1. Die Gebeds blog is oorgedoen en verskuif na
http://communitas.co.za/index.php/blogs/gebed
Gaan loer gerus daar
Die huidige gebedsblog sal nie verwyder word nie maar nuwe opdaterings sal vanaf 2010 op die nuwe 2 blogs gedoen word.
As die blog op Communitas se webbladsy is , het dit die voordeel dat daar met ‘n paar “kliekes” ‘n magdom inligting tot elkeen se beskikking is!
Dankie aan Chris van Wyk vir sy moeite om die gebedsblog oor te bou!
Groete
Quintus
Die afgelope jaar was vir my in ʼn sekere sin ʼn slegte jaar. My kleinneef Erich is wreed deur ʼn vliegramp van sy vrou, kinders, sy ouers en ander familie weggeneem. ʼn Vriend (saam met wie ek grootgeword het) se Pa is op sy plaas vermoor. Die ekonomie het ons almal gedruk soos wat ʼn nuwe paar skoene dit nie kan nadoen nie. So sal elkeen seker sy wanhopige verhaal kan vertel.
Tog is daar baie verhale van Hoop!
Ek lees ʼn berig op Media 24 van \’n Katolieke priester wat vermoor is. Sy mede- priester se reaksie was as volg:
“Somebody called out to me, ‘Father, you can come out, they’re gone’. I ran to Louis immediately and found him lying face-down on his bed.
“The whole bed was covered with blood and there was a hole in his back where the bullet had come out.”
Bourgeois, who’s been hijacked five times in Orange Farm, said “one gets used to this kind of evil”. He said he will never leave the country.
“I’ve learned to live with death,” said the Canadian, who’s been living in South Africa since 1980.
“What must happen, will happen. The Lord did only good, and he was murdered,” said Bourgeois.
- Beeld 2009-12-07
Ek het in hierdie artikel baie hoop gevind!
Ek het hoop gevind deur die verhaal van politieke oorgang in Suid Afrika – soos ek weer daaraan herinner is deur die fliek : ”Invictus” Dit vertel die verhaal hoe onder andere Mandela se staatmanskap ʼn vloeiende oorgang in ons land meegebring het.
Ek vind hoop in die boodskap van Kersfees soos in Matt 1:23 verwoord word “ Immanuel- God by ons”. Dis juis ʼn boodskap van Hoop! God stuur sy Seun om in ʼn hooplose wêreld hoop te bring. God laat ons nie alleen in die deurmekaarwêreld nie. Hy is by ons. Hy belowe nêrens dat ons gespaar gaan bly van al die hartseer nie. Maar Hy belowe dat Hy sy Seun Jesus stuur – dat ons nie alleen is nie!
Miskien is die soeke na hoop daarin om self hoop in jou lewe te herontdek! Hoe meer ʼn mens kla en kerm- hoe minder word jou hoop en lewenskwaliteit. MAAR As jy begin om in hoop te leef – hoop te gee – hoop te vertel aan ander Dan kry jyself ook hoop!
Wel net die wete dat Jesus se genade my nie veroordeel nie, maar omvou met die sy genadige teken van die kruis! Dit gee my Hoop!!
Christus het juis gekom om ons hoop te gee! Hoop laat jou aanhou en aanhou Dit gee jou ʼn nuwe horison, nuwe visie- Nuwe Lewe !!
Mag jy ook ‘n hoopvolle Kersfees beleef!!
Dit gebeur soms dat ʼn mens na jou omstandighede kyk en dan net die slegte raaksien, want dis al waartoe jou geestesingesteldheid jou in staat stel. Die week vra ʼn vrou my waarom dit dan lyk asof God net die hardheid van die lewe vir haar wys?
Dis sleg as mense net die seer van die lewe raaksien omdat hulle oë op stadiums nie in staat is om verder te kyk nie. Dit is eers as jy slaag om anders te kyk dat jy God se hoop en liefde raaksien. Dis eers as jy deur die oë van geloof en gebed kyk, dat jy dit regkry om anders te kyk na die werklikheid.
Ek was bevoorreg om in die Rooisee te snorkel en die asemrowendheid van God se skepping te bewonder. Op ʼn stadium swem ek nader aan ʼn growwe koraalrif en wonder in my stilligheid hoe die rif my voet kan sny as ek daarop trap. Toe ek naderkom skiet ʼn skool hemelblou vissies uit die rif. Uit die skerp koraalrif kom daar toe die mooiste lewe! Dit lyk soms of die lewe ʼn skerp koraalrif na ons draai.
Sodra jy leer om anders daarna te kyk – met ander oë daarna te kyk – sien jy ander dinge raak. Dan verras God jou op die vreemdste plekke met sy liefde. Soms moet ons juis nader aan die hardheid van die lewe kom om weer te leer om ander dinge raak te sien as wat ons normaalweg sou sien!
Gebed leer jou om anders te kyk – ander dinge raak te sien. As ʼn mens bid, begin jy deur die Gees se oë na die skerp koraalriwwe kyk. Dan staan jy soms verras hoe God se liefde daar teenwoordig is !
Die wêreld met al sy ekonomiese krisisse is die gevolg van ʼn lewensingesteldheid van onvergenoegdheid. Dit is geen geheim dat die wêreldwye krisis te wyte is aan die gierigheid van die mens nie. Tog het die krisis baie mense weer genoop om na te dink oor hulle ingesteldheid teenoor geld, besittings en wie hulle voor die Here is. Dit het my weer laat dink oor die woord -tevredenheid. Tevredenheid is ʼn leefwyse en spirituele ingesteldheid oor hoe die mens voor die Here leef!
In Psalm 131 getuig Dawid dat hy die punt bereik het van tevredenheid. Hy vertel dat hy geleer het om nie meer homself te verhef en besorg te wees oor groot dinge nie. Hy het kalmte gevind. Hy het die tevredenheid van ʼn baba bereik. Dit is ironies dat ook Ps. 31 hieroor handel. Hier getuig hy dat sy “tye” in die hand van die Here is. 
Om ʼn lewenshouding van tevredenheid te hê, is die grootste getuienis dat jy aan die Here behoort! Dit is die geloofwaardigste bewys dat jy in die krag en heerskappy van God oor jou lewe glo! Tevredenheid is die praktiese bewys dat jy glo dat God in beheer van jou lewe is. Dat Hy oor alles regeer. Dit is ʼn belydenis dat jy glo dat God die wysheid het om te weet wat die beste vir jou is ! Dis die grootste bewys dat ek en jy Jesus vertrou! ʼn Ontevrede ingesteldheid ontwikkel waar jy dink jy in beheer van jou lewe en besittings is en jy alleen daarmee te vertrou word.
Jou reaksie van hoeveel jy betaal word, jou reaksie oor jou huis en inhoud. Selfs jou reaksie oor teleurstellings – dit alles vertoon jou ingesteldheid teenoor God. Tevredenheid plaas as’t ware die seel op jou geloof! Tevredenheid is die bewys dat jy in die heerskappy van God glo. Dit is die bewys dat jy die krag van die genade van God glo en jou geloof uitleef! In Fil. 4:18 verklaar Paulus “Nou het ek alles ontvang en het ek meer as genoeg!”
Ek dink ons moet gereeld vir onsself afvra of ons die genade van Christelike genoegsaamheid uitleef! Dit is ʼn goeie gewoonte(dissipline) om gereeld selfondersoek te doen of jy vrede en tevredenheid vir jou siel het? Soms leef ons onvergenoegd en word deur ʼn onrustigheid gejaag om meer tyd, geld, besittings en plesier te wil bekom. Dit is ook hierdie lewenshouding wat mense toestemming gee om alewig krities te wees en oor alles te kla.
Jy sien, tevredenheid kan nie net ʼn paar leë woorde wees nie. Dit is ʼn lewenstyl, ʼn innerlike vergenoegdheid! Jou geloofsbelydenis dat God in beheer van jou lewe is en ʼn lewe van tevredenheid is dieselfde ding! Dit is ʼn vertroue in die almag en beheer van God. Dit is om die belydenis van Ps. 23:1 te leef! “Die Here is my herder. Ek kom niks kort nie”
Ons moet egter onderskei wat Geestelike vergenoegdheid nie is nie:
Tevredenheid beteken nie selfvoldaanheid nie (asof jy gearriveer het nie), nie sonder ambisie nie, nie arrogansie nie, maar ʼn hartsgesindheid van vergenoegdheid. Dit beteken ook nie dat ons ophou om hard te werk nie. Diens aan God behoort ons enigste motivering te wees vir harde werk! Indien jy strewe om meer geld te maak moet dit ook onder andere daarom gaan om vir God se werk ʼn groter tiende te kan gee! Dit behoort vir die gelowige oor God te gaan! Dit is God met jou lewe tevrede moet wees! Tevredenheid is nie tevrede met die wêreld nie maar tevrede in die wêreld!
