Tradisies

Teologie

Dissiplines

Kontinente

Kontinente

AddThis Social Bookmark Button
Druk
PDF

Tussen Swart Vrydag en Advent

Geskryf deur Jannie Swart on . Posted in Tussenin - Kontinente

Meeste Suid-Afrikaners is waarskynlik bewus van die Amerikaners se Thanksgiving tradisie, maar ek is nie seker hoeveel mense weet dat Thanksgiving Donderdag gevolg word deur Black Friday nie.  Black Friday verteenwoordig die amptelike opening van die seisoen vir Kersfees inkopies en winkels bied spesiale winskopies aan vir die dag.  Gevolglik staan mense tou dwarsdeur die nag en vertrap hulle mekaar om betyds by die winskopies uit te kom wanneer die winkeldeure vroegoggend op Vrydag oopmaak.  Om dit sagkens te stel... dit is 'n verbruikeristiese kultuur in sy mees vulgere vorm. Die naam, Black Friday, het eintlik in die jare 60's in Philadelphia ontstaan om die ontwrigting van die besige verkeer op die dag na Thanksgiving te beskryf, maar later het dit die betekenis begin aanneem van besighede wat 'n wins maak (om "in die swart te wees").

Dit is ironies dat Swart Vrydag tussen Thanksgiving en die begin van die Adventseisoen val.  Dit is asof dit 'n bisarre teken is van hoe dankbaarheid gedefinieer word in 'n verbruikeristiese kultuur... dankbaarheid gedefinieer deur die selfbevrediging van kommoditeite wat onmiddellik beskikbaar moet wees.  Dit is asof Swart Vrydag letterlik in die pad staan van 'n dankbaarheid wat gedefinieer word deur 'n seisoen van afwagting op wat die Here gaan doen...  'n Treffende beskrywing van die dilemma en uitdaging kom uit die pen van Walter Brueggemann in sy 2007 artikel (in Journal for Preachers) oor Advent: Departure and Homecoming.   Hier is 'n aanhaling uit die begin paragrawe van die artikel:

AddThis Social Bookmark Button
Druk
PDF

Dankbaarheid en Verwagting

Geskryf deur Jannie Swart on . Posted in Tussenin - Kontinente

Dit is vandag "Thanksgiving Day" in Amerika.  Afgesien daarvan dat ek nou nie vreeslik mal is oor kalkoen nie, is dit nogeens 'n gesekulariseerde kommersialisering van 'n gebruik wat tradisioneel eeue gelede ontstaan het as 'n godsdienstige geleentheid van dankbaarheid vir die oorvloedige oes wat die Here voorsien.  En tog bring dit elke jaar die geleentheid vir gemeentes om die sekularisering en kommersialisering teen te werk met die manier waarop ons dit vier.  Hier in Oil City het ons gisteraand 'n gesamentlike (ekumeniese) erediens gehad wat deur al die kerke ondersteun is.  Ek het die geleentheid gehad om aan die hand van Habakkuk te preek.  Habakkuk se uiteindelike berusting in wat die Here in die toekoms gaan doen ten spyte daarvan dat dit mag beteken dat daar geen oes gaan wees nie het die ideale geleentheid geskep om te fokus op of ons die Here dien vir wie Hy is en of ons die Here dien vir Sy seeninge alleen.  Kan ons hom vertrou vir die toekoms ongeag die uitkoms daarvan of kan ons Hom net raaksien as die toekoms ontvou soos ons dit graag wil he?

