Lewenstyl

Spiritualiteit

Gebede

Gemeentes

Dominees

GEBED - blog

AddThis Social Bookmark Button
Druk
PDF

Bid iemand ooit vir my?

Geskryf deur Quintus Heine on . Posted in Gebed - Gebed en Spiritualiteit

Soms as ek sukkel om te bid, wonder ek of daar dalk iemand anders is wat ook vandag vir my bid. Ons verseker so maklik vir ander dat ons vir mekaar bid. Dan wonder ek of almal wat so in die verbygaan vir my 'n belofte om gebed gee, dit regtig doen. Het dit nie maar ʼn spreekwyse geword om mense te troos nie. Bid ons regtig vir mekaar?

Op ʼn gereelde basis kom die boodskap van Heb. 7-9 by my op. In die gedeelte word verduidelik oor Christus en die Levitiese priesterskap. Vs. 26 en 27 “ Vir ons was so hoëpriester nodig, een wat heilig is, skuldeloos en sonder smet is, verwyder uit die midde van die sondaars, en verhoog bo die hemele, een wat nie, soos die hoëpriesters elke dag offers hoef te bring, eers vir sy eie sondes en dan vir die volk nie. Hy het immers eens en vir altyd ʼn offer vir die sondes gebring toe Hy Homself geoffer het.

Die funksie van die hoëpriester is om vir die volk by God in te tree. In Heb. kom bevestig God dat Jesus my hoëpriester is wat reeds met sy offer aan die kruis vir my permanent ʼn pad oopgemaak het na God. Jesus is my Hoëpriester wat elke dag vir my intree by God. Dit beteken: Terwyl ek in my daaglikse lewe besig is met verskillende dinge, weet ek dat Jesus besig is om vir my te bid. As ek deur die donker nag slaap is Jesus besig om vir my in te tree by God. Die Seun van God tree voordurend vir elke gelowige in by God. Daar word dus op hierdie oomblik vir my gebid! Jesus is besig om vir my te bid en Hy hou nooit op nie. Die wete maak my gebedslewe nie net meer aktief nie , maar maak my nog meer bewus van God se teenwoordigheid in my lewe. Soos ek nou hier sit en skrywe kom ek agter dat die wete dat Jesus nou vir my bid - ʼn glimlag op my mondhoeke plaas.

Dankie Here dat ek in my oorvol lewe kan weet dat U vir my bid. Dat daar iemand is wat heeltyd vir my bid ! Here help my om ook met vasberadenheid gereeld vir almal rondom my te bid.

AddThis Social Bookmark Button
Druk
PDF

Sondag - die Opstandingsfees

Geskryf deur Quintus Heine on . Posted in Gebed - Spiritualiteit en lewenstyl

Na aanleiding van die vrae wat in die media gevra word oor wat ons op 'n Sondag mag doen en wat nie, het ek weer 'n artikel wat ek destyds daaroor geskryf het gaan opdiep.
1  Waar kom die Opstandingfees vandaan?

Die belangrikste fees wat die eerste Christene gevier het, was die opstanding. Die opstandingsfees was ʼn nuwe fees wat die identiteit van ʼn nuwe radikale geloofsgemeenskap bevestig het. Vandag noem ons dit Sondag. Dit was die enigste fees wat die vroeë Christene gevier het. Dit het natuurlik baie verskil  van die Joodse Sabbat. Die Joodse Sabbat was ʼn fees op die 7de dag, maar die Christelike opstandingsdag was ʼn nuwe fees met nuwe inhoud op die eerste dag van die week.

AddThis Social Bookmark Button
Druk
PDF

ʼn Spiritualiteit van Tevredenheid

Geskryf deur Quintus Heine on . Posted in Gebed - Spiritualiteit en lewenstyl

Die wêreld met al sy ekonomiese krisisse is die gevolg van ʼn lewensingesteldheid van onvergenoegdheid. Dit is geen geheim dat die wêreldwye krisis te wyte is aan die gierigheid van die mens nie. Tog het die  krisis baie mense weer genoop om na te dink oor hulle  ingesteldheid teenoor geld, besittings en wie hulle voor die Here is. Dit het my weer laat dink oor die woord -tevredenheid. Tevredenheid is ʼn leefwyse en spirituele ingesteldheid oor hoe die mens voor die Here leef!

