Verder geluister

Preekbeplanning

Aktueel

Inligting

PREEKSTUDIES - Blog

AddThis Social Bookmark Button
Druk
PDF

Verder Geluister: 1 Kor 9:16-27 Is Paulus ‘n manteldraaier? Of ‘n ja-broer?

Geskryf deur Pierre Goosen on . Posted in Preekstudies - Verder geluister

5 Februarie 2012 ~ Vyfde Sondag na Epifanie ~ 1 Kor 9:16-27

Is Paulus ‘n manteldraaier?  Of ‘n ja-broer? 

Of  demonstreer hy vir ons ‘n lewe van oorvloed teenoor ‘n lewe van skaarste?

‘n Lewe van skaarste verwag nie te veel van die lewe of van mense nie, selfs nie eens van jouself nie:  

Werk is ‘n noodsaaklike euwel en werknemers moet op ‘n kort lyntjie gehou word.  Verhoudinge moet tot jou voordeel wees, nog beter as dit ekonomiese voordeel is, en dit is beter om mense op ‘n veilige afstand te hou. Liefde en die waardes wat daaruit voortvloei, is ‘n stukkie gereedskap en nie ‘n leefwyse nie.

‘n Lewe van oorvloed is die teenoorgestelde van bogenoemde:

Die lewe is vol geleenthede om ontdek en benut te word. Mense is reisgenote wat mekaar wil ondersteun en aanmoedig eerder as om te gebruik of selfs misbruik. Nie jaloers, afgunstig of dominerend nie, maar vind vreugde in saamwerk en die ontwikkeling van mekaar.  Liefde en die waardes wat daaruit voortvloei is tot die opbou van mekaar en die gemeenskap.

Paulus demonstreer hierdie waardes wanneer hy bereid is om werklik met oorgawe by mense “in te haak” en saam te stap ongeag wie hulle is. Hy sien die groter prentjie raak – die oorvloed van God se liefde – en is nie bang om homself / gewoontes / standpunte daarvoor te gee nie.
Die leierskap wat Paulus hier openbaar word deur “Peak Leadership” beskryf as “new economy leadership” teenoor “old economy leadership”. In missionale taal kan ons praat van gestuurde leierskap teenoor instandhouding leierskap. 

Instandhouding leierskap (skaarste) werk na binne. Besluit van ‘bo’ af,  soms met dwang of hoogstens deur ander te koöpteer. Hou ander so afhanklik en hulle moet maar tevrede wees met die melkkossies waarvan Paulus per geleentheid praat. 

Gestuurde leierskap (oorvloed) wil potensiaal ontsluit en mense help om saam te besluit en saam te skep. Dit is ‘n uitbundige leierskap wat soos ‘n Paulus wil uitgaan, amper uit sy eie vel uit (die bekende) om ander te ontmoet daar waar hulle is. 

Paulus opportunisties, polities-diplomaties?
Nee.

Paulus dansend met die Drie-enige-God om ander ook so in te nooi.

(Gemeenskapsbegeleiding: Peak Leadership.  VBO kursus 7 – 9 Februarie 2012 op Stellenbosch

http://communitas.co.za/kursusse-2012-mobile/2566-7--9-feb--gemeenskapsleiding--peak-leadership-)

Pierre Goosen

Seisoen van Luister Powerpoint

Preekriglyn 1 in Argief

Preekriglyn 2 in Argief

AddThis Social Bookmark Button
Druk
PDF

Verder Geluister: 1 Kor 8:1-13

Geskryf deur Donald Katts on . Posted in Preekstudies - Verder geluister

29 Januarie 2012 ~ Vierde Sondag na Epifanie ~ 1 Kor 8:1-13

Vir die aktualisering van die week se preek, sal ek met die volgende gedagtes speel as inleiding. Die aandrang van Julius Malema op grondhervorming - die insinuasie om plaasgrond sonder vergoeding af te vat, die nasionalisering van myne, die opeis van my reg bo dié van ander se regte, die afdwing van my godsdienstige verstaan van tekste (wat homoseksualiteit veroordeel, drankgebruik afmaak as sonde, ens) om enkele kwessies te noem - dien as voorbeelde van die uitdagings waarmee 1 Kor 8:1-13 ons as Christene konfronteer. My verstaan van hierdie gedeelte is dat die argument van Paulus juis daarom gaan om: 1) my verantwoordelikheid teenoor die swakkere na te kom (maw my vereistes, doen en late, wát ék eet en drink - byvoorbeeld nie die ander moet laat struikel, of hul ‘n gewetenslas oplê nie; 2) dit gaan oor liefde en nie soseer kennis nie, want kennis wat liefde nie in ag neem, is nie ware kennis nie, en 3) Paulus roep ons op om te besef God is die ware God, die God van alle gode (sou daar wees).