Na die tyd vertel 'n vrou my dat sy nou al vir jare probeer om haar seun se toekoms te beheer en dat sy besef sy het 'n ondankbare mense geword a.g.v. haar neiging om God se toekoms vir Hom te probeer reel.  Ek het net weer besef dat die verband tussen dankbaarheid ("thankfulness") en verwagting ("anticipation") bitter moeilik is in 'n gesekulariseerde kultuur.  As jy ten diepste dink dat die toekoms die uitkoms is van menslike pogings, dan kan jy alleen dankbaar wees wanneer dit uitwerk soos jy dit beplan het, en dan pas die Here in die prentjie in as die een wat daai pogings geseen het (al dan nie).  So 'n wereldbeeld leef in die voortdurende spanning en angs dat die toekoms nie gaan gebeur soos beplan nie, en dankbaarheid (al dan nie) kan alleen geskied afhangende van hoe die uitkoms in die verlede of hede bepaal is.  Dit is die tragiese implikasie van 'n gesekulariseerde "buffered self" wat geen invloed verwag van buite die self nie (soos Charles Taylor dit beskryf in sy "The Secular Age").  Maar hoe lyk dankbaarheid as dit gewortel is in ons verwagting/antisipasie dat God op sy eie terme Sy toekoms tussen ons gaan voortbring ongeag of dit gaan lyk soos ons dit verkies of nie?  Iewers tussen Habakkuk 2 en 3 het Habakkuk klaarblyklik iets daarvan verstaan.

AddThis Social Bookmark Button
Druk
PDF

Gemeentes te midde van Armoede en Materialisme

Geskryf deur Jannie Swart on . Posted in Tussenin - Kontinente

Een van my Amerikaanse kollegas hier in Minnesota wou my graag voorstel aan 'n vriendin van hom wat oorweldig is deur die armoede wat sy in Khayelitsha en Langa ervaar het toe sy onlangs vir twee weke in die Kaap gaan kuier het.  Hy het my vooraf na haar blog verwys waar sy haar foto's geplaas en refleksies gedeel het terwyl sy daar was (kyk gerus daarna op http://owlrainfeathers.blogspot.com/2009_02_01_archive.html - van 20 Februarie en verder terug op haar blog).  Ons nooi hulle toe oor vir ete een aand verlede naweek, want ons laat ook nooit 'n geleentheid verby gaan om bobotie (met regte Kaapse blatjang!), geelrys-met-rosyntjies, en melktert vir poeding (wat nie van Nestle produkte gemaak is nie!) voor te sit aan mense wat dit nie ken nie (al is dit 'n gesukkel om die speserye hier te vind soos wat ons dit in die Oriental Plaza in Johannesburg kon koop, of om die kerrie te laat smaak soos dit in die Bo-Kaap smaak!).

Die gesprek was diep, fasinerend, en uiteindelik 'n teologiese besinning oor wat dit vir Christene beteken om vanuit bevoorregte omstandighede en te midde van 'n materialistiese kultuur in verhouding te leef met diegene wat minder bevoorreg is en in armoede leef.  Die worsteling in ons gesprek word goed opgesom in 'n preek wat my vriend se vriendin (haar naam is Tamie) gelewer het kort nadat sy teruggekom het uit Suid-Afrika.  Ek deel dit graag hier (al beteken dit 'n langer blog bydrae as gewoonlik), want dit help my om weer te dink oor wat ons in gemeentes doen in die verband.  Ek is veral getref deur die impak wat die mense van Khayelitsha en Langa op hierdie Amerikaanse vrou gemaak het met hulle gasvryheid, en veral die oenskynlike geluk wat hulle vind in 'n eenvoudige lewenstyl.  Ek het maar net weer besef dat om veel meer gaan as om bloot aan arm mense te dink as die objekte van ons welsynsprojekte, en hoe ons dikwels ons hulp aan ander as 'n verskoning gebruik om nie verhoudings te bou waarin ons ook 'n kans het om te verander nie.  Kan ons dalk stories deel van gewoontes en praktyke wat gemeentes in die verband kweek?

