Die Leesrooster vir Lidmate het ’n rubriek oor geloofsgewoontes ontwikkel. Dit is gebaseer op die oortuiging dat ten minste sewe verskillende dissiplines geloofsgemeenskappe en gesinne help om geloof deel van hul daaglikse lewe te maak.
Bybellees en godsdiensoefening is deel hiervan. Die Bybeltekste belig, verduidelik, illustreer en roep van dié gewoontes op. Die luistersiklus maak praktiese integrasie van hierdie gewoontes moontlik, deur die metode van luisterende lees te beoefen. Die verskillende bewegings van die luistersiklus roep van die geloofsgewoontes na vore. Die geloofsgewoontes vorm nou ’n integrale deel van die siklus en pas, soos hierbo aangedui, gemaklik in by verskillende stasies. Hier volg ’n uiteensetting van die sewe geloofsgewoontes.
Die sewe geloofsgewoontes is:
Ons vertel stories
Hoe ons die gewoonte verstaan
Ons kyk na ons verhaal en help mekaar om die uniekheid daarvan te ontdek.
Wat dit wil doen
Ons wil die storie vertel wat die ‘Groot Storie’ in ons lewens losmaak. Die ‘Oer Storie’ besoek ons storie en maak dat ons ander gebeure onthou. Dit help ons om dele van ons storie te onthou wat ons andersins sou vergeet het. Dit help ons om ander dele van ons verhaal te onthou.
Hoe ons dit kan regkry
Die teksgedeelte plaas ’n terrein of ervaring op ons agenda. ’n Mens kan dan praat oor die tema en jou storie, byvoorbeeld: “God se sorg in krisistye.”
Die vraag wat dit aan die teksgedeelte stel
Watter storie word hier vertel? Wat kan mense doen om raakpunte tussen die storie en hulle eie storie te ontdek?
Ons droom saam
Hoe ons die gewoonte verstaan
Ons help mekaar in die gewoonte om duidelikheid te kry oor watter tipe mense ons wil wees.
Wat dit wil doen
Die Bybel vertel van ’n alternatiewe wêreld. As ons die Bybel lees, help dit ons om te sien hoe ons só ’n nuwe gemeenskap in ons situasie kan wees.
Hoe ons dit kan regkry
Die Bybelteks herinner ons aan ’n ander wêreld en daag ons uit om daar te kom kuier. Met dié gewoonte waag ons dit om in hierdie nuwe wêreld rond te snuffel en om ’n prentjie te begin teken oor hoe die alternatiewe wêreld lyk.
Ons begin sien hoe dinge anders kan wees. “As ons soos die gemeente in Handelinge wat ons het met vreugde sou deel … hoe sal dit lyk …” en “Hoe sal dit lyk as ons gasvry is teenoor mekaar?” Die profetiese gawe is hier aan die werk. ’n Mens gebruik jou verbeelding om die ánder werklikheid te begin sien. Dit beteken om doelbewus nie woorde te gebruik soos “dit kan nie”, “dit sal nooit nie” of “dit is onmoontlik.
Die vraag wat dit aan die teksgedeelte vra
Watter droom gee die teksgedeelte? Hoe kan die tekste ons help om duidelikheid te kry oor watter tipe mense ons wil wees?
Ons gebruik simbole
Hoe ons die gewoonte verstaan
Ons help mekaar met die gewoonte om simbole te maak wat reg deur die jaar ons geloof in stand hou.
Wat dit wil doen
Ons kan nie glo sonder simbole nie. Geloof praat oor ’n wêreld wat ons nie net met woorde kan beskryf nie. Simbole help ons wanneer woorde nie kan nie.