Dit, meen ek, kan dien as teologiese en etiese beginsels waarvolgens ons ons verhoudinge, gesindhede, gedagtes, opvattinge, geestelike, politieke en sosiale optrede kan rigsnoer. Ook kan dit ons help in ons diverse en multi-godsdienstige en kulturele samelewing. Ten diepste handel dié soort ingesteldheid nie oor die bevrediging van eie behoeftes en drange, of oor die uitoefening of aanspraak van my regte (godsdienstige en of politieke regte) nie, maar oor die bediening en verkondiging van die evangelie van liefde wat redding en verlossing in en deur Jesus Christus ter harte neem.

Met al ons godsdiens- en politieke regte vandag, beteken dit nie ons moet en kan maar al hoe meer selfgerig raak nie. Nee, deel van hierdie bevoorregte posisie (om wel godsdienstige/politieke regte in ons samelewing te kan hê), is om alle vorme van ongeregtigheid aan te spreek. Dit is daar, so glo ek, om ons te help besef wat ons verantwoordelikhede teenoor ons naaste is, en dit dien om ons meer sensitief, bedagsaam en verdraagsaam teenoor ander en hul standpunte en geloofservaringe te maak.

Paulus se argument, benadering en uiteindelik standpunt is nie net daarop geskoei om die geloofsgemeenskap meer mensliker te maak nie, maar veral om ook die gemeenskapslewe ‘n meer mensliker gesig van ontvanklikheid, bedagsaamheid en in ons taal vandag, menswaardigheid te gee.

Om jou reg (die eet van afgodsvleis) prys te gee ter wille van jou (swakker) broer, is nie net braaf nie maar ook prysenswaardig, juis omdat dit getuig van die inagneming van die ander/swakkere en geestelik onvolwassene.

Dit is die soort gesindheid wat die kerk vandag meer geloofwaardigheid sal gee en sy relevantheid ‘n trappie verder sal neem.

Ek sal byvoorbeeld afsluit met ‘n oproep/definitiewe uitdaging aan die gemeente oor hoe ons meer sensitief, verdraagsaam, en veral bedagsaam teenoor alle mense, spesifiek hulle van ander godsdienstige oortuigings, kan leef en só ons samelewing ook ‘n meer menswaardige kleur te gee.

Donald Katts

Seisoen van Luister Powerpoint

Preekriglyn in argief

AddThis Social Bookmark Button
Druk
PDF

Verder Geluister: 1 Kor 7:29-31

Geskryf deur Jurgens Hendriks on . Posted in Preekstudies - Verder geluister

Sondag 22 Januarie 2012 ~ 1 Kor 7:29-31 Derde Sondag na Epifanie

Dit help om te begin dink aan die betekenis van epifanie ... gaan na Wikipedia en kyk bietjie wat alles daar staan. http://en.wikipedia.org/wiki/Epiphany_(feeling)

Tweedens: die liturgiese voorstel is weereens baie goed en gee mens uitstekende agtergrond. Dis duidelik dat Paulus in die hoofstuk wat oor huweliksaangeleenthede gaan, moet antwoord op vrae wat aan hom gevra is. Daar is dus ʼn  bepaalde konteks wat die vrae oor seksualiteit en die huwelik aan die orde stel. In vers 29-31 probeer Paulus die gemeente ʼn oriëntasiepunt gee, kom ons noem dit ʼn  hermeneutiese sleutel, waarmee hulle hul konteks en vrae kan beoordeel.

Ek het die afgelope week ʼn  begrafnisdiens van iemand wat vir amper 40 jaar vir my ʼn mentor was, waargeneem. Gister het ek twee jongmense in die huwelik bevestig wat bepaalde keuses vir hulle toekoms gemaak het. My dogter verwag ʼn eersteling - hulle het vandag by ons geëet. Elke dominee ken dié diep ervarings. Dit noop jou om na die lewe in sy totaliteit te kyk. Die liturgiese voorstel sê vir ons: Lees jou konteks in die Epifanie uit die hoek van Markus 1. Watter invloed het die evangelie van Jesus Christus, die Seun van God op die lewe, op keuses, op gebeure.

