Dec 09 2008

Hoop en Genade vir Kersfees!

Published by Quintus under Gebede

Terwyl ek sit en die laaste blogartikel vir die jaar skryf voor ek ’n bietjie gaan uitspan, luister ek na die musiek van ” Les Misérables” . As jy dit nog nie beleef het nie, moet jy sorg dat jy die opvoering sien as dit weer Suid-Afrika toe kom. Dit gaan oor Hoop en Genade. Die verhaal gaan oor genade, vergifnis en ‘n nuwe begin !!

Op die oomblik kan ek nie help om die doop aan Kersfees te koppel nie! ‘n Simbool van die nuwe begin en nuwe hoop. Ja dit is wat die geboorte van die Here Jesus was- Die belofte van Hoop en Verlossing vir die mensdom!!

Dit is my wense vir elkeen van julle vir die kerstyd.

Ek wil graag die lofgebed van Maria nadat sy gehoor het sy gaan die kindjie Jesus in die wêreld bring met julle deel. In die gebed getuig sy van die goedheid van God !!

Luk 1: 46-56

“ En Maria het gesê: Ek besing die grootheid van die Here, ek juig oor God, my Verlosser, omdat Hy na my in my geringheid omgesien het. Kyk, van nou af sal elke nuwe geslag my gelukkig noem, omdat Hy wat magtig is, groot dinge aan my gedoen het. Heilig is sy Naam! Hy bewys ontferming van geslag tot geslag aan die wat Hom eer. Kragtige dade het Hy met sy arm verrig; hoogmoediges in hulle eiewaan het Hy uitmekaar gejaag; maghebbers het Hy van trone afgeruk en geringes verhoog; behoeftiges het Hy oorlaai met goeie gawes en rykes met leë hande weggestuur. Sy dienaar Israel het Hy te hulp gekom deur te dink aan sy beloftes van ontferming soos Hy dit toegesê het aan ons voorvaders, aan Abraham en sy nageslag tot in ewigheid.”

Mag die kersfees vir elkeen ’n Gelukkige fees van Hoop en Genade wees

Quintus

No responses yet

Nov 26 2008

Om op God te Wag is ‘n Geloofsdissipline!

Ek hoor dikwels die die opmerking ”Die einde van die jaar is so naby en daar is so baie om nog te doen – ek weet nie of ek al my doelwitte gaan bereik nie!”

Daar is altyd doelwitte of ideale wat nie nie afgehandel kom nie en daar is nie ’n tyd wanneer ’n mens meer daarvan bewus word as aan die einde van die jaar nie.

Dalk is dit juis in die besige tyd nodig om weer na te dink oor die verband tussen

1. ons ingesteldheid teenoor dit wat ons nog nie bereik het nie, en

2. ons geestelike gewoontes en gebedslewe.

Ons vinnige lewenstyl en ongeduld maak dat ons nie altyd die spirituele ingesteld het om op God te wag nie. Om op God te wag, is ’n gebed- en spirituele lewenshouding wat ’n bepalende invloed op jou verhouding met die Here het. Daar is meer as 30 tekste in die Bybel wat hierdie lewensingesteldheid vir ons uiteensit . Ek het gevind dat in die tye wat ek die meeste met die Here oor sake worstel, die grootste geneser ’n ingesteldheid was van wag op die Here. Vir mense met ’n doelwitgedrewe lewenstempo, is dit natuurlik nie die maklikste dissipline nie, tog is dit die een lewenshouding wat ’n mens God helderder laat raaksien!

Die woord wat in die Bybel vir “verwagting” gebruik word , word ook dikwels vertaal met “vertroue”. Miskien verduidelik dit vir ons iets van die betekenis van “om op God te wag”. Ons ongeduld met die Here is heel dikwels ’n simtoom van ons gebrek aan oorgawe aan die Here.

Hoe wag ’n mens op God ?

Om Op God te wag is ’n lewenswyse wat begin met algehele oorgawe aan die Here. Ps 25:21 “ Laat onskuld en opregtheid oor my die wag hou, want op U vertrou ek”. Om alles in die hande van die Here te gee is ’n daaglikse handeling - daarom is dit ’n geloofsdissipline wat ons moet aanleer. Ons moet elke dag oefen om elke onvoltooide saak , versoek en doelwit in die hande van die Here oor te gee en Hom daarmee te vertrou. Die woord dissipline beteken dat jy dit op gereelde basis moet doen - nie om God daaraan te herinner nie , maar om jouself te herinner dat die spesifieke saak nie meer in jou hande is nie!

Wat gebeur met ’n mens wat op God wag?

Jy leer om in afhanklikheid van God te leef : Om op die Here te wag, is om te besef dat jy nie in beheer van jou bestemming is nie. Die gebedslewe van iemand wat hierdie dissipline het, verskil van iemand wat dink hy kan die Here se arm draai om aan al sy behoeftes te voldoen. Natuurlik kan ons enigiets in die Naam van die Here vra. Maar om te vra, beteken vir geen oomblik om te beveel nie. Dit is ‘n lewensuitkyk met jou oë na bo gerig en nie op jouself nie. Om te vra, is ’n aanduiding dat alles in iemand anders se hande is. As ons vir iemand moet oplaai en ons wag vir hom in die motor – kan ons soms maklik ongeduldig raak. Die rede hiervoor is omdat ons nie in beheer van die situasie is nie. Die een wat die situasie beheer, is die een vir wie ons wag, want jy kan niks doen voor hy nie kom nie. Dieselfde met ons gebedslewe. As jy geleer het om iets in die hande van die Here te vertrou mag jy nie die een wees wat ongeduldig is nie – of selfs eise aan die Here stel nie – Jy moet leer om op God te wag – en om in afhanklikheid van die Here te leef!

Daar vind ware geestelike verandering plaas indien jy op die Here wag. As jy op Hom wag, gebeur daar iets met jou. Dit is gewoonlik die enigste tye wat ons iets van onsself en van die lewe leer - as dinge nie vinnig gebeur nie. As ’n kind vir sy ouers iets vra en hy kry dit maklik, leer hy mos niks! Dit is eers as hy leer om te werk vir iets of dat dinge nie maklik of vinnig kom nie, dat hy iets leer. So is dit maar met ons ook as ons op die Here wag. Dit is die tyd in ons lewens wanneer die Heilige Gees ons die meeste verander!

Jy leer om nuut te kyk: As Habakuk op die Here wag , gaan lê hy nie op sy bed en slaap nie . Hy klim na die uitkyktoring en soek die antwoord. Om op die Here te wag beteken om met verwagting te wag. In die proses leer jy om met nuwe oë na die lewe te kyk. Jy soek as’t ware ’n antwoord op jou gebede. As jy nie ’n antwoord verwag en uitkyk daarvoor nie, sien jy soms nie die Here se antwoord raak nie. In die proses van soek en verwagting, leer die Here jou om ander en nuwe dinge raak te sien!