Ontevredenheid doen 2 dinge aan ʼn mens:
Aan die een kant maak dit jou blind vir al die geskenke/gawes wat God jou gegee het – jou familie, jou huweliksmaat, jou lewe, jou gawes. Ontevredenheid laat jou nie jou eie gawes raaksien nie! Jy sien net die onvoltooide en onvergenoegdheid in almal. Ontevredenheid maak van jou ʼn ondankbare mens, ʼn selfsugtige mens, wat dink sy sukses is sy eie en nie ʼn gawe van God nie!
Die tweede ding wat ontevredenheid doen: dit sorg dat jy nie groei nie. Niemand groei deur te verwyt of te kla nie. Jy begin geestelik groei en ontwikkel die oomblik as jy dinge begin aanvaar: Die oomblik wat jy jou huweliksmaat aanvaar, die oomblik dat jy jou omstandighede aanvaar. Daardie oomblik groei jou liefde.
Tevredenheid is ʼn vergenoegdheid oor God se teenwoordigheid in jou lewe vandag en nie eers in die toekoms nie. My gebed is dat julle sal weet dat God jou liefhet soos jy is !
Quintus
Tags: heerskappy van God, ontevredenheid, tevredenheid, vergenoegdheid
Hoe gemaak met mense wat saam met jou leef en wat hoop verloor het – wat hoop-loos is? Ek het al baie by mense gesit met ʼn volslae hooploosheid in hulle oë, net om te sien hoe daar na ʼn gebed lig in hulle oë verskyn. Is dit omdat gebed ʼn towerformule is? Wat is dit dan wat veroorsaak dat gebed so ʼn hoopvolle uitwerking op mense het?
Hoopvolle gebed is nie ʼn towerstaf wat alles regmaak as jy net glo nie. ʼn Hoopvolle gebed vir ʼn hooplose persoon maak ʼn deur oop dat hy/sy weer vir God raaksien. Dis God wat hoop gee. Net Hy kan mense wat sy stem nie hoor nie, weer laat hoor! Gebed is om jou weer bewus te maak van God se liefde en teenwoordigheid in jou lewe. Gebed bring mense in kontak met God. Dit is sy liefde, genade en versoening wat nuwe ʼn uitsig vir mense gee. As jy dus intree vir mense by God en vir hulle bid, weet dat jy slegs die instrument is wat God se lig duideliker in mense se lewens laat skyn.
As gelowiges is ons geroep om ander hoop te gee. Die kerk en sy lidmate is by uitstek ʼn instrument van hoop! In die meeste gevalle is hoopvolle gebed al wat mense nodig het om God weer in hulle lewens te sien. As draer van hoop het ek en jy die verantwoordelikheid om heeltyd ons oë oop te hou, sodat ons kan raaksien wie hoop nodig het.
Groete
Quintus
Tags: hoop, Voorbidding
Met Communitas se onlangse ringstoer het ons verskeie ringe en gemeentes besoek om te luister na die beweging van die Gees in die kerk. Ons wou die spore van die Here se werk in gemeentes probeer raaksien. Sonder om self te praat en raad te gee, het ons net gaan luister! Geluister na gemeentes se stories, hul frustrasies en behoeftes. Ons het op ongelooflike stories afgekom waar die Here gemeentes aan die beweeg gebring het. Ons was elke keer verstom oor hoe die Here op ander maniere werk as wat ons normaal verwag het dat dit sou gebeur. Met elke besoek was daar verskeie verteenwoordigers van ringe en gemeentelede. Een van die vrae wat ons gevra het was : Wat het die afgelope 3 jaar positief in jou gemeente gebeur?
Ons was natuurlik verstom oor al die stories, maar daar is een storie wat my ongesiens ‘n knop in die keel gegee het en met dankbaarheid gevul het. Miskien was dit ook die aangrypende opregtheid en eenvoud waarmee die storie vertel is. ‘n Vrou in my groep het vertel hoe die Here hulle gemeente seën en het verskeie stories vertel om dit te bevestig. Op my vraag wat die rede vir die geestelike oplewing in hul gemeente sou wees, het sy geantwoord:
” Ons het in ons gemeente ‘n drastiese besluit geneem om vir die predikante te bid en het vir lank weekliks bymekaar gekom met die een doel : Ons bid net vir ons predikante . Daar het alles begin…….”
Mag die Heilige Gees vir julle gemeente bidders gee!
Tags: gebed vir predikante, Voorbidding
Tony Buzan – wat vroeër jare die konsep “mindmapping” bekend gestel het – maak in een van sy artikels die volgende stelling: “It’s the end of the information age”. Hiervolgens beweer hy dat die informasie-era ons selfstandige denkvermoë en groei vertraag het.
Volgens Buzan bestaan daar wanpersepsies oor die vermoëns van mense. Dit is nie waar dat net sogenaamde slim mense denkvermoëns het en daarom sukses kan bereik nie. Elke mens kan sukses bereik indien hulle brein suksesvol bestuur word. Hy glo dat elke mens gebore is met die vermoë om te dink en te presteer. Omdat mense nie moeite doen om hulle brein se potensiaal te ontwikkel nie, presteer hulle nie. Ons moet van jongs af geoefen word om ons brein reg te benut. Omdat ons nie die ongelooflike vermoë daarvan benut nie, sukkel ons om kreatief te wees. Kreatiewe denkvermoë word deur regterbrein- aktiwiteite bevorder. Die informasie en tegnologiese eeu help ons nie hierin nie.
As motivering vir hierdie “wanbestuur” van ons brein beweer hy dat die huidige informasie eeu ons so ingesuig het dat dit ons kreatiwiteit eerder benadeel en indiwiduele potensiaal verminder het. Die informasie en tegnologie era is gekenmerk deur ongelooflike tegnologiese prestasie en ons word so toegegooi onder al die inligting tot ons beskikking dat ons stadig maar seker verleer om vir onsself te dink. Dit beïnvloed nie net ons kreatiwiteit nie, maar maak ons eie breine lui! As verbruiker in hierdie moderne era druk ons knoppies en alles word vir ons gedoen. Dit doen ons meer kwaad as goed.
Buzan glo dat een van die kenmerke van die informasie eeu “multitasking” is. Ons begin so baie dinge, met behulp van tegnologie, gelyk doen, dat ons baie min nadink en herbesin. Dit is een van die redes waarom die wêreld so deurmekaar is. Die huidige ekonomiese krisis is juis die gevolg van “ millions of brains mismanaging themselves and in turn mismanaging others” As verbruikers van die gevorderde tegnologie en massa inligting en ondeurdagte menings waarmee ons gekonfronteer word, het ons slawe geword in plaas van denkers!
Hy haal Warren Buffet aan “In the future you’ll be able to recognise billionares because they will be the only ones without a mobile”
Hiermee vermoed ek, bedoel hy, dat ons daaglikse tegnologiese omgewing ons denke onderbreek en dat dit belangrike besluitneming negatief beïnvloed. Die verbruiker is nie meer selfstandige navorsers nie, maar volg ander se mening slaafs na – hoe ondeurdag ook al. Rekenaars maak berekenings en neem namens ons besluite. Ons word oorval deur ‘n massa inligting wat soms nie goed nagevors is nie. Ons lees wêreldwyd mense se menings oor hulle blogs – en volg soms populêre ondeurdagte sienings slaafs na. Al hierdie dinge het onder andere die ekonomiese en morele verval van die wêreld aangehelp! Ons toekomstige sukses sal afhang in hoe’n mate ons daarin gaan slaag om ons breinfunksies te beskerm en te oefen. Ons het afgeleer om selfstandig sake te oordink!
Dit het my aan ons spiritualiteit en ons verhouding met die Here laat dink. In hoe’n mate word ons spirituele belewing en denke nie deur die tegnologiese ontploffing en geweldige inligting aan bande gelê nie? Hoeveel keer is my gebedslewe, my Bybeltye en selfs goeie gesprekke nie deur die selfoon of telefoon onderbreek nie. Ek verwonder my daaroor dat ek skuldig voel om nie my telefoon te antwoord as ek met die Here besig is of met iemand in gesprek is nie. Dit is asof die telefoon, die televisie, die internet regtig ons lewens oorneem. Natuurlik het al die inligting en tegnologie meer voordele as nadele. Maar dit kan vierkantig tussen jou en ʼn baie verrykende spirituele lewe staan. Daar is soveel menings en raad beskikbaar dat mense al hoe minder self tyd maak om te dink oor hulle verhouding met die Here en al hoe meer slawe van ander se informasie word.
Tony Buzan is ʼn voorstander van die ontdekking van jou eie potensiaal en dit kan alleen bereik word indien jy jou regterbrein-aktiwiteite verhoog. Miskien is dit ook goeie raad vir ons geestelike lewe.
Die Here het mos vir Elia gesê dat in die stilte van die wind – daar sal God gevind word!
