NUWE BLOGS

GEBED LEWENSWAARDES PADLANGS PREEKSTUDIES TUSSEN-IN OUERSKAP LEIERSKAP NUUSPERSPEKTIEF

Bewegings van die Gees

AddThis Social Bookmark Button

Met Advent het ons Avent verhale van Hoop met mekaar gedeel op die webblad.  Met Pinkster sal dit goed wees indien ons verhale van die Bewegings van die Gees met mekaar kan deel.  Jannie Swart skryf in sy laaste bydrae oor Coenie Burger wat gemeentes soos volg beskryf as 'n dinamiese beweging binne die kragveld van die Gees:

Die gemeente... is 'n dinamiese beweging wat nie twee dae lank presies dieselfde bly nie, wat altyd aan die skommel en die beweeg bly en nooit stilstaan nie".  Dit lyk asof so 'n benadering tot leierskap nie-objektiverend en minder beheer-georienteerd behoort te wees.  Dit stel die uitdaging om deel te neem aan, en meegevoer te word deur, 'n vloei en energie wat nie in die eerste plek deur leierskap geskep of geinisieer is nie.  Hoe lyk so 'n leierskappostuur?

Ook in hierdie Pinkstertyd sal die Gees gemeentes en gelowiges beweeg, en dit sal anders wees as verlede jaar. Stuur gerus die verhale deur of te epos aan Frederick Marais by jfm@sun.ac.za Hierdie e-pos adres is teen spambotte beskerm, jy moet JavaSkrip op jou webblaaier ontsper om dit te kan sien hoe meer ons die verhale gaan vertel hoe beter sal ons in 'n posisie wees om, soos Jannie dit stel, meegevoer te word...deur die beweging van die Gees.

AddThis Social Bookmark Button

In die NGK Somerstrand gesels ons gereeld oor skilpad-geloof.  Iemand het êrens gelees dat die pad saam met die Here dikwels soos ‘n skilpad is.  Dit beweeg stadig voort, jy bid vir jare oor iets en dit voel vir jou dat niks gebeur nie, dat daar geen beweging is nie.  Dan, op ‘n dag, verander die skilpad ewe skielik in ‘n vuurpyl – en dan moet jy vashou!  Hierdie beeld beskryf baie goed ons gemeente se ervaring.  Ons gesels gereeld oor die geloof van ‘n skilpadjie en die vashou aan die vuurpyl.  Ons vra aanmekaar vir mekaar:  wat is ons nou – skilpad of vuurpyl?  En hoe moet ons in hierdie spesifieke fase optree? 

So praat ons al jare oor ons eredienste.  Ons wil graag families bereik en is oortuig dat daar veranderinge aangebring moet word om dit te doen.  So kom verskillende lidmate van tyd tot tyd saam om te gesels en bly dit ‘n staande item op die Kerkraad se agenda.  Ons bid ook elke week vir die Here se leiding hieroor. 

In 2008 het ons deur ‘n lang proses van bid en praat gegaan.  Daar is besluit dat ons by die Kerkraad gaan voorstel dat ons met twee eredienste gaan begin.  Almal op die Kerkraad, van die ouer, behoudende leiers tot die jonger, ongeduldige leiers, was ten gunste hiervan.  Al die vrae van vroeër was ewe skielik nie meer op die tafel nie.  Ons was oortuig dat dit die Here se wil is. 

By die betrokke Kerkraadvergadering beleef ons egter dat die Gees met ons werk.  Ons almal – elke enkele een – skuif tydens die vergadering in ons vooropgestelde idees.  Daar word besluit om nié nou te begin met ‘n tweede erediens nie, maar om baie meer moeite te doen met die kindertyd tydens die erediens en die toepassings wanneer die kinders die erediens verlaat. 

So gesê, so gedaan.  Dit het ‘n wonderlike impak gehad, die kinders het dit baie geniet en die erediensbywoning het gestyg.

In die tyd kry ons ‘n nuwe Bedieningsbestuurder vir ons jeugbediening.  Ian het as klein seuntjie in ons kategese tot bekering gekom, deur ons kinderkerk sisteem gekom, by ons belydenis afgelê en skakel by die studentebedienig in.  Die manier waarop die Here hom voorberei het vir sy huidige bediening, is ook ‘n storie op sy eie!  So praat Ian tydens ons laaste Kerkraadsvergadering oor die manier waarop die kinders elke Sondag grense oorsteek na die ouer mense en vra of die ouer mense nie ook soms grense kan oorsteek na die kinders nie.  Hy stel voor dat die Kerkraad daaroor begin bid om moontlik vroeg volgende jaar (2010) ‘n besluit te neem om twee maal per kwartaal ‘n informele diens te hou.

