Verder geluister

Preekbeplanning

Aktueel

Inligting

PREEKSTUDIES - Blog

AddThis Social Bookmark Button
Druk
PDF

Verder Geluister: Rom 8:12-17 ~ Pinkster is ʼn Tuin of ʼn tronk

Geskryf deur Jurgens Hendriks on . Posted in Preekstudies - Verder geluister

19 Mei 2013 ~ Pinksterfees ~ Rom 8:12-17 ~ PINKSTER is ʼn TUIN of ʼn TRONK

Pinkster is die hoogtepunt van Paasfees, die afronding van God se koms na ons, die rolspel van die wederkoms!

Romeine 8 in die Leesrooster se eksegese is uitstekend. Jy lees daar hoe Paulus die triomf van die evangelie uitjubel. Hoofstuk 8 is vol juigkrete oor die implikasies van wat God in Christus gedoen het. Die dans van die Triniteit is so ooglopend verruklik: die Vader se trou, die vervulling van die verbond, die Seun se offer en die Gees van Christus se voltooiing van die versoening en die bevryding uit die mag van die dood. Let op, hierdie temas vind jy oral in die Bybel. Die eerste verduideliking daarvan is in Genesis.

Dit gaan om die keuse waar jy wil lewe: tuin of tronk. Gaan jy aanvaar wat God gratis gee? Verstaan jy dat genade nie los van gehoorsaamheid is nie maar ook dat gehoorsaamheid nooit los is van die Pinksterwonder, van die werk van die Gees nie?

Dink oor die twee stories in die leesrooster oor twee gebroke mense se ervaring in twee eredienste. Daar sal in elke gemeenskap in SA en in die hele wêreld dergelike voorbeelde wees.

Nou hier is die punt: God gee vir ons ʼn skepping, die aarde en alles daarop ... Hy seën ons. Hy sê vir Abraham die doel van sy roeping en reis is om ʼn seën te wees ... Hy gee vir sy nageslag ʼn land sodat hulle tot ʼn seën kan wees. Hy gee vir ons sy Seun en die Vader en die Seun gee vir ons die Gees ... om ʼn seën te wees. Dis Pinkster sodat ons ʼn seën kan wees vir die wêreld. Hoe jy die seën uitleef, kan met baie Skrifgedeeltes verduidelik word - Matt 28:16-20 is ʼn gewilde een. Maar, let tog op dat dit om publieke teologie gaan, die Pinksterseën moet elke duimbreedte van die lewe verander en verryk!

Pinkster is soos Rom 8 dit hier uitjubel ʼn bevrydingsfees. Wie ʼn seën word, ontdek sy ware erfenis en as jy dit besef, kyk jy na God en roep oorstelp “Pappa!”

Die onbegryplike is dat ons die seëning vir onsself vat en dit nie wil weggee nie (kyk hoe goed het Moses dit in Deut 8 verduidelik). Dis wat Gen 3 verduidelik. Adam en Eva se tuin word ʼn tronk. Hulle sê nie “Pappa!” toe hulle God sien nie, hulle is net vol verwyte oor wie se skuld dit nou eintlik is. Kindskap se geheim is weggee, jouself gee, omgee, die dronkie gaan help. Pinkster is om in die krag van die Gees ʼn seën te wees, jouself te gaan weggee in navolging van Christus.

Rom 8:9 gee Paulus se verduideliking van Adam en Eva se foutjie. Hy noem dit ons sondige natuur. Ons sondige natuur is al daai mure wat ons om onsself bou om ons teen die wêreld te beskerm, dis alles wat verhoed dat ons tot ʼn seën kan wees (Sag 2:1-13 verduidelik dit ook). Soos met apartheid. Soos om mense wat anders as ons gerat is in hulle seksualiteit of kleur, of geloof, of wat ook al te vermy. Die ANC is fluks op dieselfde pad. Die President bou vir hom sy eie tuintjie, Nkandla.

Pinksterfees is die getuienis wat kan gebeur as die Gees van God uitgestort word en ons vrymaak van ons selfsug sodat ons die oneindig groter erfenis van die Koninkryk van God kan ontdek. Dis eers dan dat jy jou Vader kan sien en oorstelp “Pappa!” vol verbystering en vreugde roep.
 
