings)
Sing
Seën
Die Lam van God
wat die sondes van die wêreld weggeneem het,
sal u gebede verhoor
en alles aan u skenk
wat u nodig het om te leef:
lewenskrag en vreugde,
hoop en goedheid,
wat mense verbind
om saam die pad te stap
van die Een wat ons Lig is:
Jesus Christus,
vandag en tot aan die einde van die tyd.
Of:
Mag die Here Jesus Christus
en God die Vader wat ons liefhet
vir elkeen ewige hoop gee
deur die werk van sy Gees.
Amen.
(Die "Amen" kan ook deur die gemeente gesing word.)
Teks
Daar is reeds verlede week (Matt 2:13-23) gewys op die eenheid van Matteus 1:1-4:16. Hierdie inleiding tot die
Matteusevangelie funksioneer as n bekendstelling van Jesus. Dit dien ook as n ouverture tot die res van die
verhaal deur n verskeidenheid van temas en motiewe wat herhaaldelik in hierdie Evangelie voorkom, te antisipeer.
Matteus 2:1-12 val soos volg uiteen:
Teks Gebeurtenis Leidende figure
Verse 1-2 Die aankoms en boodskap van die sterrekykers Sterrekykers
Verse 3-8 Die bekommerde reaksie van Herodes Herodes
Verse 9-12 Die voltooiing van die sterrekykers se reis met die aanbidding van die Kindjie Sterrekykers
Die Mattiaanse gemeenskap
Dit is belangrik om te verstaan wat die dinamika tussen die Matteusteks en die Mattiaanse gemeenskap is. Lees
verlede week se uiteensetting van Teks en Konteks in die bespreking van Matteus 2:13-23 vir n meer volledige
oriëntering. Die hoofmomente word kortliks hier weergegee:
Die Mattiaanse gemeenskap is ten nouste gekoppel aan die Matteusevangelie met ander woorde, dit is die
gemeenskap waaruit die eerste Evangelie na alle waarskynlikheid ontwikkel het. Dit is ook die gemeenskap wat
die Matteusevangelie as eerste lesers in gedagte gehad het.
Die Mattiaanse gemeenskap was n geloofsgemeenskap wat hulleself in n stadsomgewing bevind het, omring
deur invloede vanuit n sterk Joodse gemeenskap sowel as vanuit die nie-Joodse wêreld.
Uit albei oorde het die Christene in dié gemeenskap verdrukking en vervolging beleef.
Die Matteusevangelie worstel met die identiteit van die Mattiaanse gemeenskap te midde van die pluralistiese
omgewing. Die Matteusevangelie is ook die enigste van al die Evangelies wat na die kerk verwys (Matt 16:18).
Matteus herinterpreteer die Joodse simbole om aan te toon hoe
Jesus die vervulling van die breë Ou-Testamentiese voorspellings is, en
hoe die Mattiaanse gemeenskap die ware Israel is wat in die voortsetting van daardie tradisie staan.
PREEKSTUDIE - MATTEUS 2:1-12
Matteus wil ook wys dat die bedoeling van die Ou Testament nog altyd was om die verlossing na al die nasies
te neem. Dit lyk ook asof die Mattiaanse gemeenskap bestaan het uit gelowiges vanuit Joodse sowel as nie-
Joodse agtergronde.
Die aanvaarding of verwerping van Jesus
Matteus 2:1-12 fokus op Jesus as die Koning van die Jode wat n keuse of beslissing vereis. Dit is onmoontlik om
neutraal teenoor Jesus te staan. Die keuses wat karakters maak ten opsigte van Jesus bring ook verdeling. Die
sterrekykers van heidense afkoms verheerlik en aanbid die Jesuskind. Die ironie hiervan word soveel duideliker
wanneer dit blyk dat Herodes, die "hele Jerusalem" (v 3) sowel as die priesterhoofde en skrifgeleerdes met
ontsteltenis (v 4) op Jesus as die Koning van die Jode reageer. Die heidene kry hulle inligting vanuit hulle heidense
en kosmiese (vgl die ster) verwysingsraamwerke wat hulle lei na die Jesuskind. Die Joodse leiers wat die Skrifte tot
hulle beskikking het, reageer met ontsteltenis op die verwagte Messias. Die ironie word verder verhoog wanneer
die priesterhoofde en skrifgeleerdes die geboorte van die Christus vanuit die Skrif bevestig (2:4-6) sonder dat dit lei
tot aanbidding van die Jesuskind. Trouens, Matteus wil die leser sommer vroeg in die verhaal voorberei daarop dat
dit die priesterhoofde en skrifgeleerdes sou wees wat Jesus sou teëstaan en uiteindelik vermoor. Lesers in die
Mattiaanse gemeenskap sou hierdie ironie goed verstaan het in die lig van die feit dat hulle geleef het in nabye
kontak met en in konflik met die Joodse gemeenskap.