Die Kerkraad se onmiddellike reaksie was:  “Wat wou volgende jaar – volgende week!”

Met groot opgewondenheid en spanning het ons dus die afgelope Sondag ons eerste informele “gesinsdiens” gehad.  Wat ‘n heerlike, geseënde ervaring!  Almal, van die jongste kind tot die oudste oupa, vertel hoe hulle die diens geniet het.  Ons het saam gesing (met orrel, baskitaar, blokfluite, voorsangers, ens.), gesels, handbewegings gedoen en in verwondering voor die Here gestaan.

Nou wag ons om te kyk wat die Here vorentoe gaan doen...  Is dit nou vuurpyl-tyd of weer skilpad-tyd?

Add a comment
AddThis Social Bookmark Button

 

Oor die 15 miljoen mense in Malawi, Zambië, Mosambiek, Zimbabwe, en tot ‘n handvol in Suid-Afrika, praat Chichewa (in Zambië ook genoem Chinyanja). ‘n Goeie 12 miljoen van hierdie sprekers leef onder die “amptelike” broodlyn van minder as R 8 (1 US$) per dag. Getalsgewys is hierdie ‘n taal van die armes. Ons moet dus goed luister as hierdie ongeveer 12 miljoen mense vir ons in hulle eie idioom sê wat armoede en wie arm mense is:  “osauka”, “dié wat nie opstaan nie”.
Ons dogter kuier bietjie by ons. Raai wat was haar reaksie toe ek haar dit vertel?  “...omdat hulle te lui is?!”  Niemand kan my dogter beskuldig van luiheid, traagheid, swak waarnemingsvermoë, of swak menseverhoudinge nie. Sy is hardwerkend én het ‘n hart vir mense in nood – waaronder baie armes tel. Haar reaksie was impulsief, eerlik, maar ook ‘n tong-in-die-kies vraag. Want die gemeenskap waarin sy grootgeword het, is nie ‘n gemeenskap wat probleme het met opstaan nie, maar wel met dié wat níé opstaan nie.
Is armes arm omdat hulle te lui is om op te staan en te werk?  Maar was dit dan nie ook die wysheidsleraar van Spreuke se eerste reaksie nie? Ek het so gedink, maar ek was toe al die tyd verkeerd. Dis andersom:  Spreuke 10:4 sê dié wat lui is, wat nie hulle hande uitsteek uit hulle moue om te werk nie, is in vir armoede (net so ook dié wat geskenke aan rykes gee! – 22:16).  Wanneer Spreuke in die 31 ander teksverwysings van die armes praat, is dit met die grootste simpatie vir hulle harde lewe, en met die hoogste respek as mense wat ten diepste erken moet word as skepsels van God – vir wie God beskerm! Die enigste keer waar Spreuke blykbaar negatief van armes praat, is van dié wat mede-armes afdruk, sodat niemand ‘n kans het op opstaan nie, en almal op die ou end verhonger gaan lê (28:3).
Wanneer sowat 12 miljoen Chichewa-sprekendes sê arm wees is om nie op te staan nie, bedoel hulle uit eie ervaring jy kom net nooit op jou eie voete nie, jy is maar altyd weer terug op jou knieë – voor die mense. En voor God. Altyd weer terug op die aarde, gelyk met die grond. Dis jou plek, waaraan jy altyd weer herinner word, en waarna jy keer op keer teruggedruk word. Deur mense, vreemdelinge, magtiges, jou eie mense wat “bo” uitgekom het. En deur die stelsel, die bose bo-menslike, almagtige, alomteenwoordige, blykbaar ewige gees van hierdie wêreld.
Daar is gelukkig ‘n ander Gees. Die Heilige Gees, die Gees van die Lewende, Opgestane, Here Jesus –wat die opstandingslewe inblaas in lam en lewelose mense. Soos die man waarvan Lukas in Handelinge 3 vertel wat sy lewe lank nooit opgestaan het nie; net maar dag vir dag moes opkyk vir ‘n volgende jammer-kry-fooitjie. Toe wek die Heilige Gees hom op, deur die hande van Petrus en Johannes wat kort tevore deur dieselfde Gees op hulle voete gebring is. En hy staan regop, loop die tempel binne, spring, prys God! 
So lyk die kerke waar ‘n wonderbaarlike groot getal van die 12 miljoen Chewa-sprekende armes Sondag vir Sondag aanbid. Sonder orrels of orkeste, sonder sagte kerkbanke (soms sonder enige sitplekke!), in geboue sonder plafon (soms sonder dak!), sonder glasvensters of verf of selfs gepleisterde mure, soms sonder ‘n gebou; in ‘n diens sonder fynuitgewerkte liturgie en prediking wat meestal veel te wense oorlaat. Maar dis ‘n belewenis – van ‘n wonderwerk: dat “die wat nie opstaan nie” opgewek is, regop staan voor die mense en voor God, God prys. En inderdaad hulle hande uitsteek na dié wat nog lam is, en kan gee – (uiteraard!) nie silwer en goud nie, maar Jesus se opstandingslewe.
‘n Geweldig omvangryke en diepe wonderwerk!  Op ons drumpel. Elke Sondag. As ons goed kyk: elke ganse dag van die harde werklikheid!  - die beweging van die Gees.