Jy leer geloofsvolharding : Onthou die Here gebruik die “wagtye” om ons geloof te toets en ons vertroue in Hom te versterk. In wagtye, kry jou gebed ook meer krag , jou geloof meer spiere en jou hart word ruimer om na God te luister! Om te Wag is die tye waar jou geloofsvolharding getoets en getemper word word. Om te wag beteken om aan te hou glo en nie kleingelowig te raak oor die geringste negatiewe seine wat jy raaksien nie. Om op die Here te wag , is om in geloof te volhard!

Luk 2:25 vertel van Simeon wat met verwagting uitgesien het na die koms van die Verlosser. “Daar het destyds ‘n man met die naam Simeon in Jerusalem gewoon. Hy was getrou aan die wet en vroom en het uitgesien na die koms van die Verlosser van Israel. Die Heilige Gees was op Simeon…”

Mag jy die spirituele lewensgewoonte van “Om op God te Wag” ’n geestelike dissipline maak.

Quintus

No responses yet

Nov 13 2008

So het die Here my geleer om lief te hê!

Published by Quintus under Getuienisse

Nadat hy iets gelees wat ek oor gebed geskryf het, kry ek so ruk gelede ‘n besoek van ‘n afgetrede predikant. Hy het my vertel - hoe die Here sy lewe na aftrede deur gebed verander het en hoe hy nou anders dink oor gebed as tydens sy hele bediening as predikant. Sy getuienis het my  tot nederigheid teenoor gebed gestem. Dit het my veral geraak toe hy vertel dat die Here hom deur sy gebedslewe, geleer het om lief te hê….

Emeritus predikant se getuienis oor sy gebedslewe na aftrede

Hierdie is my getuienis oor gebed én wat ek die oor afgelope ±6 jaar se gebedservaring beleef en ontdek het.

Dit het een Sondagmiddag in 2002 begin. ‘n Prediker het min of meer sy boodskap só begin: Wie van julle wat vandag hier sit, sal vir elke uur wat jy voor die TV sit, ‘n uur lank op jou knieë staan en bid?” Ek glo die Here het daardie dag met my gepraat. Ek het huis toe gegaan en begin om die geestelike dissipline van gebed te beoefen . Ek het my elke dag gedissiplineer en ten minste ‘n uur lank soggens gebid. Aan die begin (± 3 jaar lank) het ek geen geestelike boeke gelees nie: net my Bybel. Ek wou seker maak dat ek leer bid soos God ons deur die Bybel leer.

In die begin het dit bitter moeilik gegaan. Ek het uit eie ervaring geleer wat baie ervare skrywers (en bidders) oor gebed gesê het nl. The most difficult exercise for ‘n Christian is prayer (EM Bounds). Miskien is dít die rede waarom so min kinders van God – predikers en predikante ingesluit – regtig ernstig is oor gebed!

Dit was aan die begin baie moeilik. Die duiwel het my baie keer getoets en getart, maar ek het my gedissiplineer en volhard. Ek het die geseëndste tye in my lewe gehad, juis toe die duiwel my getoets het met: Sien jy enige verandering in jou lewe?” En al wat ek kon sê, was: Nee, maar ek het ‘n afspraak met God!”

En toe eendag – na máánde se gebed – ontdek ek die wonderlikste liefde in my lewe vir my vrou en kind. En vir die eerste keer in my lewe begin ek die Bybelse opdrag verstaan en beleef: Manne, julle moet jul eie vroue liefhê…” (Ef. 5:25).

En daarmee saam het daar in my lewe ‘n liefde vir mede -Christene en ongereddes gekom ! Toe word Openbaring 2:4 vir my duidelik: “…..jy het jou eerste liefde verlaat…..” en deur gebed het Hy dit vir my teruggegee om dit te beleef!

In hierdie tyd het ek ook begin bid: Vul my met u Heilige Gees (Ef. 5:18). Elke dag. Elke oomblik. En leer my om te wandel deur die Gees.” (Gal. 5:16) En toe eendag gaan Rom. 6:14 vir my oop: “…..die sonde sal oor julle nie heers nie, want julle is nie onder die wet nie, maar onder die genade…..”

Die volgende ding wat die Here my deur gebed geleer het, was om sy “getuie” (gestuurde) te wees. Ek het einde September 2007 opgehou met die Bybelstudievertaalwerk a.g.v. my oë. Toe meen ek die Here wil hê ek moet meer preek. Terwyl ek eendag daaroor aan’t bid was, oortuig die Here my om (weer) Hand. 1:8 te lees. Toe ek by “julle sal my getuies wees” kom, toe oortuig Hy my baie duidelik: jou (en alle kinders van God se) se primêre taak is nie om te preek nie, maar om my getuie (gestuurde) te wees. Dit was vir my ‘n kosbare les.

Want selfs as predikant kon ek nie in die openbaar getuig teenoor vreemdelinge nie. O ja, ek kon sê en praat net wat ek wou tydens huisbesoek, maar in ‘n hysbak saam met iemand kon ek net nie my mond oopmaak en getuig nie. En nou: Ek kan nie ophou om teenoor ongereddes en Christene (veral t.o.v. die absolute belangrikheid van gebed) te getuig nie. Die beloofde “krag” van Hand. 1:8 het my soveel “vrymoedigheid” gegee om te getuig.

Nog ‘n ding wat die Here my nou onlangs deur gebed geleer het, was omtrent geloof. Eendag lees ek Lukas 18:1 – 8 en toe interesseer die woorde heel aan die einde van die gelykenis my: “…..maar as die Seun van die mens kom, sal Hy wel die geloof op die aarde vind?” Ek vra toe die Here om dit vir my te verduidelik, omdat daar heel aan die begin staan: “…..’n mens (moet) gedurig bid en nie moedeloos word nie…..” Hoe bring ‘n mens hierdie woorde by “geloof” uit? En duidelik openbaar Hy dit aan my: Iemand wat aanhou (“gedurig”) bid, beoefen geloof; iemand wat “moedeloos” word en ophou bid, openbaar ongeloof (twyfel). En net daar word dit vir my duidelik: gebed is geloof(-sbeoefening); geloof(-sbeoefening) is gebed.

In die eerste vier jaar of wat van hierdie nuwe ervarings en ontdekkings in my gebedslewe het daar in my binneste al meer die duidelike oortuiging gegroei nl. dat gebed (natuurlik ware, aanhoudende gebed; absoluut noodsaaklik is in/vir die kind van God se lewe, én in/vir die Koninkryk van God. En sowaar daar lees ek dit in “Andrew Murray on Prayer” (bl. 472) A fresh sight of what prayer is according to the will of God, of what our prayers can be, through the grace of God, will free us from those feeble, defective views in regard to the absolute necessity of contiual prayer which lie at the root of our failure.” My blydskap was ongekend; meer as ‘n 100 jaar gelede het die Here al aan Andrew Murray dieselfde waarheid gewys!