In Psalm 131 getuig Dawid dat hy die punt bereik het van tevredenheid. Hy vertel dat hy geleer het om nie meer homself te verhef en besorg te wees oor groot dinge nie. Hy het kalmte gevind. Hy het die tevredenheid van ʼn baba bereik. Dit is ironies dat dit juis in Ps. 31 is waar hy getuig dat sy “tye” in die hand van die Here is. 
Om ʼn lewenshouding van tevredenheid te hê, is die grootste getuienis dat jy aan die Here behoort! Dit is die geloofwaardigste bewys dat jy in die krag en heerskappy van God oor jou lewe glo! Tevredenheid is die praktiese bewys dat jy glo dat God in beheer van jou lewe is. Dat Hy oor alles regeer. Dit is ʼn belydenis dat jy glo dat God die wysheid het om te weet wat die beste vir jou is ! Dis die grootste bewys dat ek en jy Jesus vertrou! ʼn Ontevrede ingesteldheid ontwikkel waar jy dink jy in beheer van jou lewe en besittings is en jy alleen daarmee te vertrou word. 
Jou reaksie van hoeveel jy betaal word, jou reaksie oor jou huis en inhoud. Selfs jou reaksie oor teleurstellings – dit alles vertoon jou ingesteldheid teenoor God. Tevredenheid plaas as’t ware die seel op jou geloof! Tevredenheid is die bewys dat jy in die heerskappy van God glo. Dit is die bewys dat jy die krag van die genade van God glo en jou geloof uitleef! In Fil. 4:18 verklaar Paulus “Nou het ek alles ontvang en het ek meer as genoeg!”
Ek dink ons moet gereeld vir onsself afvra of ons die genade van Christelike genoegsaamheid uitleef! Dit is ʼn goeie gewoonte(dissipline) om gereeld selfondersoek te doen of jy vrede en tevredenheid vir jou siel het? Soms leef ons onvergenoegd en word deur ʼn onrustigheid gejaag om meer tyd, geld, besittings en plesier te wil bekom. Dit is ook hierdie lewenshouding wat mense toestemming gee om alewig krities te wees en oor alles te kla. 
Jy sien, tevredenheid kan nie net ʼn paar leë woorde wees nie. Dit is ʼn lewenstyl, ʼn innerlike vergenoegdheid! Jou geloofsbelydenis dat God in beheer van jou lewe is en ʼn lewe van tevredenheid is dieselfde ding! Dit is ʼn vertroue in die almag en beheer van God. Dit is om die belydenis van Ps. 23:1  te leef! “Die Here is my herder. Ek kom niks kort nie”
Ons moet egter onderskei wat Geestelike vergenoegdheid nie is nie:

Tevredenheid beteken nie selfvoldaanheid nie (asof jy gearriveer het nie), nie sonder ambisie nie, nie arrogansie nie, maar ʼn hartsgesindheid van vergenoegdheid. Dit beteken ook nie dat ons ophou om hard te werk nie. Diens aan God behoort ons enigste motivering te wees vir harde werk! Indien jy strewe om meer geld te maak moet dit ook onder andere daarom gaan om vir God se werk ʼn groter tiende te kan gee! Dit behoort vir die gelowige oor God te gaan! Dit is God met jou lewe tevrede moet wees!  Tevredenheid is nie tevrede met die wêreld nie maar tevrede in die wêreld!

Ontevredenheid doen 2 dinge aan ʼn mens:
Aan die een kant maak dit jou blind vir al die geskenke/gawes wat God jou gegee het – jou familie, jou huweliksmaat, jou lewe, jou gawes. Ontevredenheid laat jou nie jou eie gawes raaksien nie! Jy sien net die onvoltooide en onvergenoegdheid in almal. Ontevredenheid maak van jou ʼn ondankbare mens, ʼn selfsugtige mens, wat dink sy sukses is sy eie en nie ʼn gawe van God nie!
Die tweede ding wat ontevredenheid doen: dit sorg dat jy nie groei nie. Niemand groei deur te verwyt of te kla nie. Jy begin geestelik groei en ontwikkel die oomblik as jy dinge begin aanvaar: Die oomblik wat jy jou huweliksmaat aanvaar, die oomblik dat jy jou omstandighede aanvaar. Daardie oomblik groei jou liefde.
Tevredenheid is ʼn vergenoegdheid oor God se teenwoordigheid in jou lewe vandag en nie eers in die toekoms nie. My gebed is dat julle sal weet dat God jou liefhet soos jy is !

Quintus

AddThis Social Bookmark Button
Druk
PDF

Wat is die doel van geestelike dissiplines?

