'n Bril vir Bybel lees

Het jy al ’n Bril? Pas jy die Bril toe?
’n Bril vir Bybel lees, van Koosie Delport, het onlangs verskyn. Dr. Frits Gaum (NG leraar): “Hierdie beskeie boek is na my mening een van die insigrykste gidse vir Bybellees wat nog in Afrikaans verskyn het.” Dr. Marius Nel (AGS-pastoor): “Ek meen die waarde hiervan (Bril vir Bybel lees) vir gelowiges is groot, juis omdat dit ons leer om gefokus op die regte sake na die Bybelteks te gaan.” Waar kry ek ’n boek? Dis by sommige takke van die volgende boekwinkels beskikbaar: Exclusive Books, Wordsworth, PNA en Protea, of jy kan by Benedicboeke bestel. Die boek kan ook teen R100 per boek direk by die skrywer bestel word: Hierdie e-pos adres is teen spambotte beskerm, jy moet JavaSkrip op jou webblaaier ontsper om dit te kan sien of 083 659 0543. Jy kan kommentaar lewer en inligting kry op Facebook: ’n Bril vir Bybel lees.
Uitstekende Bril help met lees van Bybel
(Kerkbode 2 September 2011)
Resensent: dr. Frits Gaum
Hoe die Bybel vandag gelees en verstaan moet word, bly vir die meeste gelowiges ’n kwelvraag. Met hierdie uitstekende “bril” vir Bybellees, help Koosie Delport ons, om aan die hand van die boek Job, ’n besondere metode van Bybellees te ontwikkel.
Delport wys daarop dat Job dalk net so belangrik vir die Ou Testament is as Romeine vir die Nuwe Testament. Hy meen dat een van die redes hoekom Job – een van die oudste boeke in die Bybel – geskryf is, dalk juis is om ons te laat insien hoedat ’n mens Bybelse verhale (geskiedenis, profesie, openbaring, liedere ens) moet lees. Delport skryf dat die gesprek tussen Job en sy vriende, en die Here se gesprek met Job (“naas die vleeswording van die Seun van God is hierdie dalk die grootste selfopenbaring deur die Here in die Bybel”), duidelike riglyne gee van hoe ons die Bybel moet verklaar ... én hoe ons dit nie moet doen nie. Alles wat in die Bybel staan, kan nie vir soetkoek opgeëet word nie. In ’n stuk of 30 Bybelbladsye lewer Job se vriende deftige en driftige en oënskynlik “dogmaties-korrekte” betoë vir ’n soort oorsaak-gevolg-teologie, en dan trek die Here dik strepe deur alles wat hulle (in die Bybel!) gesê het. Hy is kwaad vir hulle, hulle het nie die waarheid oor God gepraat nie, hulle optrede was “dwaasheid” (Job 42:7-8).
Delport kom tot die gevolgtrekking dat die boek Job ons leer dat alles in die Bybel nie onveranderlike waarhede is nie, maar wel dat die hele Bybel, soos die boek Job, ons op verskillende en soms “teenstrydige” maniere wil onderrig oor wie God regtig is, wie die mens regtig is, wat regtig waarheid is en wat nie. Onthou altyd, skryf Delport, dat liefde die hoofboodskap van die Bybel is. “So moet die Bybel gelees word: met die bril van liefde.”
Hierdie beskeie boek is na my mening een van die insigrykste gidse vir Bybellees wat nog in Afrikaans verskyn het.
'N BRIL VIR BYBEL LEES ... EN VIR DIE LEWE
Resensent: dr. Marius Nel vir e-kerk (moet nog verskyn)
Pastoor, AGS Taberna Dei Moederkampus
Extraordinary Professor, School of Biblical Studies and Ancient Languages, North-West University, Potchefstroom
Die skrywer motiveer sy boek deur te vertel van 'n vriend wat met hom oor die Bybel kom gesels het: hoekom verstaan mense een en dieselfde boek so verskillend? Uit die Suid-Afrikaanse debat is dit duidelik dat sommige mense meen elke woord in die Bybel is goddelik geïnspireerd en daarom die absolute waarheid, terwyl ander meen die Bybel is mensewerk gebaseer op stories, waaraan jy jou nie hoef te steur nie.
Bevat die Bybel 'foute', soos teoloë dikwels beweer? Hoe gemaak met variante wat tussen verskillende manuskripte bestaan, sodat tekste verskillend vertaal kan word? En wat van twee vertellinge oor dieselfde gebeure wat op verskillende plekke in die Bybel voorkom, en soms drasties van mekaar verskil? Dink maar aan die beskrywing van Judas Iskariot se einde - op een plek word genoem dat hy homself opgehang het, en op 'n ander plek dat hy vooroor geval en oopgebars het.