1 Kon. 19: 11-12
“ Skielik was daar ʼn baie sterk wind wat die berg stukkend geruk en die rotse gebreek het voor die Here. Maar in die wind was die Here nie. Na die wind was daar ʼn aardbewing. Maar in die aardbewing was die Here nie. Na die aardbewing was daar ʼn vuur. Maar in die vuur was die Here nie. En na die vuur was daar ʼn fluistering in die windstilte.”
Dit klink vir my na ʼn regterbrein spirituele aktiwiteit!
Groetnis
Quintus
Tags: informasie era, regterbrein en gebed, Spiritualiteit en Lewenstyl
Soms lees ‘n mens iets wat jou dag so opvrolik dat jy lank daaraan herkou. Wel ek het die week so brief in die Burger se briewekolom gelees. Dalk is dit vir jou ook so spiritueel verfrissend, soos vir my !
Ek deel dit met julle:
God die rede vir ekstra vrolikheid
Met my oumens-draffie lank voor eerste lig hier al langs die Bergrivier af, kry ek gereeld ’n swart man wat, deesdae dik aangetrek en van skynbaar ver af, te voet, al singend, op pad is werk toe.
Ná ons gereelde wedersydse groet het ek vanoggend gewonder of dit dalk Madiba se verjaarsdag is of dalk Orion wat nou weer die oosterkim klim dat hy so saam met die voëltjies se gekwetter ekstra vrolik in sy eie taal sing.
Op my vraag hieroor was sy kort, stralende en vriendelike antwoord – God.geskryf deur- Willie Meyer, Paarl
(die burger 21 Julie 2009)
Is ‘n spesifieke gebedsplek nodig?
As jy ʼn lekker koffiedrinkwinkel vind, gaan jy altyd terug daarna omdat jy daar tuis en knus voel. As jy iemand nooi vir koffie, dan kom die plek ook eerste by jou gedagtes op. Jy begin assosieer met die aangename herinneringe wat jy by die koffiewinkel meegemaak het. As jy iewers wil gaan sit om iets te lees of vir iemand wag, dan gaan jy ook maklik na die koffiewinkel terug. Ek dink so is dit ook met die plek waar jy gereeld met die Here praat. Dit is goed om ʼn plek te hê van aanbidding. As Comerford oor die groei in die gebedslewe praat, dan noem hy die spesifike “plek” van aanbidding ʼn noodsaaklikheid.
Met so plek voel jy sommer tuis by die Here of lus om met die Here te praat. As jy leeg is en niks het om te bid nie, is dit goed om net by die plek waar jy gereeld bid te gaan sit en jouself aan die Here oor te gee. Om ʼn spesifieke plek te hê help jou met gebedsdissipline. Dit herinner jou aan ʼn pad wat die Here met jou stap. Jy kan selfs ʼn spesifieke Bybel of cd of boek by die gebedsplek laat. Jy kan dit inrig met jou gebedsimbole. Ek weet van iemand wat ʼn gebedstoel in sy sitkamer se hoek het, waar hy elke oggend vroeg of soms laat in die aand gaan sit. Dit is die stoel wat ‘n simbool van God se uitnodiging vir gebed word. Dit is die stoel wat hom herinner aan ʼn vriendelike God wat altyd daar is. Hy vertel my dat die gebedstoel hom heeltyd aan sy intieme gesprekke met God herinner. Voorwaar ʼn gunstelingplek in sy huis! 
Vir sommiges is dit hulle studeerkamer. Vir ander hulle tuin. Om ʼn spesifieke plek te hê is belangrik vir jou gebedsdissipline. Daar is nogal baie voorbeeld in die Bybel van mense wat ʼn spesifieke plek gehad het om tot God te bid. Ek herinner my aan Daniël wat elke dag op ʼn spesifieke plek voor God op sy knieë gestaan het. Ek roep die beeld van Sameul op. As jy ‘n goeie gewoonte het, speel dit gewoonlik op ‘n spesifieke plek af. ‘n Gereelde plek help jou ook om gereelde gebedstye te handhaaf!
Natuurlik is die Here altyd by ons teenwoordig, maar as ek die Bybel lees , dan word spesifieke gebedstye van my gevra en ‘n spesifieke plek help my beslis.
-Het jy so plek ? ʼn Plek wat jou uitnooi om stil te word voor God. Ek dink nogal dis nodig….
Tags: gebedsplek, gebedstye
Dit is Yancey wat ons aandag daarop vestig dat uit Jesus se meer as dertig jaar op aarde, dit net by drie geleenthede is, dat Jesus bonatuurlike bemoediging ontvang het. Die res van die tyd het Jesus vir geestelike versterking staatgemaak op dieselfde hulpmiddel as ons, naamlik gebed. Jesus het gebed beskou as die bron van krag. As jy dus ooit gewonder het of gebed belangrik is, bestudeer die gebedslewe van Jesus.
Jesus het die boodskap van Joh. 5:19 en 30 uitgeleef “ .. Die Seun kan niks uit sy eie doen nie…”
Hy het altyd met enige besluit eers tot sy Vader gebid. Die aand voor sy roeping van die twaalf dissipels, bring Hy ʼn hele nag in gebed deur (Luk 6:12,13). Dit laat my wonder oor hoe ons soms leiers in die gemeente aanwys. Jesus het voor al die belangrike momente in sy loopbaan eers gebid. By sy toetrede tot die openbare bediening, voor die aanwysing van die dissipels, voor verheerliking op die berg, voor die kruisiging ens.
Wat my veral opval in die gebedslewe van Jesus, is sy nagtelike gebede. Na Jesus se vol en uitputtende openbare optrede en die skares wat soveel eise aan Hom gestel het, het Hy hom gewoonlik in afsondering onttrek om te bid. Hy het tyd gemaak vir gebed – al was dit in die nagte!
Here leer my om te bid !!!
Tags: Jesus en gebed
Soek jy groei in jou gebedslewe?
Hoe moet my gebedslewe lyk? Dit is ʼn vraag wat dikwels gevra word. Patric Comerford (Ierse Anglikaan) het hieroor die volgende geskryf : “ Only the Holy Spirit can guide us to pray as we should. Just as a child learns to walk by walking, one can best learn to pray by praying, trusting in the help of God.”
Hy noem 16 verskillende sake hoe ons in ons gebedslewe kan groei en ontwikkel.
1. Oordink goed jou eie benadering tot gebed: Is jou hele wese in jou gebed of is gebed slegs woorde? Dink goed oor die intensie van elke woord wat jy bid.
2. Bid gereeld en aanhoudend: Moenie jou gebedslewe afskeep of dit as vanselfsprekend aanvaar nie. Gebed is ʼn geloofsdissipline.
3. Bid volgens ʼn vaste patroon: Gebruik ʼn daaglike roetine en jou gebedsdissipline sal ontwikkel. Maak gebruik van gebedeboeke en die Bybel en bid gereeld daaruit. Jou daaglikse gebedstye is ʼn unieke geleentheid om die eenheid van die breë kerk te beleef en te groei. As jy die Psalms bid, sal jy nie net self geestelike gevoed word nie, maar ook die gemeenskap van die hele kerk ervaar van almal wat dit bid.
4. Besef die waarde van stilte: Stil tye help jou om nuut met die Here te praat en na Hom te luister. Gebruik gereeld stiltes in jou gebede. God moet kans hê om jou lewe te verander!
5. Gebruik gereeld die sakrament van die nagmaal: Dit is ʼn sakrament van versoening en troos. As jy soms skuldig voel omdat jy te min bid, sal die nagmaal jou help om in gemeenskap en dankbaarheid teenoor God te groei.
6. Moenie net die Bybel bestudeer nie, maar bid terwyl jy Bybel lees
7. Dink eenvoudig en gebruik eenvoudige woorde: Gebed is nie ʼn teologiese oefening nie.
8. Wees bewus met wie jy praat: Praat jy met jouself of praat jy met God as Vader, Seun en Heilige Gees?
9. Kry vir jou ʼn afgesonderde plek om te bid: Skep vir jou ʼn plek en atmosfeer waar jy weet jy jou gedagtes sal kan fokus. Dit kan enige plek wees, waar jy weet jou aandag die minste afgetrek sal word.
10. Let op jou gebedshouding as jy bid: Jou houding vertel iets van jou hart.
11. Maak gebruik van gebedshulpmiddels: Die Bybel is belangrik. Dit help ook as jy kerse, kruise, ens gebruik.
12. Gebruik verskillende gebedstyle, dit sal jou geestelike lewe verryk. Daar is baie style soos Lectio Divinia, meditatiewe gebed, ens.
13. Bid as jy nie in staat is om te bid nie! Dit is veral as jy sukkel om te bid, dat jy wel moet bid. Daarom is dit goed om gebede uit jou kop te leer om jou in moeilike tye te help.
