Kommunikasie

Kwaliteit tyd

Dissipline

Ouerskap

Wenke

POSITIEWE OUERSKAP - Blog

AddThis Social Bookmark Button
Druk
PDF

HOE GEMAAK AS MY KIND “GEBOELIE” WORD OF SELF ’n “BOELIE” IS?

Geskryf deur Alta Marais on . Posted in Positiewe Ouerskap - Dissipline

Afknouery so oud is as die mens se geskiedenis, maar verskeie navorsers bevind dat dit aan die toeneem is. Kuber afknouery dra tot die toename by, maar 'n samelewing wat vinniger verander as ooit tevore en ouers wat rondtas omdat die ouerskapmodel wat hulle van hulle ouers geërf het nie meer in die nuwe omstandighede doeltreffend is nie, speel ook 'n beduidende rol.

Wat afknouery betref kan jou kind die slagoffer wees, of – skokkend soos dit mag wees – die een wat afknou. Die geheim in beide gevalle is om kinders te help om gesonde verhoudings aan te knoop.

AddThis Social Bookmark Button
Druk
PDF

Kinders meet kragte met ouers

Geskryf deur Alta Marais on . Posted in Positiewe Ouerskap - Dissipline

My kind meet kragte met my – en wen

‘n Radelose ouer vertel dat haar voorskoolse kind weier om opdragte uit te voer. Hy weier onder andere volstrek om sy speelgoed op te tel as hy klaar gespeel het. Sy gee dan vir hom ‘n keuse soos: “As jy nie jou speelgoed optel nie, kan ons nie die storie lees wat jy so graag wil hoor nie.” Hy kies dan om nie die storie te hoor nie. Dit maak nie saak wat sy probeer nie – hy hou voet by stuk en gee nie in nie.

Iemand anders vertel dat sy as klein kind geweier het om in opdrag van haar ouers vir haar boetie verskoning te vra omdat sy “lelik” was met hom. Sy is aangesê om op ‘n stoel te sit tot sy kans sien om verskoning te vra. Sy het ure op die stoel deurgebring, maar kon nie beweeg word om verskoning te vra nie.

Ouers beland onverhoeds in so ‘n “oorlog” of “magstryd” met weerstandige kinders oor hulle verantwoordelikhede en pligte. Wat ouers moet verstaan is dat hulle nie die stryd kan wen nie. Kinders het al die tyd in die wêreld om die magspel te speel en jou te toets en te beproef. Al raad is om die kind oor te haal tot ‘n ander siening.

1.  Fokus op die probleem en nie op jou kind of die stryd nie, want as ma op die kind  fokus en hom beskuldig, byvoorbeeld: “Jy is ongehoorsaam/ stout”, verstaan hy dat hy die probleem is. Hy voel dan veronreg en jammer vir homself en nie oor sy ongewenste gedrag nie. Boonop sal die kind ervaar dat sy ouer onbillik teenoor hom is.  As sy in ‘n stryd tree met haar kind oor byvoorbeeld optel van speelgoed, kan ‘n volskaalse magstryd ontstaan sonder dat die probleem opgelos word. Dit help die ouer om minder emosioneel te reageer en gee perspektief as sy in haar gedagtes die probleem van haar kind skei en vir haarself sê dat hy nie die probleem is nie. Sy is vir hom lief en hy is pragtig en is nie ‘n slegte mens omdat hy nie die speelgoed optel nie. Die probleem is dat die speelgoed nie opgetel word nie.

AddThis Social Bookmark Button
Druk
PDF

Wenke wat help vir raadop ouers

Geskryf deur Alta Marais on . Posted in Positiewe Ouerskap - Wenke

Daar is niks wat vergelyk kan word met die vreugde van ouerskap nie. In ons familie ervaar ons dit op die oomblik in oorvloed. Ons eerste agterkleinkind is pas gebore en natuurlik is klein Cobus die pragtigste, slimste en voorspoedigste baba ooit. Hy is nog ongeskonde en sonder die letsels van die lewe wat geen kind misloop nie, selfs al het hy ouers wat hom wil toevou in hulle liefdevolle beskerming. Om doeltreffende ouers te wees sal hulle ongetwyfeld ‘n hele reeks vaardighede bemeester. Ek kan egter onthou dat ek soms net aan ‘n reddingstou in die vorm van een of ander wenk wou vashou as alles nie volgens plan verloop het nie. Vanaand dink ek aan wenke wat moontlik jong ouers (en ander ouers) kan help:


• 1 Gee liefde
 

Vertel vir hom en vir haar hoe spesiaal en uniek elkeen is. Wees kwistig met drukkies en soentjies. Wees “daar” as jou kind jou nodig het.

• 2 Spandeer tyd saam met elkeen afsonderlik.

