Begrafnispreke

AddThis Social Bookmark Button
Druk
PDF

Maandelikse Fokus

Geskryf deur Barend Vos on . Posted in Preekstudies - Begrafnispreke

Begrafnispreek

Verantwoording

Die Situasie Kobus was 24 jaar oud toe hy selfmoord gepleeg het deur homself in sy kamer by sy ouerhuis dood te skiet. Hy het geen brief nagelaat nie en sy ouers en die res van die familie, asook sy vriende, kon geen lig op die ellendige gebeure werp nie. Daar was geen vooraf aanduiding of aantoonbare aanleidende oorsaak nie. Soos dit maar met sulke tragedies is, was daar egter heelwat spekulasie – “die mense” het gepráát ...

Die Woord (Romeine 8:31-39)

Die laaste deel van Romeine 8 (Die triomf van Gods genade – W.D. Jonker, teenoor FF Bruce se The triumph of faith) is by die roudiens gelees en oordink. Natuurlik staan hierdie gedeelte in die nouste verband met die voorafgaande (die hoofstuk begin dan met die stellige verklaring: “Daar is dus nou geen veroordeling vir dié wat in Christus Jesus is nie.”) en veral die náklanke van verse 18-30 is goed hoorbaar (vgl.vers 18: “Ek is daarvan oortuig dat die lyding wat ons nou moet verduur ...”) Met sy retoriese vrae, skerp uitroepe en helder verklarings – laasgenoemde soms enkele woorde (“God self spreek hulle vry.”) en soms meer uitgesponne - en met die opwindende verklaring teen die einde, wat sekerlik bedoel is as ‘n soort samevatting van die lang argument, nog eens ‘n bevestiging van ‘n onwrikbare oortuiging, vorm hierdie nege verse ‘n allertroostende afsluiting van die argumente wat Paulus in die hoofstuk voer.

Dié Woord in dié situasie?

Die lig-polemiese trant in die prediking honoreer, reken ek, die inhoud van die teks – die troos, die triomf, die sekerheid te midde van die aanvegtinge van die groot onsekerhede: lewe en dood. Maar dié tipe aanslag probeer ook die buitengewone omstandighede in ag neem: die onbeskryflike trauma wat die geliefdes én die gemeente deurmaak – en beide se pogings om sin uit die gebeure te maak. Dit maak dié teks uitnemend geskik vir ‘n begrafnispreek wat in sulke omstandighede voorberei en gelewer moet word. Tot troos vir die familie en die gemeente, én vir die prediker.

Prediking

(Skriflesing)

Ja, wat is nou ons gevolgtrekking oor al hierdie dinge?

Al hierdie dinge?

Watter dinge?

Die ding dat Kobus homself met sy jaggeweer geskiet het? Die ding dat daar nie ‘n brief was nie, dat niemand kon sê – nie ‘n ma of ‘n pa, ‘n broer of suster of ‘n vriend of vriendin, niemand wat naby aan hom geleef het - wát tot hierdie tragedie aanleidng kon gee nie? Nee, hulle kon geen gevolgtrekkings maak nie. Nie dat hulle nodig gehad het om gevolgtrekkings te maak nie; daar was in hierdie afgelope klompie bitter dae oorgenoeg mense wat sulke gevolgtrekkings namens hulle gemaak het. Mense wat praat en spekuleer, wat hulle slim hou en oor die algemeen oor alles ingelig is, húlle maak die gevolgtrekkings ... Miskien is dit vandag, en hier, die aangewese tyd en plek om ons gevolgtrekkings vir onsself te hou, ons slim antwoorde vir eers op te skort. Ten minste moet ons net stilbly sodat ons - ons wat almal deur hierdie tragedie geraak is, en veral hierdie seer mense in die voorste banke - kan hoor hoe klink ‘n ander gevolgtrekking. Die een wat ons pas gelees het.

Paulus skryf mos in die voorafgaande gedeelte uitvoerig oor lyding: die lyding wat ons nou moet verduur, die verydeling, die verganklikheid. Die swakheid van mense wat in sulke omstandighede nie eens weet wat en hoe hulle behoort te bid nie. En op al hierdie groot, ellendige vraagstukke gee hy sy troos - veral skryf hy oor hoop, en oor God se Gees wat namens ons bid, en oor God wat sy kinders vryspreek.

En dán vra Paulus: Wat is nou ons gevolgtrekking oor al hierdie dinge? Sy antwoord is agt verse lank, ‘n antwoord wat begin met ‘n uitroep: God is vir ons, wie kan dan teen ons wees? As God - in al hierdie dinge - aan ons kant is, watter moontlikheid is daar dan dat iemand teen ons kan wees? Wie is gebore in staat om teen ons te wees? Wie sal dit waag?