Sowel Combrink (1991:4) as Kingsbury (1989:34) beklemtoon die feit dat die Matteusevangelie Teosentries geskryf
is. Daarom is die verwerping van Jesus in Matteus die verwerping van God. Deurgaans staan die teenstanders van
Jesus in die nouste verband met Satan.
Die godsdienstige (Joodse) leiers
Dit is baie insiggewend dat die Joodse leiers hulle buiging in die eerste Evangelie maak as "trawante" van Herodes
(v 4). Hiermee spreek Matteus alreeds n opinie oor die Joodse godsdienstige leiers uit. Dit is ironies dat kenners
van die Ou-Testamentiese vervullings weet dat die Christus in Betlehem gebore sou word sonder om deur daardie
kennis tot aanbidding beweeg te word. Saam met Herodes is hulle "hewig ontsteld" (v 3) oor die geboorte van die
Koning van die Jode. Later waarsku Jesus teen die skrifgeleerdes en die Fariseërs (Matt 23) en dit is ook hulle wat
aanleiding gee tot Jesus se kruisiging (26:57-68).
Herodes
In Matteus 2:1-12 word Herodes "koning" genoem (vv 1, 3, 9) en dit staan in kontras met die Kind wat die "koning
van die Jode" (v 2) genoem word. Die twee konings staan teenoor mekaar. Herodes voel geweldig bedreig deur
opposisie. Dit is bekend dat hy drie van sy eie seuns laat doodmaak het omdat hy bang was dat hy sy mag aan
hulle sou moes afstaan (Cilliers 1990:141). Hy het ook nie geskroom om te beveel dat al die seuntjies van twee jaar
en jonger in Betlehem en in die hele omgewing doodgemaak moes word nie (v 16). Herodes word uitgebeeld as n
soort farao, wat hom aan dieselfde soort kindermoord skuldig gemaak het (Eks 1:22). Herodes se godsdiens is vals.
Hy gee voor dat hy aan die Kindjie as koning hulde wil bring sodra hy uitvind waar Hy is (v 8), terwyl hy eintlik die
Jesuskind wil vermoor. Matteus beeld Herodes en die Joodse leiers se godsdiens uit as ewe vals en boos. Die
grootste ironie is natuurlik dat Herodes die eerste persoon in die Matteusevangelie is wat na Jesus verwys as
Christus die Messias (2:4).
Die sterrekykers
Die sterrekykers is van heidense afkoms en Matteus sien hulle ook as verteenwoordigers van die heidendom. Uit
hulle monde word daar vir die eerste keer na Jesus as die "koning van die Jode" (v 2) verwys. Terloops, dit is
opvallend dat in die Matteusevangelie dit slegs heidene is wat na Jesus verwys as die "koning van die Jode" glad
nie die Jode nie (vgl 27:11, 29, 37). Daar is reeds gewys op die skril kontras tussen die heidense sterrekykers wat
die Kind kom aanbid en die Joodse leiers wat deur die Jesuskind "ontstel" word. Terwyl dit logies is dat die heidense
sterrekykers n soort blootstelling aan die Joodse geloof moes gehad het om met die term "koning van die Jode"
vorendag te kom, is dit belangrik om die ironie raak te sien dat hulle (heidense) verwysingsraamwerk voldoende
was om die Jesuskind as koning aan te sien. Die sterrekykers se kosmiese verwysingsraamwerk (vgl die ster) was
uiteindelik van meer waarde as dié van die Joodse leiers wat beskik het oor al die nodige Skrifkennis.