Hoe ons dit kan regkry
Kerksimbole ontstaan oor duisende jare. Ons gebruik dus die bronne van die kerktradisie en maak dit eietyds. Dit help om te fokus op die tyd van die kerkjaar of die simbole wat in die teksgedeelte voorkom as ’n mens wil weet wat om te gebruik. Dit help dikwels met idees as ons die gewoontes binne die seisoen van die kerkjaar waarbinne die week val, plaas. In Advent is die Adventskrans een van die simbole, al staan dit nie in ’n enkele teksgedeelte nie. Vir die gewoonte is dit nodig dat ons die kunstenaar in elk van ons aanmoedig. Dit is die kunstenaar wat iets skep, of ’n simbool in iets sien van wat God aan die doen is in die wêreld (bv die amandeltakkie in Jer 17).
Die vraag wat dit aan die teksgedeelte vra
Na watter simbole en beelde word in die gedeelte verwys? Hoe kan ons onsself meer met sulke simbole omring?
Ons vier fees
Hoe ons die gewoonte verstaan
Ons ontwikkel in die gewoonte feeste om ons geloof te vier.
Wat dit wil doen
Ons wil in die alledaagse lewe geleenthede en rituele skep waar ons die nuwe lewe wat in die teksgedeelte gevind word, leef en vier. Ons skep ‘heilige oomblikke en ruimtes’ waar ons iets van die nuwe lewe in Christus ‘oefen.’ Ons oefen dus om te lewe soos ons in die hemel gaan leef.
Hoe ons dit kan regkry
Ons dink aan geleenthede en datums in ons persoonlike en ons familie se geloofslewe. Ons ontwikkel maniere om daardie geleenthede in herinnering te roep en saam daaroor fees te vier, bv ons doopdatums.
Die vraag wat dit aan die teksgedeelte vra
Van watter feesvierings of rituele vertel die gedeeltes ons? Kan ons enige van dit nadoen, inoefen of opvoer?
Ons reik uit
Hoe ons die gewoonte verstaan
Ons moedig mekaar in die gewoonte aan om by mense in nood betrokke te raak.
Wat dit wil doen
Ons wil iets prakties doen om mense wat swaarkry te help en so ons roeping as gelowiges uitleef. Wanneer ons mense help, ontdek ons dikwels ook onreg in die samelewing en probeer dit aanspreek. Dit gaan in die gewoonte ook oor ’n houding van deernis en broosheid.
Hoe ons dit kan regkry
Die gewoonte gaan in die eerste plek oor die bou van verhoudings met mense. Die vraag is dus: Wie is die mense wat die gedeelte ons oproep om lief te hê en hoe kan ons dit met deernis aan hulle wys? Dikwels gee ons eie gebrokenheid en seer ons ’n aanduiding waar ons roeping lê.
Die vraag wat dit aan die teksgedeelte vra
Aan watter nood herinner die gedeeltes ons? Op watter manier kan ons by daardie spesifieke soort nood betrokke raak?
Ons maak tyd vir mekaar
Hoe ons die gewoonte verstaan
Ons help mekaar in die gewoonte om ons lewe in te rig aan die hand van ons geloofsprioriteite.
Wat dit wil doen
Die Bybel daag ons uit om te her-prioritiseer, dit wil sê om ons tyd, energie en middele anders aan te wend as tans. Ons word opgeroep om ’n konkrete verbintenis te maak.
Hoe ons dit kan regkry
Die teks vra inspraak in ons dagboeke, begrotings en horlosies. Dit vra of wat ons doen strook met wat ons sê ons glo. Die gewoonte wys ook dikwels na wat ons moet los om aandag aan ons prioriteite te gee. “Hierdie week maak ons tyd vir intreegebede. Besluit om tyd wat jy gewoonlik gebruik vir ’n bepaalde saak elke dag hierdie week eerder af te staan aan gebed.”
Die vraag wat dit aan die teksgedeelte vra
Watter lewensprioriteite wys die teksgedeelte uit? Wat kan ons doen om ons lewens meer in lyn met ons geloofsprioriteite te kry?
Ons ontmoet God
Ons ontmoet God deur mekaar te help om die Bybel saam te lees en nuut te verstaan. Die gewoonte om die Bybel saam te lees, word uitgebrei in die Bybelstudie-rubriek.