Missionale Safari
Kyk gerus na Jurgens Hendriks se vertelling van die verhaal van 2010 se Missional Safari in Zimbebwe en Namibie op You Tube missional safari
Kyk gerus na Jurgens Hendriks se vertelling van die verhaal van 2010 se Missional Safari in Zimbebwe en Namibie op You Tube missional safari
Omgekeeerde mentorskap kan energie ontsluit waarna baie gemeentes op soek is ...
Ek het die afgelope tyd met ‘n aantal jonger predikante en studente te doen gehad. Die naweek was die eerste kamp van die Semianrium op Stellenbosch ‘n 30tal teologiese studente van die VG en NG kerke gewees. Ek het soveel by hulle geleer dat ek wonder of ek kan voortgaan in my bediening sonder om gereeld te leer by mense wat jonger as ek is.
Hier is ‘n klompie dinge wat ek van myself en die lewe geleer het in die proses:
1. Omgekeerde mentorskap kan nie gebeur as ek myself sien as die kenner by wie die jonger generasie moet leer nie. As ek bewustelik die skuif maak om nuuskierig te wees oor wat ek by ‘n jonger generasie kan leer is dit asof dit ‘n ruimte open waar daar ‘n vloei van nuwe idees kan plaasvind wat nie kan gebeur as ek dink ek moet die leraars wees en hulle die leerders nie.
2. Hulle vra dikwels vrae wat my dwing om ‘n ander en meestal bevrydende prespektief te ontwikkel. Neem maar bv die gesprekke oor Belhar by die sinodes. Dit is die jonger mense wat ons gehelp het om te verstaan dat Belhar ‘n gawe is vir die toekoms en nie net ‘n kritiese stem uit die verlede nie. My generasie sal nie daardie prespektief kan ontwikkel nie. Ek is redelik seker dat ons nie sonder hierdie perspektief enige vordering sou kon maak nie. My generasie was vasgeloop in die gesprek en het die nuwe perspektief nodig gehad om vorentoe te kan gaan.
3. Die jonger generasie kry dinge reg wat vorige generasie nie kan of wou doen nie. Ons praat bv al lank oor ‘n geintegreerde familie bediening. Ek sien die afgelope 3 jaar deurbrake hiervan by gemeentes wat ek nog nooit voorheen gesien het nie, en by elkeen van die gemeentes is daar leiers uit die jonger generasie wat praktyke ontwikkel wat ons nooit sou waag of so kon regkry nie.
4. Ek is deel van ‘n generasie wat eintlik “belydenismoeg” is. Ons moes nog worstel deur die laaste belydenispreke en het ‘n afkeur aan belydenisskrifte as ‘n stok waarmee mense geslaan word om binne die kraal te bly. Vir ons is gesprekke oor gereformeerde identiteit geforseerde gesprekke wat nêrens gaan as na die verlede waarvan ons wil wegkom nie. Ek was die afgelope tyd gereeld deel van gesprekke waar jonger mense met vrymoedigheid praat oor hulle gereformeerde identiteit en hoe hulle positief daarmee identifiseer. Ek luister na hulle in verwondering en weet ek moet doodstil bly en luister en leer, want hulle gaan my leer om weer met my eie tradisie te konnekteer op ‘n manier wat ek self met die best wil in die wêreld nie kan nie.
5. Ek leer by die jonger generasie wat dit beteken om ‘n inklusiewe gemeenskap te wees. Daar is by hulle ‘n ongeforseerde konneksie met mense buite die geloofsgemeenskap wat ek bewonder. My generasie wil eers weet of iets reg of verkeerd is voordat ons mense kan aanvaar. Dink maar aan die gesprekke die afgelope week oor die sanggroep Die Antwoord en die gesprek die naweek met Ben du Toit een van die ouers van die groep. Sy onvoorwaardelike aanvaarding en liefde vir sy kinders gryp die verbeelding aan van ‘n hoe ons as ‘n inklusiewe gemeenskap kan funksioneer.
6. Dit laat my wonder, wat sal gebeur as ons in die gesprek die manier waarop ons gay en lesbiese mense aanvaar en insluit in ons gemeentes en kerk vir die jonger generasie kan gee mag ons dalk verder kom…of die doop...
Is omgekeerde mentorskap nie die energie waarna daar in baie gemeentes gesoek word nie?
Ek het die afgelope week Week van Gebed gehou in die Baai. Ek was van die begin af vasberade om nie te preek oor gebed nie, maar om in die week vir 'n slag saam met mense te bid. “ Ons kan maar 20-30 wees” , stel ek die leraar (en myself) gerus, ek gee nie om nie, “ solank ons net die geleentheid gebruik om ‘n paar mense in die gemeente te leer om te bid.”