Die uitbeelding van Jesus en God
In Matteus 2:1-12 word daar na Jesus verwys as: "Jesus" (v 1); "koning van die Jode" (v 2); "die Christus" (v 4); "die
Kindjie" (vv 8, 9, 11), asook "n leier" en "n herder" (v 6 in die woorde van die vervullingsitaat).
Na God word slegs een keer verwys (v 12) en dit is wanneer God die sterrekykers in n droom waarsku om nie na
Herodes terug te gaan nie.
Dit is baie opvallend dat die Jesuskind se koningskap staan teenoor dié van Herodes. Maar Jesus is die Kindjie wat
dwarsdeur Matteus 2 heeltemal passief is teenoor sy teenstander se hiperaktiwiteit in die vorm van pogings en
planne om die Kind-koning om die lewe te bring. In die eerste Evangelie word Jesus uitgebeeld as die nuwe Moses
en as die vervulling van die Ou Testament wat onder sy mense kom woon het. God beskerm Hom dwarsdeur sy
lewe sodat Hy sy roeping aan die kruis kan vervul. Dit is uiters betekenisvol dat God sy verlossing stuur in die vorm
van n kind. Dit is met n kind dat God die wêreld wil red en die geskiedenis gaan verander.
Agter die skerms is God egter aan die werk. Soos God in 2:1-12 agter die skerms werk om die sterrekykers te
beskerm, is Hy in 2:13-23 aan die werk om die Jesuskind te bewaar teen die bose Herodes (en later sy seun) se
planne.
Preekvoorstel
C W Burger en J H Cilliers (1990:144-147) verskaf twee preeksketse oor Matteus 2:1-12. Lesers (en veral predikers)
sal beslis baat vind by die lees daarvan.
Inleidende opmerkings
Daar is reeds vroeër gewys op die feit dat Matteus 1:1-4:16 lesers bekend wil stel aan Jesus voordat sy bediening
begin in 4:17. Hier volg nou n preekvoorstel wat werk met die vraag: Wie is Jesus?
Eerstens wil hierdie preekvoorstel hoorders aan die hand van Matteus 2:1-12 sensitief maak daarvoor dat elkeen
van ons n eie "Jesusbeeld" het. Hiermee word bedoel n persepsie of voorstelling van wie Jesus regtig was en is.
Dit is duidelik dat die karakters in die Matteusevangelie ook hulle eie idees gehad het van wie Jesus is. Hierdie idees
het bepaalde gevolge gehad, waarvan sommige uiteindelik tot die dood van die Messias sou lei. Hoorders moet
aanspreeklikheid aanvaar vir die feit dat die Jesus in hulle koppe "hulle" Jesus is.
Tweedens wil die preekvoorstel hoorders uitdaag om hulle voorstellings van Jesus te verklaar. Reeds in die teks
van Matteus 2:1-12 word dit duidelik dat sommige voorstellings van Jesus gebaseer was op perspektiewe van mag:
polities (Herodes) en godsdienstig (die Joodse leiers). Hoorders word uitgedaag om hulle eie voorstellings (en
magsbasisse) op die tafel te sit sodat Matteus se Jesusbeeld daarmee in gesprek kan tree.
Derdens word hoorders met hierdie preekvoorstel uitgenooi om hulle voorstellings van Jesus te toets aan Matteus
se voorstelling(s) van Jesus. Matteus 2:1-12 het n unieke uitbeelding van Jesus wat altyd op n transformerende
manier sal inwerk op ons eie Jesusbeelde.