Van toe af het ek begin navorsing doen oor gebed en het ek meer en meer besef dat gebed absoluut noodsaaklik en onmisbaar in en vir ons geestelike lewe en vir die Koninkryk van God is .

Nog ‘n verstommende ding wat ek gaandeweg ontdek en beleef het vandat ek meer gereeld, langer en gedissiplineerd begin bid het, was: Ek maak nie meer verskonings om te bid nie! Excuses are not fabricated by those who live close to God (Eastman). Noudat ek van die absolute noodsaaklikheid van gebed oortuig is, wil ek daarom net meer en meer bid! Spurgeon bevestig dit as hy sê: He that prays much, will pray more Ek beleef vandat ek in 2002 regtig begin bid het, as’t ware ‘n persoonlike klein herlewenkie! Ek wag nie meer op ‘n herlewing wat eendag sal kom nie. Ek beleef dit regtig in my lewe!

Ek glo dat die Heilige Gees (wat die Gees van God, die Gees van Christus, die Gees van gebed is Rom. 8:26,27) het vir my in die afgelope ± 6 jaar hierdie insig en waarheid geleer. Die “missing link” van die meeste kinders van God, van baie kerke(van verskillende denominasies) en ‘n groot deel van die Christendom is: Gebed, volhardende gebed. Ja ‘n lewe van aanhoudende en ware gebed.

Gebed is absoluut, gebiedend noodsaaklik, onmisbaar! Dis die geheim/ sleutel /spilpunt /kern /hart van die totale spektrum van die individuele geestelike lewe en van die koninkryk van god. Dis die bepalende faktor van letterlik alles in die koninkryk van god en in die kind van god se lewe. Handelinge 6:4 gee vir ons die geheim hoe dinge in die kerk gedoen is. Dit was deur gebed én die woord. Nie die woord ten koste van gebed nie! Maar in die regte volgorde: gebed en dan die woord.

Jak. 4:2 sê in die oorspronklike grieks : Julle het nie, omdat julle nie self (middelvorm) aanhoudend (praesens) bid nie.” Hiervolgens lê die oorsaak by onsself – omdat, eerstens, ons nie bid nie en, tweedens, ons nie aanhou bid nie.

Ten slotte wil ek ‘n bekommernis met u deel: As die Bybel en buite Bybelse bronne duidelik is dat ware gebed deurslaggewend en bepalend is. Waarom heg Christene so verskriklik min waarde aan ware gebed en waarom word dit so min beoefen?

Frans Geldenhuys (Emeritus)

No responses yet

Nov 04 2008

Wat is die barometer vir ’n suksesvolle gemeente?

Published by Quintus under Wenke vir Gemeentes

Ons wil almal graag gemeentes se suksesverhale hoor om iets te leer. Daar is heelwat inligting (d.m.v. boeke en die internet beskikbaar) oor gemeentes wat baie aandag trek vanwee hulle nuwe manier van dinge doen, nuwe bedieningstrukture,ens.  “Gewone” gemeentes kyk soms met verlangende oë na al die oënskynlike “suksesvolle” gemeentes. As jy egter na die “suksesvolle” gemeentes se stories luister en met hulle predikante gesels kom jy gou agter dat hulle maar dieselfde probleme het as ander gemeentes ,dat daar maar dieselfde klakouse is en dat daar geestelik nie soveel verandering gekom het, soos wat hulle gehoop het nie. Verstaan asseblief –ek is ’n voorstander van verandering en vernuwing (van eredienste en bediening) en wil vir geen oomblik al die wonderlike nuwe uitdagings van gemeente verandering en-bestuur en alles wat daarmee saamgaan gering skat nie. Ek dink net sommige gemeentes begin by die verkeerde plek met gemeentevernuwing. Om slegs strukture te verander en konsultante in te kry – is in baie gevalle slegs ’n rondskuif van meubels en nie werklike vernuwing nie! Strukture waarborg nie regtig sukses nie!

Die regte barometer van ‘n gemeente se geestelike groei en funksionering is gelee is in die prioriteit wat die gemeente aan gebed gee. Die geestelike barometer van ’n gemeente is dus iets anders as waarmee die wêreld sukses meet. Die wêreld meet sukses aan getalle, finansiële sukses en projekte. Daarom hou ek nie van die term “suksesvolle gemeentes” nie – dit is ’n term wat te veel met wêreldse persepsies gelaai is.

So die vraag moet nie wees- Wanneer is die kerk suksesvol? nie. Ons moet eerder vra : Wanneer is ’n gemeente geseënd?

Anders gestel : Hoe weet die wêreld dat die kerk uniek is? As die kerk hom met sy unieke roeping besig hou.

Gebed is die unieke roeping van die kerk op aarde. Die openbaring van die die kerk geskied wanneer lidmate saamkom om te bid. 1 Tess 5:17 roep gelowiges op om in alle omstandighede te bid. Rom 12 :12 roep die kerk om nie op te hou daarmee nie. Martin Luther het gebed die Christen se werk en beroep genoem. Soos wat ’n tandarts met mense se tande besig is en die mielieboer met mielies besig is,so behoort die Christen met gebed besig te wees.

Die kerk se unieke taak begin by gebed. Hierdie gebed word dan omgesit in gebedsdade wat die lewenswandel met die Here in die gemeenskap demonstreer. Die kerk wat regtig sy unieke roeping uitleef, is besig om (as gestuurde wat in teenwoordigheid van God leef ) in die wêreld ’n verskil te maak. Gemeentes wat God se unieke roeping wil uitleef en wil groei, kan dit alleen doen as hulle die nodige prioriteit aan gebed en ’n lewenstyl in teenwoordigheid van God gee. ’n Biddende gemeente is ’n geseende gemeente wat sy unieke roeping in die samelewing uitleef !!

As ons dus ’n barometer vir seën wil aanlê, dink ek nie ons moet verder soek as gebed nie. As ons dus na modelgemeentes soek waarby ons iets kan leer: Soek dan na gemeentes wat ’n gebedskultuur het!

Attie Barnard stel dit so: “ Nêrens word die rypheid van ons geloof en die diepte van ons geestelike lewe en omvang van ons geestelike groei so duidelik sigbaar as in ons gebedslewe nie. Daar bestaan ook geen ander moontlikheid om in ons geloof te groei of voluit vir die Here te werk of sterker te leer liefhê, as langs die weg van ’n intensiewe gebedslewe nie”

Die Nederlandse teoloog H Veldkamp het dit so verwoord: –“Die geskiedenis van die koninkryk van God is die geskiedenis van gebed. Oorwinnings en neerslae wissel mekaar af, al namate daar baie of min gebid word. Die vraag hoe dit met die kerk gaan, hang af van hoe dit met die gebed staan

As jy vandag ’n antwoord wil hê op die vraag: Wanneer is ’n jou gemeente geseend? Kyk na jou gemeente se gebedskultuur - dan sal jy weet!!!!