Hier is Tamie se preek:

AddThis Social Bookmark Button
Druk
PDF

Om saam te sit rondom 'n bier of 'n pakkie chips

Geskryf deur Jannie Swart on . Posted in Tussenin - Kontinente

Stereotipering op grond van velkleur of ras was weer 'n kern debat in die Amerikaanse nuus die afgelope paar weke nadat 'n baie bekende African-American professor in African-American geskiedenis, Henry Louis Gates, in sy eie huis vir "disorderly conduct" gearresteer is deur 'n blanke polisieman, Sersant James Crowley van die Cambridge Police Department (sien http://www.nytimes.com/2009/07/21/us/21gates.html?_r=1&scp=3&sq=henry%20louis%20gates&st=cse).  Daar is vinnig besluit om nie die saak teen die professor verder te voer nie, maar die debat oor rasse-stereotipering na aanleiding van die voorval het onmiddellik opgevlam.  Was dit 'n geval dat die polisiesersant, nadat hy na die professor se huis uitgeroep is o.g.v. 'n "wit" vrou (wat later blyk 'n Latino vrou te wees) se 911 oproep dat sy twee "swart" mans (wat later blyk sy nooit so geidentifiseer het in haar 911 oproep nie) sien inbreek het by die huis, nie wou glo dat dit die professor se eie huis kan wees nie omdat hy swart is (sien Stanley Fish se blogbydrae hieroor by http://fish.blogs.nytimes.com/2009/07/24/henry-louis-gates-deja-vu-all-over-again/#more-791)?  Of was dit dalk 'n geval dat die professor oorsensitief was en oorreageer het toe die polisieman maar net sy roetine pligte wou nakom om seker te maak van die professor se identiteit en dat dit inderdaad sy huis was?

President Obama het vinnig besef dat hy nie eintlik die debat help deur op 'n hoofnuus mediakonferensie die Cambridge Polisiedepartement te beskuldig van "acted stupidly" nie, en was vinnig om die volgende dag sy swak woordkeuse uit te wys toe die gort gaar word in die media.  Soos dit dikwels die afgelope jaar of wat sy gebruik was wanneer hy besef dat hy 'n fout gemaak het, het hy ook dadelik die telefoon opgetel en die Sersant gebel om persoonlik die saak reg te stel.  En toe die Sersant in die gesprek daarop sinspeel dat dit darem lekker sal wees om eendag oor te kom Withuis toe vir 'n bier, het president Obama vinnig die geleentheid aangegryp om 'n versoeningsgebaar te inisieer deur beide professor Gates en sersant Crowley oor te nooi sodat die drie van hulle saam 'n bier kan drink (om nie eens te vertel wat 'n debat dit afgegee het in die media oor watter soort bier nou eintlik gepaslik sou wees vir die geleentheid nie!).  Ons weet nie veel van die inhoud van gesprekke rondom bier in die Withuis se tuin nie, maar te oordeel na al drie se reaksies was dit inderdaad 'n versoeningsgesprek waaruit almal iets wil leer ter will van die toekoms.  Die professor en die sersant gaan selfs binnekort weer op eie inisiatief bymekaarkom om self verder konstruktief hieroor gesprek te voer.

Terselfdertyd is daar die afgelope week ook uit Suid-Afrika 'n berig oor 'n swart Suid-Afrikaanse professor wat dikwels in sy verlede onderworpe was aan rasse-stereotipering.  Maar die slag vertel dit 'n storie van hoe die professor onlangs op die kampus van die Universiteit van die Vrystaat 'n soortgelyk rol as president Obama probeer speel het.  Dit was net nie rondom biere nie, maar rondom 'n pakkie chips.  Professor Jonathan Jansen, visie-Kanselier van die Universiteit van die Vrystaat, het blykbaar self die storie vertel by 'n onlangse bekendstelling van sy outobiografie, Knowledge of My Blood: Confronting Race and the Apartheid Past (sien Lindy Mtongana se berig hieroor by http://www.sagoodnews.co.za/newsletter_archive/the_professors_teachers.html).  Hy vertel hoedat hy eendag op die kampus afkom op "twee depressiewe boerseuns" waar hulle besig is om te gesels terwyl hulle saam aan 'n pakkie chips eet.  Hy besluit toe net daar om tussen die twee te gaan sit en saam te eet aan hulle chips.  Lindy Mtongana vertel die res van die storie so mooi dat ek dit eerder in haar woorde wil oorvertel:  "From sharing their food the Professor then invited the boys to share their thoughts about what he, as their 'servant-leader', should do for them.  'They didn't say what most students say - bring the fees down and get better food in the koshuis. No, they simply said, without any anger, '"Please don't force us to integrate".  That statement hung in the air for a while, before Jansen added that it was a stark reminder of the fact that we are "a nation still deeply traumatised."'