‘n Mens kan dit redelik eenvoudig en prakties maak: skryf as prediker neer wat jy as beskrywend van jou lewe op jou begrafnis wil laat sê. Daag elkeen in die gemeente uit om ook sy lewe op te som vir sy begrafnisrede. Skryf vir jou dogter of seun ʼn briefie oor wat jy hulle vir hulle huwelik, en hulle lewe, vir hulle toewens. Skryf ʼn  gebed vir jou kleinkind.  Die gemeente waar ek tans is, het as fokus vir die jaar die motto: “ʼn Lewe wat iets beteken,” en aanvullend daarby: Kom tweede. My vermoede is dat Paulus se kommentaar hierop sal wees dat ons hom gehoor het.

Bogenoemde stel dus voor dat die preek die gemeente oproep om te vra na die essensie van die lewe en geloof.

Wat sal jou gemeente vandag vir Paulus vra as hulle kon?

Elke dominee sal sulke vrae kan kry of sommer net weet wat dit gaan wees. Dan kan jy bogenoemde hermeneutiese matriks op die aktuele vrae uit die gemeente daarop toepas. Dis ʼn lekker intellektuele avontuur! Dit is ʼn ongelooflike geleentheid om ʼn  baie diep geloofsgesprek aan die gang te kry.  Daar gaan kosbare stories loskom en vertel word.

Een so ʼn  saak is waarskynlik nie vêr weg van Korinthe se vrae nie. Google eenvoudig in die Afrikaanse Google soekenjin: “Johan Kotze” ... die man wat die week se nuus oorheers oor wat hy aan sy vrou(e) en stiefseun gedoen het. Dis bizar. Dis ons siek wêreld se donker op die helderste geïllustreer!

En dis nie net hier by ons so nie. Google byvoorbeeld die Sweed Sieg Larsson se boek “The girl with the dragon tattoo” – internasionale pryswenner. Kyk die video.
http://en.wikipedia.org/wiki/The_Girl_with_the_Dragon_Tattoo

Wat sê Paulus vir ons hieroor?  Wat sê Markus 1? Hoe lyk ʼn  lewe wat iets beteken? Jy sal Paulus se antwoorde begin verstaan.

Jurgens Hendriks

Seisoen van Luister Ppoint

Preekriglyn in argief

 

 

AddThis Social Bookmark Button
Druk
PDF

Verder Geluister: Psalm 139:1-6, 13-18 ~ Geluk aan alle suksesvolles, maar wat van al die ander spesiales...?

Geskryf deur Pieter van Niekerk on . Posted in Preekstudies - Verder geluister

Sondag 15 Januarie 2012 ~ Tweede Sondag na Epifani

Laat die sjampanjeproppe skiet: Geluk aan alle suksesvolles, maar wat van al die ander spesiales...?

Alta was baie spesiaal, sy het in die kerk haar tong rollend vir my uitgesteek en daarmee haar onvoorwaardelike aanvaarding gekommunikeer. Toe gebeur dit wat haar ouers lank reeds voorbereid op was... Ek moes haar begrawe... Ek het Fanus Rautenbach se hoorbeeld op skrif by hom gekry en as ‘n hermeneutiese sleutel gebruik om Ps 139 oop te sluit.    

 My boodskap was soos jy kan aflei uit Ps 139 en het so begin: “Sy is die engel met die skewe ogies. Sy is 'n hemelkind. Sy is deur God aanmekaar geweef. Sy is spesiaal gemaak. Op 'n wonderbaarlike wyse is sy geskape. Haar ontstaan was 'n geheim - 'n wonderwerk.

 God het aanskou hoe die geheim vorm gekry het, geen been was vir die Here verborge nie. Ja, selfs die trisomie 21 is steeds 'n wonder. Die dieper wêreld van wêrelde wat verskuil lê in die resultate van die 47 ste chromosoom, is net aan God bekend.”