 

Add a comment
AddThis Social Bookmark Button

In ons gemeente het ons die afgelope jaar 'n bediening vir jeugdiges van 18-35 wat ons Crossings noem. Spesiale eredienste word in die aande vir hulle gehou in die taal en terminologie, konteks en karakter van jongmense in daardie ouderdomsgroep. Musiek word verskaf deur 'n orkes wat van krag tot krag gaan en die prediking word gedoen deur iemand wat wéét hoe om hierdie ouderdomskategorie aan te spreek. Die hele fokus van hierdie bediening is op gestuurdheid. Die byval wat dit vind in die gemeente is baie goed.
Verlede Vrydag klop iemand aan my pastorie se voordeur. Ek maak oop en voor my staan Waldo. Hy is 12 jaar oud en een van ons baie gereelde en getroue kerkgangers - kom selfs as pa en ma nie wil kom nie. In sulke gevalle loop hy kerk toe en dit geld oggend en aand. Hy is geklee in sy Sondagklere en staan ewe formeel met 'n aktetas in sy hand.
"Dominee, ek wil dominee graag spreek." Vol selfvertoue, assertief - ek hou daarvan.
"Kom in Waldo, kom sit. Waarmee kan ek jou help vandag?"
Waldo antwoord plegtig "Dominee ek kom toestemming vra vir iets wat ek ongelukkig klaar gedoen het. Mag ek vir dominee daarvan vertel?"Die afwagting op sy gesig spreek boekdele.
Ek bly so rukkie stil om enersyds die moment te koester en andersyds om die plegtigheid daarvan te beklemtoon en toe sê ek formeel "Ja, dit is goed. Jy mag my maar vertel."
En Waldo begin vertel:
"Dominee, ek het 'n junior-Crossings by die skool gestig. Ons is al 14 kinders wat betrokke is. Ons kom elke dag bymekaar, lees uit die Bybel, gesels oor wat dit vir ons beteken en dan gaan ons na ons verskillende klasse. Is dit OK as ons daarmee aangaan?"
My hart swel van trots op hierdie klein mannetjie: "Natuurlik mag julle Waldo!"
"...maar Dominee dis nie al nie - ons gaan van nou af elke Sondagaand se Crossings ook kom bywoon en twee van die kinders behoort nie aan 'n kerk nie. Hulle het gesê hulle wil graag by ons kom inskakel. Sal dit goed wees as ek Sondag-aand vir tannie Thea vra vir vorms vir hulle om in te vul?"
Teen hierdie tyd wil my mond al begin oophang - "Dis goed so Waldo - gaan voort!"
"Dominee, dan nog 'n ding..." En hy maak sy tas oop en uit die tas kom 'n legger en in hierdie legger is van hierdie plastiek vouers en uit een van hulle haal hy 'n met potlood handgeskrewe vel papier. Uit die hoek van my oog kan ek sien dit is 'n lys van goed wat daar neer geskryf is en ek wonder ...
"Dominee kan ons die Koffiekroeg Saterdag middae huur vir ons byeenkomste?" Ek val amper van my stoel af!
"My liewe Waldo julle hoef dit nie te huur nie - kom haal net die sleutel by my dan kan julle dit gratis gebruik" sê ek.
“Dankie Dominee. O ja - nog iets. Ons het met die skoolhoof gesels en het toestemming gekry om briefies onder die leerlinge te versprei waarin ons hulle uitdaag om Maandag elkeen 'n kombers te bring vir die Winterhoopprojek waarvan ons in die Kerk gehoor het. Is dit OK as ons dit oor twee weke kerk toe bring Dominee?"
Teen hierdie tyd kan ek net my kop glimlaggend knik ...
"Dominee ons gaan Sondag by die kategese die ander skole ook uitdaag om dieselfde te doen. Dalk kry ons nog komberse en nog mense vir die junior-Crossings!" sê hy met oortuiging.
Toe hy later na 'n koppie koffie en stuk beskuit uitstap, is dit asof 'n stukkie van die Lig in hom in my sitkamer agterbly ... en ek besef so duidelik soos daglig dat die Gees beweeg ook in kinders en stuur hulle net soos Hy ons stuur!