Professor Jansen het blykbaar nie vertel wat sy reaksie hierop was nie, en nerens probeer hy maklike antwoorde gee om uiters gekompliseerde kulturele verskynsels soos hierdie te hanteer nie.  Hy worstel met die vraag, "why is it that Afrikaans children, who were but infants during the dying dies of Apartheid, hold the same pessimistic views about South Africa's future and are as bitter about the present, as their fathers and grandfathers?"  As iemand wat self die slagoffer was van rasse-stereotipering, probeer hy luister en verstaan, en probeer ny met eerlikheid begrip toon vir die angstigheid rondom transformasie.  Soos die slag toe hy deur 'n 17-jarige meisie by 'n Afrikaanse meisieskool gekonfronteer was.  Lindy vertel:  "As Dean of Education, he was once invited to address a meisies hoerskool Grade 10 camp. After relaying the story of the Good Samaritan as a way to teach the group a lesson on crossing bridges, one of the girls raised a hand and said, "Well Professor I agree with what you say about crossing borders and stuff. But tell me this, how do I cross bridges toward someone who looks like the people who almost killed my sister and me a few weeks ago in a violent car jacking?" The question was honest and brave and Jansen didn't know how to answer it. After much deliberation he finally answered her by telling them about a particular incident in his life. A young Jansen, 17 years old and already quite politicised, was walking to the shops when he was hit by a brick that came flying from the hands of a young white boy. He reacted by hitting the boy, whose father was an off-duty policeman. Jansen was thrown into the back of a police car and the boy's father repeatedly beat and humiliated him - a memory that clearly haunts him even today. "So you see," he tells the Grade 10 girl, "I too have this terrible knowledge of what happened to me, and all my life I have been struggling to cross this bridge toward people who look like you. And I must be honest it is very difficult. "And so all I can ask of you is that you try to cross the same bridge from the other side and maybe we will meet each other somewhere in the middle. For the sake of our country, we must at least try." This moment, said Jansen, and others like it - moments of honesty and sharing with young Afrikaans children who in the end were battling the same fears as he - had changed his life. "I am deeply aware of how my encounters with young Afrikaans children have helped to make me more human, more tolerant and to deal with my demons. I was transformed by my white kids and am eternally grateful to them."

Gemeentes behoort te verstaan wat president Obama en professor Jansen probeer doen het.  As gemeenskappe wat gereeld saam sit  rondom 'n beker wyn en 'n stukkie brood (ek wens baie keer dat dit in die NG Kerk meer gereeld kan wees!), behoort ons hierdie soort gesprekke rondom 'n bier en 'n pakkie chips te verstaan.  Gesprekke wat nie noodwendig maklike oplossings oplewer nie, maar gesprekke waarin begrip getoon kan word en respek kan ontwikkel.  Gesprekke waarin ons saam kan soek na maniere om ingewikkelde kwessies te hanteer.  As gemeenskappe wat leef van herinnering aan sovele Bybelse stories waar mense dikwels die opgestane Here kan herken wanneer hulle saam brood breek, sou 'n mens wou dink dat ons die bier- en chips-gesprekke in ons buurte en gemeenskappe wou opsoek.  Ek is seker daar is baie kragtige stories hieroor... ek hoop gemeentes vertel dit sodat dit ander kan inspireer soos president Obama en professor Jansen se versoeningsgebare.