Van die eerste aand af is ons verras met die hoeveelheid mense wat kom en die klomp jong mense wat deelneem. Ons sit om tafels en stap vir stap oefen ons die gebed van die hart nie. Die ritme is eenvoudig. Ons doen die gebedsoefening van die aand klein treetjies soos om net asem te haal, reflekteer dan daaroor in groepe en dan sluit en die aand af met ‘n 3min van praktyk wenke en die gebedsopdrag vir die volgende dag.
Die gehoor reageer bo verwagting, hulle is gemotiveerd en doen die opdragte stiptelike, praat openlik oor hulle gesukkel om stil te word, probeer weer. Teen die drede aand begin die deurbrake te kom, mense begin spontaan te vertel van hulle diep konneksie met hulself en met God. "Ek wou net 10 minute stil word en toe word dit sommer 'n halfuur", vertel 'n man van in die sestig. Dit is duidelik nuwe grond vir baie, maar hulle gaan dapper voort om die nuwe geloofsdissipline aan te leer….én steeds groei die groep.
In my is daar ‘n stryd wat afspeel. Ek ken die teorie van bemagtiging baie goed, minimum kennis, konkrete “ ant-steps”, herhalende inoefening, refleksie oor die praktyk, weer minimum kennis, konkrete “ant-steps”, weer inoefen, refleksie waarin die groep die pas bepaal. Hoeveel keer het ek dit nie al vir dominees probeer leer nie? Nou moet ek ditself doen en ek sukkel! Daar is ‘n verstekposisie in my wat my die hele tyd laat voel ek doen iets verkeerd ek behoort meer te praat en darem so tussendeur te preek ook.
Ten spyte van al die wonderlike terugvoer én die groeiende getal by ‘n Week van gebed! stoei ek die hele tyd met die stem in my wat wonder of ek nie darem maar meer moet verduidelik, so ‘n paar teorië oor gebed moet bysit, Eugene Petersen moet aanhaal nie. En toe tref dit my, ek is vervorm deur leermeesters wat my met woorde gevorm het, vol teorie gepomp het. Ons het ewig oor die teorie en selfs die praktyk gepraat- verstaan my reg meestal was dit goeie goed. Ek is byna nooit gevorm deur geloofs-afrigters wat my toegelaat het om self te probeer, in te oefen totdat ek die praktyke van die geloof kon bemeeester nie. Ons het byna altyd net oor die goed gepraat en dit weinig gedoen. Dit is waar my angs le.
Dit was ‘n wonderlike week, hande vol mense is diep geraak, ek wil selfs sê gevorm. In baie gevalle het mense vir die eerste keer in hulle lewe geleer om in stilte op die Here te wag. Van almal is ek die een wat die meeste geleer het. Vir een keer kon ek die ewige prediker stil maak en geduldig saam met mense wag dat die deurbrake in hulle gebeur. Dink net wat ons alles sou gemis het as ek sou toegee aan die ewige prediker in my?
Dankie Eugene en Heinrich, julle was twee leermeesters vir my hierdie week.
Christo Benade vra aan die aan die einde van verlede jaar die volgende vraag: Weerhou ons Gereformeerde DNA ons daarvan om 'n missionêre kerk te wees? Sy agument is dat ons gerefomeerde tradisie ontstaan het in ‘n tyd van die Christendom en dat ons daarom willens en wetens, of einde willens en onwetens ‘n Christendom DNA in ons dra en dat di tons daarvan weerhou om missionaal te wees.
Ek dink Christo maak ‘n waardevolle waarneming. Ons moet eenvoudig eerlik wees oor die Christendom erflating waarmee ons leef en dit eerlik in die oe kyk dat dit ons in hierdie era van ‘n post-christedom kniehalter. Te veel van ons verwag nog dat die gemeenskap regop sal staan as die kerk verbykom, of meer nog dat die vernuwing eintlik daaroor gaan dat die kerk weer die sentrale posisie(mags) moet inneem in die samelewing. Vir ‘n groot deel van ons kerk is dit byna onmoontlik om iets anders te verbeel as ‘n Christendom toekoms. Dit is voorwaar in ons DNA.
Ek dink egter daar is ook ‘n ander kant van die saak. Die gereformeerde tradisie het ontstaan in die Noord-Europese kultuur van vaste strukture en die beliggaming van die gereformeerde visie het binne hierdie kultuur haar eerste baba-treetjies gegee. Indien dieselfde visie in Suid-Europe, of Afrika, of Suid-Amerika die eerste keer geinkulturaliseer sou word, sou ons vandag verseker met ‘n ander gereformeerde gemeenskap gesit het.