 

Add a comment
AddThis Social Bookmark Button

'n Verhaal wat uitstaan en waar die bewegings van die Gees duidelik beleef is, is die verhaal van ’n dame in die gemeente (ongeveer 70jaar oud).  Sy is deel van die span van die gemeente wat weekliks uitreik en betrokke is by ’n vroue-Bybelstudie-groep in Heidedal.  Na afloop van die uitreik, toe sy wil huis toe ry, kom ’n bruin man na haar toe.  Sy sit reeds in haar voertuig en is effe huiwerig om die venster oop te draai, want dit is in die buurt, waar dit bekend is dat misdaad, prostitusie, verkragting en dwelms floreer. 

Sy draai egter die venster op ’n skrefie oop.  Die man vra haar of sy hom kan help, want hy het ’n drank-en dwelmprobleem.  Sy sê vir hom sy sal gaan hoor by Aurora-kliniek of hulle kan en dan sal sy terugkom na hom toe.  Sy reël toe ’n tyd met hom.

Die volgende kom sy terug – en hy wag vir haar presies soos afgespreek.  Sy sê toe aan hom dat sy plek gekry het, maar eers heelwat later, want hulle neem net 2 staatspasiënte per maand in.  Intussen bid die dame en haar span vir hierdie man. 

’n Dag of wat later bel Aurora en sê dat hulle hom die volgende dag kan inneem.  Die dame spoor hom op en hy is maar te bly om opgeneem te word.
 
Sy gaan haal hom toe by sy huis om hom Aurora toe te neem. Op pad daarheen, vertel hy aan haar dat hy nie ’n kind van die Here is nie en vra haar of sy hom kan help.  Op die parkeerterrein van die kliniek lei sy hom na die Here en maak hy ’n oorgawe aan die Here – voordat hy opgeneem word.

Hy is tans in die finale fase van sy behandeling.  Dit gaan baie goed.  Die dame besoek om feitlik daagliks en hy is besig om in die kliniek geestelik te groei.  Ons bid dat hy, na afloop van die behandeling, ingeskakel sal word by ’n ondersteuningsgroep en dat hy in ’n gemeente ’n geestelike tuiste, wat hom sal ondersteun, sal kry.

Add a comment
AddThis Social Bookmark Button

Ek het met elke diens deel gevoel van dit wat plaasvind in die kerk.  My totale uitkyk op die lewe het verander weens die feit dat `n gesprek met ander net nie meer `n normale gesprek kan wees nie.  Ek het werklik dinge om my begin waarneem en het met elke gesprek my daarop toegespits om werklik te luister. Ek het vir die eerste keer besef met hoeveel openheid ander mense my nader en in die proses het ek geweldig baie van myself en van hulle geleer.  Hierdie benadering het my ook gehelp om oor kultuur-, kerk-  en kleurgrense te beweeg wat ek nie voorheen so maklik sou kon doen nie en daardeur het ek ook toegelaat dat ander my grense oorsteek.