Geskryf deur Quintus Heine on . Posted in Gebed - Spiritualiteit en lewenstyl



Ons almal ervaar een of ander tyd geestelike droogte in ons lewens, ja selfs dominees! Hiervoor kan daar baie redes aangevoer word. Maar die een saak waaroor ons saamstem is – ons hou nie daarvan nie.
Ons eie oplossing is dikwels om baie goeie voornemens te maak. Ons stel planne op, gaan gym toe, volg ʼn dieet en stel ʼn klomp geestelike doelwitte op soos – om meer gereeld kerk by te woon, meer Bybel te lees, by ʼn groep in te skakel ens. Dit mag dalk ʼn rukkie werk, maar kort voor lank besef ons dat daar weer in ʼn klomp ou gewoontes ingekruip het! Al die besluite en pogings wat ons geneem het, help gewoonlik net ʼn rukkie. Na die eerste paar maande van die jaar is die gym weer leeg en die kerk weer halfvol.


Nou wat moet ons dan doen?

Die antwoord is: Net mooi niks! Paulus leer vir ons in Rom. 3 dat ons van nature so geneig is tot die kwaad dat self ons beste pogings om ons lewens te herstel,  gedoem is. Die skrywer Heinie Arnold het gesê: “Solank as ons dink ons kan onsself red, maak ons ʼn fout. Hoe harder jyself probeer, hoe sterker maak jy die bose in jou”.

Daar is maar een uitweg: Mat 11:29-30
“Kom na my toe almal wat vermoeid en belas is en Ek sal julle rus gee.”

Ware rus en vernuwing is in Christus.

Maar steeds sukkel ons soms. Richard Forster het 3 redes gegee waarom gelowiges sukkel om volhoubaar naby God te leef:
1.    Hulle twyfel of ʼn dieper geestelike lewe en ʼn lewe naby God enigsins moontlik is. Hulle eie onvolmaaktheid wil hulle laat glo dat hulle maar tevrede moet wees met ʼn middelmatige lewe. Uit die Woord weet ons dat dit nie waar is nie. Paulus self bid vir die Efesiërs dat hulle geestelike diepgang sal ontvang.
2.    Die 2de probleem is dat hulle dink geestelike volwassenheid gaan maklik kom. Daarom is mense so lief vir resepte en programme. Ten diepste besef ons dat niks wat regtig ʼn invloed op jou lewe het kom maklik nie, maar glo dit nie altyd nie. Dit is op hierdie punt waar mense leer om oppervlakkig te wees.
3.    Die 3de probleem is dat ons mense net nie weet hoe nie.

Wat moet ons doen vir geestelike vernuwing ?

Moet ons nou weer ʼn wilsbesluit neem soos mense soos bv. ons nuwejaarsvoorneme? Nie heeltemal nie. As ons volhoubare geestelike vernuwing in ons lewe begeer, moet ons God toelaat om self ons lewens te vernuwe op sy eie manier en tyd. Hoe laat ek Hom toe? Deur jou hart en lewe vir Hom oop te maak dat Hy dit kan vernuwe.
Ons doen dit deur geestelike dissiplines of nuwe geloofsgewoontes aan te leer. Deur ʼn nuwe leefwyse maak ons die deur van ons hart vir God oop om ons te verander soos Hy wil.
Geestelike dissiplines is nie maar nuwe wette nie, dit is ʼn lewenstyl in die teenwoordigheid van God.

Richard Forster (Celebration of discipline.)praat van 3 groepe dissiplines:
Dissiplines na binne - soos gebed, meditasie, vas en studie;
Dissiplines na buite - soos eenvoud, diens, oorgawes, en
Gesamentlike dissiplines, soos kerkgang, aanbidding, musiek en feesvier

Adele Calhoun  (Spiritual Disciplines Handbook) verdeel die dissiplines in 6 groeperinge (met ongeveer 60 dissiplines): Aanbidding, oopstel vir God, uitwissing van eie valsheid, jou lewe met ander deel, luister na die Woord, uitleef van Jesus se liefde en gebed.

Dallas Willard (Renovation of the heart) noem 6 veranderinge waardeur jy moet gaan nl. Verander van denke; gevoel, hart, liggaam, sosiale lewe en siel.

Kent Ira Groff (Active Spirituality)praat van die dissipline van die geloofsgemeenskap; dissipline van afsondering; dissipline van hart en verstand; dissipline van diens; en dissipline van roeping .

Trevor Hudson (Signposts to Spirituality) lig  10  bakens uit vir ‘n lewe naby God. Die volgende word o.a. genoem: Christelike geheue; ontvanklik wees vir die koninkryk; liefde vir ons naaste; om God se roeping te ontdek; beoefening van die teenwoordigheid van God ens.