AddThis Social Bookmark Button
Druk
PDF

Emerging Churches: Waardering en Vrae

Geskryf deur Jannie Swart on . Posted in Tussenin - Kontinente

Ek het die afgelope week 'n klompie blog bydraes gelewer oor die aanbiedings by laas naweek se American Society for Missiology byeenkoms in Chicago rondom die tema “Emerging Churches and Other New Christian Movements in North America: The Challenge to Missiology” (sien http://www.communitas.co.za/tussenin/ vir die bydraes oor vyf sulke aanbiedings).  In my laaste refleksie op die aanbiedings in geheel wil ek graag 'n paar waarderende opmerkings maak en 'n paar kritiese vrae vrae oor die verskyning van sg. emerging churches.  My opmerkings en vrae is beperk tot die spesifieke gestaltes van hierdie verskynsel soos dit by die ASM na vore gekom het, en ek is terdee bewus daarvan dat emerging churches 'n ryke verskeidenheid van vorme aanneem wat nie altyd oor dieselfde kam geskeer kan word met veralgemenings nie.  My opmerkings en vrae het betrekking op drie areas, nl. teologie, kultuur, en verhoudings:

Waarderende Opmerkings

· Teologies is daar 'n Christologiese ywer te bespeur vir die sentraliteit van Jesus, met 'n sensitiwiteit vir hoe die radikaliteit van Jesus afgewater en gekompromiteer is in die Christendom era, en daarom 'n fokus op die kweek van getroue navolgers van Jesus in nuwe kulturele gestaltes (veral die aanbiedings van Alan Hirsch en Jonathan Wilson-Hartgrove).  Terselfdertyd was daar ook 'n klem op die belangrikheid van 'n fundamenteel trinitariese raamwerk (missio Dei) waarbinne pneumatologie en eskatologie bepalend na vore tree vir 'n verstaan van die kerk se gestuurdheid in die wereld, en wat gevolglik die fokus meer skuif na geloofsgemeenskappe se gewoontes en praktyke van geloofsonderskeiding (veral die aanbiedings van Inagrace Dietterich en Sherry Maddock).  'n Mens sou selfs 'n spanning kon sien tussen die implikasies van hierdie twee beklemtonings (wat nie een van die aanbieders waarskynlik so bedoel of so verkies nie), en alhoewel daar waardering moet wees vir die wyse waarop albei hierdie teologiese benaderings vergestalting vind in gemeenskappe en nuwe gemeente-inisiatiewe, bring dit noodwendig kritiese vrae na vore rondom die kwessie van agentskap (sien hieronder).

· Kultureel gesproke bring hierdie nuwe soort bewegings definitief 'n varsheid en skerpheid in hoe die tekens van die tye gelees word, hoe daar erns gemaak word met kulturele skuiwe onder veral jonger generasies, en hoe kerk-wees beliggaam word in kreatiewe gestaltes wat tuistes skep vir mense wat lankal nie meer tuiskom in meer tradisionele vorme van kerk-wees nie (veral die aanbieding van Doug Pagitt).  Daar is in meeste gevalle ook 'n intensionele gerigtheid op breer gemeenskaps- en samelewingskwessies, en 'n sensitiwiteit vir die bou van netwerke in die breer gemeenskap met die bedoeling om vanuit die evangelie 'n bydrae saam met ander te lewer om hierdie kwessies te addresseer (veral die aanbiedings van Jonathan Wilson-Hartgrove en Sherry Maddock).  Dit lei wel tot belangrike vrae t.o.v. die verhouding evangelie en kultuur (sien hieronder).