14. Dink daaraan om te sing as jy bid: Augustinus het gesê: ” Hulle wat sing as hulle bid, bid twee keer!”
15. Leer en help ander om te bid: As jy in jou gebedslewe wil groei, moet jy ander leer om te bid!
16. Hanteer jou gebedshindernisse: Baie keer begin mense met groot entoesiasme bid, net om later daarmee op te hou as hulle sukkel om te fokus of enige ander hindernis ontwikkel. Tot 80% mense sukkel hiermee. Byvoorbeeld: As jou aandag maklik afgetrek word, wees eerlik daaroor en probeer iets daaromtrent doen. Moenie ophou bid nie!
Daar is aspekte van gebed waarmee almal nie noodwendig gaan saamstem nie, maar die wonder van die Christelike gebed is, dat dit universeel mense uit verskillende geloofstradisies aan mekaar bind en vir mekaar iets leer.
Mag julle geseënde Pinkster beleef
Quintus
Tags: bid gereeld, eenvoudige gebed, gebedsplek, gebedstyl, groei deur gebed
Ek het so ruk terug ‘n uiteensetting van die verskillende spiritualiteite gegee (sien vorige blog). Jannie Hougaard het Corine Ware se vraelys in Afrikaans verwerk en aangepas.Hier is Jannie se vraelys:
Jou Spiritualiteitsstyl: Vraelys
ʼn Aanduiding van styl van geloofsbelewing. (Konsep ontwikkel deur dr. Corinne Ware Discovering your Spiritual Type. Bethesda: Alban Institute, 1995.
Instruksies:
Lees ʼn afdeling eers in geheel op ’n slag. Maak seker dat jy elke stelling deeglik begryp.
Besluit watter stelling jy onder die meeste omstandighede die gemaklikste mee sou wees. Merk normaalweg een stelling per afdeling MAAR – Jy mag in sekere gevalle meer as een merk, maar probeer om nie meer as twee per afdeling te merk nie.
Oor preke…
1. Vir my is ’n preek goed wanneer dit goed gestruktureer is en ek werklik iets kan leer daaruit.
2. Ek wil tydens ʼn preek ervaar dat die Here my hartsnare geroer het en ek iets van die warmte van sy
liefde ervaar het.
3. ʼn Preek moet my laat dink en nie alles in detail uitspel nie. God se teenwoordigheid is vir my baie
meer belangrik.
4. ʼn Preek moet my motiveer om iets in die koninkryk van die Here te gaan doen!
Oor Bybelstudiegroepe…
5. Wat ek hou van gesamentlike Bybelstudie, is om die planne te ontdek wat God vir die wêreld het – en dat ons deel daarvan kan wees!
6. Die lekkerte van saam Bybelstudie doen bly my langer by as die inhoud wat ons behandel. God se liefde in ons saamwees, is wonderlik.
7. Ek hou daarvan om studie van die Bybel te doen en iets te leer. Die byeenkoms moet goed gestruktureer wees
8. Die lekkerste van Bybelstudie doen lê in die verwondering oor die grootsheid van God wat in ons groep teenwoordig is en met ons praat.
Oor vernuwing en verandering …
9. Nuwe dinge in die erediens is in orde wanneer dit ʼn gevoel van warmte inbring tussen mense en God.
10. Nuwe dinge in die erediens moet daartoe bydra om die gemeente te laat besef dat ons die liggaam, die stem, hande en voete van God in die wêreld is.
11. Nuwe dinge in die erediens moet eers goed deurdink word voordat dit ingevoer word. Ek wil ook graag vooraf weet hoe dit gaan verloop. Vreemde nuwe dinge maak my effens gespanne.
12. Nuwe dinge in die erediens is in orde wanneer dit ons onder die indruk bring van God se heiligheid en grootsheid. Dit moet my op God help fokus.
Oor gebed…
13. Wanneer ek bid is ek soms net stil voor God. Ek hoef nie altyd so baie met Hom te praat nie.
14. ʼn Mens praat respekvol en weldeurdag met God as jy bid.
15. As ek bid, moet ek vóél ek praat met God.
16. Wanneer ek bid doen ek graag voorbidding vir mense in nood en vir die heidene wat nog nie van God gehoor het nie.
Oor God…
17. Ek ken God veral as my Hemelse Vader. God sorg.
18. Ek ken God veral as die Koning. Hy heers oor die hele aarde.
19. Ek ken God veral as my Vriend. God praat met my.
20. Ek ken God veral as die Heilige. God is groot, groter as wat ek besef.
As ʼn klomp gelowiges bymekaar is…
21. Die byeenkoms van gelowiges moet my motiveer om iets vir die Here te doen. Ons moet kan planne maak, want ons is deur die Here gestuur.
22. ʼn Byeenkoms van gelowiges moet soos ʼn fees wees, ek wil my uitleef in die byeenkoms. Ek wil deel voel van Jesus se mense.
23. In ʼn byeenkoms van gelowiges het ek behoefte daaraan dat ons rustig saam die teenwoordigheid van die God beleef. Deur die rustigheid van musiek en simboliek praat God met ons en verkwik Hy ons.
24. ʼn Byeenkoms van gelowiges moet nie uitrafel nie. Ek wil nie voel ek word in ’n rigting gedruk nie. Ek wil graag meer van die Here leer.
Oor God se skepping…
25. Ek wil graag verstaan hoe die Here die aarde geskep het.
26. As ek na die mooi natuur om my kyk, is ek opnuut gemotiveerd om iets aan die bewaring van God se groot handewerk te doen.
27. Dit maak nie veel saak hoe die aarde ontstaan het nie, maar dit laat my baie goed voel as ek sien hoe wonderlik alles in die skepping is.
28. Die grootsheid van die skepping laat my iets van die Skepper daarvan ken.
As ek ’n geestelike boek sou lees, dan…
29. wil ek graag lees van die sukses van wat mense gedoen het en hoe mense se toewyding aan die Here hulle lewens verander het.
30. wil ek besef dat Jesus die mense baie liefhet en dat ek een van hulle is!
31. moet dit my meer kennis van die Bybel gee wat ek vir my lewe kan gebruik.
32. verstom dit my dikwels dat God, wat so wonderlik is, ook in my ook belangstel.
My gunsteling liedere is…
33. liedere wat my laat voel ek is deel van die Here se kinders.’n Byeenkoms sonder sang voel koud.
34. liedere wat jou help om ’n keuse vir die Here te maak. As ons dit sing motiveer dit ons en help dit ons om ons weer aan die Here te wy.
35. liedere wat my help om te besef dat ons in God se teenwoordigheid is. ’n Lied is vir my eintlik ’n gebed.
36. liedere waarvan die lirieke se boodskap goed deurkom. Ek hou nie van ’n klomp herhalings sonder dat dit betekenis het nie.
Oor tyd voel ek …
37. Hou by die afgespreekte begin- en afsluitingstyd van ʼn erediens of byeenkoms.
38. Dit is belangrik om die tyd van die byeenkoms te verleng as ʼn mens voel dat dit nodig is.
39. Al die tyd behoort aan die Here. ʼn Gevoel van tydloosheid is belangrik.
40. Vergader wanneer nodig en so lank as wat nodig is om die taak van die byeenkoms af te handel.
Oor die klem in godsdiens …
41. Dis belangrik dat ons God se wil heeltemal gehoorsaam.
42. Dis belangrik dat ons leer wat ons roeping in die wêreld is en dit verstaan.
43. Dis belangrik dat ons ʼn heilige lewe saam met die Here leer leef.
44. Dis belangrik dat ons in ʼn eenheid met ons Skepper beleef. Alles van my dag is eintlik godsdiens.
As ek kritiek oor my godsdiens kry …
45. sê mense soms ek is te droog en op die verstand en kennis ingestel.
46. sê mense soms ek is nie realisties nie en probeer van die werklikheid van die lewensomstandighede deur middel van godsdiens te ontvlug.
47. sê mense soms ek is te emosioneel en net op gevoel en belewing ingestel.
48. sê mense soms ek het tonnelvisie en is te gesteld net op wat mense doen.
Belangrike temas / onderwerpe in die godsdiens:
(As jy nie dadelik kan besluit wat om te kies nie, merk die woorde wat vir jou belangrik is en kies dan die nommer met die meeste gemerkte woorde)
49. Liefde, bekering, getuienis, spontaniteit, heiligmaking.
50. Onderskeidingsvermoë, dissipline, kennis, orde, genade, regverdigmaking.
51. Eenvoud, suiwerheid van hart, aksie, gehoorsaamheid, om te ly vir die saak.
52. Nie materialisties, nederigheid, wysheid, om jou denke vry te laat dwaal, om eenheid met ʼn hoër wese te ervaar.
In verband met godsdienstige gebruike en seremonies …
53. Godsdienstige gebruike help mens weet waar ons vandaan kom (ons geestelike wortels). Dit help mens die teenwoordigheid van God beleef en dit lê tradisies vas.