Die preek sou só gestruktureer kon word:
1. Wie is Jesus? Ons elkeen het ons eie beeld van wie Jesus is.
2. Wat is die beeld van Jesus wat ek in my kop het?
3. Wat gebeur wanneer ek Matteus toelaat om aan my beeld van Jesus te skaaf?
1. Wie is Jesus? Ons elkeen het ons eie beeld van wie Jesus is.
Vir die priester-digter R S Thomas is God so mooi soos n rare wit tier. Thomas gebruik die wit tier om sekere
eienskappe van God te onthul. God is ingehok soos die wit tier en dit is die sleutel tot die verstaan van Thomas se
gedig. Hy sê dat die wit tier asemhaal, "soos jy jou voorstel dat God asemhaal binne die beperkings van ons
definisie van Hom". Thomas wil vir ons sê dat ons persepsies en voorstellings van God soos n tronk vir God kan
wees. Daarmee sê hy natuurlik nie dat die mens magtiger is as God nie. Hy sê ook nie dat God in sy onoortreflikheid
op n wesenlike manier deur ons taal en beelde ingeperk kan word nie. Maar tog op n manier is dit asof ons God
kan klein maak met ons eng en benouende voorstellings.
In sekere en skokkende sin was Ludwig Feuerbach (1804-1872) dus reg toe hy gesê het dat die mens God na sy
(die mens se) beeld skape. Natuurlik is God die taal en beelde waarmee ons Hom beskryf altyd ver vooruit. Die
probleem is net dat baie van ons nie nederig of eerlik genoeg is om dit te besef of te erken nie. Meestal is ons
eenvoudig net blind vir die feit dat ons na God kyk deur die bril van al ons eie verwysingsraamwerke. Ons dink
maklik: Soos ek God sien, so is God; en wie van my verskil, is verkeerd.
Wie is Jesus? Die Matteusevangelie wil lesers in die inleiding bekendstel aan Jesus. Matteus het n unieke
voorstelling van Jesus. Soos ons, het die eerste lesers van die Matteusevangelie almal hulle eie Jesusbeelde
(voorstellings van Jesus) gehad. Matteus wou hê dat lesers van die eerste Evangelie n beslissing moes maak.
Wanneer n mens die eerste 12 verse van hoofstuk 2 lees, ontdek jy dat al die karakters wat op die een of ander
manier met die Jesuskind te doen kry, n beslissing moet maak. Elke keuse het ook unieke gevolge en dikwels bring
hierdie keuses verdeling en konflik tussen mense.
Onlangs het die Duitse teoloog Michael Welker n bespreking oor die opstanding van Jesus Christus ingelei deur te
verwys na twee maniere waarop daar vandag op Jesus gereageer word: Jesus-moegheid, en Jesus-opwinding.
Enersyds is Jesus vir al hoe meer mense n probleem. Baie mense het letterlik Jesus-moeg begin word. Om dít te
verduidelik vertel hy dan die verhaal van n skoolopvoeder wat aan die klas vra: "Wat is bruin, wollerig en spring van
tak tot tak?" Een van die kinders steek dan baie ywerig sy hand op en antwoord: "Dis n eekhoring, maar ek weet
ek moet eintlik Liewe Jesus antwoord." Michael Welker sê dat daar n Jesus-moegheid is, veral omdat Jesus op
so n ongenuanseerde manier as die antwoord op alle probleme gebied word.
Andersyds verskyn daar vandag meer geestelike boeke oor Jesus as ooit tevore. Dit is skaars moontlik om by te
hou met die stroom Jesus-boeke wat feitlik daagliks verskyn. Daar is dus ook n soort Jesus-opwinding. Dit is
duidelik dat baie mense n opinie het oor Jesus. Maar wie is Jesus nou rêrig?
Net soos die Mattiaanse gemeenskap verskeie uiteenlopende invloede gehad het wat hulle Godsbegrip gevorm het,
is daar vandag verskeie faktore wat geloofsgemeenskappe se Godsbeeld vorm. Die stroom Jesus-boeke en ander
geestelike boeke het ongetwyfeld n ingrypende en vormende invloed op die Jesusbeeld van Christelike
geloofsgemeenskappe.
In hierdie stadium moet elkeen van ons ten minste eerlik genoeg wees om vir onsself te kan sê dat ons elkeen n
unieke beeld of indruk van Jesus het. Verder behoort ons aanspreeklikheid te aanvaar vir die voorstelling van Jesus
wat ons het.
