Argief

Druk
PDF

Geloofsgewoontes

on . Posted in Leesrooster - Argief

Die Leesrooster vir Lidmate het ’n rubriek oor geloofsgewoontes ontwikkel. Dit is gebaseer op die oortuiging dat ten minste sewe verskillende dissiplines geloofsgemeenskappe en gesinne help om geloof deel van hul daaglikse lewe te maak.

Bybellees en godsdiensoefening is deel hiervan. Die Bybeltekste belig, verduidelik, illustreer en roep van dié gewoontes op. Die luistersiklus maak praktiese integrasie van hierdie gewoontes moontlik, deur die metode van luisterende lees te beoefen. Die verskillende bewegings van die luistersiklus roep van die geloofsgewoontes na vore. Die geloofsgewoontes vorm nou ’n integrale deel van die siklus en pas, soos hierbo aangedui, gemaklik in by verskillende stasies. Hier volg ’n uiteensetting van die sewe geloofsgewoontes.
Die sewe geloofsgewoontes is:

Ons vertel stories

Hoe ons die gewoonte verstaan
Ons kyk na ons verhaal en help mekaar om die uniekheid daarvan te ontdek.
Wat dit wil doen
Ons wil die storie vertel wat die ‘Groot Storie’ in ons lewens losmaak. Die ‘Oer Storie’ besoek ons storie en maak dat ons ander gebeure onthou. Dit help ons om dele van ons storie te onthou wat ons andersins sou vergeet het. Dit help ons om ander dele van ons verhaal te onthou.
Hoe ons dit kan regkry
Die teksgedeelte plaas ’n terrein of ervaring op ons agenda. ’n Mens kan dan praat oor die tema en jou storie, byvoorbeeld:  “God se sorg in krisistye.”
Die vraag wat dit aan die teksgedeelte stel
Watter storie word hier vertel?  Wat kan mense doen om raakpunte tussen die storie en hulle eie storie te ontdek?

Ons droom saam

Hoe ons die gewoonte verstaan
Ons help mekaar in die gewoonte om duidelikheid te kry oor watter tipe mense ons wil wees.
Wat dit wil doen
Die Bybel vertel van ’n alternatiewe wêreld. As ons die Bybel lees, help dit ons om te sien hoe ons só ’n nuwe gemeenskap in ons situasie kan wees.
Hoe ons dit kan regkry
Die Bybelteks herinner ons aan ’n ander wêreld en daag ons uit om daar te kom kuier. Met dié gewoonte waag ons dit om in hierdie nuwe wêreld rond te snuffel en om ’n prentjie te begin teken oor hoe die alternatiewe wêreld lyk.
Ons begin sien hoe dinge anders kan wees. “As ons soos die gemeente in Handelinge wat ons het met vreugde sou deel … hoe sal dit lyk …” en “Hoe sal dit lyk as ons gasvry is teenoor mekaar?” Die profetiese gawe is hier aan die werk. ’n Mens gebruik jou verbeelding om die ánder werklikheid te begin sien. Dit beteken om doelbewus nie woorde te gebruik soos “dit kan nie”, “dit sal nooit nie” of “dit is onmoontlik.
Die vraag wat dit aan die teksgedeelte vra
Watter droom gee die teksgedeelte?  Hoe kan die tekste ons help om duidelikheid te kry oor watter tipe mense ons wil wees?