Met hierdie kort samevatting van die boeke, doen ek eintlik ʼn onreg aan die ongelooflike geestelike rykdom van elkeen van die skrywers. Dit is die moeite werd om elkeen (daar is ook heelwat ander) deeglik te bestudeer. Almal het een boodskap in gemeen.  Jy moet Bybelse geloofsgewoontes aanleer wat jou lewe vir God beskikbaar stel- sodat Hy jou al hoe meer kan vernuwe.


Ek dink dis belangrik om nooit uit die oog te verloor dat dit hulle persoonlike geestelike reis is wat hulle met ons deel nie. Jy kan nie maar ʼn ander persoon se geestelike reis net so dupliseer nie. Jy sal ʼn fout maak as jy iemand anders se geestelike reis slaafs probeer navolg. Dan is jy maar weer waar jy was toe jy uit jou eie probeer het.
Die enigste ware dissiplines of geloofsgewoontes wat jy volhoubaar gaan beoefen, is die wat jy self deur die werking van die Heilige Gees en deur gebed - in die Woord van God gaan ontdek.

Begin dus om erns te maak met die Bybel en gebed. Dit is hier waar jy die dissiplines en geloofsgewoontes gaan ontdek wat die Heilige Gees vir jou vernuwing nodig het !!!!

AddThis Social Bookmark Button
Druk
PDF

Nuwejaars-liefde

Geskryf deur Quintus Heine on . Posted in Gebed - Spiritualiteit en lewenstyl

Met die wind wat hierdie Desember onophoudelik stormsterkte in Pringlebaai waai en die baie reen in die binneland, is ek oorbewus van die ongelooflike oorweldigende natuurelemente! Indien iets opmerklik oorbeklemtoon word, neem mens bewustelik daarvan kennis. Ek dink dis met die res van die lewe ook die geval. Sodra iets oorbeklemtoon word, raak jy meer daarvan bewus. Die liefde is nie anders nie. Hoe meer ons mekaar se liefde ervaar en sien, hoe meer sal dit die ingesteldheid oor liefde by mekaar inskerp. Hoe meer ons van God se liefde bewus word, hoe meer groei ons toegeneendheid daarna.  Dalk moet ons die nuwejaar, liefde in oormaat uitleef dat Jesus al hoe meer in ons lewens sigbaar kan word!

Bernard von Clairvaux (1090-1153) het in sy bekende werk "On the Love of God"  vier  grade van liefde beklemtoon:

1. Liefde vir jouself ter wille van jouself: Hierdie is die natuurlike selfliefde. Die menslike natuur is swak en is van nature geneig om slegs homself lief te he.

2. Liefde vir God tot voordeel van jouself: God wat alles gemaak, het Homself so gemaak dat ons Hom wil liefhe. Hy beskerm ons en maak ons gelukkig. Sodra die mens in nood is draai hy na God en vra om hulp. Die mens wil dus God liefhe  tot voordeel van homself.

3. Liefde vir God ter wille van God: In hierdie 3de graad van liefde kom die mens tot die besef dat hy God liefhet ter wille van God. Dit is ook nie die mens wat self tot hierdie oortuiging kom nie, maar God se ongelooflike liefde wat hom daarna dwing. God oorlaai ons so met genade, vreugde en liefde dat ons oormatig daarvan bewus word. God se liefde is so oorweldigend dat die mens op die einde nie anders kan om God se liefde raak te sien nie. Gelowiges raak bewus van God se liefde en begin hulle lewens aan God wy en vir Hom leef!

4. Liefde vir jouself ter wille van God: Hierdie ongelooflike geseende fase van liefde is waar gelowiges tot die besef kom dat hulle hulself moet liefhe omdat God hulle gemaak het vir Homself. Hierdie toppunt van liefde ervaar jy nie gereeld nie, omdat ons telkens terugval na die ou natuur. Hoe meer jy egter in gebed verkeer en in God se teenwoordigheid leef , hoe meer gaan jy jouself begin liefkry ter wille van God. Jy gaan besef dat jou gawes, talente en roeping daar is om God te dien en Hom te behaag! Sodra jy die soetheid van God se genade deur gebed gesmaak het , sal jy net vir God wil leef en jou volle potensiaal vir Hom wil bereik!  Met hierdie graad van liefde is jou eie voordeel nie eers in jou gedagte, as jy met jou gawes hoogtes bereik nie - alles gaan slegs oor God!

My gebed is dat ons elkeen in die komende jaar gereeld hierdie 4de graad van liefde sal bereik en ons volle potensiaal vir God sal gee omdat ons vir Hom so lief is!

Quintus Heine

AddThis Social Bookmark Button

Alle kommentaar