Kyk, as Hy dan sy eie Seun laat kruisig het sodat óns sy seuns en dogters kon word, sodat ons die erfgename kan wees van sy oorvloedige genade; wie of wat sal ons daarvan kan ontneem?

Dit is Paulus se gevolgtrekking: Die genade wat God skenk, is genoeg. Genoeg om ‘n swaar kruis te dra. Dié genade sal ons aan die lewe hou, ook in hierdie bitter dae. Dit sal ons krag gee, ook in die tyd wat kom: Kobus se verjaarsdag, die eerste Kersfees, ál die dae wat ons kruis so ekstra swaar sal wees.

Dan roep Paulus weer uit:
Wie kan die uitverkorenes van God aankla? Wie kan ons veroordeel? As God ons dan vrygespreek het, wie op aarde, of wié in die hemel, watter mag of krag, kan dan wéér die boeke oopmaak en die skuld bereken en ‘n vonnis vel? Jesus het gesterf om hierdie skuld te betaal, Hy het die vonnis ontvang en die straf gedra. Méér nog: Hy het die dood oorwin; Hy leef. En Hy onthou vir ons – ons wat steeds met die sware kruis loop, een wat in hierdie dae so ekstra swaar is. Daarom praat Hy mooi - pleit Hy - vir ons by sy Vader, die God wat ons vryspreek. Dit is Paulus se gevolgtrekking: Die prys wat Jesus betaal het, was hóóg. Dit was genoeg vir gister en eergister en laasweek, en vir môre en oormôre en vir die dae wat kom. En dis genoeg vir vandag, hierdie swaar dag.

Ten slotte daag Paulus sy lesers uit:
Wie kan ons van die liefde van Christus skei?
En hy noem ‘n klomp ellendige dinge, moontlike skeidingmakers.
Sal lyding ‘n muur kan bou tussen my en Christus?
Sal benoudheid my kan weghou van Christus se liefde?
Of vervolging, honger of naaktheid, gevaar of swaard?
Sal ‘n skoot uit ‘n jaggeweer my afsny van Hom en sy liefde vir my?
Nee! sê Paulus, ‘n duisend maal néé!
Christus het al hierdie dinge baasgeraak; Hý is die oorwinnaar.
‘n Noodkreet, ‘n wanhoopsdaad, ‘n knal uit ‘n geweer het nie die laaste sê nie. Jesus het. Omdat Hy ons liefhet, is die laaste woord altyd Syne.

En vandag, op hierdie sware dag, is sy woord aan ons ‘n trooswoord. Daar sal nog baie sulke woorde wees in die dae wat vir julle en vir ons voorlê – liefdeswoorde. In ‘n wêreld en ‘n tyd waar harde woorde skynbaar seëvier, waar skimpe en stories onbeheers losgelaat word, kom God se Woord sag en vol ontferming na ons toe aan. Dalk met minder antwoorde as wat ons sou wou hê, maar met meer liefde en begrip as wat ons sou dink.

En nou? Wat is nou ons gevolgtrekking oor al hierdie dinge?
Watter dinge?
Die ding dat God vir ons is, dat Hy ons vryspreek.
Die ding dat Jesus die prys betaal het, dat Hy uit sy liefde vir ons die skeidingsmure afgebreek het.
Die ding dat Hy ons vandag en ál die dae, in ons smart en onbegrip, vashou.

Hiervan is ek oortuig, sê Paulus, en sê ons vandag: Geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping
of ‘n skoot uit ‘n jaggeweer
kan ons skei van die liefde van God nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here.

Barend Vos

AddThis Social Bookmark Button
Druk
PDF

Maandelikse fokus - begrafnispreek

on . Posted in Preekstudies - Begrafnispreke

VERANTWOORDING

Die situasie

Mev M., ‘n weduwee en moeder, was ongeveer 63 jaar oud toe sy aan komplikasies wat na ‘n operasie ingetree het, gesterf het. Die pastor was dit dus te wagte dat daar in die pastorale situasie hewige rousmart na vore sou kom, gesien die onverwagsheid van die sterfte en die relatiewe jong ouderdom van die oorledene. Al die “gewone” vrae het in die voorafgesprekke opgeduik: Hoekom? Hoekom nou? Hoekom sý? Hoekom óns?