Ons gebruik simbole

Hoe ons die gewoonte verstaan
Ons help mekaar met die gewoonte om simbole te maak wat reg deur die jaar ons geloof in stand hou.
Wat dit wil doen
Ons kan nie glo sonder simbole nie. Geloof praat oor ’n wêreld wat ons nie net met woorde kan beskryf nie. Simbole help ons wanneer woorde nie kan nie.
Hoe ons dit kan regkry
Kerksimbole ontstaan oor duisende jare. Ons gebruik dus die bronne van die kerktradisie en maak dit eietyds. Dit help om te fokus op die tyd van die kerkjaar of die simbole wat in die teksgedeelte voorkom as ’n mens wil weet wat om te gebruik. Dit help dikwels met idees as ons die gewoontes binne die seisoen van die kerkjaar waarbinne die week val, plaas. In Advent is die Adventskrans een van die simbole, al staan dit nie in ’n enkele teksgedeelte nie. Vir die gewoonte is dit nodig dat ons die kunstenaar in elk van ons aanmoedig. Dit is die kunstenaar wat iets skep, of ’n simbool in iets sien van wat God aan die doen is in die wêreld (bv die amandeltakkie in Jer 17).
Die vraag wat dit aan die teksgedeelte vra
Na watter simbole en beelde word in die gedeelte verwys?  Hoe kan ons onsself meer met sulke simbole omring?

Ons vier fees

Hoe ons die gewoonte verstaan
Ons ontwikkel in die gewoonte feeste om ons geloof te vier.
Wat dit wil doen
Ons wil in die alledaagse lewe geleenthede en rituele skep waar ons die nuwe lewe wat in die teksgedeelte gevind word, leef en vier. Ons skep ‘heilige oomblikke en ruimtes’ waar ons iets van die nuwe lewe in Christus ‘oefen.’ Ons oefen dus om te lewe soos ons in die hemel gaan leef.
Hoe ons dit kan regkry
Ons dink aan geleenthede en datums in ons persoonlike en ons familie se geloofslewe. Ons ontwikkel maniere om daardie geleenthede in herinnering te roep en saam daaroor fees te vier, bv ons doopdatums.
Die vraag wat dit aan die teksgedeelte vra
Van watter feesvierings of rituele vertel die gedeeltes ons? Kan ons enige van dit nadoen, inoefen of opvoer?

Ons reik uit

Hoe ons die gewoonte verstaan
Ons moedig mekaar in die gewoonte aan om by mense in nood betrokke te raak.
Wat dit wil doen
Ons wil iets prakties doen om mense wat swaarkry te help en so ons roeping as gelowiges uitleef. Wanneer ons mense help, ontdek ons dikwels ook onreg in die samelewing en probeer dit aanspreek. Dit gaan in die gewoonte ook oor ’n houding van deernis en broosheid.
Hoe ons dit kan regkry
Die gewoonte gaan in die eerste plek oor die bou van verhoudings met mense. Die vraag is dus: Wie is die mense wat die gedeelte ons oproep om lief te hê en hoe kan ons dit met deernis aan hulle wys? Dikwels gee ons eie gebrokenheid en seer ons ’n aanduiding waar ons roeping lê.
Die vraag wat dit aan die teksgedeelte vra
Aan watter nood herinner die gedeeltes ons? Op watter manier kan ons by daardie spesifieke soort nood betrokke raak?

Ons maak tyd vir mekaar

Hoe ons die gewoonte verstaan
Ons help mekaar in die gewoonte om ons lewe in te rig aan die hand van ons geloofsprioriteite.
Wat dit wil doen
Die Bybel daag ons uit om te her-prioritiseer, dit wil sê om ons tyd, energie en middele anders aan te wend as tans. Ons word opgeroep om ’n konkrete verbintenis te maak.
Hoe ons dit kan regkry
Die teks vra inspraak in ons dagboeke, begrotings en horlosies. Dit vra of wat ons doen strook met wat ons sê ons glo. Die gewoonte wys ook dikwels na wat ons moet los om aandag aan ons prioriteite te gee. “Hierdie week maak ons tyd vir intreegebede. Besluit om tyd wat jy gewoonlik gebruik vir ’n bepaalde saak elke dag hierdie week eerder af te staan aan gebed.”
Die vraag wat dit aan die teksgedeelte vra
Watter lewensprioriteite wys die teksgedeelte uit?  Wat kan ons doen om ons lewens meer in lyn met ons geloofsprioriteite te kry?