Quintus

No responses yet

Oct 25 2008

Jou spiritualiteitstyl beïnvloed jou gebedslewe

As daar een saak is waaroor mense maklik krities raak, is dit dat ander mense nie die Here op “ons  spesifieke manier waaraan ons gewoond is ” ,  aanbid nie. Maar hoekom bid ons op verskillende maniere ? Hoekom is daar gelowiges wat in een gemeente is, maar verskillend dink oor gebed en eredienste? Daar is ‘n verskeidenheid redes: die een is dat persoonlikhede en temperamente verskil. Mense het ook verskillende talente en gawes. Mense het egter ook verskillende spiritualiteitstipes.

In hierdie artikel gaan ek ‘n kort oorsig gee oor mense se verskillende spiritualiteitstipes. Oral waar ek nog in gemeentes en groepe hieroor gepraat het, het ek gevind dat gemeentes en gelowiges meer begrip vir mekaar se andersheid kry as hulle verstaan dat daar meer as een manier is om tot God te bid, erediens te hou en saam met God te leef!

Wat is spiritualiteit? Dit is die mens se diepste dors / hunkering na God. Dit is elke mens se styl hoe hy voor die aangesig van God wil wandel – hoe hy wil bid en leef. Spiritualiteit verwys na ons ervaring en wandel met God : waar en hoe ons die teenwoordigheid van God beleef.

In Corinne Ware se boek “ Discover Your Spiritual Type: a guide to congregational growth” identifiseer sy vier verskillende spiritualiteittipes. Dit het my baie gehelp om mense, wat anders as ek bid, te verstaan. Sy gebruik ‘n spirituele tipologie van Urban Holmes en onderskei vier tipe spiritualiteitstyle. Sy onderskei tussen (1) ‘n Intellektuele /denkende tipe wat sy ook kortliks “head” noem; (2) ‘n meer charismatiese of hart spiritualiteitsgroep, (3) die mistieke spiritualiteit en (4) die koninkryks of visionênere spiritualiteit. Elke tipe het ‘n sekere rol wat dit in ‘n gemeente speel en elke tipe het ‘n eie gebedstyl.

Ek verduidelik dit kortliks:

Spiritualiteits tipes, soos beskryf deur Corinne Ware and Urban Holmes

· Tipe 1: Kopspiritualiteit (Teologies georiënteerde mens)

Die kopspiritualiteit is ‘n denkende en intellektuele spiritualiteit . Die realiteit van ons geloofslewe is vir hulle belangrik.  Hulle druk hulle teologie in vaste konsepte uit bv. God as Vader. Die letterlik geskrewe Woord van God ( Bybel) is vir hulle die essensie. Hulle hou van alledaagse aktiwiteite en ook van die samekoms van die gemeente. Hulle is soms gemaklik met ‘n formele preekstyl in die erediens en geniet studiegroepe en goeie teologiese preke. Hulle bydrae tot die gemeente is gewoonlik op die terrein van sistematiese teologiese nadenke oor leerstellige en etiese kwessies. Hulle sorg ook vir struktuur in gemeentes. Hulle verkies om slegs die Bybel as bron van hulle spiritualiteit te gebruik (ervaring is nie vir hulle prioriteit nie).

Gebedslewe: Hulle gebedslewe is vir hulle ‘n uitdrukking van hulle eerbied aan God. Hulle beleef God deur hulle verstand. Hul gebed is gewoonlik goedgeformuleer. Hulle sal van gebede hou wat uitgeskryf is en gelees kan word. Hulle hou daarvan om met God te praat. Hulle gebedsstyl is gewoonlik gedissiplineerd, afgerond en met goeie teologiese inhoud. Hulle kan baie baat vind by die Lectio Divina.

· Tipe 2 : Hartspiritualiteit (Charismaties georiënteerde mens )

Die hartspiritualiteit (katafaties/affektiewe) hou van warm uitdrukkings van geloof en interpersoonlike warmte binne die gemeente. Hulle stel die Woord ook sentraal, maar vir hulle is die uiterlike uitdrukking van emosies ewe belangrik. Gewoonlik is dit die spiritualiteitsytipe wat makliker sy goddiensbelewing tentoon sal stel. Dit word gewoonlik gedoen met ‘n gesigsuitdrukking of handgebare of lewenshouding. Persoonlike getuienis, musiek en evangelisasie is vir hulle belangrik –– Hulle verkies tipe prediking wat van ander se getuienisse of ervaring praat. Persoonlike getuienisse is vir hierdie groep baie belangrik. Gewoonlik is hulle warmte, entoesiasme en gemoedelikheid aansteeklik in ‘n gemeente. Hulle is gewoonlik ook voorstanders van informele manier van dinge doen.

Gebedslewe: Hierdie tipe spiritualiteit voel hulle tuis met baie emosie en gevoelsvolle uitdrukkings in hulle gebedslewe, asook binne die eredienste.Hulle hou daarvan om met God te praat, maar minder formeel as die eerste groep. Hulle hou van vrye en spontane gebede.

· Tipe 3: Mistieke spiritualiteit (Mistiek georiënteerde mens)

Die mistieke (affektiewe /opofaties) hou daarvan om aan God se voete te sit en luister. Die affektiewe (emosie) is vir hulle ook belangrik, maar hulle emosie is na binne gekeer. Hulle luister eerder na God as om met hom te praat. Hulle soek die teenwoordigheid van God. Stiltes in erediens is belangrik. Simbole speel ‘n belangrike rol in hulle geloofsvorming. Hulle hou ook van meditatiewe dissiplines en die lees van die Bybel help hulle om nader aan God te groei. Stilgebed is vir hulle belangrik. Hulle sal die mense wees om die gemeente te herinner aan die heiligheid van God te midde van die alledaagse.

Gebedslewe: Gebed is vir hulle eerder om na God te luister, as om met Hom te praat. Hulle hou nie van klaar uitgewerkte antwoorde nie en wil hê dat God Homself aan hulle moet openbaar deur gebed. Gebed is ‘n fokus op die teenwoordigheid van God. Dit is soms genoeg om bloot in stilte aan God se voete te sit. Kontemplatiewe (na binne gerigte gebed)gebed spreek hulle aan

· Tipe 4: Koninkrykspiritualiteit ( Baanbreker georiënteerde mens)

Die koninkryksspiritualiteit ( spekulatief/apofaties) hou daarvan om aktief by sending, barmhartigheid asook die sosiale aksies, betrokke te wees. Dit is vir hulle belangrik om met medewerkers saam te beplan aan die aksies waarby hulle betrokke is en saam te bid daarvoor. Hulle is dikwels die sosiale gewete van die kerk en bring die gemeente tot aksie. Hulle is die mense wat durf en selfopoffering uitstal in hulle navolging van die koninkryk se doelwitte. Hulle skaar hulle gewoonlik by menseregtegroepe en hulp aan vigswesies. Gehoorsame en ywerige mense. (Sommige mense noem hierdie ook die Hand spiritualiteit. Die praktyk het my geleer dat  mense die benaming “hand” misverstaan - hulle dink dit gaan oor basaar hou en koekies bak . Daarom verkies ek eerder Corinne Ware se formulering van :koninkrykspiritualiteit)

Gebedslewe: Hulle bid as hulle besig is om iets vir die Here op die sendingveld te doen. Hulle gebed is baie ingestel dat die koninkryk van God sal groei. Vir hulle word gebed en teologie die beste in hulle praktiese dade getoon. Is ook gerig op wat God in die wêreld moet doén om die koms van die koninkryk te bewerkstellig. Hulle doen graag voorbidding vir die sending en barmhartigheidsaksies van die gemeente.

