Druk
PDF

Verder Geluister: Levitikus 19:1-2; 15-18

Geskryf deur Julie Claasens on . Posted in Preekstudies - Verder geluister

23 Oktober 2011 ~ Agtiende Sondag in Koninkrykstyd ~ Levitikus 19:1-2; 15-18

Die gedeeltes wat die leesrooster aandui vir vandag, Levitikus 19:1-2, 15-18, kan gesien word as ‘n uitbreiding van die liefdesgebod wat in v 18 aan die orde gestel word: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.” Hierdie liefdesgebod sou baie jare later neerslag vind in Jesus se opsomming van die Wet wat as die “Groot Opdrag” bekend staan en liefde vir God en liefde vir die naaste omvat (Matt 22:36-39).

Hierdie opdrag word egter nie gegee in die wettiese sin van die woord nie, maar word ingebed in die heiligheidsraamwerk wat die teks in vv1-2 inlei. God se heiligheid vind neerslag in ons lewe en mond uit in die oproep om liefde teenoor mekaar uit te leef.

‘n Sentrale vraag wat verband hou met hierdie oproep tot naasteliefde is die vraag wat die Skrifgeleerde baie jare later vir Jesus sou vra: “So wie is my naaste?” (Luk 10:29). In Levitikus 19 word ‘n duidelike klem geplaas op liefde vir Israel se volksgenote. Hierdie klem om liefde aan jou mense te bewys, kan gevaarlik wees as dit uitmond in ‘n eng nasionalisme. Een voorbeeld uit ons geskiedenis is die baie suksesvolle Helpmekaarfonds wat deur Afrikaners gestig is om ander arm Afrikaners op te hef. Baie jongmense het met die hulp van hierdie beursfonds gaan studeer. Dit is egter ‘n vraag vandag of ons in ons land waar soveel verskillende groepe saamwoon nie ook deur die eng kategorieë van naasteliefde vir jou mede-groepslede kan breek nie – om ‘n nuwe vorm van die “helpmekaarfonds” oor grense van ras, taal en kultuur te laat werk . Iets hiervan word uitmuntend in die Gelykenis van die Barmhartige Samaritaan geïllustreer wat volg op die skrifgeleerde se vraag oor wie my naaste is (Luk 10:30-37).

Binne hierdie konteks is dit dan ‘n uitdaging om die res van die beginsels uit te leef wat in vv 15-18 aan die orde kom:

  • In ‘n konteks vandag waar haatspraak na alle kante toe die rasseverhoudinge in ons land versuur, is dit ‘n vraag hoe ons kan streef daarna om onsself nie te verlustig in die skinderpraatjies wat die media aan ons voorhou nie, en hoe ons kan probeer om nie haatdraend teenoor mekaar te wees nie (vv 16-17).
  • In ‘n konteks waar die gaping tussen ryk en arm al hoe groter word, is dit ‘n vraag hoe ons die woorde in v 15 om nie partydig te wees teenoor diegene met aansien of rykdom nie – iets wat uiteraard vir beide die wit sowel as die opkomende swart elite in die land geld – gaan uitleef? 
  • In ‘n konteks waar daar nog baie woede is oor apartheid, geweld, rassisme en seksisme, hoe weerstaan ‘n mens die tipies menslike geaardheid om wraak te soek of ‘n grief te koester teenoor mekaar? Hoe begrawe ons die strydbyl?

Levitikus 19:1-2, 15-18 daag ons in Suid-Afrika vandag uit om met die moeilike vraag te worstel: Wat gaan dit neem om ‘n nie-rassige samelewing te skep waar daar ruimte is vir almal? Die afgelope Algemene Sinode se besluit om die proses te begin om die Belydenis van Belhar aan te neem, is dalk ‘n hele paar stappe in die regte rigting.

Julie Claasens

Seisoen van Luister

Geen verdere Preekriglyne in argief.

AddThis Social Bookmark Button

Kommentaar  

 
#Sy Naam en Van is Skitterend AndersMartin Heyns2011-10-20 08:58
Julie Claasens help ons om tog nie met wettiese of moralistiese ore na die Here se Woorde in Levitikus 19 te luister nie. Sy sê die raamwerk van die Woorde sit in God se heiligheid en dat “God se heiligheid neerslag vind in ons lewe en uitmond in die oproep om liefde teenoor mekaar uit te leef.” In die gemeente se saamluister na Lev 19, hier in Lusaka, het ‘n beeld ons gehelp om iets meer van hierdie ‘uitdaging’, soos Julie dit noem, te lewe. God is heilig. Sy Naam en Van is dus Skitterend Anders [Douglas Lawrie]. Die ‘uitdaging’, as mens van ‘n uitdaging wil praat, is om te glo; te weet ons is uit God gebore en daarom kan ons nie ‘n ander naam en van hê as Skitterend Anders nie. Vanuit hierdie Familie [Skitterend Anders] leef ons ‘skitterend-anders’ --- soos Julie dit in haar bydrae prakties probeer uitspel.

Ons grootste gesukkel om of nie in moralisme of in passiwiteit [ongeërgdheid] na Lev 19 te luister nie, is die wete wie ons regtig is --- heilig! Skitterend-Anders is mos ons Familie-Naam. Hier pas Mary Oliver se poësie vir my in:


“You do not have to be good.
You do not have to walk on your knees for a hundred miles

through the desert,

repenting.
You only have to let

the soft animal of your body

love what it loves”.
Reply| Reply with quote | Quote
 

Lewer kommentaar


Sekuriteitskode
Verfris

Alle kommentaar