Doen saam met jou kind dié dinge wat hy of sy graag wil doen (dit sal nie altyd die aktiwiteit wees waarvoor jy lus is nie). Dit kan wees om saam wegkruipertjie of Monopoly te speel. Dalk wil hy gaan fietsry of wil sy ‘n musiekkonsert bywoon. Kinders floreer op ouers se aandag en as daar twee ouers is, benodig hulle beide se tyd en aandag.

• 3 Praat minder en luister met volle aandag

As ouers empaties luister; met oë, ore en hart, help dit hulle om begrip te ontwikkel vir hul kinders se gevoelens en ervarings. Dit is vir die kind makliker om te vertel wat haar kwel wanneer die ouer die aktiwiteit waarmee hy besig is staak en regtig luister. Ouers wat met volle aandag luister dra sy twee boodskappe oor: “Jy is belangrik genoeg” en “ek gee om”. ‘n Kind se grootste behoefte is nie dat sy ouer vir hom moet raad gee nie, maar dat sy ouer sal hoor wat hy sê.

• 4 Skep struktuur
 
‘n Kind voel geborge as daar gereelde eet- en slaaptye is, selfs al skop hulle soms daarteen. Dit skakel konflik uit as daar roetine handelinge is soos dat skoolklere uitgetrek word as hulle van die skool af kom en dat huiswerk afgehandel word voordat hulle gaan speel. Waak terselfdertyd daarteen om rigied te wees

• 5 Laat kinders toe om keuses te maak

Die blote kans om ‘n keuse uit te oefen verminder by ‘n kind weerstand om ‘n taak uit te oefen, want dit laat hom in beheer en belangrik voel: “Wil jy jou blou broek of jou groen broek aantrek?” of “wil jy Weet Bix of Post Toasties hê?” of “wil jy jou medisyne met koeldrank of ‘n lekkertjie afsluk”.

• 6 Probeer om nie uit gewoonte “nee” te sê nie

Nee is vir ‘n kind soos ‘n rooi doek vir ‘n bul. Sy vra: “Kan ek gaan speel?” Sê eerder: “Ons eet oor 5 minute” as “nee, ons eet oor 5 minute”.

• 7 Behou hoop

Kinders het dikwels ‘n droom van wat hulle wil word en bereik. Jou kind wil ‘n sanger, dokter, polisieman, onderwyser of beroemde sportman word. Droom saam eerder as om hom wreed te ontnugter. Hy sal wel mettertyd realisties word en ontdek wat sy werklike aanleg is.

• 8 Moenie blameer nie

Wanneer ‘n kind ‘n fout maak en jy blameer of verkleineer hom, voel hy vir homself jammer. Verduidelik eerder waarom dit ‘n fout was en wat ‘n beter opsie sou wees. Spreek die fout aan en nie op die kind nie.

• 9 Moenie dreig nie.

Ouers is geneig om baie keer te dreig voordat hulle optree. Dit maak kinders ouerdoof. ‘n Kind weet dat hy byvoorbeeld maar met sy voete op die bank kan sit, want ma en pa dreig, maar tree nie regtig op nie. Gee liewer ‘n keuse met ‘n logiese gevolg: “As jy aanhou om met jou voete op die tannie se bank te sit, sal jy op die vloer moet sit”.
Wenke help baie, maar ‘n mens kan ook verstrik raak in al die wenke as jy nie oor ‘n ‘n goed-gedefinieerde ouerskapsiening beskik nie. Gelukkig is daar kursusse, soos POSPAR wat daarmee help. Vir meer inligting gaan na “Positiewe ouerskkap” op die Communitas webblad.

AddThis Social Bookmark Button
Druk
PDF

Ouerskap en 'n Ontstellende Nuusberig

Geskryf deur Alta Marais on . Posted in Positiewe Ouerskap - Ouerskap

 Ouerskap en ‘n Ontstellende Nuusberig

Die afgelope week was ‘n hartseer tyd. Dit gons in ons land en die moord op  Eugene Terreblanche is ‘n gespreksonderwerp in bykans elke huis. Mense soek na  ‘n simplistiese oorsaak daarvoor: Is hy vermoor  omdat ‘n leier ‘n liedjie gesing het wat ruimte skep vir die minagting van mense se lewens? Het dit gebeur omdat mense wat betaal moes word, nie betaal is nie?  Was alkohol die oorsaak van die tragedie? 

Ouers se bespiegelinge en uitsprake oor die aangeleentheid sal ‘n blywende indruk op hulle kinders maak. Afhangende van wat hulle sê, sal hulle bydra tot die skep van óf ‘n versoenende óf ‘n haatdraende gesindheid in hulle gesinne. Die gesindheid wat geskep word sal ook soos suurdeeg verder versprei, want elke gesin beïnvloed ook ander mense en gesinne.  Wat 'n ontsaglike verantwoordelikheid het ouers.