 Dis 12 jaar later. Ons dogter, Alta se maatjie, het verlede week haar matriekuitslae ontvang. Ons is trots op haar. Sy is baie spesiaal. Ons enigste kind gaan uit die huis, sy gaan universiteit toe. Mag God van alle kante haar op haar nuwe paadjie met liefde omring!

 Mag God se hand van seën op alle skoolverlaters wees, veral op diegene wat vir byna niks kwalifiseer nie, en nie werk kry nie!

 Beeld berig:

 http://www.beeld.com/Suid-Afrika/Nuus/Min-matrieks-gaan-werk-kry-20110104

‘Min matrieks gaan werk kry’

Net 40% van matrikulante wat die arbeidsmark direk ná matriek gaan betree, sal werk kry. Die res sal waarskynlik deel van die donker werkloosheid­statistieke in die land word, het die vakbond Solidariteit gister gesê. Solidariteit het in ’n verklaring gesê dié probleem kan toegeskryf word aan die onindiens­neembaarheid van die meeste matrikulante wat op skool nie werklik vir die arbeidsmark toegerus word nie

’n Jaarlikse studie oor vooruitsigte vir matrikulante het soos die vorige twee jaar beklemtoon dat dit weer ’n moeilike jaar vir Suid-Afrikaanse werknemers en werksoekers sal wees.Mnr. Dirk Hermann, uitvoerende adjunkhoof van Solidariteit, het gesê werkgeleenthede sal steeds beperk wees.Diegene wat die arbeidsmark wel sal betree, sal met die werklikheid gekonfronteer word en bereid moet wees om heel onder aan die beroepsleer te begin.Skoolopleiding bied skoolverlaters volgens hom nie werklik die toerusting om die arbeidsmark suksesvol te betree nie. “Daarbenewens is die slaagsyfer in vakke soos wiskunde, rekeningkunde en fisiese wetenskappe wat juis tot indiensneembaarheid bydra, baie swak.”Luidens die verslag bou die meeste matrikulante nie in hul skoolloopbaan bedrewenheid in kritiek belangrike vakke soos wiskunde op nie. Van die meer as 552 000 matrikulante wat in 2009 matriek geskryf het, het 60,6% geslaag. Net 24,2% van dié matrikulante, oftewel 133 789, het wiskunde geslaag – met 30% of meer. Net 9,6% (52 866) kon dit met 50% of meer deurkom

’n Skamele 1,6% van matrikulante kon ’n onderskeiding in wiskunde behaal. Hermann het voorts gesê die laagste eenvoudige gemiddelde slaagpunt van 30% wat ’n kandidaat in ’n vak kan behaal, laat talle vrae oor die uiteindelike waarde van die matrieksertifikaat ontstaan. “’n 18-jarige word ’n onreg aangedoen wanneer hy vertel word dat hy gekwalifiseerd is vir enige studie of geskoolde werk op grond van ’n 30%-afsnypunt.“Die matrikulant word op die skouer geklop omdat hy die onderwysdepartement se statistieke goed laat lyk met sy deelname aan ’n stelsel van middelmatigheid. Eintlik laat dit hom met 12 vermorste jare en ’n agterstand wat bitter moeilik is om in te haal.”Hermann het daarop gewys dat verdere opleiding die beste moontlike kans op vermyding van werkloosheid bied.
“Studies toon dat werknemers met ’n tersiêre kwalifikasie die beste teen die uitwerking van die afgelope arbeidsresessie beskut was. ”Volgens hom het arbeidsmarkdata van 2007 ook getoon ’n universiteitsgraad beteken in die algemeen meer as ’n diploma of ander tersiêre kwalifikasie. Beroepe in ’n mediese, ingenieurs-, inligtingstegnologie-, finansiële en tegniese rigting is veral gesog weens tekorte daar.

Rapport berig:

http://www.rapport.co.za/Opinie/Hoofartikels/Hoe-goed-is-die-matriekuitslae-20110107

Hoe goed is die matriekuitslae?

Niemand hou daarvan om prestasies gering te skat nie, maar soms is dit noodsaaklik om, in die breër belang, uit te wys dat iets moontlik skort en dat behoorlike navorsing nodig is. ’n Voorbeeld hiervan is die matriekuitslae wat die afgelope week bekend gemaak is. Die regering klop homself op die skouer, en vir elke suksesvolle matrikulant is sy of haar uitslae ’n prestasie wat nie bevraagteken moet word nie.