54. Godsdienstige gebruike is ʼn manier om jou standpunt oor innerlike geloofsoortuigings te wys (demonstreer).
55. Godsdienstige gebruike is maniere waarin ons God se teenwoordigheid ervaar.
56. Godsdienstige gebruike is nie so belangrik nie.
Begrip van God
57. God word deur die Bybel, in die sakramente (doop en nagmaal) en Jesus Christus en sy kruis geken.
58. Ek kan voel dat God werklik bestaan en dat Christus in my hart lewe.
59. God is ʼn misterie, ons kan na Hom uitreik in geloof, maar Hy is groter as wat ons kan ken.
60. Wanneer ons “mede-skeppers” saam met God in die wêreld word en van die wêreld ʼn beter plek help maak, deel ons in die misterie/grootsheid van God.
Nasien sleutel:
Die vraagnommer is eerste en die stylnommer wat die antwoord verteenwoordig 2de bv 1=4 beteken : Indien jy vraag 1 geantwoord het verteenwoordig dit die 4de styl)
Omkring die stelling wat jy gemerk het by elke afdeling.
Preke:1= 1/ 2=2/3=3/4=4
Bybelstudie:5=4/6=2/7=1/8=3
Vernuwing:9=2/10=4/11=1/12=3
gebed : 13=3/14=1/15=2/16=4
God: 17=1/18=4/19=2/20=3
Gelowiges: 21=4/22=2/23=3/24=1
Skepping: 25=1/26=4/27=2/28=3
Geestelike boek: 29=4/30=2/31=1/32=3
Liedere: 33=2/34=4/35=3/36=1
Tyd: 37=1/38=2/39=3/40=4
Godsdiens: 41=4/42=1/43=2/44=3
Kritiek: 45=1/46=3/47=2/48=4
temas: 49=2/50=1/51=4/52=3
Seremonies: 53=1/54=4/55=3/56=2
Begrip van God: 57=1/58=2/59=3/60=4
(Tel nou al die no 1’s bymekaar , al die 2’s bymekaar , al die 3’s bymekaar en al die 4’s bymekaar. Die een wat jy die meeste van het is die spiritualuiteitstyl van jou keuse )- Onthou jy kan meer as een styl hê!
Styl 1 = Kop of Teologiese styl
Styl 2= Hart of gevoelstyl
Styl 3= Mistieke of Geestesoog styl
Styl 4= Aktiewe of koninkrykstyl (crusaders)
Vir verdere verduideliking van style – sien vorige blog oor spiritualiteitstyle.
Tags: corine ware, spiritualiteitstipe
As daar een saak is waaroor mense maklik krities raak, is dit dat ander mense nie die Here op “ons spesifieke manier waaraan ons gewoond is ” , aanbid nie. Maar hoekom bid ons op verskillende maniere ? Hoekom is daar gelowiges wat in een gemeente is, maar verskillend dink oor gebed en eredienste? Daar is ‘n verskeidenheid redes: die een is dat persoonlikhede en temperamente verskil. Mense het ook verskillende talente en gawes. Mense het egter ook verskillende spiritualiteitstipes.
In hierdie artikel gaan ek ‘n kort oorsig gee oor mense se verskillende spiritualiteitstipes. Oral waar ek nog in gemeentes en groepe hieroor gepraat het, het ek gevind dat gemeentes en gelowiges meer begrip vir mekaar se andersheid kry as hulle verstaan dat daar meer as een manier is om tot God te bid, erediens te hou en saam met God te leef!
Wat is spiritualiteit? Dit is die mens se diepste dors / hunkering na God. Dit is elke mens se styl hoe hy voor die aangesig van God wil wandel – hoe hy wil bid en leef. Spiritualiteit verwys na ons ervaring en wandel met God : waar en hoe ons die teenwoordigheid van God beleef.
In Corinne Ware se boek “ Discover Your Spiritual Type: a guide to congregational growth” identifiseer sy vier verskillende spiritualiteittipes. Dit het my baie gehelp om mense, wat anders as ek bid, te verstaan. Sy gebruik ‘n spirituele tipologie van Urban Holmes en onderskei vier tipe spiritualiteitstyle. Sy onderskei tussen (1) ‘n Intellektuele /denkende tipe wat sy ook kortliks “head” noem; (2) ‘n meer charismatiese of hart spiritualiteitsgroep, (3) die mistieke spiritualiteit en (4) die koninkryks of visionênere spiritualiteit. Elke tipe het ‘n sekere rol wat dit in ‘n gemeente speel en elke tipe het ‘n eie gebedstyl.
Ek verduidelik dit kortliks:
Spiritualiteits tipes, soos beskryf deur Corinne Ware and Urban Holmes
· Tipe 1: Kopspiritualiteit (Teologies georiënteerde mens)
Die kopspiritualiteit is ‘n denkende en intellektuele spiritualiteit . Die realiteit van ons geloofslewe is vir hulle belangrik. Hulle druk hulle teologie in vaste konsepte uit bv. God as Vader. Die letterlik geskrewe Woord van God ( Bybel) is vir hulle die essensie. Hulle hou van alledaagse aktiwiteite en ook van die samekoms van die gemeente. Hulle is soms gemaklik met ‘n formele preekstyl in die erediens en geniet studiegroepe en goeie teologiese preke. Hulle bydrae tot die gemeente is gewoonlik op die terrein van sistematiese teologiese nadenke oor leerstellige en etiese kwessies. Hulle sorg ook vir struktuur in gemeentes. Hulle verkies om slegs die Bybel as bron van hulle spiritualiteit te gebruik (ervaring is nie vir hulle prioriteit nie).
Gebedslewe: Hulle gebedslewe is vir hulle ‘n uitdrukking van hulle eerbied aan God. Hulle beleef God deur hulle verstand. Hul gebed is gewoonlik goedgeformuleer. Hulle sal van gebede hou wat uitgeskryf is en gelees kan word. Hulle hou daarvan om met God te praat. Hulle gebedsstyl is gewoonlik gedissiplineerd, afgerond en met goeie teologiese inhoud. Hulle kan baie baat vind by die Lectio Divina.
· Tipe 2 : Hartspiritualiteit (Charismaties georiënteerde mens )
Die hartspiritualiteit (katafaties/affektiewe) hou van warm uitdrukkings van geloof en interpersoonlike warmte binne die gemeente. Hulle stel die Woord ook sentraal, maar vir hulle is die uiterlike uitdrukking van emosies ewe belangrik. Gewoonlik is dit die spiritualiteitsytipe wat makliker sy goddiensbelewing tentoon sal stel. Dit word gewoonlik gedoen met ‘n gesigsuitdrukking of handgebare of lewenshouding. Persoonlike getuienis, musiek en evangelisasie is vir hulle belangrik –– Hulle verkies tipe prediking wat van ander se getuienisse of ervaring praat. Persoonlike getuienisse is vir hierdie groep baie belangrik. Gewoonlik is hulle warmte, entoesiasme en gemoedelikheid aansteeklik in ‘n gemeente. Hulle is gewoonlik ook voorstanders van informele manier van dinge doen.
Gebedslewe: Hierdie tipe spiritualiteit voel hulle tuis met baie emosie en gevoelsvolle uitdrukkings in hulle gebedslewe, asook binne die eredienste.Hulle hou daarvan om met God te praat, maar minder formeel as die eerste groep. Hulle hou van vrye en spontane gebede.
· Tipe 3: Mistieke spiritualiteit (Mistiek georiënteerde mens)
Die mistieke (affektiewe /opofaties) hou daarvan om aan God se voete te sit en luister. Die affektiewe (emosie) is vir hulle ook belangrik, maar hulle emosie is na binne gekeer. Hulle luister eerder na God as om met hom te praat. Hulle soek die teenwoordigheid van God. Stiltes in erediens is belangrik. Simbole speel ‘n belangrike rol in hulle geloofsvorming. Hulle hou ook van meditatiewe dissiplines en die lees van die Bybel help hulle om nader aan God te groei. Stilgebed is vir hulle belangrik. Hulle sal die mense wees om die gemeente te herinner aan die heiligheid van God te midde van die alledaagse.