Ons ontmoet God

Ons ontmoet God deur mekaar te help om die Bybel saam te lees en nuut te verstaan. Die gewoonte om die Bybel saam te lees, word uitgebrei in die Bybelstudie-rubriek.

AddThis Social Bookmark Button
Druk
PDF

Die inhoud van die Leesrooster

on . Posted in Leesrooster - Argief

Die Leesrooster kombineer/integreer drie belangrike lyne:
  1. Die kerklike jaar met die gepaardgaande simboliek;
  2. Die sewe geloofsgewoontes;
  3. Die verskillende stasies of fases van die luistersiklus.
3.1 Die Kerklike Jaar

Die RCL (Revised Common Lectionary) met sy fokus op die seisoene van die kerklike jaar vorm die basis en struktuur vir die Leesrooster. Ons lees die tekste saam met die RCL en volg die seisoene vanaf Advent tot Koninkrykstyd. Die Leesrooster-tekste (in aansluiting by die RCL) sluit tematies by die seisoene van die kerklike jaar aan en fasiliteer sodoende die vertelling van God se heilsplan. Aan die hand van die kerklike seisoene word die meester-verhaal van God se betrokkenheid by die mens en wêreld jaarliks vertel.

Die seisoene van die kerklike jaar sluit sinvol aan by die luistersiklus en word in die leeshulpe veral gebruik om die fokus op - en rus by God - te fasiliteer. Die tweede stasie van die luistersiklus is die ingaan in God se tyd. Die fokus is op God se eiesoortige tyd, soos verteenwoordig deur die seisoene van die kerklike jaar. God se tyd konfronteer ons met sy werklikheid binne ons geskiedenis. Soos reeds hierbo aangedui, is daar by elke dag ’n oefening vir stilword by God.

3.2 Luistersiklus

Die siklus bestaan uit drie bewegings met agt stasies. Die drie bewegings beklemtoon verskillende fases van die lees en luister proses.

Die eerste fase is dié van rus. Dit bestaan uit twee stasies: ingenooi deur God & ingaan in God se tyd, met die klem op voorbereiding om God te ontmoet.

Die tweede fase is dié van hoor, met die fokus op luister na die Woord, na mekaar en na die omgewing. Die tweede fase bestaan uit vier stasies: luister na God se Woord; luister na mekaar; luister na ander en die tye & luister weer na God se Woord.

Die derde fase is dié van leef, waarin dit gaan om die uitvoering van die Woord in antwoord op wat God vir jou bekend gemaak het. Die derde fase bestaan uit twee stasies: fokus op wat God nou doen & antwoord met ons lewe.

Die agt stasies van die luistersiklus is:

  • Stasie een - ingenooi deur God, beklemtoon dat God ons uitnooi om in sy teenwoordigheid te verkeer. Hier dink ons oor waarmee ons na God toe kom en wat ons van hom verlang.
  • Stasie twee - ingaan in God se tyd. Dit raak die seisoene van die kerklike jaar. Ons raak bewus van God se ruimte en wat dit nou vir ons beteken. Hier kan twee geloofsgewoontes ter sprake kom. “Ons gebruik simbole” wat help om ons geloof in stand te hou en “Ons vier fees” oor die geloof in God drie-enig en wat Hy in elke seisoen van homself aan ons openbaar.
  • Stasie drie - luister na God se Woord laat ons op die teks fokus en daarmee worstel. Dié stasie van die luistersiklus stem ooreen met die sewende geloofsgewoonte “Ons ontmoet God”, wat die Bybel saam met ander wil lees om dit nuut te verstaan.
  • Stasie vier - luister na mekaar. Ons wil hoor wat God vir ander deur die teks gegee het en dit as woord ontvang. Hierdie stasie bevat elemente van die geloofsgewoonte “Ons vertel stories” wat na ons verhaal kyk om mekaar te help om die uniekheid daarvan te ontdek.
  • Stasie vyf - luister na ander en die tye. Hiermee betrek ons diegene wat nie teenwoordig is nie en probeer dink hoe hulle die teks sou hoor. Die geloofsgewoonte “Ons vertel stories” is weer toepaslik. Nog ’n geloofsgewoonte, die van “Ons droom saam” is hier toepaslik. Ons wil mekaar help dink oor watter tipe mense ons wil wees.
  • Stasie ses - luister weer na God se Woord. Nou luister ons nuut na die teks en kyk weer na alle perspektiewe. Raak bewus van hoe die teks jou ruk of troos. Die geloofsgewoonte “Ons ontmoet God” is relevant.
  • Stasie sewe – wat God nou doen. Dink na oor moontlikhede wat God vir jou ontsluit het in die tyd met die luistersiklus. Dink na oor waar jy tans vir God sien werk en waartoe Hy jou roep om betrokke te raak en nuwe geleenthede te ontgin.
  • Stasie agt - antwoord met ons lewe. Ons dink nou aan konkrete moontlikhede oor hoe ons die genade wat God vir ons gegee het kan uitleef of aan ander gee. Hoe kan ons mekaar ondersteun? Op dié punt is drie geloofsgewoontes toepaslik. “Ons droom saam” om duidelikheid te kry oor watter tipe mens ons wil wees. “Ons reik uit” en besluit om by mense in nood betrokke te raak. “Ons maak tyd vir mekaar” en besluit om ons dagboeke, begrotings en horlosies in te stel met wat ons sê ons glo.
3.3 Waardes van die luisterseisoen

Die luistersiklus is gebaseer op die oortuiging dat ’n luisterende kerk volgens vier waardes leef: Leerbaarheid; Vertroue; Deernis; Openheid.

  • Leerbaarheid beklemtoon dat ons nooit alles wat God vir ons wil gee en leer, klaar ontvang en verstaan nie. Dié waarde wil ons aanmoedig tot ’n bereidheid om altyd weer na God te luister en sy Woord ernstig op te neem.
  • Vertroue beklemtoon die noodsaaklikheid van ’n ruimte waarbinne mense mekaar met integriteit kan ontmoet en teenoor mekaar oopmaak. Dit beklemtoon ook ons fundamentele houding teenoor God. Dié waarde wil ons aanmoedig om ’n geloofsgemeenskap van karakter te wees waarbinne mense die lewe met vertroue met mekaar kan deel.
  • Deernis beklemtoon God se onuitspreeklike barmhartigheid en selfprysgawe ter wille van ons. Dié waarde wil ’n lewensbenadering van ontfermende liefde, sorg en barmhartigheid teenoor ander aanmoedig.
  • Openheid beklemtoon die aanvaarding van en oopstelling teenoor ander mense. Dié waarde wil ons aanmoedig om onsself oop te stel vir ander mense en hul uniekheid, asook vir die nood van die breër wêreldgemeenskap. Die waarde van openheid sê dat daar rykdom is in verskeidenheid. Dit moedig ook ontvanklikheid van diversiteit aan.

Hierdie waardes vorm deel van ’n Bybelse wêreldbeeld. Dit vorm ook die basis van ’n Christelike lewenshouding wat help om karakter te ontwikkel. Wanneer die luistersiklus se metode van luisterende lees toegepas word, is dit belangrik om by die verskillende stasies na te dink oor hoe hierdie waardes ter sprake kan kom en waar jou eie karakter nog ontwikkel kan word. Waardes pas by die geloofsgewoonte “Ons droom saam”, waar ons mekaar help om duidelikheid te kry oor watter tipe mense ons wil wees. Die waarde van deernis pas byvoorbeeld by die geloofsgewoonte “Ons reik uit” met sy fokus op betrokkenheid by mense in nood.