Rapport laat graag die sjampanjeproppe skiet: Geluk aan alle suksesvolles. Lees verder

God en die ander spesiales...!

God stel deur sy leweskeppende Woord en Gees sy volk in staat om te leef in ‘n nuwe gehoorsaamheid wat ook in die samelewing en die wêreld nuwe lewensmoontlikhede kan bring... (Belydenis van Belhar)

Die sakesektor is winsgerig, Universiteite soos Stellenbosch is prestasiegedrewe (my mening) en die kerk word gestuurdes spesiaal na die geringstes. Hier waar ons woon was stranddienswerkers orals aktief, dis wonderlik, ons kinders word met Woord en spel bedien, maar ek kan nie daarin slaag om hulle ‘n halfdag by die ander kinders sonder speelgoed in stofstrate te kry nie.

Almal is in God belangrik. God se deernisvolle geregtigheid en liefdevolle optrede word onder gelowiges sigbaar.

In 2003 verskyn die artikel van my in Beeld:

http://www.beeld.com/In-Diepte/Nuus/Hoor-werkloses-se-noodkreet-en-help-20100617

Hoor werkloses se noodkreet en help

Dit is tyd dat mense werklik die stem van die werkloses begin hoor en hul menswaardigheid erken. Twee uit elke vyf volwasse Suid-Afrikaners het nie werk nie. Dit is ontstellend. Werk neem 'n sentrale plek in volwassenes se lewe in. Werkloosheid beïnvloed die werklose se welsyn en selfbeeld.

Werkloses is nie net ekonomies kwesbaar nie, maar hulle kan geestesongesteld raak. Werkloosheid bring gereeld stres mee wat in depressie kan omsit en tot aggressie en angstoestande kan lei. Alkoholmisbruik is nie uitgesluit nie. Die groot waarde wat die samelewing op werk plaas en op die soort werk wat jy doen, dra by tot die persepsie dat die lewe sonder werk betekenisloos is. Werkloosheid word soms met egskeiding of kanker vergelyk. Dit veroorsaak 'n gevoel van verlies, reken bedryfsielkundiges.

Wanneer mense nie meer hulself en hul gesinne kan versorg nie, kou dit aan hul trots. Kinders is skaam oor hul werklose ouer(s). Die klem moet sterk op werkskepping geplaas word, want dit is die oplossing.

Natuurlik moet daar krities gekyk word na arbeidswetgewing wat verontregte werkers beskerm, maar nie haalbaar vir 'n ontwikkelende ekonomie is nie omdat dit werkskepping en investering ontmoedig. Ook kwessies soos die billikheid van regstellende aksie, produktiwiteit en gebrek aan vaardighede moet aandag kry.

Ongeduldig en ongeskik

Die duisende mense wat weens wisselings in die sterkte van die rand afgedank word, asook weens die herstrukturering ('n eufemisme vir afdankings) van maatskappye om mededingend te wees, toon die kompleksiteit van die Suid-Afrikaanse ekonomie. Vakbonde sal wat betref eise vir salarisverhogings rem moet aandraai. Sakeondernemings sal twee keer moet dink of die afdanking van werknemers die enigste en laaste opsie is.

'n Vriendin en enkelouer wat jare gelede weens disinvestering afgedank is, was ontstelder oor haar baas wat in dié tyd 'n nuwe, luukse-maatskappymotor gekry het as die feit dat sy haar werk verloor het. Ons kan nie die gevolge van die soustrein op ons land se ekonomie en werkloosheid ontken nie. Die miljoene wat sommige regerings- en sportlui verdien, maak 'n mens klaar siek. Die samelewing en sy strukture is klaarblyklik nie reg om al die werkloses op maatskaplike en emosionele vlak te ondersteun nie.

Instellings soos die kerk lewer 'n soort "ambulansdiens" en die onmiddellike nood word met basiese bydraes soos kospakkies, sopkombuise en ou klere verlig. Werklose kerkgangers word (hopelik) pastoraal ondersteun. Welsynsorganisasies is egter oorlaai met ander gesinskrisisse. Terapie is duur en beperk tot enkeles - die massa word in ellende gelaat.