 Ek het ook `n opgewondenheid in die kerk en by ander lidmate van die gemeente  beleef tydens die Pinksterdienste en getalle wat elke aand gegroei het, was `n bewys dat mense net nie kon stilbly oor wat hulle ervaar het nie-hulle moes dit deel en het daardeur ander nuuskierig gemaak. Dit kan nie anders dat ek hierdie as `n lewensstyl moet implementeer in my lewe nie, want dit gaan nie net oor wat ek leer uit die proses nie, maar ook om die wil van die Here te doen.

Add a comment
AddThis Social Bookmark Button
Ons gemeente is vir 'n paar jaar in 'n proses om die Here se pad vir ons te vind maar stuit telkens teen die kultuur van blamering in ons gemeenskap. Telkens as die vernuwing kom en die gepaardgaande weerstand en kritiek, begin gemeentelede mekaar te blameer en ontspoor die proses. Hierdie Pinkster het ons weer 'n vergadering gehad en geprek gevoer oor vernuwende inisiatiewe in die gemeente waaroor daar weer soos in die verlede kritiek is. By die vergadering ontspoor die gesprek weer toe leiers begin om te blameer totdat 'n jong leier opstaan en se:  Ek is soos elkeen van julle 'n geestelike leier in die gemeente en ek gaan niemand blameer nie maar verantwoordelikheid neem vir die plek waar ons nou is. Stadig het die gesprek begin draai van wie te blameer is, na die neem van verantwoordelikheid. Die verlamming was skielik weg en ons het 'n pad begin sien.  Die kritiek het nie verdwyn nie, maar die verlamming is weg- die Gees het leiers opgerig in ons gemeente en ons kan nou 'n pad begin stap.
Add a comment
AddThis Social Bookmark Button

Nadat ons ‘n ruk gelede ‘n visie van die Here gekry het en begin het om dit te implimenteer, het daar aanvanklik weerstand gekom van gevestigde leiers..  Gebed van ons leiers het ons afhanklik van die Gees gegee. Ons het begin verstaan dat dit nie gaan oor wat ons doen nie maar dat ons die beweging van die Gees moet volg. Dit het ons ongeduldig gemaak om nou vorentoe te gaan en ons het stappe begin neem. Hoe weet ons nie maar gesindhede het verander. Mense wat voorheen teensinnig was oor vernuwing in die eredienste het ses maande later begin vra dat ons vir die jeug ruimte moet maak. Die houding van julle moet soos ons wees, het verander na kom ons maak ruimte vir jongmense.  Ons kon dit met Pinksterfees vier sonder enige teenstand. Die feit dat ons van die Here ‘n visie ontvang het uit Jes 45 & 54 het ons koers gegee in die moeilike tye. Ons is nou weer gereed om as leiers weer ons af te sonder sodat ons weer by die Here kan hoor wat die volgende tree moet wees.

Add a comment
AddThis Social Bookmark Button

‘n Ouer dame in ons gemeente het baie opgewonde teruggekom van ‘n besoek aan familie in die Vrystaat waar die 40 Dae so pas aangebied was met die versoek dat Strooidak dit ook moet aanbied.

Die 40 Dae van Doelgerigte Lewe was vir drie jaar daarna ‘n staande punt op die agenda van ons Kerkraadsvergadering. Telkens is besluit dat die tyd nie reg was daarvoor nie.

Aan die einde van 2008 het die Kerkraad besluit dat ons as gemeente saam met Bikers Church en Drakenstein dit sal aanbied in Mei/Junie van 2009.

Daar is lank oor hierdie saak gebid dat die Here vir ons die regte mense sal gee om hierdie 40 Dae te dryf.

‘n Amerikaanse paartjie wat ongeveer 4 jaar gelede na Suid –Afrika gekom het, om voltyds vir die Here te kom werk en wat nou lidmate van ons gemeente is, het aangebied om die koördineerder van die program te wees. Hierdie dame was betrokke by Rick Warren se gemeente toe hy dit vir die eerste maal aangebied het.

Die beplanning het in Januarie 2009 begin waar ons elke Donderdagaand vergader het en vir ongeveer twee ure beplan het. Tans vergader ons Dinsdagaande waar elke erediens tydens die 40 Dae tot in die fynste besonderhede beplan word volgens die voorgeskrewe riglyne.