Gebedslewe: Gebed is vir hulle eerder om na God te luister, as om met Hom te praat. Hulle hou nie van klaar uitgewerkte antwoorde nie en wil hê dat God Homself aan hulle moet openbaar deur gebed. Gebed is ‘n fokus op die teenwoordigheid van God. Dit is soms genoeg om bloot in stilte aan God se voete te sit. Kontemplatiewe (na binne gerigte gebed)gebed spreek hulle aan
· Tipe 4: Koninkrykspiritualiteit ( Baanbreker georiënteerde mens)
Die koninkryksspiritualiteit ( spekulatief/apofaties) hou daarvan om aktief by sending, barmhartigheid asook die sosiale aksies, betrokke te wees. Dit is vir hulle belangrik om met medewerkers saam te beplan aan die aksies waarby hulle betrokke is en saam te bid daarvoor. Hulle is dikwels die sosiale gewete van die kerk en bring die gemeente tot aksie. Hulle is die mense wat durf en selfopoffering uitstal in hulle navolging van die koninkryk se doelwitte. Hulle skaar hulle gewoonlik by menseregtegroepe en hulp aan vigswesies. Gehoorsame en ywerige mense. (Sommige mense noem hierdie ook die Hand spiritualiteit. Die praktyk het my geleer dat mense die benaming “hand” misverstaan – hulle dink dit gaan oor basaar hou en koekies bak . Daarom verkies ek eerder Corinne Ware se formulering van :koninkrykspiritualiteit)
Gebedslewe: Hulle bid as hulle besig is om iets vir die Here op die sendingveld te doen. Hulle gebed is baie ingestel dat die koninkryk van God sal groei. Vir hulle word gebed en teologie die beste in hulle praktiese dade getoon. Is ook gerig op wat God in die wêreld moet doén om die koms van die koninkryk te bewerkstellig. Hulle doen graag voorbidding vir die sending en barmhartigheidsaksies van die gemeente.
Corinne Ware wys daarop dat elke tipe sy eie klem plaas op gebed: Tipe 1 kan baie baat vind by die Lectio Divina. Tipe 2 mense het dit nodig om te ekperimenteer in gebed, liturgie en gevoelsvolle musiek. Tipe 3 hou weer van stilgebed en hou ook daarvan om sy gebedslewe privaat te hou. Tipe 4 mense bid weer graag as daar ‘n veldtog gehou word. Tipe 1 en 2 mense hou van programme, sprekers en veldtogte.
IN WATTER VAN DIE 4 STYLE SOU JY INPAS? Onthou jou styl beinvloed die manier hoe jy bid, eredienste beleef en jou daaglikse godsdientige belewing. Jy kan ‘n kombinasie van twee style hê.
Hoe hanteer ons die vier spiritualiteits style ?
Ons hoef nie baie rigied met die indeling saam te stem of dit presies so toe te pas nie, maar dit help ons om onsself en ander wat van ons verskil se godsdiensbelewing te verstaan. Dit help ons ook om groei-areas te identifiseer. Elke spiritualiteitstipe maak ‘n onmisbare bydrae tot die gemeente. Elke tipe moet die ander help om meer gebalanseerde spiritualiteitslewe te hê. Sodra slegs die een tipe oorbeklemtoon word lei dit maklik tot eensydigheid. Soms wonder mense waarom een prediker en sy styl hulle aanspreek en ‘n ander weer nie- wel die antwoord is dat mense verskillende spiritualiteitstyle het en dat predikante verskillende style het. Dit sal gemeenteleiers loon om navorsing te doen na die gemeente se spiritualiteitstipes. Dit kan net wees dat die bediening van die gemeente net een groep in gemeente aanspreek. Indien dit vir gemeenteleiers belangrik is om ‘n geestelike tuiste vir almal te bied, moet hulle seker maak dat daar ruimte vir al vier spiritualiteitstipes in ‘n gemeente is .
Die wete dat ons vir God verskillend aanbid, moet mense tot begrip en dankbaarheid teenoor mekaar stem.
Dit is ook die rede waarom mense verskillend oor gebed dink. Die een persoon het ‘n meer charismatiese styl(emosie en ophef van hande), terwyl die ander ‘n meer mistieke styl(simbole en stiltes ) het. Die een wil ‘n goed voorbereide gebed bid (kopspiritualiteit) en die ander verstaan nie hoekom almal nie vir die sending voorbidding doen nie(koninkrykstyl). Die geheim is dat ons vir mekaar ruimte moet gee en eerder die verskeidenheid vier en waardeer, as wat ons te krities met verskille omgaan. Daar is nie ‘n regte en verkeerde styl nie. Soms maak ons die fout om te dink dat net die mistieke tipe of net die koninkrykstipe mense is wat baie bid.
Die waarheid is dat elke tipe spiritualiteit ernstig is oor gebed – hulle beoefen dit net anders
Kom ons dank God dat ons nie almal dieselfde is en Hom op dieselfde manier aanbid nie. Kom ons dank Hom dat ons vir mekaar het om vir ons ‘n ryke en geseende gebeds- en spirituele lewe te gee.
Quintus
Breda Ludick het destyds saam met Nico Simpson ‘n verwerking van Corinne Ware se boek in ‘n kursusvorm aangebied. Dit het by Buvton (Communitas) verskyn onder die kursusnaam: Koeltebome.
Tags: corine ware, Spiritualiteit en Lewenstyl, Spiritualiteitsstyl, spiritualiteitstipe
In die besige, gejaagde en doelgerigte lewe kan ons so vasgevang raak in ons eie beplanning en selfs besige geestelike lewe, dat ons later nie meer God se stem hoor nie, maar net ons eie doelwitgedrewe stem. Hierdie lewenstyl kan so ‘n invloed op ons gebedslewe hê, dat ons net ingestel is om vir ons eie doelwitte te bid, in plaas daarvan om God se wil te soek. Soms moet ons net leer om af te skakel en God se stem probeer hoor.
Ek het die verwoording van bogenoemde saak ook by Phlip Yancey raakgelees. In sy uitstekende boek “Prayer: Does it make a difference” vertel hy hoe Ps. 46:11 ( “ Bedaar en erken dat Ek God is “) op twee maniere hierdie waarheid van gebed onder ons aandag bring.
Die eerste is om te “Bedaar”. Om tot bedaring te kom, is vir ons moderne leefwyse geen maklike taak nie. Tien jaar terug het ons briewe binne ʼn week of twee beantwoord. Vyf jaar terug het ons ’n antwoord binne ʼn dag of twee vir mense gefaks. Vandag wil mense op dieselfde dag as die versoek ʼn antwoord per epos terug ontvang. Dit is net nie maklik om tot rus te kom nie. Gebed sê Yancey is om bewustelik tot bedaring te kom. Hy vertel van die skrywer Patricia Hampl. Sy het in Assisi in Italië op ʼn pelgrimstog gegaan. Daar het sy ʼn lys gemaak van antwoorde op die vraag: Wat is gebed? Sy het ʼn paar woorde neergeskryf. “ Lof; Dankbaarheid; Vra; Smeek; ʼn Tipe onderhandeling met God; Vrugtelose kerm; Fokus. “ Toe het haar lys doodgeloop want sy het ontdek dit lyk bloot na ʼn taalhandeling. Sy het verklaar: ” In wese is gebed ʼn posisie, ʼn plasing van jouself voor God. Gebed as fokus is nie ʼn manier om perke te stel aan wat gesien kan word nie; dit is ʼn gewoonte om aandag te gee aan alles wat is” Hierdie “gewoonte om aandag te gee aan alles wat is” verg dat ons, soos die psalmdigter sê sal “ bedaar” en stil sal word. In die fokus van gebed kom alle ander dinge in fokus. In daardie onderbreking van my roetine val die heelal in lyn.
Yancey gaan verder en verklaar dat die “Stilte” ons voorberei vir die tweede opdrag in die Psalm naamlik: “Om te erken dat Ek God is, hoog bo die nasies, hoog bo die aarde” Slegs deur gebed kan ons daardie waarheid glo te midde van ʼn wêreld wat saamspan om God te onderdruk eerder as te verhef.
Die woord wat in die oorspronklike taal vir “bedaar” gebruik word, is ook die woord waarvan vakansie afgelei is. God nooi ons om ʼn vakansie te beneem, om ʼn ruk lank op te hou om self God te probeer wees en God toe te laat om God te wees. Om God, God te laat wees vereis van ons om af te sien van die wêreld wat ons so sorgvuldig in stand hou om ons eie saak te dien. Dan gaan Yancey voort om te sê” As die erfsonde teruggevoer kan word tot mense wat probeer het om soos God te wees, is die eerste stap in gebed om te onthou en te erken dat God, God is – dit wil sê om die hoogste waarheid van die heelal te herstel -sodat die mens kan weet hy leef nie in ʼn selfgeskepte heelal nie(John Milton).
Vriende, gebed is om tot bedaring te kom voor God. Ja stil te word voor Hom. Hom te erken as God en dan te wag en te luister na God. Onthou dit is nie God wat ons gebede nodig het nie, maar ons wat gebed nodig het sodat ons weer na God kan luister. Dit sal ons help om nie eie geestelike koninkryk uit te dink en te bou nie, maar aan God se koninkryk mee te werk.
