Verder Geluister: Eksodus 20
2 Oktober 2011~ Vyftiende Sondag in Koninkrykstyd ~ Verder geluister: Eksodus 20
- Die stuk wat Gerrit Engelbrecht in die Preekstudies oor ons teks uitgewerk het, is regtig baie goed en bruikbaar. Hy gee `n oorvloed van stof en insigte, sy oordeel is goed en sy voorstelle vir die prediking baie bruikbaar. Ek meen eintlik dat die meeste predikers in sy studie genoeg stimulering en materiaal vir die preek behoort te kry.
Ek maak `n paar verdere opmerkings: eerstens oor die huidige konteks en tweedens wat die inhoud van die teks betref. Dit vervang of korrigeer geensins Gerrit se opmerkings nie, maar is bloot aanvullend. - Dit is dalk nie `n slegte tyd nou om oor die gebodsdeel van die evangelie te preek nie. My indruk is dat ons by uitstek in `n tyd leef waar omtrent almal in die land wil doen wat hulle wil en hulle nie deur enigeen wil laat voorsê nie. `n Mens sien dit by jongmense aan beide kante van die rasselyn, maar ook by volwassenes. Dink maar aan die manier waarop korrupsie en bedrog seëvier en hoe mense hulle eenvoudig nie aan reëls en regulasies steur nie. Ons sien dit by gewone werkers, maar ook by politici (tot baie hoog op!) en selfs ook by geestelikes.
As ons nie iewers die bus gestop kry nie, voorspel dit groot moeilikheid vir ons land. Ons sal moet probeer om `n gesprek aan die gang te kry oor reg en verkeerd, oor respek vir ander mense en ander instansies en oor gesag en reëls. Die tien gebooie bied `n ideale raamwerk vir so `n gesprek. - Ek sou die volgende perspektiewe wou noem wat op een of ander manier in so `n gesprek gebruik sou kon word:
a] Die tien gebooie is `n baie spesiale dokument en besonder geskik vir `n gesprek soos hierdie. Christene en Jode sien dit as `n openbaringsdokument wat hulle help om God se wil en plan vir die lewe te verstaan. Maar verder is dit vir baie lank gesien as `n bykans universele regsdokument wat op baie plekke gebruik is as `n basis vir die burgerlike regspraak.
b] Om in beginsel negatief te wees oor reëls en gebooie is gewoon dom. Vir Israel was die wet nie `n las nie, maar `n stuk genade in hul lewe. Vir hulle was dit `n teken van hulle verkiesing en van God se liefde vir hulle. Ons maak `n fout as ons in die wet heel eerste die imperatiewe hoor, die moets en moenies. Die wet moet in die eerste plek noëties of inligtend gehoor word. Die Here sê vir Israel dinge oor hulself en oor die lewe wat hulle baie lank sou neem om self uit te dink. Op `n manier sou `n mens die wet ook kon noem: “tien geheime vir `n gelukkige of geseënde lewe”. Van Ruler noem die wet die “medium tussen openbaring en eksistensie” – wat beteken: as die genade en goedheid van die Here gestalte of vorm kry, lyk dit soos die wet.
c] As `n mens praat oor die beter samelewing val die fokus op die tweede tafel van die wet. Hoe ons dink oor die vyf groot sake van gesag, oor die lewe van ander, oor ander se goed, oor die huwelik en seksualiteit en oor die waarheid, bepaal die gehalte van `n samelewing. `n Mens sou in `n preek vinnig oor elkeen van die sake iets kon sê. Die preekstudie gee riglyne in die verband. `n Mens sou ook – na gelang van plaaslike omstandighede – een of twee van die gebooie kon uitlig en spesiaal daarop fokus. Terwyl die basiese gebod of verbod redelik duidelik is (ek herinner my aan Mark Twain wat gesê het dat die goed wat hom bekommerd maak in Bybel nie die goed is wat hy nie verstaan nie, maar dit wat hy baie goed verstaan!), is daar nuanses van die gebooie en hul toepassing wat langer beredeneer en bedink moet word. Dink maar aan van die moeilike seksuele vrae waarmee ons vandag sit.