· Verhoudings vind ‘n baie sterk klem in hierdie nuwe gemeenskapvormende inisiatiewe, veral in die bou van netwerke in die breer gemeenskap, die gebruik van sosiale netwerk tegnologie d.m.v. die internet, en ‘n fokus op persoonlike verhoudings en kleingroepe (bv. Doug Pagitt se bydrae oor "relational-set community organization"). Sherry Maddock stel dit treffend met haar klem op “one relationship at a time”: More than anything else, I think I now recognize after 10 years, that reality, God’s kingdom reality, and mission are built and based on relationship (met God, met ander in kerk en wereld, en met ‘n spesifieke plek). Soms klink dit ‘n bietjie meer geromantiseerd as ander kere, maar meestal is dit ingebed in die realiteit van die normale, alledaagse intriges van die lewe. Die interessante vraag in die verband is egter die aanname by sommige dat ‘n skuif na intersubjektiwiteit in die vorm van verhoudings en gemeenskap noodwendig ‘n skuif van modernisme na post-modernisme beteken (sien hieronder).

Kritiese Vrae

· Teologies sou daar ‘n konstruktiewe gesprek gevoer kon word oor die kwessie van agentskap. Wat ten diepste op die spel is, is nie soseer ‘n of-of keuse tussen God en mense se agentskap nie, maar of ons die subtiele en radikale verskil verstaan wanneer ons oor God dink as die primere agent wat alreeds voldoende teenwoordig en aktief besig is in die wereld (met geloofsgemeenskappe wat opgeneem word in daardie beweging en deelnemers word aan wat God alreeds buite ons bewerkstellig), en wanneer ons oor God dink as hoofsaaklik teenwoordig en aktief d.m.v. ons vermoens om Hom gehoorsaam te wees of ons aktivisme om Christus getrou na te volg. Dit verteenwoordig die verskil tussen ‘n blote navolgingsteologie (met gewoonlik ‘n Christomonistiese toon en ‘n gebrekkige trinitariese verstaan van God se teenwoordigheid en werk) wat fokus op imperatiewe van hoe om Christus beter na te volg, en ‘n missio Dei teologie (met die sending van God primer in verhouding tot die sending van die kerk) wat fokus op gewoontes en praktyke van geloofsonderskeiding om te onderskei waarmee God alreeds besig is en hoe ons deel daarvan kan word. Tydens die ASM konferensie was hierdie twee verskillende posture die beste geillustreer in die aanbiedings van onderskeidelik Alan Hirsch en Sherry Maddock. Die vraag is of emerging church verskynsels kan verhoed dat dit eintlik maar net moderne vorme van 19de eeuse liberalisme is (en die lesse leer wat die teologie van Karl Barth en die skuif in sendingparadigma sedert die Willingen konferensie in 1952 meegebring het), en of die missio Dei teoloee kan leer hoe hierdie soort teologie in radikaal anderse kontekste en kulturele gestaltes lyk as waaraan ons tot hiertoe gewoond was in die tradisionele gemeentevorme.

· Kultureel gesproke sou daar ‘n interessante gesprek kon wees oor die verhouding evangelie en kultuur. Wat ten diepste op die spel is, is nie soseer of die realisering van meer kontra-kulturele evangeliese impulse noodsaaklik is in ‘n spesifieke tyd en plek nie, maar of ons naief en geromantiseerd in statiese konsepte dink oor beide evangelie en kultuur. As lg. die geval is, dan kan dit maklik gebeur dat diegene wat tereg die Christendom vorme van kerkwees se kompromiee met dominante kultuurkragte uitwys dalk dink dat hulself hierdie soort probleem kan vryspring op een of ander manier, en dat die evangelie abstrak en konteksloos as reels of beginsels uitgelig kan word bokant die partikulariteit van kultuur.  So 'n verstaan, wat gewoonlik die aannames van sommige se bedoeling met "kontekstualisering" is (nl. dat die evangelie as tydlose beginsels beskou word wat bloot her-toegepas kan word in ander kulture), lei baie maklik tot die soort kolonialisering waaraan die Christelike kerk dikwels in die verlede skuldig was. ‘n Verstaan van die evangelie is immers nooit abstrak van ‘n spesifieke kulturele beliggaming daarvan nie. Trouens, een van die merkwaardige verskynsels van emerging churches is dat dit ruimtes skep vir 'n groter verskeidenheid van kulturele vergestalting van die evangelie. En dikwels neem dit die vorm aan van subkulture waar sekere mense makliker inpas as ander. Maar nie enige sodanige gestaltes sal ooit immuun wees van allerlei kulturele kragte wat telkens daarin slaag om geloofsgemeenskappe se fokus weg te skuif van God en ons lojaliteit aan God nie.  Wat is die gevare en uitdagings vir emerging churches vanuit die oogpunt van die verhouding evangelie en kultuur, en hoe kan die gesprek tussen meer tradisionale vorme van kerk-wees en nuwe kulturele verskynsels van kerk-wees by mekaar leer sonder die arrogansie van valse veroordelings en moreel verhewe posisionerings?