Groete
Quintus
Tags: gebed, God en gebed
Verkiesingstyd is ‘n tyd waar selfs gelowiges diepgaande met mekaar verskil. Dan word mens bewus van ons verskeidenheid. Ook as jy luister hoe mense op kerklike en sinodale gebied soms van mekaar verskil, moet ‘n mens waardering kry vir die geweldige verskeidenheid wat daar tussen ons is ! As ek myself soms teen die muur vasdruk en luister hoe mense verskillend dink oor gebed en selfs sukkel om die verskille te verdra, dan weet ek dat ons wonderlike God veeldimensioneeld is. Petrus het die volgende hieroor te sê gehad in
1 Pet 4:10
“ Namate elkeen ‘n genadegawe van God ontvang het, moet julle mekaar daarmee dien soos goeie bedienaars van die veelkleurige genade van God”
Ons verskeidenheid moet ons dus nie uitmekaar dryf nie, maar eerder diensbaar aan mekaar maak sodat God se koninkryk kan kom! Die verskillende invalshoeke, oor hoe mense oor gebed en God dink moet ons eerder verryk as uitmekaar jaag! Ek dink aan iets wat Ferdinand Deist destyds in sy boekie “Tussen Angs en sekerheid” hieroor skryf :
God het ‘n ruim hart. Want God is liefde. Daar is plek vir die impulsiewe Petrus, die berekende Paulus, die gevoelvolle Johannes, die gebore twyfelaar Thomas…en vir jou en my. Daarom het egte godsdiens-en daarmee egte gebed- nie ‘n sisteem en vaste patroon nie. Ons is nie almal eenders nie en ons ervaar die lewe nie almal eenders nie. Tog kan ons almal-elkeen op sy eie manier- tot God nader. Want Hy het ‘n reenboog van genade. As ons mekaar volgens vaste sisteme en patrone beoordeel en meet, as ons mekaar verketter omdat jy nie soos ek is nie en ek nie soos jy nie, God is anders. Sy genade het baie kleure: een vir my en een vir jou en een vir die ander.
Ek dink ons moet ingestel wees om met ‘n gesindheid van God se veelkleurige genade in ons harte te leef!
Quintus
Tags: genade, verskeidenheid
Lydenstyd is ‘n tyd waneer ek meer as normaalweg bewus is van my eie broosheid en nietigheid. Dit is juis die bewustheid van my eie onvolmaaktheid dat ek die oorwinning van die opstanding na lydenstyd met soveel vreugde kan vier. Verskeie gebeure rondom my, het my die afgelope tyd meer intens bewus gemaak van die mens se feilbaarheid, dat ons menswees soms maar sinoniem is met nietigheid. 
Daar het die afgelope tyd ‘n klomp goed gebeur waar ekself baie meer vrae as antwoorde voor God gehad het. Eers is ek intens teleurgestel met iemand se optrede teenoor die kerk van die Here en toe kry ek die slegte nuus dat my vriende se pa wreedaardig op ‘n plaas vermoor is. Ek was verward en het vrae gevra. Ook weer die eeu oue vraag :” Hoe kan God die mens toelaat om in sy eie onbeholpenheid te struikel en ander ook laat seerkry? “ Dit is toe dat ek weer dink aan Jesus se gebed in Getsemane.
In hierdie volmaakte gebed het Jesus vir God gevra om Hom die lydensbeker te spaar. (Mat 26:39). Tog kry Hy ‘n teleurstellende antwoord. Prof Attie Barnard skryf dat Jesus in hierdie gebed aan al die gebedsvereistes voldoen het! Dit was in alle opsigte ‘n volmaakte gebed. Let op na al die vereistes waaraan hierdie gebed voldoen:
*Jesus het God korrek aangespreek (Abba, Vader);
* Die omstandighede was die van afsondering (Hy was heeltemaal alleen);
*Hy het God met die volmaakte gesindheid genader (dringend, maar sonder om God se arm te
probeer draai);
*Hy het die gepaste houding gehad (Met nederigheid en onderwerping );
*Daar was ‘n duidelike en spesifieke inhoud in sy gebed;
*Dit was ‘n gebed met die geloof wat berge kon versit( Vader alles is vir U moontlik);
*Met onwrikbare vertroue ( “ My Vader as dit moontlik is …” )* Uiterste konsentrasie en inspanning (Sy sweetdruppels het in bloed verander);
* Hy het geweet dat sy eie swakheid en afhanklikheid net van God kan kom (‘n Engel het uit die hemel gekom en Hom versterk);
*Niemand het ook ‘n meer intieme verhouding met die Vader gehad as Hy nie.
* Dit was ‘n volhardende gebed (Hy het drie maal gebid !.)
Indien al die bogenoemde sake in ag geneem word, het Hy aan al die “vereistes” voldoen. Tog het God hierdie volmaakte en aangrypende gebed geweier! Ek dink as daar een gebed was waar God se eie hart swaar gekry het om Nee te sê-, was dit die een! Ek kan my voorstel dat sy hart stukkend was toe Hy toelaat dat al die lyding en vernedering oor sy Seun se pad kom.
Ek dink ons voel ook soms dat ons net nie kan verstaan waarom God nie vir ons Ja sê nie. In ons eie oë voldoen ons gebede en lewenstyl dan aan al die voorwaardes wat die Woord vra. Verder verstaan ons nie waarom slegte dinge met godvresende mense gebeur nie. Dit hoort mos nie so nie. Ten spyte van al die dinge ervaar ons dat God soms vir ons “Nee” sê. Met ander woorde, die beantwoording van ons gebede hang nie af van hoe volmaak ons bid of lewe nie. Dit het eerder alles met God te maak!!
In sulke tye word ons gedwing om verder te kyk. Toe God Jesus se gebedsversoek geweier het, het Hy die redding van die mensdom in gedagte gehad. Hy het Nee gesê op die gebedsversoek, omdat Hy ‘n veel wonderlike en heerlike verlossing waar wou laat word. Al is dit vir ons moeilik, moet ons “onverhoorde gebede” in die raamwerk van God se genade geplaas word en moet ons in ons eie lydenstyd ons vertroue in God plaas – soos Jesus gedoen het! Gewoonlik sien ons nie die groter prentjie raak of sal ons dit ook nie raaksien nie. Dit is wat lydenstyd so intens maak. Dit is ‘n tyd om sonder antwoorde voor die gekruisigde Jesus te buig en ons lewe in sy hande te gee.
Miskien kan ons in die lydenstyd perspektief kry oor ons eie gebede in die woorde waarmee Jesus sy gebed afgesluit het
“ Moet nogtans nie doen soos Ek wil nie, maar soos U wil”
‘n Geseënde Paastyd vir almal!
Quintus
Tags: gebed, God se wil, Jesus en gebed, lydensgebed
Gedurige konflik tussen gelowiges en soms ook gemeenteleiers laat my wonder waarom daar so gebrek aan eensgesindheid is. In ons weeklikse predikantevergadering in die gemeente, is ons op die oomblik besig met Filippense. Hierdie week het ons nagedink hoofstuk 2:1-4. Hierdie gedeelte het ons diep aangespreek oor ons wandel voor die Here, en met mekaar – ons spiritualiteit.
Die perikoop vorm deel van ʼn groter skrifgedeelte, waar Paulus met die gemeente oor Christus se lewenstyl wil praat. Die voorafgaande gedeelte (1:27-30) praat Paulus oor ons lewenswyse wat in ooreenstemming met die evangelie moet wees. Die paragraaf daarna (2:5-11) handel weer oor die veelbesproke kenosisleer.– Christus se vernedering deur sy menswording.
Kenosis verwys na Fil. 2:7 waar Christus homself verneder het “ deur die gestalte van ʼn slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word” (Jac J Muller se proefskriftitel was: “ Die Kenosisleer in die Kristologie sedert die Reformasie”. In die 17de tot die 19de eeu was daar ʼn vurige teologiese debat of Christus met sy inkarnasie sy goddelikheid neergelê het en of Hy sy goddelikheid net tydelik verbloem het)
Dit gaan in Fil. 2:1-5 oor die term eensgesindheid onder gelowiges. Die motivering wat Paulus vir eensgesindheid opgee is drieledig:
i)Omdat ons een in liefde, een van hart en een in strewe is. Ons kan nie eensgesind wees as ons nie weet ons is saamgebind deur Christus se liefde nie.
ii)Een van hart – kom van die Griekse woord wat saamgestel is uit “ saam” en “siel” Dit gaan dus oor eenders dink en leef omdat ons deur een Gees deurdrenk is. Ons harte moet saam rein wees voor die Here. As ons harte nie saam op dinge van die Here ingestel is nie, gaan ons sukkel om ʼn eenheidsgesindheid te handhaaf. Dit sou beteken dat ons heeltyd die evangelie se kern in ons harte moet nastreef!
iii) Die een van strewe gaan oor die een doel wat ons voor oë moet hê: naamlik “ met my hele wese Christus verheerlik in lewe en in sterwe” (Fil. 1:20).
Hierdie drie sake vorm die grondslag vir eensgesindheid. Dis die golflengte waarop ons ingestel moet wees om eensgesind te wees!