Wat die situasie vererger, is dat mense dikwels onsensitief, ongeduldig en soms ongeskik teenoor werkloses is wat op 'n eerbare manier werk soek. Dink maar aan die mense wat by spesifieke punte soos nutswinkels staan en werk vra - selfs al reën dit, is hulle daar. Ons erken werkloosheid as 'n krisis, maar misken te veel werkloses se menswaardigheid. Dit vererger die noodtoestand.

Kerke en skole kan hier remediërend optree. Programme kan ingestel word waar lidmate vaardighede aanleer om met werkloses op straat te praat, maar om veral te luister, tyd vir hulle in te ruim, moeite te doen en betrokke te raak. Begrip vir en sensitiwiteit teenoor werkloses is die eerste stap na die heling van die werklose se negatiewe gevoelens. In die kerk kan die prediking fokus op God se medelye teenoor werkloses en God se oproep aan die gemeente om God hierin te volg. (Só hou die kerk hom met sinvolle getuienis besig, anders as hulle wat oor die argitektuur van 'n kerkgebou begaan is).

Méér as 'n beroep

Kerke en skole kan ook hul infrastruktuur beskikbaar stel waar kundiges soos sielkundiges, arbeidsterapeute en maatskaplike werkers groepsessies met werkloses hou. Werkloses kan só lewensvaardighede aanleer. Kerke, maar veral skole, kan gaan kers opsteek by instellings wat reeds geletterdheidsprogramme vir volwassenes aanbied en só betrokke raak.

Diensorganisasies kan geld voortbring en dié dienste inisieer en subsidieer.

Die werkloses se stem móét gehoor word. Hiervoor het hulle 'n spreekbuis nodig. Kerke, nie-regeringsorganisasies en ander vrywilligers sal hande met die sakesektor, vakbonde en die staat moet vat en as vennote holistiese hulp aan werkloses moet verleen. Sulke betrokkenheid kan hoop bring. Dit kan werkloses inspireer om op kreatiewe maniere entrepreneursvaardighede aan te leer, anders te dink oor en te kyk na hul situasie en só bemagtig te word.

Op skool kan kinders leer dat alles nie net om werk draai nie: Die lewe is méér as 'n beroep. Diegene wat kla oor te veel werk, het 'n keuse: Hulle kan hul werk verminder deur dit met iemand anders te deel en 'n kleiner inkomste aanvaar. Of hulle moet ophou kla, bly wees dat hulle werk het en uit dankbaarheid tyd inruim en sinvol betrokke raak by die noodroep van die werkloses. 'n Uur per week is seker nie te veel gevra nie.

God het alle mense op 'n wonderbaarlike wyse gemaak. Mag God se belang in jou, jou belangstelling in ander kweek.

Pieter van Niekerk

Seisoen van Luister Ppoint 

Geen verdere reiglyne in preekargief

AddThis Social Bookmark Button
Druk
PDF

Christus as seën

Geskryf deur Gerrie van Deventer on . Posted in Preekstudies - Algemeen

Mag Jesus Christus self teenwoordig wees in jou lewe

en mag die wyse waarop Hy Homself openbaar het,

as volg seën bring in jou lewe...

  • mag Hy - as Immanuel – altyd God by jou wees;
  • mag Hy - as Jesus – jou verlos en vry maak;
  • mag Hy - as Vredevors – aan jou ware rus en vrede gee;
  • mag Hy - as Herder – jou versorg en na groen weivelde lei;
  • mag Hy - as Brood van die lewe – jou diepste honger stil;
  • mag Hy - as Lig vir die wêreld – jou lewenspad verlig;
  • mag Hy - as die Woord – jou iets van God se genade laat insien;
  • mag Hy - as Seun van God – jou van die Vader se liefde leer, en
  • mag Hy - as Gewer van die Gees – jou, deur die Gees, help om passievol te leef en lief te hê
  • Mag jy in Christus ‘n geseënde Christus-fees-tyd beleef.

    (Gerrie van Deventer – by Kerssangdiens 27 Nov 2011)

    Motivering:

    Miskien sou mens o.g.v. 2 Petrus 1:3-4 en Johannes 1:1-16 kon sê dat God in Christus Sy grootste seën gegee het, en dat ‘n mens in die Jesus-pakkie “al die kosbaarste en allergrootste gawes ontvang het” . Hierbo het ek sommer net iets daarvan in Sy selfopenbaring probeer saamvat.

    AddThis Social Bookmark Button

    Alle kommentaar