{ARGIEF}

Ek kniel voor u – Anne-Marie Roux

Die Here het jou geskep om ‘n intieme liefdesverhouding met Hom te hê – en so ‘n verhouding behels dat jy jou diepste begeertes (al jou worstelinge, vrese,  geheime, onbegrip en seer)  net so, ongesensor en uit die dele van jou hart wat jy vir ander toesluit, vir Hom kan gee. Hy sê in Fil 4:6b Maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend.    En die aard en karakter van die Here is dat jy Hom kan vertrou:  soms kan jy met niemand praat nie, maar met die Here kan jy! Die Here praat nie uit nie, skinder nie agter-af nie, vertel nie jou geheime oor nie en verwerp jou nie – Hy het jou net lief met ‘n Vaderhartsliefde wat bokant ons begrip of verstand is. Gebed is dus om in verwagting te kniel, te smeek, te aanbid, te vra …

Gebed werk egter van die ander kant af ook: as ons naderkom, daardie tree na die Here gee in gebed, openbaar Hy Hom aan ons, kom Hy nader. In Jer 33:3 beloof die Here: Roep My aan, Ek sal jou antwoord en jou vertel van groot en onverstaanbare dinge waarvan jy nie weet nie. Die Here het dus gebed ontwerp en fyn vervolmaak sodat dit ‘n verhouding impliseer  – waarin jou hart en gees die Here s’n ontmoet op ‘n vlak wat bokant ons begrip of verstand is. Rom 8:26: Ons weet nie wat en hoe ons behoort te bid nie, maar die Gees self pleit vir ons met versugtinge wat nie met woorde gesê word nie.

Gebed:

Here, ek knoop nou my hart oop voor U. Ek gee my begeertes in hierdie oomblikke vir U. U sien dwarsdeur my, U ken my. Of ek sit en of ek opstaan, U weet dit, U ken my gedagtes nog voordat hulle by my opkom (Ps 139:1-2) en U ken immers die geheime van my hart (Ps 44:22). Ek haal dus al die seer, verdriet, bekommernisse, vrese, alleenheid, angs, verwagtinge en versoeke uit en ek plaas dit nou voor U troon. Ek gee dit vir U en vra dat U dit so een-een met U sagte hand sal vat en deur U Heilige Gees met my bemoeienis sal maak, uself aan my sal openbaar en met my sal praat. Ek wil net hier in u troonkamer en in u teenwoordigheid bly en my hele wese opnuut aan U wy.