Die slegte uitkoms van die teendeel blyk weer uit die 3de en 4de vers. “Moet niks uit selfsug of eersug doen nie, maar in nederigheid moet die een die ander hoër ag as homself” Dit is duidelik dat selfsug en eersug teenoor eensgesindheid staan. So as ons wonder waarom ons so sukkel om in gemeentes en geloofsgemeenskappe eensgesindheid te kry, is die antwoord in die selfsug en eersug geleë. Daar is heelwat gemeentes en predikante wat by Communitas om hulp vra om konflik op te los. Gemeentes roep soms om hulp omdat die gebrek aan eensgesindheid soveel konflik tot gevolg het. Dalk moet ons almal weer op ons knieë gaan en eensgesindheid nastreef, al verskil ons as mense van mekaar. Eensgesindheid is harde werk, want dit vra dat jy selfsug en eersug moet begrawe. Sodra ons eie eer soek, is die gevolg dikwels konflik in gemeentes (ook onder kollegas). Dalk moet ons doelbewus strewe na ʼn spiritualiteit van eensgesindheid. (dit is natuurlik iets anders as eendersheid en eenparigheid) Dit begin gewoonlik by een party wat bereidheid toon om soos Christus, die minste te wees.
In Fil. 2:5 vra Paulus dat dieselfde gesindheid wat in Christus was (kenosis) ook in ons moet wees. Dit is ʼn gesindheid van “in nederigheid moet die een die ander hoër ag as homself”(vs. 3) en “Julle moenie net elkeen aan sy eie belange dink nie, maar ook aan die van ander (vs4).
As ons nie ʼn lewenstyl van minsaamheid, onselfsugtigheid en nederigheid het nie, sal ons nooit die spiritualiteit van eensgesindheid kan leef nie. Dan sou dit beteken dat ons nie soos Christus kan word nie.
Hy het Homself minder gemaak ter wille van ons!
Dit is egter vers 8 wat my effens onkant betrap het. Daar staan: “Hy was gehoorsaam tot in die dood” Nederigheid/Diensknegskap (kenosis) kom deur gehoorsaamheid. “Daarom het God Hom ook tot die hoogste eer verhef.”
Eensgesindheid is die strewe om soos Christus te wees, maar in die praktyk bestaan dit uit die harde werk vir ʼn lewenstyl van minsaamheid en nederigheid. Dit is goed om in lydenstyd mekaar aan Christus se nederigheid (kenosis) te herinner.
Ek sou nog baie hieroor wou dink…………
Quintus
Tags: eensgesindheid, gebed, konflik, Spiritualiteit en Lewenstyl
Gebed is ……
Die afgelope konferensie oor Gebed en Spiritualiteit was baie geseend. Vir twee dae het omtrent 230 mense daagliks geluister oor verskillende invalshoeke en getuienisse oor gebed. Ons het ons verkneukel in die teenwoordigheid van die Here in ons lewe! Die Here het verskeie sprekers gebruik om konferensiegangers verskillende dimensies van gebed en spiritualiteit te gee. Ek het onder andere ‘n paar dinge oor gebed en spiritualiteit gehoor:
Gebed is om in teenwoordigheid van die Here te leef
Gebed is om leeg te word voor die Here.
Gebed is om stil te wees voor die Here
Gebed is om net by die Here te wees
Gebed is om te luister na die Here
Gebed is gebrokenheid
Gebed is om totaal afhanklik te wees voor die Here
Gebed is die termometer van ons geestelike lewe
Gebed is om diensbaar te wees
Gebed is om God se koninkryk te laat kom
Gebed is ’n opdrag van die Here tot sy eer
Gebed is om ‘n instrumentele verskil te maak in die koninkryk
Gebed is die wandel voor die Here
Dit is net wonderlik om te weet : Dit is die belangrikste deel van ons dankbaarheid teenoor die Here.
Ons gaan in die volgende twee weke probeer om op die webbladsy van Communitas die lesings van die konferensie te sit.
Ek plaas ook in hierdie blog : (onder die opskrif Dokumente ) 3 bronne. Dit is n
inligtingstuk oor webbladsye wat besoek kan word, boeke en kursusse. Stuur asb. Vir my nog
inligting in die verband.
Groete
Quintus
Op ’n keer vertel iemand my dat hy ’n kind van die Here is en dat hy graag wil bid, maar dis asof iets hom keer op keer verhinder. Dit voel soms vir hom asof hy net nie beheer daaroor het nie! As dit nie die telefoon is nie, is dit sy lewenstyl. Hy sukkel regtig om rustig te word en te bid!
As mense sukkel om te bid, is dit soms goed om na te dink wat hulle keer om te bid- of liewer wat hulle gebedslewe bedreig. Ek noem ’n paar sulke bedreigings:
1. Eie ontvlugting: Soms sorg mense self dat hulle so besig is sodat hulle nie kan bid nie. Hulle ontvlug as’t ware die alleentyd saam met die Here en sorg dat hulle program van so ’n aard is dat hulle darem ’n menslik geldige verskoning het om nie stil te word voor die Here. Om dit anders te stel: Hulle vermy dit om te bid! Hiervoor kan daar baie redes wees. Daar kan iets wees wat jy vir die Here probeer wegsteek (al weet jy, jy kannie!) Daar is baie keer ook ’n soort skuldgevoel omdat jy nie meer weet wat om te bid nie. ’n Ander rede hiervoor kan jou eie sonde of verkeerde lewenstyl wees. Indien jy die bedreiging in jou gebedslewe herken, is dit noodsaaklik om weer ’n rein hart voor die Here te kry (Mat 5:8).
2.Persoonlike krissise kan keer dat jy bid. Die ironie is dat jy juis geestelike energie deur gebed ontvang, maar as ’n mens neerslagtig is, voel dit soms asof gebed nie gaan help nie. So kan die ekonomiese krisis of ander slegte sake wat jy ervaar alles meewerk dat jy minder bid! Onthou, die Here wil deur gebed vir jou sy liefde toon! Moenie daarmee ophou as jy verlate voel nie!
3. Besige Program: Die bekendste bedreiging waarvan ons almal bewus is, is natuurlik ons besige program, waaroor baie mense nie regtig beheer het nie. Ons sou seker baie kan rassionaliseer oor hoekom ons so besig is, maar dit neem nog nie die feit weg dat ons sukkel om by alles uit te kom nie. Om vir iemand, wat nie sy eie baas is nie te verwag dat hy nie so hard moet werk nie, is net om onbillike gewetensdruk op hom te plaas. Die realiteit is dat mense eenvoudig besig is en dat werkgewers baie druk op werknemers plaas. Hulle werksomstandighede tap eenvoudig hulle energie! Die oplossing is om tyd te “skep” . Om stil tye in jou besige program te skep – soms is dit vyf minute as ander gaan tee drink. Ander keer kan dit die halfuur wees waar die res van die gesin sepies kyk. Maar onthou, al is jy nie in beheer van jou dag se program nie, is jy steeds in beheer van jou aftye tussenin. Gebruik dit wys!
4.Twyfel is een van daardie sake wat ons geestelike lewe en veral ons gebedslewe kan inhaal. As jy twyfel, dan sukkel jy om te glo en hoe kan ’n mens bid sonder geloof? Die eerste wat iemand wat twyfel(in die Here of in sy eie geloof), doen, is dat hulle ophou bid. Die oplossing hiervoor is om werklik weer eerlik na die Here te gaan en jou twyfel vir Hom te gee. Twyfel kan jou gebedslewe vernietig.
5.Tye sonder medegelowiges is nooit goed vir ’n mens se gebedslewe nie. Ons is vir mekaar gemaak. Dit geld ook vir ons gebedslewe! Dit gebeur so dikwels met mense dat hulle hul oor een of ander rede van die gemeente (kerk) of ander gelowiges onttrek. Ongelukkig oorleef hulle gebedslewe dit ook nie. ’n Kragtige gebedslewe en goeie geloofsinteraksie met medegelowiges gaan gewoonlik hand aan hand!
6.As jou verhouding met die Here seergekry het. Gebed se basis word deur jou verhouding met God gevoed en gestut! Indien jy om een of ander rede afgedwaal of afvallig geraak het en die verhouding tussen jou en God seergekry het, sal jy ook nie meer kan bid nie. Weet dat die Here se genade en liefde groot is om jou vas te hou. Weet dat sy arms sterk genoeg is om jou van sy liefde te verseker en soos die verlore seun weer terug te bring! Hy sal nooit sy rug op jou keer nie, maar nooi jou eerder uit om na Hom te kom!
Soos ’n goeie huweliksverhouding moet die bedreigings in die verhouding geidentifiseer word en aandag kry, anders gaan die verhouding baie seerkry ! Mag die Here se liefde en genade julle dring dat jy ‘n ryk gebedslewe het, te midde van al die bedreigings!!
Quintus