Corinne Ware wys daarop dat elke tipe sy eie klem plaas op gebed: Tipe 1 kan baie baat vind by die Lectio Divina. Tipe 2 mense het dit nodig om te ekperimenteer in gebed, liturgie en gevoelsvolle musiek. Tipe 3 hou weer van stilgebed en hou ook daarvan om sy gebedslewe privaat te hou. Tipe 4 mense bid weer graag as daar ‘n veldtog gehou word. Tipe 1 en 2 mense hou van programme, sprekers en veldtogte.

Corinne Ware 

IN WATTER VAN DIE 4 STYLE SOU JY INPAS? Onthou jou styl beinvloed die manier hoe jy bid, eredienste beleef en jou daaglikse godsdientige belewing. Jy kan ‘n kombinasie van twee style hê.

Hoe hanteer ons die vier spiritualiteits style ?

Ons hoef nie baie rigied met die indeling saam te stem of dit presies so toe te pas nie, maar dit help ons om onsself en ander wat van ons verskil se godsdiensbelewing te verstaan. Dit help ons ook om groei-areas te identifiseer. Elke spiritualiteitstipe maak ‘n onmisbare bydrae tot die gemeente. Elke tipe moet die ander help om meer gebalanseerde spiritualiteitslewe te hê. Sodra slegs die een tipe oorbeklemtoon word lei dit maklik tot eensydigheid. Soms wonder mense waarom een prediker en sy styl hulle aanspreek en ‘n ander weer nie- wel die antwoord is dat mense verskillende spiritualiteitstyle het en dat predikante verskillende style het. Dit sal gemeenteleiers loon om navorsing te doen na die gemeente se spiritualiteitstipes. Dit kan net wees dat die bediening van die gemeente net een groep in gemeente aanspreek. Indien dit vir gemeenteleiers belangrik is om ‘n geestelike tuiste vir almal te bied, moet hulle seker maak dat daar ruimte vir al vier spiritualiteitstipes in ‘n gemeente is .


Die wete dat ons vir God verskillend aanbid, moet mense tot begrip en dankbaarheid teenoor mekaar stem.

Dit is ook die rede waarom mense verskillend oor gebed dink. Die een persoon het ‘n meer charismatiese styl(emosie en ophef van hande), terwyl die ander ‘n meer mistieke styl(simbole en stiltes ) het. Die een wil ‘n goed voorbereide gebed bid (kopspiritualiteit) en die ander verstaan nie hoekom almal nie vir die sending voorbidding doen nie(koninkrykstyl). Die geheim is dat ons vir mekaar ruimte moet gee en eerder die verskeidenheid vier en waardeer, as wat ons te krities met verskille omgaan. Daar is nie ‘n regte en verkeerde styl nie. Soms maak ons die fout om te dink dat net die mistieke tipe of net die koninkrykstipe mense is wat baie bid.

Die waarheid is dat elke tipe spiritualiteit ernstig is oor gebed – hulle beoefen dit net anders

Kom ons dank God dat ons nie almal dieselfde is en Hom op dieselfde manier aanbid nie. Kom ons dank Hom dat ons vir mekaar het om vir ons ‘n ryke en geseende gebeds- en spirituele lewe te gee.

Quintus

Breda Ludick het destyds saam met Nico Simpson ‘n verwerking van Corinne Ware se boek in ‘n kursusvorm aangebied. Dit het by Buvton (Communitas) verskyn onder die kursusnaam: Koeltebome.

2 responses so far

Oct 14 2008

Hoe dink Calvyn oor gebed?

Hierdie is ’n vraag waarop ekself ’n antwoord wou hê. Met baie moed het ek die Institusie van Calvyn (1559) nader getrek. Behalwe dat ek weer besef het hoe vêr die denkwêrelde en taalgebruik (beskrywings) van 1559 en 2008 uitmekaar is, het ek in verwondering gelees hoe Calvyn oor gebed gedink het. Sy denke oor gebed word hoofsaaklik in deel 3, hoofstuk 20 van sy institusie behandel. Hy skryf egter so omvattend oor gebed, dat ek nie in die beperkte ruimte reg sal kan laat geskied oor sy nadenke nie. In hierdie skrywe waag ek dit om slegs ’n paar inleidende opmerkings – oor die noodsaaklikheid van gebed by Calvyn - te maak.

1. Die plasing van sy hoofstuk oor gebed in sy institusie, asook die opskrif van hoofstuk 20, vertel alreeds hoe Calvyn oor gebed gedink het:

Die titel van deel 3 van sy institusie is: Die manier waarop ons die genade van Christus ontvang, die voordeel wat dit vir ons inhou en die resultaat daarvan.

en

hoofstuk 20 se opskrif is : Gebed, wat die belangrikste geloofsoefening is waardeur ons daagliks God se seëninge ontvang.

Gebed was vir Calvyn een van die instrumente hoe ons God se genade ontvang. Dit is ook die belangrikste geloofsdissipline van ’n gelowige. Gebed is dus vir Calvyn nie net bloot ‘n medium om met God te praat of om slegs versoeke van voorbidding tot Hom te rig nie, maar die manier waarop God op ons lewens inspeel. Deur gebed skenk God ons sy genade en seën. Hoe minder ons dus bid – hoe minder gaan ons God se genade en seën in ons lewens raaksien!

2. Gebed is ’n intieme gesprek tussen gelowiges en God (Institusie deel 3. Hfs 20.16) maar die intimiteit word gekenmerk deur “ ingetoënheid en eerbied.” Dit, net sodat ons weerhou moet word dat ons gebede nie ontaard in ’n versoekskrif van ons eie hartsbegeertes nie. Deur gebed ontmoet die gelowige God persoonlik en ervaar dat God se beloftes meer is as woorde. Wat baie interessant is, is dat Calvyn nie wegskram van “ervaring” in gebed nie. Gebed is vir die gelowige nie net ’n paar woorde nie, maar deur gebed is die gelowige intiem en in eerbied met God besig.

3. Deur gebed ontvang ons die seën van die Here. Die mens wat in sonde geval het, is nie self in staat tot iets goeds nie. Dit is juis deur gebed dat hy die genade en goeie dinge weer ontvang. Ons sou hieruit kon aflei dat gebed vir Calvyn die kanaal is waardeur God sy seën en sy goedheid aan die gelowige gee. Deur gebed ontvang ons die rykdom wat ons Vader vir ons weggebêre het (3.20.2) Om dus nie te bid nie, is om geestelike armoede te soek.