Die belangrikheid van waardes in die ontwikkeling van gemeenskapsidentiteit word al hoe meer besef. Die Heartlines Massa Media Projek, wat ’n nasionale debat oor ’n menswaardige samelewing in Suid-Afrika wil stimuleer, gebruik hierdie waardes as uitgangspunt. Hierdie projek fokus op die agt waardes: aanvaarding, verantwoordelikheid, vergifnis, volharding, deernis, eerlikheid, selfbeheer en genade. Tans word die belangrikheid van waardes ook deur die International Transformation Network beklemtoon. Intussen ontwikkel Character Counts SA uitstekende materiaal en verskaf ook opleiding. In die luistersiklus se derde beweging, wat op leef fokus, moet ons ook hierdie breër debat in ons land onthou.

AddThis Social Bookmark Button
Druk
PDF

Veranderings aan die Leesrooster

on . Posted in Leesrooster - Argief

* Die Leesrooster vir Lidmate sluit by die NG Kerk se seisoen van luister aan. Dis ’n poging om lidmate te help om ’n metode van luisterende lees te ontwikkel.
* Die redaksie het lesers se terugvoer gebruik om die boek betekenisvol vir persoonlike en groepsgebruik te maak. Ons probeer doelbewus om ’n daaglikse leeshulp te ontwikkel wat ’n verdieping kan teweegbring in die omgang met God en sy Woord. Die onderskeie weke is aan 12 verskillende medewerkers toegeken, wat elkeen sy/haar eie styl het. Dit kan vir sommige mense steurend wees, maar ons glo dit bied afwisseling en vier die diversiteit in die kerk van Christus. Geniet dus elke medewerker se styl en poging om jou te bedien.
* Die Riglyne vir Kategese is weer deel van die Leesrooster vir Lidmate. Ons het wel by Sondag ’n aanpassing gemaak teenoor die vorige jaar. Op Sondae val die klem op stilword en fokus op God. Die riglyn vir kleingroepe of kategese word verskuif na die einde van die week se daaglikse riglyne. Ons dink die aanbieding is dan minder direktief. Mense wat nie vir groepe of kategese voorberei nie kan slegs die daaglikse riglyne gebruik. Bylaag 3 (Die Bybel in die kategese) en Bylaag 4 (Gereformeerde Belydenisskrifte) agter in die boek, kan met vrug in beide klein- en kategese groepe gebruik word.
* Die metode van luisterende lees is ’n belangrike benadering tot Bybellees. Beide groepe en individue kan dit gebruik. Die luistersiklus kan in elke situasie gebruik word, en volgens die situasie aangepas word.
* Die luistersiklus se metode van luisterende lees bied ’n model waarvolgens gelowiges verantwoordelik en gekonsentreerd met die Bybelteks besig is. Hopelik kweek dit ’n vaardigheid wat lesers help om langer met die Bybelteks self te werk en meer vrae te vra oor dieselfde teks.
* Die luistersiklus behandel elke week ’n ander teks. Dit fokus elke dag vanuit ’n ander hoek daarop. Dit ontwikkel die besef dat verskillende perspektiewe op die teks verskillende vrae ontlok, om uiteindelik verskillende insigte en antwoorde te bied. Bylaag 1 agter in die boek bevat ’n artikel oor die vraag hoe ons die Bybel kan lees sodat ons dit beter kan verstaan. Bylaag 3 is ’n artikel oor die Bybel se gebruik in kategese.
* Volgens ons terugvoer wil lesers meer tekste hanteer. Ons het dus plek-plek in die leeshulpe aangedui dat lesers ook die ander RCL-tekste (wat boaan ’n week se riglyne verskyn) kan lees. Ons moedig lesers aan om die ander tekste self te lees, al fokus die leeshulp op ’n spesifieke teks. Gebruik die RCL-tekste vir gebed en stilword aan die begin van ’n sessie, of Dinsdae vir die luister na mekaar as bykomende perspektief uit die Woord. Soms word dit so in die leeshulp aangedui.
* Stilword by en fokus op God is ’n belangrike deel van elke dag se oefening. Soms word die leser gehelp om hom/haar voor te berei op God se teenwoordigheid. Waar daar nie ’n riglyn is nie, kan lesers hul eie praktyke gebruik of ontwikkel. Ons maak maar net voorstelle. Wees gerus kreatief in hoe jy die oefening aanpak.
AddThis Social Bookmark Button
Druk
PDF