Waar aanvanklik met huiwering beplan is vir 120 kleingroepe, en later ‘n doelwit van 440 kleingroepe gestel is , is ons ongelooflik dankbaar om te kan sê dat daar tans 585 kleingroepe is met ongeveer 6000 mense betrokke by die kleingroepe. Behalwe die kleingroepe in die drie gemeentes is daar ook kleingroepe in die buiteland, skole, gevangenisse, ouetehuise en aftreeoorde. Aanvanklik was ons onseker, maar het besluit om 1200 boeke aan te koop teen R72000-00. Ons was egter genoodsaak om weer ‘n bestelling te plaas a.g.v. die groot vraag.

Nancy Cowie (ons koördineerder) het dit duidelik aan ons gestel dat die Here ons uit ons gemaksone gaan neem en dat ons ons daarop moet voorberei. Ons het die Here egter blindelings vertrou en glo dat die Paarl Vallei onherroeplik verander gaan word. Ons loof die Here!

Add a comment
AddThis Social Bookmark Button

In die noordelike voorstede van Kaapstad is daar 'n gemeente wat nie meer 'n predikant kan bekostig nie. Die eertydse groot gemeente het bitter klein geword. Om die kerk in die stadskern is meer as 200 vreemdelinge, swartmense uit ver lande wat tot hier gevlug het op soek na ʼn nuwe lewe. Een van die Kongolese begin die eredienste bywoon, hy sit gereeld op die galery, week in, week uit. Tydens een diens gaan hy aan die huil en hy huil en huil. Toe hulle hom vra hoekom hy so huil, kom daar in gebroke Engels die antwoord:

“Hoekom bly die kerk dan net hier binne die kerk? 

Add a comment
AddThis Social Bookmark Button
Ons het die Pinkstertyd met 'n nuwe Positiewe Ouerskap groep begin.  Die meeste couples se kinders is in 'n tienerfase.  Wat my opgeval het is die eerlikheid waarmee die ouers na die tafel toe kom, en desperaat vir hulp en tools.  Hulle steek nie hulle probleme weg nie, maar praat openlik daaroor.  Dis inderdaad ‘n nuwe generasie die, wat nie net moeite doen met hulle ouerskap nie, maar wat beslis meer eerlik leef en hulle gebrokenheid erken – dan kan mens net soveel dieper gaan!! Hulle is 'n gawe van die Gees aan ons gemeente. Met hulle eerlikheid skep hulle 'n veilige ruimte vir ons almal
Add a comment
AddThis Social Bookmark Button

Ek sal maar net vir my siel sê: Wees stil...doodstil...en buig laag...baie laag

Add a comment
AddThis Social Bookmark Button
Die Agape beweging is 'n groep lidmate van die Moederkerk op Stellenbosch en VGK Stellenbosch, ons kom nou al 'n ruk lank saam. Ons bou bande tussen die lidmate en leiers van die twee gemeentes. Ons doen tans die Groei oor Grense boekie van die Seisoen van Luister.  In die proses leer ons dat die Gees ons sensitief maak vir die mense wat ons in ons gewone lewe raakloop. Ons was verbaas toe ons groep ontdek dat die Gees verlede week almal in die groep stuur na arm mense in ons gemeenskap- om bande met hulle te bou. Ons het nog nie te vore sulke direkte leiding van die Gees beleef nie. Hoe kan ons ooit weer dieselfde wees hierna?
Add a comment
AddThis Social Bookmark Button
Ons Pinkstertema vanjaar in die NG gemeente van Somerstrand, Port Elizabeth, was: Die Gees stuur ons oor Grense. Elke aand het ons oor spesifieke grense in die verhale van Johannes 4 en Handelinge 6,8,10,16,17 gesels: gender, generasies, etnisiteit, kultuur, godsdiens ens.  Mense is dan uitgedaag om die volgende dag Godsvallige ontmoetings te gebruik om grense oor te steek.  En elke aand het ons aan die begin van die diens 'n 20 minute gebruik om dit in groepe te bespreek en so 3 getuienisse daarvan aan almal in die kerk te vertel.