Die Woord

Psalm 4 is gekies omdat hier – soos trouens in die meeste van die Bybelse psalms – sprake is van ‘n geloofsreis: Die skrywer - oftewel digter/bidder/sanger – gee aan sy aangesprokenes ‘n kriptiese geskiedenisles oor sy ondervindinge met die Here in tye van nood en ontsteltenis. Tussendeur spreek hy die Bron van sy troos direk aan, al is dit bloot om Hom daaraan te herinner dat Hy nog altyd ‘n luisterende oor en ‘n wonderwerkende hand gebied het. Só hoor die eerste luisteraars, en die lateres, wát die genadige, troostende gevolg is wanneer die Here “hoor as ek na Hom roep” , “dit weer met ons goed laat gaan”, “(my) laat ... veilig woon”.

Dié Woord in dié situasie?

Dit ís so dat die Psalmboek nie ‘n preekbundel is nie; eerder ‘n gebedeboek, of dan ‘n liederebundel. Dit maak dit dus uiters geskik om tydens ‘n begrafnisdiens te lees, as daar van die veronderstelling uitgegaan word dat bedroefdes geen begeerte het om be-preek te word nie, eerder begryp, en dus getroos. Die aangewese modus waarin die prediking dus aangebied behoort te word is dié van solidariteit - ‘n vereenselwiging van die prediker met die bedroefdes. Daar is weinig Skrifgedeeltes wat hulle beter daartoe leen as die Psalms.

Preek

“Ek hou van die Psalms. Dit is vir my goed om te lees dat daar baie lank gelede ook mense was wat gesukkel het met hulle geloof, mense wat gesukkel het met God se doen en late in hulle lewens. Kortom: mense wat getwyfel het wanneer dit met hulle sleg gegaan het, en nie bang was om te vra nie: Hoekom, Here?

“En hierdie hakkelende digters, twyfelende bidders, stamelende sangers, gaan skryf dit toe alles neer. Of: hulle skreeu so hard of sug so aanhoudend dat ander mense dit neergeskryf het. En tot vandag toe lees ons van hierdie geloofsworsteling. In die Bybel, van alle boeke. Ja, die Boek van die geloofskampioene, die helde van die kruis, het hier - reg in die middel – ‘n plek waar ons lees van ... mense soos ons. Dít is hoekom ek van die Psalms hou.

“Juis op ‘n dag soos vandag. Hier is dan soveel seer, soveel stukkendheid in dié kerkgebou, veral by julle hier in die voorste banke. Soveel onbegrip en onvrede, ook op die kansel, dat ek my dit nie kan voorstel dat ons nou uit iets anders kan lees as die Bybel se Psalmboek nie. Luister:

(Skriflesing volg)

“Onbesorg gaan lê. Dadelik aan die slaap raak. Die wete dat dit die Here alleen is wat jou veilig laat woon. Só sluit ons Psalm af. Maar ... hoe kom ‘n mens dáár? Is ek verkeerd as ek vanoggend reken dat ons nog ‘n bitter ver ent het om te gaan voordat ons sal kan sê: onbesorg; dadelik aan die slaap raak. Of: Dankie, Here, dat dit U is wat my veilig laat woon? Weer: Hoe kom ons daar? En: Sal ons dit kan maak? Vanaand nog? Hoegenaamd? Ooit?

“Dit lyk asof die man wat hier skryf heelwat ondervinding het van die soort swaarkry en seerkry wat ons ook vandag hier byeengebring het. Luister hoe hy sommer reg aan die begin soebat dat die Here hom moet hoor: Antwoord my! Wees my genadig! Hoor my gebed!

“En dan doen hy ‘n baie interessante – eintlik besonder dapper – ding; iets wat ons in baie van die Bybel se psalms sal teëkom: hy sê die Here moet asseblief onthou dat Hy (hierdie Here) al vantevore gehelp het. Here, onthou ons loop al ‘n lang paadjie saam, ons het ‘n geskiedenis met mekaar. U hét mos al gehelp! U hét my al soveel vreugde laat belewe.

“Dan, asof hy nuwe moed gekry het noudat hy dit so pront gesê het, loop hy die kwaadpraters ook sommer trompop. Moenie die Here onderskat nie! waarsku hy hulle. Besef tog Wie Hy is: die Wonderwerkende Verbondsgod. Bring dus julle offers; vertrou op Hom!

“En só, so tipies menslik, praat hy homself kalm. Woed hy hom uit. Raak hy opnuut daarvan oortuig dat die Here wat altyd dáár vir hom was, hom nooit as te nimmer sal vergeet nie. Vind hy oplaas rus in die wete dat die Here-van-altyd steeds die Here-van-vandag is. Nou kan hy maar ophou wonder, kan hy in vrede gaan lê, oorgegee aan die Een wat hom nooit sal los nie, wat hom sal oppas. Rustig in die wete dat hy in die hande is van die Bewaarder van Israel wat nie insluimer of slaap nie. Só is dit nou met hom, hierdie bidder.

