Druk
PDF

Handelinge en Missionêre Kerkwees konferensie 18-20 Mei 2009

on . Posted in Navorsing - Handelinge en Missionêre Kerkwees

Handelinge en Missionêre Kerkwees konferensie 18-20 Mei 2009

Ons beplan ‘n konferensie oor die “Die missionêre kerk in Handelinge” (dalk: “Wat kan ons leer oor Missionêre kerk-wees uit die Handelinge-verhaal”) vir 18-20 Mei 2009 in Stellenbosch, en wil u graag uitnooi na ’n vroeër, verkennende gesprek wat reeds op 2 en 3 September 2008 in Stellenbosch gaan plaasvind oor dieselfde tema (veral dag 1) en waartydens die finale beplanning vir die latere konferensie in 2009 gedoen gaan word (veral dag 2).

Die gedagte vir hierdie projek, konferensie, en moontlike latere opvolg-geleenthede het as ’n BUVTON inisiatief ontstaan om die verband tussen die huidige klem op die missionêre /missionale beweging en die Nuwe Testament, en veral Handelinge, van nader te ondersoek. Die formulering van die projeknaam is nog nie ’n uitgemaakte saak nie, maar ons is van mening dat iets soos “Die missionêre kerk in Handelinge”, waar “Handelinge” en “missionêr” mekaar wedersyds ontsluit, sinvol kan wees.

Die motief met die projek is tweërlei:

  1. Aan die een kant glo die meeste predikante wat deel is van die missionale beweging dat so ’n beweging baie sterk geïnformeer behoort te word deur die Skrif. Die redes waarom ons so ’n gesprek by Handelinge begin is voor die handliggend. Ons sou graag wou hê dat die beste “reflekterende praktici” in die kerk hier in gesprek sal kom met die skerpste akademiese denke oor die betrokke sake.
  2. Maar daar is ook ’n verdere kant: so ’n konferensie bied aan ons die geleentheid om predikante en akademici op ’n positiewe, konstruktiewe manier in gesprek met mekaar te kry. Ons meen dat die konferensie ons kan help om die verhouding tussen kerk en teologie – wat op baie plekke in die wêreld nie goed is nie – positief op te bou.

Met hierdie oogmerke in gedagte, wil ons graag tydens die 1 en 2 September ontmoeting vir u as lid van ’n aanvanklike gespreksgroep geleentheid gee om die sake en temas wat u as belangrik beskou vir die bespreking van “Die missionêre kerk in Handelinge”, aan te stip met die oog op die 2009 konferensie. Ons sou byvoorbeeld wou sien dat vrae soos die volgende (en wat hier arbitrêr gerangskik is) op die agenda verskyn en dat ons daaroor praat:

  • Hoe dink ons oor die intensie en boodskap van die boek Handelinge?
  • Watter vorm neem die kontekstualisering van die evangelie deur die vroeë volgelinge van Jesus aan?
  • Wat kan ons uit Handelinge leer oor die vorming, identiteit, strukture en bedienings van die eerste gemeentes?
  • Wat is die rol van tradisie(s) in die Handelinge narratief asook –komposisie, en hoe kan dit verstaan word?
  • Hoe word die evangelie in Handelinge verstaan en aangebied? Hoe figureer hierdie verstaan in vandag se Kerk?
  • Hoekom is die kerk in Handelinge wel (of nie) geskik om kerkwees vandag te verstaan (nie)?
  • Wat is die aard van die “Christelike identiteit” in Handelinge – nie alleen die aard van die uitbeelding van identiteit nie, maar waarmee dit in verband staan en die aard van sodanige verband(e)?
  • Wat kan ons leer oor die eenheid en verskeidenheid in die kerk uit Handelinge?
  • Hoe moet ons dink oor die teenwoordigheid van Christus en van die Gees in die werk van die vroeë Kerk?
  • Waarin sou die spesifiek missionêre of missionale aspekte van Handelinge geleë wees? Wat sou belangrike tekste en temas wees in hierdie verband?


Ons vertrou u sal u weg oopsien om deel te neem aan die verkennende gespreksgeleentheid op 1 en 2 September by BUVTON/die Fakulteit Teologie, in Stellenbosch by te woon. Ons is opgewonde om van u te verneem, en sien daarna uit dat u by hierdie geleentheid – en selfs ook verder in die projek – u insigte met die groep kom deel!

Vriendelike groete

Coenie Burger, Eddie Orsmond en Jeremy Punt (reëlingskomitee)


AddThis Social Bookmark Button

Lewer kommentaar


Sekuriteitskode
Verfris

Alle kommentaar