2. Wat is die beeld van Jesus wat ek in my kop het?
Matteus wil sy lesers uitdaag om oor Jesus te dink. Matteus vertel vir ons dat Herodes met groot ontsteltenis
gereageer het op die nuus dat die koning van die Jode gebore is. Waarom? Wat was die beeld wat Herodes van
Jesus gehad het?
Volgens Matteus hoor Herodes vir die eerste keer van Jesus uit die monde van n klompie sterrekykers uit die ooste.
Die feit dat hulle heidene uit die ooste was, sou Herodes nie gepla het nie. Maar dit was die vraag wat hulle aan
hom gestel het wat hom hewig ontstel het. "Waar is Hy wat as koning van die Jode gebore is?" het hulle gevra en
dit terwyl almal geweet het dat Herodes die koning van die Jode was.
Herodes was bekend as n wrede en onverdraagsame koning. Ons weet dat hy drie van sy seuns laat doodmaak
het omdat hy in sy koningskap deur hulle bedreig gevoel het. Dit is eintlik komies dat die groot koning Herodes
bedreig gevoel het deur n Kind. Herodes is die eerste persoon in Matteus se Evangelie wat na die Jesuskind verwys
as "die Christus". Herodes het geweet dat die Jode al lankal wag op die koms van die Messias. Vir Herodes was
die Jesuskind n probleem omdat Hy Herodes se koningskap bedreig het. Die Jesuskind kon van hom wegneem dít
wat vir hom die belangrikste in sy lewe was: sy koningskap.
Die priesterhoofde en die skrifgeleerdes moes sekerlik verstaan het wie Jesus regtig was. Matteus vertel ons dat
hulle daartoe in staat was om uit die Skrif aan te toon dat die Messias gebore moes word (2:4-6). Tog pla iets ons.
Alhoewel die godsdienstige leiers kennis gehad het oor die Messias, het dit hulle niks gehelp om Jesus as die
Messias te herken of te aanbid nie. Dalk het hulle n magtige Leier verwag wat amper soos Herodes was: hard en
onbuigsaam iemand wat eens en vir altyd die Romeinse juk van die Jode sou afwerp. Dit is duidelik dat Matteus
baie krities staan jeens die godsdienstige leiers se indrukke van Jesus.
Dit is baie ironies dat die sterrekykers wat van heidense afkoms was n baie beter voorstelling van Jesus gehad het
as die godsdienstige leiers. Hulle bewys dat hulle prentjie van Jesus in die kol is wanneer ons hulle in vers 11 aantref
waar hulle by die krip hulde bring aan die Kindjie. Matteus wil eintlik vir ons sê: "Jy verstaan wie Jesus is wanneer
dit jou bring tot waar jy in aanbidding voor Hom kniel."
Watter prentjie van Jesus het jy in jou kop? (Hier kan predikers gerus uit hulle eie kontekste probeer om n paar
aktuele voorstellings van Jesus te verwoord.)
3. Wat gebeur wanneer ek Matteus toelaat om aan my beeld van Jesus te skaaf?
Het Herodes Jesus se koningskap reg verstaan? Was dít wat "koning van die Jode" beteken het toe dit vir die eerste
keer aan die Jesuskind gekoppel is? Dié van ons wat die Matteusevangelie al klaar gelees het, weet dat dié titel
eintlik ironies is. Wanneer Jesus aan die kruis hang, staan daar op n bordjie bokant Hom geskryf: Koning van die
Jode. Dié benaming herinner ons onmiddellik aan Jesus as die Gekruisigde en die Gekruisigde was allermins n
koning soos Herodes. Matteus vertel ons dat Herodes die Jesuskind eintlik heeltemal misverstaan het. Die prentjie
wat hy in sy kop gehad het, was verkeerd. En miskien die belangrikste van alles, dié prentjie het sy diepste
lewensoriëntering verraai. Anders gestel, Herodes se verwagting van Jesus vertel ons baie van wie Herodes was
en wat vir hom belangrik was.
Dit lyk asof die godsdienstige leiers ook n verkeerde voorstelling van Jesus gehad het. Trouens, Jesus het hulle só
ontstel dat hulle later op n slinkse manier planne beraam het om Jesus te laat vang en Hom dood te maak (26:4).