4. Gebed is die metode hoe gelowiges se harte gevorm word. Vir Calvyn is gebed die gelowige se belangrikste geloofsdaad en deur hierdie basiese aktiwiteit van ons geloof ontvang ons God se seëninge. Hoe meer jy bid, hoe meer word jou hart vir God omvorm en vind daar by jou geestelike groei plaas. Gebed is dus noodsaaklik, want daardeur bereik ons die geestelike rykdom wat vir ons verborge was. Om nie te bid nie is vir Calvyn ondenkbaar, want gebed is die enigste hulpmiddel om God aan te roep en ons saligheid te verkry. Om nie te bid nie is ’n daad van ongehoorsaamheid en ontrouheid teenoor God.

5. ’n Mens kan slegs deur Jesus tot  God bid. Hy is ons enigste voorspraak. Deur die krag van Jesus se dood, tree Hy namens ons, ewigdurend voor God in. Jesus is die eerste voorbidder wat vir ons by God pleit. Dit is slegs d.m.v. die middelaarskap van Jesus dat ons by God kan uitkom. Dit is een rede waarom hy die eerbetoon aan sogenaamde heiliges verwerp, want in baie gevalle word die sg. heiliges as middelaar tussen God en mens aangeroep. ’n Mens wat op heiliges vertrou, ontneem Christus die eer van sy middelaarskap (3.20.18-22).

6. Deur gebed besef jy, as gelowige, dat alles wat met jou gebeur ten goede is. Dit is deur gebed dat ons besef dat God net die beste bedoelings vir ons het en dat Hy die beste een is om ons belange te behartig.

7. Die noodsaaklikheid van gebed is nie ter wille van God nie, maar ter wille van sy kinders (3.20.3).

Calvyn gee ses redes vir hierdie noodsaaklikheid van gebed :

(1) Dit is vir die gelowiges belangrik om te bid want hoe meer ons bid, hoe meer groei daar ’n brandende liefde vir God in ons harte.

(2) Gebed is noodsaaklik vir jou lewenstyl (Coram Deo) voor God. Jy sal nooit in gebed enige gedagtes koester waarvoor jy jou sal skaam voor die Here nie. Hoe meer jy dus bid, hoe meer gaan jy ingestel wees om God te behaag en om ’n daaglikse toegewyde lewe voor die Here hê. Gebed is dus die instrument waarmee jy ’n Coram Deo lewe voor die Here kan bewerk.

(3) Gebed stel jou denke in om dankbaar teenoor God te lewe. Die kind van die Here moet heeldag bewus wees dat alle seëninge van God afkomstig is. As jy nie bid nie, gaan jy daarvan vergeet.

(4) Hoe meer jy bid, hoe groter gaan die behoefte wees om oor die liefde van God na te dink. Elke keer nadat ons gebedsverhoring ervaar het, is dit ons daaropvolgende gebede wat ons nog verder en meer van God se liefde en omgee bewus maak. Gebed laat ons voordurend aan hierdie goedheid van God nadink.

(5) Gebed laat jou die seeninge wat jy van God ontvang het, meer geniet en raaksien. Gebed is noodsaaklike voorbereiding vir jou hart om gereed te wees om die seën van die Here te ontvang en om dit makliker in jou lewe raak te sien.

(6) Gebed maak dat jy die krag en vrygewigheid van God beter raaksien en ervaar. Jy word bewus daarvan dat God jou nie in die steek sal laat nie. Gebed is dus vir die kind van die Here noodsaaklik, nie om God aan sy beloftes te herinner nie, maar om ons as gelowiges te leer hoe afhanklik ons van God is.

Calvyn stel dit dat dit vir gelowiges soms lyk of God slaap. God slaap en sluimer nie. Hy wil egter hê dat sy kinders, wat andersins traag is, deur gebed in beweging kom en God soek. God het gebed daar gestel - nie vir Hom nie, maar om sy kinders na Hom toe te laat groei! Dit kom daarop neer om te sê: Iemand wat min bid, het nie net ’n eiegeregtige godsdiensbeoefening nie, maar ook ’n ondankbare een. Ps 34:16 sê “die Here sorg vir die regverdiges en luister na hulle hulpgeroep(gebede)”

Slotwoord:

As ek lees wat hy alles skryf en hoe ‘n onontbeerlike deel gebed van die gelowiges se lewe is, kan ek nie tot ’n ander konklusie kom as om die volgende te dink nie: Hoe meer jy oor gebed nadink en dit beoefen, hoe ‘n ryker, voller en geseënder geestelike lewe gaan jy voor God hê. Nie omdat jy skielik meer dinge van die Here afbid nie, maar omdat jy meer bewus word van God se teenwoordigheid, liefde en sorgsaamheid jou lewe. Hoe meer jy bid, hoe meer oorheers God jou denke, lewe en hart! Hoe meer jy bid, hoe ryker sal jou lewe in teenwoordigheid van God (Coram Deo) wees. Calvyn trek ’n streep deur mense wat agiteer dat jy nooit hoef te bid nie, want God is mos altyd by jou en Hy weet wat jy nodig het. Calvyn sê: God het nie jou gebed nodig nie, maar jy het!!!!

Nou verstaan ek waarom ons Gereformeerde Vaders gebed as ’n lewenswyse gesien het. Hulle was vroom mense – nie in die sin dat hulle gedink het hulle is heiliger as ander nie, maar omdat hulle heeldag in teenwoordigheid en saam met God gewandel het!

’n Lewe sonder gebed, is ’n dooie lewe!

Quintus

(NS: ek sal op ’n ander keer Calvyn se riglyne vir gebed en sy praktiewe wenke met julle deel)

One response so far

Oct 12 2008

Welkom by die blog oor gebed en spiritualiteit

Published by Quintus under Doel van Blog

Gebed is die een saak in die Christelike lewenstyl waar die ware verstaan daarvan nie van die kennis van teoloë, filosowe en geestelike voorgangers afhanklik is nie, maar van die verhouding en lewenswyse wat elke gelowige  persoonlik in die aangesig van God beleef.

Met hierdie blog wil ek poog om ’n openhartige gesprek oor gebed en spiritualiteit aan die gang te kry. Ek wil jou uitnooi om saam met my te dink, te gesels en te groei oor en in die praktyk van gebed.  Hierdie is nie ’n voorbiddingsblog waar gemeentes en indiwidue verskeie gebedsversoeke plaas nie -  daarvoor het gemeentes hulle eie sisteme.  Die oop gesprek in die blog moet juis inspirerend meewerk om  gemeentes en gelowiges inligting te gee en te motiveer om ’n gebedskultuur te vestig.

Die blog wil onder andere aan drie sake aandag skenk.