Verhoudings is tereg ‘n belangrike fokus, en daar is baie te leer by hoe emerging churches dit ernstig neem en nuwe kulturele gestaltes hiervan na vore bring. Daar is by sommige ‘n besliste skuif weg van subjektiwiteit (indiwidualisme) en 'n program-gedrewenheid na intersubjektiwiteit (gemeenskap) en 'n verhoudingsfokus. En dit sou ook reg wees om daarna te verwys as ‘n korreksie op die ongebreidelde indiwidualisme en drang na beheer wat met modernisme saamkom. Maar dit bring vrae na vore oor hoe mag funksioneer in sulke omstandighede (waaroor ek nie verder hier uitbrei nie), en dit is veral ‘n ope vraag of so ‘n skuif werklik post-modern genoem kan word. Filosowe (soos Charles Taylor) wat op hierdie soort vrae fokus wys daarop dat intersubjektiwiteit steeds maar nog met dieselfde modernistiese aannames kan werk, nl. ‘n plat wereld van optimisme in wat menslik moontlik is (in hierdie geval net wat mense-in-gemeenskap of mense-in-netwerke kan vermag) sonder ‘n openheid vir 'n transendente subjektiwiteit wat meer is as wat tot stand kom d.m.v. indiwidue en die somtotaal van indiwidue (Charles Taylor verwys na modernisme se "disenchanted world"). Hedendaagse filosowe (veral in fenomenologiese debatte uit die Franse filosofiese wereld) worstel met die postmoderne vraag as 'n vraag wat veral fokus op die transendente openheid tussen mense wat subjektiwiteit en intersubjektiwiteit oorskry.  En baie van hierdie debatte bring juis weer ‘n nuwe openheid vir teologiese vrae rondom God se teenwoordigheid en aktiwiteit tussen mense (waar God meer is as 'n idee in mense se gedagtes/ervaring of beginsel vir mense se aksies), asook die belangrikheid van 'n eskatologie wat afhanklik is van die inbreek van God se handelinge (eerder as 'n teleologie wat afhanklik is van die vooruitgang wat mense teweeg bring).  Postmodernisme verwerp nie alleen indiwidualisme en beheergedrewenheid t.w.v. gemeenskap en netwerke nie, maar ten diepste die totale mens-georienteerde projek (ook in vorme van intersubjektiwiteit) waarin daar geen plek meer is vir transendente subjektiwiteit wat menslike vermoens transendeer nie.  Hoe vermy emerging churches 'n romantisering van gemeenskap, en hoe kan ons by hierdie nuwe gestaltes van kerk-wees leer om geloofsonderskeiding-in-gemeenskap/netwerk met mekaar en ander uit te leef as maniere van ontdekking van God se teenwoordigheid en aktiwiteit wat selfs nuwe gestaltes van Christelike aktivisme oorskry?
AddThis Social Bookmark Button


priligy online

modafinilcheap cialishttp://brandcialiso.com/canadian pharmacyhttp http://propecian.com/ exposedcanadian pharmacy constipation sildenafil y dapoxetinelargest canadian online pharmacycanadian pharmacy