In terme van Thomas se gedig sou n mens kon sê dat hulle Jesus nie alleen gevange geneem het met hulle
beperkende definisies nie, hulle wou verder gaan deur Jesus dood te maak. En dit alles omdat hulle
geloofsraamwerke só onverdraagsaam was dat nie eens die liefde van Jesus Christus daardeur kon dring nie. n
Mens verwag meer van godsdienstige leiers wat veronderstel was om die Skrifte te verstaan.
Wanneer die Bybel ... wanneer God aan ons Jesusbeelde en ons Godsbeelde kom skaaf, verander ons. Heel eerste
word ons ontmasker vir wie ons regtig is. Wat sê jou voorstelling van Jesus en God van wie jy is? Soos ons volhard
in die geloof kry ons geleidelik n beter perspektief op God. Dis asof God algaande aan ons onthul word. Dit is ook
asof God deur die Woord skaaf aan ons voorstellings van Hom. God word vir ons al hoe mooier soos ons groei in
ons geloof. Maar soos R S Thomas se wit tier is God nie ons speelmaat nie. En Jesus is nie ons "Liewe Jesus" nie.
God is ons woordtronke altyd ver vooruit.
Die Wit Tier R S Thomas
Hy was mooi soos God
mooi moet wees; ysige
oë wat moes kyk na
geweld en vrede moes maak
daarmee; n liggaam te groot
en statig vir die hok waarin
hy gesit is; op
en af in die skadu
van sy eie grootte het hy geloop,
hy lig, terwyl hy omdraai,
die gekreukelde blom van sy gesig
om te kyk in my eie
gesig sonder om my te sien. Hy
was die kleur van die maanlig
op sneeu en so stil
soos maanlig, terwyl hy asemhaal
soos jy jou voorstel dat
God asemhaal binne die beperkings
van ons definisie van hom, terwyl hy hom kwel
oor ontsaglikhede wat nooit weer sal terugkeer nie.
(vry vertaal deur André Agenbag)
Bibliografie
Kommentare: Gundry, R H 1982. Matthew. A commentary on his literary and theological art. Grand Rapids:
Eerdmans. Hagner, D A 1993. Matthew 1-13. Word Biblical Commentary. Volume 33A. Dallas: Word Books
Publisher. Hare, D R 1993. Matthew. Interpretation. A Bible Commentary for Teaching and Preaching. Louisville:
John Knox Press.
Homileties: Burger, C W en Cilliers, J H 1990. Matteus 2:1-12, in Woord teen die Lig I/7, pp 139-147. Le Roux, C J
P 2000. Ons vier Kersfees in Betlehem, in Vos, C (red). Omdat ons klein is. Volledige kinderboodskappe om te
gebruik in eredienste en by saalbyeenkomste, pp 46-52. Wellington: Lux Verbi.BM.
Ander literatuur: Barnard, R T 2000. Wie sê jy is God? Wellington: Lux Verbi.BM. Combrink, H J B 1991.
Dissipelskap as die doen van God se wil in die wêreld, in Roberts, J H et al (reds). Teologie in konteks. Pretoria:
Orion. Edwards, R A 1985. Matthews story of Jesus. Philadelphia: Fortress Press. France, R T 1989. Matthew:
Evangelist and Teacher. Exeter: Paternoster Press. Howell, D B 1990. Matthews inclusive story. A study in the
narrative rhetoric of the First Gospel. JSOT Supplement Series 42. Sheffield. Johnson, LT 1986. The writings of the
New Testament. An interpretation. Philadelphia: Fortress Press. Keck, LE (red) 1995. The New Interpreters Bible.
Volume VIII. Nashville: Abingdon Press. Kingsbury, J D 1988. Matthew as story. Tweede druk. Philadelphia: Fortress
Press. Neyrey, J H 1998. Honor and shame in the Gospel of Matthew. Louisville: Westminister John Knox Press.
Thomas, R S 1993. Collected Poems. 1945-1990. Londen: Phoenix. Welker, M 2000. What happens in Holy
Communion? Michigan: Grand Rapids.