d] Dit is tog belangrik dat ons sal verstaan dat agter die vyf gebooie dit ten diepste gaan oor respek vir al ons naastes en hul lewens. In die NT word `n nog sterker woord gebruik nl liefde! Dit is ook die argument wat Luther gemaak het in sy beroemde boek oor die Vryheid van `n Christenmens. Christene is op `n manier wel vry van menslike reëls en gebooie, maar ons is nooit vry van ons naaste nie. Die Here vra van ons dat ons sal omgee vir mekaar, uitkyk vir mekaar en alles sal doen om mekaar se belange te bevorder. Die Bybel verbied nie net negatiewe gedrag nie, maar roep ons op tot positiewe besorgdheid jeens mekaar.
e] Die tiende gebod sê dat dit alles verongeluk kan word as ons ons begeerte(s) nie kan beteuel nie. Dit is dikwels die plek waar sonde en verderf begin. Dit is die voedingsbron van ons Westerse verbruikersmentaliteit en materialisme. Daar is al hoe meer kenners wat vra wat ons kan doen om mense se begeerte en passies te transformeer en te “bekeer”. Dit help nie ons werk hard daaraan om mense se gedagtes, hul harte en selfs hulle gedrag te probeer verander, as ons nie ook aandag gee aan die beteueling van hulle begeertes nie. As ek komende Sondag moes preek, sou ek waarskynlik verder met die lyn gewerk het!
f] Die eerste vier gebooie sê vir ons dat ons waarskynlik nie ver gaan kom met gehoorsaamheid aan die tweede tafel van die wet as ons nie by die eerste tafel begin nie. Dit is in elk geval wat ons as Christene glo. Dit is eers as ons voor die Here buig en Hom alleen dien en eer, dat Hy ons vrymaak en deur sy Gees leer om ook ons naaste van harte lief te kry en te dien. Terwyl ons dit doen moet ons maar ook op die uitkyk wees vir subtiele maniere waarop ons diens aan die Here verongeluk kan word. Die ander afgode in ons lewe gaan ons probeer oorhaal dat ons nie die Here alleen hoef te dien nie (eerste gebod). Verder kan ons onsself maklik bluf deur klein verstellinkies (af-beeldings) en aanpassings te maak aan hoe die Here vra ons Hom moet dien (tweede gebod).
Van die foute wat die meeste gemaak word in ons dag is dat ons dink ons kan groei in ons geloof in die Here sonder oefening en dissipline. Dit is waaroor die belangrike vierde gebod gaan. Die sabbat vra van ons dat ons tyd en energie sal neem om aandag te gee aan ons geloof. Geloofsgroei is nie iets van vanself gebeur nie.
Hoop die paar perspektiewe kan iewers iemand help.
Coenie Burger
Seisoen van Luister Powerpoint
Drie preekriglyne in Argief:
Riglyn 1
| < Vorige | Volgende > |
|---|





Kommentaar
Hierdie Woorde van Hom is regtig die ware lewe [Ps 19]. Dis eenvoudig die beste! Want Hy is die Here, ons persoonlike God [Eks 20:2] wat regte vryheid [uit die slawerny uit] in en deur die lewende Thora-Woorde vir ons vasgemaak en gewaarborg het. En die uitnemendheid van hierdie vryheid is dat sy Thora-Woorde tegelyk sy belofte-woorde vir vryheid en ook die vervulling van die belofte-woorde vir ons vryheid is. Jesus het dit vir ons; in ons plek uitgeleef/vervul.
Die verrykende konsekwensie hiervan het my opnuut so teenoor HOM laat reageer: “Dankie dat U nie nou meer verwagtings van ons[my] het om hierdie Thora-Woorde van U uit te leef nie. U het dit dan in my plek volledig gedoen! U dwing/manipuleer my mos nie in U Woorde in nie, want U LIEFDE dwing nie; forseer nie; het nie ‘n VERWAGTING nie; laat my nie nou verantwoordelik word en voel nie. U wil my nie ‘n wettiese mens maak nie, wat my op myself aangewese laat word nie! U WAG hoogstens met U oop hart vol van onvoorwaardelike liefde vir my, sodat ek in die vryheid wat U deur U Woorde gewaarborg het, sal/kan leef. Dankie Here, U is regtig my hele lewe; die Alfa en die Omega. U is die HERE, my GOD. [Eks 20:2 en Ps 19]. Help my asseblief, so smeek ek dit van U, om elke oomblik in U vryheid vir my, te lewe. Ek bid dit in Jesus se Naam. Amen”
Groete
Martin Heyns
RSS feed for comments to this post