  • Die een is ’n oop gesprek oor gebed en spiritualiteit. Neem asb. deel aan die gesprekke oor verskeie temas en gedagtes wat gereed  in die blog sal verskyn.
  • Die ander is om ’n ruimte te skep  sodat gemeentes en gelowiges oor die kragtige werking van gebed kan getuig.  (Kyk by die kategorieë en klik op “Getuienisse”)
  • Die blog wil ook ‘n inligtingsbron vir gemeentes wees deur oa.  artikels, skakels en wenke (Kyk na dokumente en skakels aan linkerkant)

Groete

Quintus Heine

No responses yet

Oct 09 2008

As jy te moeg is om te bid………

“ Ek moet jou dringend kom sien ”, was die oproep die week. “Ek is nie meer lus om te bid nie - wat nog van Bybel te lees - Wat gaan met my aan? Ek is tog ’n kind van die Here. Ek het geestelike hulp nodig! “is die boodskap wat ek van haar kry.

Met ons afspraak luister ek baie lank en vra haar uit na haar lewe en die sisteem waarbinne sy funksioneer. Hoe langer ek na haar luister, hoe meer kom ek agter dat haar lewe so vol is dat sy nie meer plek vir enigiets anders het nie – nie haarself nie , nie vir haar passies in die lewe nie - veral nie vir gebed nie! Daarom is sy ook nie lus vir Bybel lees nie.

Ek dink haar krisis is kenmerkend van onder andere twee probleme wat baie mense oor gebed ervaar:

1. Aan die een kant sukkel mense soms om te bid omdat gebed as plig gesien word

Die lewe is so vol stress en verpligtinge dat mense nie ook nog lus het vir ’n “godsdiensplig nie. Mense ervaar dat hulle net wil wegvlug van enige plig of iets wat hulle moet doen. Die denkfout is dat ons gemeenskap met die Here nie ’n plig moet wees nie. Dit moet ’n lewenstyl wees. Dit is nie iets wat jy gou moet afhandel nie. Dit is eerder soos asemhaling – ‘n deel van ons bestaan.

Sodra jy gebed as ’n plig begin sien, skram jy daarvan weg of doen dit vinnig net om jou gewete te stil. Jy bid vinnig voor jy gaan slaap – sodat jy net nie moet skuldig voel dat jy nie gebid het nie. Of baie mense bid net “gou” voor ‘n vergadering of ’n ander geleentheid, net sodat dit darem kan troos dat jy wel gebid het! As jy jou gebedslewe so benader word dit ‘n plig en daarmee saam ’n las wat afgehandel moet word! As jy gebed of godsdiens so sien, is jy soms nie meer lus daarvoor nie en net te moeg om nog te bid ook!

Dit is daarom belangrik dat ons moet verstaan dat gebed die uiting is van die liefdesverhouding wat ons met God het. Dit is nie iets wat ons sommer net moet klaarmaak of moet afmerk dat ons dit afgehandel het nie. As jy ’n verhouding met God het, is Hy heeltyd by jou teenwoordig en lewe jy heeldag in sy teenwoordigheid – dan praat jy as’t ware elke oomblik met Hom. Gebed is dus nie ’n plig wat op ’n spesifieke tyd gedoen moet word nie, maar dit is die uitdrukking van jou lewende verhouding met die Here - waarvan jy heeltyd bewus moet wees. Natuurlik vorm dit deel van jou eie geestelike dissiplines en moet jy ook spesiale tyd maak vir gesprek met die Here, maar dan is dit steeds geen plig nie eerder ’n dankbare gesprek.

2. Aan die ander kant sukkel gelowiges om te bid omdat hulle nie besef : - dat dit juis gebed is wat geestelike energie gee:

“ Gebed is die asemhaling van ons geestelike lewe” Die teenpool daarvan is – as ons nie bid nie gaan ons geestelik dood. As ons nie bid nie, het ons nie energie nie , want ons het geen lewensaar nie. Natuurlik leef ons heeltyd in teenwoordigheid van die Here en natuurlik is alles wat ons doen deel van ons gebed voor die Here. Maar die Bybel is vol van voorbeelde dat ons spesiale geleentheid moet maak om stil te word voor die Here en te bid! So as ons nie bid nie (of te moeg is om te bid) kom daar nie nuwe geestelike suurstof in ons liggaam nie en versmoor ons geestelik.

Om van jou moegheid ontslae te raak moet jy dus spesifiek die teenwoordigheid van die Here opsoek!

Soms as mense nie meer geestelike energie het om aan te gaan nie, soek ons te veel ingewikkelde oplossings daarvoor. Ons moet eerder leer om mekaar te vra: Hoe lyk jou gebedslewe? Bid jy nog en hoe bid jy? Maak jy nog tyd om afgesonderd in teenwoordigheid van die Here te wees?

As jy dan nie weet wat om te bid nie – wees net stil voor die Here, niks te vra nie , niks te klae nie maar waardeer net die teenwoordigheid van die Here. Al lees jy ook net ’n Psalm vir die Here. Dit is egter belangrik om te bid. Deur gebed kry ’n gelowige nuwe geestelike energie. As jy nie bid nie, sal jou geestelike energievlakke laag bly. Lees maar gerus Ps. 13 waar die digter met moedeloosheid en moegheid voor die Here staan, maar sy gebed en pleitroep voor die Here het hom soveel geestelike energie gegee dat hy die gebed met lofprysinge eindig. Gebed is voorwaar die asemhaling van ’n kind van die Here!

As jy dus soms geestelik te moeg is om te bid: Moenie jouself in skuldgevoel dompel nie, want God is nie net by jou teenwoordig as jy jou oë toemaak en met Hom praat nie. Hy is juis by jou te midde van jou moegheid. Aan die ander kant moet jy wel moeite doen om tyd te maak om jouself af te sonder en te bid – nie omdat dit ’n plig is nie, maar omdat jy ’n diep verhouding met die Here het en in sy teenwoordigheid krag kry . Ja, deur gebed ontvang jy geestelike krag van die Here !

Quintus

(Geestelike uitputting is iets ander as depressie- hoewel dit raakpunte het , is depressie totaal iets anders- daarvoor het die Here vir ons wondelike professionele mense gegee om ons ook te help. Lees ook Frederick se blog van 8 Okt.).

No responses yet

Oct 03 2008

Kan gelowiges mekaar se hande los en steeds ’n Coram Deo lewenstyl hê?

In sy boekie “Signposts to Spirituality –towards a closer walk with God  beskryf Trevor Hudson die belangrikheid van die familie van God.  Hy sê vanaf die oomblik wat ons besluit het om Christus te volg, is dit duidelik dat ons dit nie alleen kan doen nie.

Die teelaarde vir geestelike groei is die gemeenskap van gelowiges. Dissipelskap en ’n verdieping in jou verhouding met God geskied byna altyd deur die gemeenskap van die gelowiges.  Kortom - ons is nie gemaak om as Christene alleen te leef nie.  Ons is ook nie gemaak om Satan alleen te beveg nie!  Om te weet dat ons as gelowiges aan mekaar behoort is essensieel vir ‘n lewe voor God!