Watter wonderlike stories is nie vertel nie:

  • Grense wat na siek en afgetakelde mense oorgesteek is en waar God se teenwoordigheid ervaar is;
  • Grense wat in werksituasies oorgesteek is en waar 'n doodgewone “rep”-werk in 'n geloofsgesprek verander net omdat aandag gegee word aan wat mense sê;
  • Grense wat in 'n materiaalwinkel oorgesteek is, waar die gesprek gou van materiaal na die winkelassistent se terugkeer uit die Moslem geloof gegaan het – sy het die Moslem geloof aangeneem omdat haar verloofde een was, en het besef dat sy Christus daarmee in die steek gelaat het, en het die verhouding verbreek en terugkeer na haar wortels toe;
  • Grense wat in 'n biblioteek oorgesteek is, waar 'n opmerking oor 'n kruisie-hangertjie van 'n student 'n diep geloofsgesprek tot gevolg gehad het.

Ons het dié week geleer dat die Gees die hele tyd besig is met mense wat oor ons pad kom.  As ons elke dag bewustelik ons oë begin oophou vir sulke Godsvallige ontmoetings gaan daar 'n wêreld oop van die Gees wat deur ons grense oorsteek (gaan lees weer oor Paulus se ontmoetings met verbygangers op die kerameikos, die pottebakkersmark en die gevolge daarvan in Atene – Handelinge 17).

Dit was wonderlik om dit 'n week lank in ons gemeente in te oefen.  Ons sal nie weer dieselfde wees nie

Preektemas beskikbaar by www.ngkerksomerstrand.co.za.

Add a comment
AddThis Social Bookmark Button

Met Advent het ons Avent verhale van Hoop met mekaar gedeel op die webblad.  Met Pinkster sal dit goed wees indien ons verhale van die Bewegings van die Gees met mekaar kan deel.  Jannie Swart skryf in sy laaste bydrae oor Coenie Burger wat gemeentes soos volg beskryf as 'n dinmiese beweging binne die kragveld van die Gees:

Die gemeente... is 'n dinamiese beweging wat nie twee dae lank presies dieselfde bly nie, wat altyd aan die skommel en die beweeg bly en nooit stilstaan nie".  Dit lyk asof so 'n benadering tot leierskap nie-objektiverend en minder beheer-georienteerd behoort te wees.  Dit stel die uitdaging om deel te neem aan, en meegevoer te word deur, 'n vloei en energie wat nie in die eerste plek deur leierskap geskep of geinisieer is nie.  Hoe lyk so 'n leierskappostuur?

Ook in hierdie Pinkstertyd sal die Gees gemeentes en gelowiges beweeg, en dit sal anders wees as verlede jaar. Stuur gerus die verhale deur of te epos aan Frederick Marais by jfm@sun.ac.za hoe meer ons die verhale gaan vertel hoe beter sal ons in 'n posisie wees om, soos Jannie dit stel, meegevoer te word...deur die beweging van die Gees.

Laai dit hier af:

Add a comment

Verwante artikels

Kommentaar en gesprek

Facebook

  • As kerkverlaters met hulle eertyds gemeentes praat http://t.co/I79tL94 via @AddThis 3 days ago
  • By die Swartberg Indaba het 'n baie interessante gesprek oor GROEN ontstaan: Die bewaring van die natuur en ons rentmeesterskap. Lees en gesels saam: 3 days ago
  • Frederick Marais vertel wat hy geleer het in gesprekke met kerkverlater 4 days ago
  • Nuwe webtuiste geskep vir Kerkspieël by GDN: www.kerkspieel.co.za. Navorsing van 1981 tot 2006 nou beskikbaar vir aflaai. 2 weeks ago
  • Jan Bisschoff deel sy gedagtes oor die lewe ... sonder die mantel van dominee | eerste drie van vyf artikels gepubliseer. 2 weeks ago

Twitter

  • communitasweb: As kerkverlaters met hulle eertyds gemeentes praat http://t.co/I79tL94 via @AddThis 3 days ago
  • communitasweb: Feel it - it is here! As ons oor Soweto verkeerd kan wees, waaroor nog alles?: http://bit.ly/d0Iyvt - artikel by Sokker Wêreldbeker forum
  • communitasweb: RT @chrisvanwyk: Rekordmaand vir Seisoen van Luister: http://bit.ly/cqJ8F5 via @addthis
  • communitasweb: Meeting with God's voice - Frederick Marais: http://bit.ly/bNDYIg | extensive guide using Listening Cycle to facilitate meetings
  • communitasweb: RT @chrisvanwyk: plaas die finale weergawes van die PowerPoint/Word preekhulpe vir Pinkster 2010 | Seisoen van Luister: http://bit.ly/9CAKHG