“Die vraag bly nou: Help hy ons? Hierdie man wat nou so rustig geword het – kán ons, die onrustiges op hierdie dag, iets by hom leer?

Miskien tog.

“Kyk, daar is die kwessie van die adres. Dit is baie duidelik dat hy nie in die lug in roep nie, hy skreeu nie sommer die niet in nie. Hy roep uit die staanspoor “O God!” Hy weet dus, van die begin af, daar is vir hom ‘n plek waar hy kan gaan aanklop. En dan nie noodwendig ‘n sagte, hoflike kloppie nie, o nee: hy val as’t ware met die deur in die huis.

“En dit is maar reg so. Te meer nog vir mense soos ons: kinders van die Nuwe Testament. Ons ken hierdie God as die Vader van Jesus Christus. Wanneer ons met Hom praat, noem ons Hom: ‘Ons Vader’. Ag, en dit is nie regtig nodig om te skreeu nie (ons mág maar; Hy sal nie skrik nie. ‘n Pa skrik mos nie vir sy kinders nie!). Die feit van die saak is dat die Gees van God, Hy wat by ons bly, selfs ons sugte hoor en dit voor die Vader bring.

“Skreeu dus maar, dit is reg só. Maar as jy vandag hier in die voorste banke sit en net saggies sug – God hoor. En soos die destydse psalmdigter weet ons ook dat ons nie ‘n hele optog hoef aan te pak om by ‘ons Vader’ uit te kom nie. Hy is nie daar vér nie. Om te praat van “die man daarbo” is doodgewoon foutief. Deur sy Gees woon Hy by ons in. Sy adres is dus welbekend.

“Dan kan ons ook maar ‘n verdere les by die digter van Psalm 4 leer: sy troosbaarheid. Hy wil gehelp word. Hy soek ernstig na perspektief op sy omstandighede. Keer op keer herinner hy die mense wat na hom luister, en dus homself, aan die genadige ingryping van God. Luister: toe ek in die nood was; as jy ontsteld raak; as jy vra wié sal dit weer met ons goed laat gaan ... is die antwoord keer op keer dieselfde: Daar is ‘n Here. Hy hét mos in die verlede. Hy sal weer.

“Uiteindelik is dít dus hoe hierdie bidder by sy laaste vers uitkom; dít is hoe hy, nou onbesorg, in die bed kruip. Tog heel eenvoudig, nie waar nie? Hy weet by Wie om te gaan huil, en dan eien hy die troos wat na hom toe kom vir homself toe. Eers: Hier is ek, Here, met my trane, my vrese, my ontsteltenis. Dan: Dankie dat U my gehoor en gesien het, en ‘n plan gemaak het. Ek weet dit nou.

“Miskien is dit die vernaamste rede hoekom ek van die Psalms hou: Of die digters/bidders/sangers opkyk na die berge, of diep in hulle eie harte kyk, gil of fluister, roerend weeklaag of saggies sug, uit volle bors sing of bloot hartseer neurie, daar is ‘n God wat hoor. Dit kan ek maar glo.”*

** En as dit – hierdie stokou psalm - vir ons vandag op die pad na vrede help, dink net vir ‘n oomblik watter verdere implikasies dit het vir mense soos ons. Ons wat nou, 2000 jaar na Christus, soveel meer weet as wat die destydse digter kon vermoed. Luister, byvoorbeeld, Nuwe Testamentiese volgelinge van Jesus Christus, vir oulaas na die laaste vers:

Lees weer vers 9

Onbesorg gaan lê. Dadelik aan die slaap raak. Die wete dat dit die Here alleen is wat jou veilig laat woon. O, die fenomenale wete dat daar ‘n Jesus was wat toe nié bly lê het nie. Hy het opgestaan; Hy het waarlik opgestaan! Is dít nie die allertroostendste rede om tot te kom nie? Die Here het opgestaan, en jy sal ook!

* Na my oordeel behoort die preek hier te eindig.

** Sommige predikers sal straks gemakliker voel met ‘n laaste paragraaf, wat só kan lui:

Barend Vos

AddThis Social Bookmark Button


priligy online

modafinilCialischeap cialishttp://brandcialiso.com/canadian pharmacyhttp http://propecian.com/ exposedcanadian pharmacy constipation sildenafil y dapoxetinelargest canadian online pharmacycanadian pharmacyCialis