'n Ontstellende berig soos die moord op Eugene Terreblanche kan egter ook 'n geleentheid wees om saam met ons gesinne introspeksie te doen binne ons godsdienstige perspektief. In ons gesin het ons geworstel en gepraat en ons eie gesindheid onder die vergrootglas geplaas. Om sin te maak uit  die ontstellende gebeure was ent-ent ‘n pynlike proses. Ons het tot die gevolgtrekking gekom dat 'n gebrek aan respek teenoor mekaar moontlik een van die oorsake van die tragedie was: As 'n mens nie respek vir ander het nie, sing jy liedjies soos  “Kill the boer, kill the farmer” en “Bobbejaan klim die berg” om mekaar te tart. Ons het die hand in eie boesem gesteek en erken dat ons ook nie altyd genoeg respek teenoor alle ander mense betoon nie. Eindelik het  ons by die punt gekom waar ons ooreengekom het dat ons graag 'n klein bydrae tot die voorkoming van geweld in die land wil maak. Ons  het twee voornemens vir onsself geformuleer:

1. Ons gaan daarna streef om alle mense met respek te behandel - selfs al handhaaf ons verskillende standpunte.

2. Ons gaan mense respekteer deur nie onsself hoër as enige ander mens te ag nie.

AddThis Social Bookmark Button
Druk
PDF

OORLAAIDE OUERS ERVAAR SPANNING

Geskryf deur Alta Marais on . Posted in Positiewe Ouerskap - Ouerskap

 

Tydens ‘n onlangse kursus het ek weer daarvan bewus geword dat dit vir ouers voel asof hulle hulself in duisend stukkies moet verdeel om al hulle pligte na te kom. Dit bring spanning mee.


Toe ek baie jare gelede ‘n kind was, het ek skool toe en terug gestap en namiddae self gesorg dat ek by buitemuurse aktiwiteite uitkom – ook te voet. Selfs wanneer daar saans aktiwiteite by die skool was, het ons gestap. Ouers was nie bekommerd oor ons veiligheid nie. Gedurende daardie tyd was ma’s oor die algemeen tuisteskeppers van beroep en baie min van hulle het buitenshuis gewerk.

Tye en omstandighede het intussen ingrypend verander. Vandag beklee beide ouers gewoonlik beroepe. Om eerlik te wees verkies die meeste van ons die nuwe bedeling – ook om ons konfyt en vrugte in blikkies te koop. Daar is egter ook ‘n skadukant: Ouers is besiger, nie net omdat beide werk nie, maar ook omdat dit nie meer vir kinders veilig is om alleen op straat te beweeg nie en hulle vervoer moet word. Tydens ‘n onlangse kursus het ek weer daarvan bewus geword dat dit vir ouers asof hulle hulself in duisend stukkies moet verdeel om al hulle pligte na te kom. Dit bring spanning mee. Dit is onrusbarend hoeveel medikasie gebruik word vir toestande wat aan spanning gekoppel kan word, soos hoofpyne, buikpyne, slaaploosheid, hartkloppings en brandpyne in onder andere jou nek en skouers.

Die antwoord vir die probleem is nie om:
•Op die bank te gaan lê en slaap nie.
•Sommer net lui te wees nie.
Ontspanning is:
•‘n Doelbewuste aksie.
•Dit word die beste gedoen terwyl jy helder wakker is.
•Daar is verskeie ontspanningstegnieke en dit kan
aangeleer word.

Ouers kan nie altyd die spanning vermy nie, maar kan leer om die negatiewe gevolge uit te skakel.

Ek deel met julle ‘n aantal kits ontspanningstegnieke Besluit self wat vir jou die beste werk.

•Trek jou asem diep in; hou dit vir 'n paar sekondes en sug dit uit.
Trek weer jou skouers op tot by jou ore terwyl jy jou asem diep intrek en in hou; buig die skouers agtertoe totdat dit voel asof jou blaaie aan mekaar raak. Sug jou asem uit en laat jou skouers slap val. Jy sal aangenaam rustig en ontspanne voel en die nare brandpyn in jou nek en skouers sal mettertyd verdwyn.

•Aan die agterkant van jou nek is loop twee senings van jou skedel na jou skouers. Aan die buitekant, alkante daarvan, is twee holtetjies. Gebruik jou middelvingers en vryf liggies, met sirkelbewegings in die holtetjies. Daar sal ‘n ontspanne gevoel deur jou hele lyf versprei.

•Gebruik jou duime en voorvingers om net bokant jou oorbelletjies met sirkelbewegings te vryf.

•Klem jou vingers ineen en plaas jou geklemde hande agter jou nek. Hou jou kop regop en trek jou ken in. Trek jou asem diep in en hou dit so. Beur teen jou hande, so hard as wat jy kan, vir 'n paar tellings en laat skiet terwyl jy terselfdertyd jou asem uit sug. Herhaal 10-keer.

 

AddThis Social Bookmark Button

Alle kommentaar