Die ontstaan en waardes van die Leesrooster

on . Posted in Leesrooster - Argief

Die Leesrooster-projek het in 1995 ontstaan toe ’n groepie leraars uit die VGK en NGK bymekaar gekom het om saam te werk aan ’n ‘handleiding’ wat lidmate kan help om die preek van Sondag uit te leef in die week. Dit was almal leraars wat besluit het om die teksrooster van die Revised Common Lectionary in hul prediking te volg.
Soos wat die projek uitgebrei - en meer mense belanggestel en saamgewerk het -het ons vir ons waardes geformuleer wat as riglyne kon dien vir die werk wat ons saam doen.
Ons gebruik die RCL (Revised Common Lectionary) omdat ons ons lidmate vastigheid wil gee; ’n vastigheid wat in die tradisie van die kerk en ekumene gewortel is. Lees gerus Bylaag 2 agter in die boek vir ’n stukkie geskiedenis oor die RCL.
* Die ontwikkeling van lidmate, predikante, kleingroepe en gemeentes moet gedien word in die:
- skryf / ontwikkelingsproses;
- die tipe boeke wat ons die lig laat sien;
- die boeke se pryse wat so laag moontlik gehou moet word.
- Daar is kopiereg op die konsep van die projek, maar nie op die boeke nie.
- Gemeentes mag kopieë maak vir hulle afkondigingsblad.
* Lees die Bybel binne die ritme van die Kerkjaar-seisoene.
* Hierdie is ’n diensprojek. Medewerkers word daarom nie vergoed vir hulle diens nie.
* Omdat die projek gerig is op bemagtiging van lidmate, predikante, kleingroepe en gemeentes is dit ’n informele proses wat nie formeel gekoppel is aan ’n kerklike kommissie nie.
* Ons doel met hierdie projek is om die vereniging van die NG Kerk, VG Kerk, RCA en NGKA te bevorder. Die Belydenis van Belhar vorm deel van ons belydenisgrondslag. Sien Bylaag 4 agter in die boek vir geskiedenis en raamwerke van die Gereformeerde Belydenisskrifte.
AddThis Social Bookmark Button
Druk
PDF

Leesrooster Preekriglyne

Geskryf deur Webmeester Communitas on . Posted in Leesrooster - Argief

Leesrooster Preekriglyne

Die Leesrooster bring die Bybel en die Seisoene van die Kerklike Jaar bymekaar. Met behulp van 'n spesifieke simbool word daar by elke week aangedui waar ons in die kerklike kalender is. Hierdie kalender herinner ons dwarsdeur die jaar aan die gebeure rondom Jesus, die uitstorting van die Heilige Gees en die uitbreiding van God se koninkryk. Ons begin daarom nie op 1 Januarie nie, maar vier Sondae voor Kersfees wanneer Advent, die tyd van verwagting, 'n aanvang neem. Die res van die kalender draai dan om drie feeste, naamlik Kersfees, Paasfees en Pinksterfees. Van almal is Paasfees die hoogtepunt, want dan herdenk en vier ons die opstanding van Christus uit die graf. Dit is vir ons só belangrik dat ons aan die begin van elke week op die Sondag die opstanding in die kleine vier.

Die preekriglyne van 1999-2009 word hieronder in twee kolomme, OT en NT, in Bybelboek volgorde gegee.  In die derde kolom is 'n hele aantal liturgieë.

Laai hier bykomende inligting af:

AddThis Social Bookmark Button

Alle kommentaar