Koosie meen dat elke mens die Bybel verskillend lees; dat elke mens 'n 'bril' gebruik wat bepaal wat raakgelees word en hoe dit geïnterpreteer word. Die 'bril' word deur eie voorkeur en insig bepaal, maar ook deur kulturele en sosiale omstandighede. Die belangrike vraag, sê Koosie, is of die Bybel nie self die beste bril verskaf wat jy kan gebruik om dit te lees nie.
Om te demonstreer wat hy bedoel, lees hy sorgvuldig deur die boek Job. In die proses kristalliseer die skrywer vrae wat hy meen belangrik is in die verstaan van die teks.
Hierdie vrae behels die volgende: Dis belangrik dat 'n mens vir jouself sal uitmaak hoekom die gedeelte in die Bybel staan. Wat sou die bedoeling van die Here wees om dit vir gelowiges op te laat teken, vra die gelowige.
Vervolgens wil jy weet: wat sê die gedeelte oor die Here? Wat leer jy hierin van die soewereiniteit, sorg en die regverdigheid van God?
'n Volgende vraag is: wat sê die gedeelte oor die gelowige, en oor ander mense? Gaan dit om mense se sondigheid, of die genade wat van hulle nuwe mense maak?
'n Laaste vraag is: wat teken die gedeelte oor liefde? Verwys dit na God se liefde, of na mense se liefde? Kleur dit die eis van liefde in?
Hierdie vier vrae help jou om gefokus, met die regte 'bril' die Skrifgedeelte te interpreteer. Dit sal jou help om raak te sien dat die Bybel oor God handel, en oor mense in hulle skoonheid as beeld van God en lelikheid as slawe van sonde.
Die skrywer erken dat beantwoording van sy vier vrae nie alle antwoorde verskaf op vrae wat mense aan die Bybel stel nie. Maar, meen hy, as jy die regte vrae stel, sal jy wel by die korrekte antwoorde uitkom.
Sy metodiek laat my dink aan Johannes Calvyn wat gewaarsku het daarteen dat gelowiges hulle besig hou daarmee om allerhande vrae aan die Bybelteks te stel waarvoor die teks geen antwoorde bied nie. Nee, sê hy met stelligheid, die Here het alles wat vir ons heil nodig is in die teks gegee en dit is duidelik. En vrae wat geen betrekking op ons heil het nie, het Hy nie noodwendig in die teks beantwoord nie omdat die Bybelteks nie ons nuuskierigheid wil bevredig nie, maar ons sieleheil wil dien.
Lees gerus hierdie boekie, wat nie veel van jou tyd gaan neem nie. En besluit self of jy saamstem. Ek meen die waarde hiervan vir gelowiges is groot, juis omdat dit ons leer om gefokus op die regte sake na die Bybelteks te gaan.
Vier Getuienisse
Prokureur 2:Die boekie laat mens inderdaad op 'n ander manier Bybel lees en verstaan. Ek het persoonlik baie daarby gebaat en wil dit graag aanbeveel vir almal wat erns daarmee maak om die Bybel beter te verstaan. Dit bevestig die soewereiniteit van God, wat met twee gelowiges verskillende paaie kan loop.
Opvoedkundige 1: Ek hou baie van jou op-die-man-af-benadering,sonder vele omhaal van woorde, maar duidelik, gestroop van onnodige tierlantyne en "mooiskrywery". Dit kom EG oor, weldeurdag/weldeurbid of -deurleef. Jy't werklik 'n gawe om 'n leser te boei.
Letterkundige:Ek het die bespreking en riglyne regtig insiggewend en interessant gevind, en leesbaar. By lg bedoel ek dis nie droog teologies en akademies nie, ten spyte van die voetnote en lys verwysings; lg. gee dit nogtans gravitas. Ek hou van die “stem”, van die toonaard, dis nugter en eerlik, maar intiem genoeg.
Dr.Dirk Hattingh, emeritus: Dit kan beskryf word as 'n noodsaaklike leesbril vir die verstaan van die boek Job, maar ook vir elke dag se lees van die Bybel. Dit is 'n uiters geslaagde studie om beter te verstaan wie God regtig is, wie die mens eintlik is, en veral hoe die mens oor sy medemens moet dink, veral as ons mekaar beoordeel en selfs troos. Hierdie boekie maak deure oop vir die bybelleser en die dominees wat moet preek maak. Net jammer dit het nie vyftig jaar gelede verskyn nie.
| < Vorige | Volgende > |
|---|




