Onafhanklikheid regdeur Afrika het nie naastenby dieselfde ekonomiese transformasie soos in Asië gebring nie. In die meeste gevalle het dit ekonomiese ongelykhede, soos wat dit in die koloniale tyd aanwesig was, verskans en eintlik verder verdiep. Die swart elite het gewoon die koloniale elite vervang. Die een het maar net vir die ander plek gemaak - maar uitbuiting van die swart massas, asook Afrika se ryk hulpbronne soos goud, koper, yster, olie, hout, koffie, ens. het voortgegaan.
50 jaar na onafhanklikheid het Afrika ver op die ontwikkelingskaal geval, en kundiges verwys na ons as die “Bottom Billion” wat alleenlik uit hierdie donker gat, wat ons vir onsself gegrawe het, gaan uitkom met die hulp van die res van die wêreld.
Wat het verkeerd gegaan?
Wel, sonder huiwering kan ‘n mens sê dit het te doen met wanbestuur en uitbuiting deur Afrika se politieke elite vanuit die sterk en feitlik onaantasbare posisies waarin hulle hul bevind. Die Wêreldbank asook die IMF se stastitieke wys jaarliks daarop dat sub-Sahara Afrika se lewenstandaard val – dat die armes armer word!