 Oor hierdie helder boodskap van die Bybel  kan daar min twyfel wees. Ons as gelowiges is gemaak om saam teenoor die wêreld te getuig!  Ons kan nie vir God op ons  eie probeer aanbid  nie - daarom is die kerk so belangrik vir gelowiges!

Jy het ander gelowiges nodig. Dit is soos die kole by ‘n braaivleisvuur. As jy een kooltjie alleen eenkant toe skuif, gaan hy gou  dood. Die ander kole wat bymekaar is bly baie lank saam warm en saam kan hulle die vleis gaarmaak.  Saam is ons ons beter is die titel van Rick Warren se Veertig Dae(Deel 2). Ons is eenvoudig nie gemaak om God alleen te dien nie. Die wêreld het die gesamentlike getuienis van gelowiges nodig.   In Joh 13:35 verklaar Jesus dat die grootste getuienis van gelowiges teenoor die wêreld  geleë is in hulle openlike liefde wat hulle vir mekaar het!  ’n Lewe voor God is dus ook ’n lewe saam met ander gelowiges.

’n Coram Deo lewe is ’n lewe waar gelowiges mekaar se hande vashou, dit styf vashou en mekaar nie los nie.  Omdat hierdie gemeenskap van gelowiges so ontsettend belangrik is, is dit vanselfsprekend dat Satan dit gaan probeer breek, dat hy alles in sy vermoë gaan doen om die eenheid tussen Jesus se volgelinge te verbreek.

Die gebeure die week op kerklike front het my baie diep geraak!! Hoe is dit moontlik dat broers en susters van dieselfde Christelike familie, getuienis en belydenis – dit kan waag om ‘n ander se hand te laat los of toelaat dat jou hand deur die ander gelos word.  In so proses is daar net een oorwinnaar en dit is die vyand van Christus! Ons gaan sukkel om as familie elkeen alleen voor God te probeer wandel. Broers en susters wat teen mekaar sondig en wat mekaar soms seermaak, het een troos. Hulle is familie en hulle weet:  waar bloed nie kan loop nie, daar kruip dit. Ja, bloed is dikker as water. Die bloed van Jesus Christus bind sy familie aan mekaar.  Dit behoort  dikker as wêreldse bande en verskille soos kleur en tradisie te wees !

’n Coram Deo lewe voor God kan nie gebeur as broers en susters van dieselfde familie mekaar los en alleen probeer leef nie. Ek bid vandag dat Christus se bloed sy familie se sonde onder mekaar en teenoor mekaar, sal skoonwas. Ek bid dat Christus se familie meer begrip en deernis met mekaar sal hê – dat die broers en susters van Jesus se familie na mekaar sal luister en dat hulle  in sy Naam mekaar nooit  sal los nie, maar dat sy gekruisigde hande genesing en eenheid sal bring – waar die wêreld om verdeeldheid skree!

Kom ons pleit by ons Hemelse Vader dat Hy sy kerk – die gemeenskap van die gelowiges, bymekaar sal bring – sodat die wêreld kan glo !!

Quintus 

2 responses so far

Sep 28 2008

Maak ons gebede regtig ‘n verskil?

“Ek dink ons mors God se tyd om so baie te bid.  Die Here weet mos wat ons behoeftes is , waarom nog bid?   Is die opmerking wat iemand op ‘’n keer teenoor my maak.

Of gebed enigsins ‘n verskil maak,  word dikwels uit verskillende oorde bevraagteken. Daar is selfs gelowiges en teoloë wat vrae het oor die nodigheid gebed.  As ons egter na die Bybel  luister is daar min twyfel oor die noodsaaklikheid en die doel van gebed.  Jakobus 5:17-18 verklaar dat die gelowige se gebed groot krag het, dan gebruik hy  Elia as voorbeeld. 

 Elia was ’n mens net soos ons. Hy het ernstig gebid dat dit nie moet reen nie en in die land het dit drie jaar en ses maande lank nie gereen nie. Toe het hy weer gebid en die hemel het reën gegee en die aarde het sy oes gelewer. “

So is daar nog baie voorbeelde in die Bybel : Deur gebed het die Here die leeus se bekke vir Daniël gesluit. Dit is deur gebed wat Amos die Here laat afsien het van sy plan om ’n springkaanplaag oor Israel te laat bring. Deur volhardende gebed het die Here in 1994 vir Suid-Afrika ’n vreedsame politieke oorgang gegee. Dit is egter nie  die bidders  wat groot krag gehad het nie. Hulle was slegs die instrumente van God in die wêreld. Die krag wat op aarde deur hulle gebede vrygestel is was van God afkomstig.

Gebed is die magtigste wapen wat God aan sy kinders gee. Dit is ’n kragtige instrument waardeur God vir sy kinders  alles wil gee wat hulle nodig het. Gebed  is soos ‘n ligskakelaar. As jy  ’n ligskakelaar aanskakel kom daar lig aan in ’n vertrek. Die krag om die lig te laat brand het egter nie van jou af gekom nie, dit het van Eskom gekom,  jy was slegs die skakel.   So is dit met gebed. As ek en jy bid, skakel ons die krag wat God reeds vir ons beskikbaar het ,in ons en ander se lewens aan. Jy bring nie lig na die vertrek nie , maar jy is die instrument wat die skakelaar moes aanskakel. Gebed is die instrument om die reeds bestaande krag na jou toe te laat vloei.  Gebed  bring die bidder met God se krag in verbinding .

Ons  gebede  maak dus ‘n integrale deel van God se raadsplan op aarde uit. In Openb. 8:1-6 word dit geíllustreer. Gelowiges se gebed moet eers gehoor word voordat die engele op die trompette kon blaas.  God het sy  plan met die wêreld  en ons gebede vorm ’n noodsaaklike deel van sy plan !  ‘n Mens op sy kniee is God in aksie !

Die Here belowe : “  die gebed van ’n gelowige het ’n kragtige uitwerking Glo jy dit ? …..

Quintus  

 

Die Heidelbergse Kategismus Sondag 45 vrae:

 Waarom is die gebed vir die Christene nodig?  Antw. Omdat dit die vernaamste deel van die dankbaarheid is wat God van ons eis . En omdat God sy genade en Heilige Gees alleen aan hulle wil gee wat Hom met hartlike versugting sonder ophou daarom bid en daarvoor dank

5 responses so far

Sep 21 2008

‘n Gebed vir ons land : Ben Marais

Published by Quintus under Gebede

Met die afgelope naweek se geskiedkundige gebeure in Suid-Afrika, is dit  met onsekerheid  dat baie gelowiges vandag wonder  oor,  die  toekomstige stabiliteit en vreedsaamheid  in ons land. Mense  is onseker oor wat op ons en op Suid-Afrika  wag ……… </