Jurgens Hendriks

Preekriglyn in Argief: Geen riglyn in Argief

Seisoen van Luister Powerpoint: http://www.seisoenvanluister.co.za/produkte/powerpoint-en-word/kerkjaar-volgorde/kerkjaar-2012-13/files-download/757_8587c0394dd85b57aa1316fe387f0319

AddThis Social Bookmark Button
Druk
PDF

Verder gelsuiter: Openbaring 22:16 ~ Ons wag op die môre

Geskryf deur Christina Landman on . Posted in Preekstudies - Verder geluister

Sondag 12 Mei 2013 ~ Sewende Sondag van Paastyd: Ons wag op die Môrester ~ Openbaring 22:16

 Ek het eendag ‘n slegte boek gelees. Dit was ‘n slegte boek, gewoon omdat dit sleg geskryf was. Eintlik het ‘n mens gewonder waarom die boek ooit gepubliseer is. Maar toe spring daar skielik ‘n pragtige storie uit die boek. Die storie was so mooi, dat nie eers ‘n slegte skrywer ‘n gemors daarvan kon maak nie. Dit was ‘n storie, ‘n ware verhaal, van ‘n vrou wie se man ‘n bywoner was, en ook nie eintlik ‘n goeie een nie. So het hulle maar van plaas tot plaas aangetrek, tot hulle maar weer weggejaag is. En elke keer moes sy maar weer vir hulle ‘n nuwe tuiste skep tussen watter vier mure ookal vir hulle gegee is.

Maar elke keer, waar sy ookal was, het die vrou haar bed getrek sodat sy die môrester kon sien opkom. Dit is wat haar aan die lewe gehou het. Dit is wat haar laat opstaan het. Dit is wat haar woordeloos deur die dag gekry het. Die koms van die môrester.

Sy het so min beheer oor haar lot gehad. Maar elke dag het sy saam met die môrester opgestaan. Niemand kon dit van haar wegvat nie.

En hier in Johannes se laaste, grootse visioen, noem Christus homself die Môrester. “Ek is die helder Môrester” (Openbaring 22:16).

‘n Mens sou hier iets kon sê oor Jesus se “Ek is…”-uitsprake in die Bybel. Dis veral Johannes wat ons daarvan vertel. In die Evangelie van Johannes sê Jesus sewe keer: Ek is… Ek is die brood wat lewe gee. Ek is die lig vir die wêreld. Ek die ingang, die goeie herder, die opstanding en die lewe, die weg en die waarheid, die ware wingerdstok. En dis elke keer wanneer Jesus in uiters moeilike omstandighede is, wanneer sy lewe en sy leer bedreig word, dat hy sê: Ek is… En homself name gee wat heelmaak en laat opstaan.

En ook hier in Openbaring 22 gee Jesus vir homself luistteryke name, name waarmee hy ‘n kontra-kultuur vestig, om dit nou maar so grênd te noem. Vir mense wat vervolg en gemartel word, wat moedeloos sou kon word en sonder hoop, sê hy: Ek is… die alfa en die omega, die nakomeling van Dawid. Die helder môrester.

‘n Mens sou hier ook kon praat oor wat ‘n môrester alles vir die gelowiges van daardie tyd beteken het. Lucifer is mos eintlik die “ligdraer”. Maar hy het geval. Sy lig het dof geword. So sal die vervolgers en die afvalliges ook hulle lig verloor. Die ware Môrester is Jesus Christus, die helder Môrester.

Maar wat sou die feit dat daar ‘n Môrester in ons lewens is, vandag vir ons beteken? Kom ons dink sommer aan drie dinge:

Een. Die Môrester herinner ons aan ons kreatiwiteit. Die Môrester laat ons ontwaak. Ons is nie maar mense wat net deur die dag strompel omdat daar niks anders is om te doen nie. Ons kan elke dag met die hoop begin dat ons iets van die dag kan maak. Menswees is vir Jesus Christus belangrik. En boonop staan hy vir hoopvolle menswees. Ons lewe met hoop, omdat hy ons kreatief gemaak het. Omdat hy ons met kreatiwiteit geseën het, en die mag om dinge te laat gebeur aan ons gegee het.

Twee. Die Môrester verbind ons aan die skepping. Die Môrester herinner ons gedurig aan God se skepping, en dat ons deel daarvan is, en daarna moet omsien. Eerder, dit herinner ons aan daardie heerlike feit dat ons deel is van iets groots en pragtigs, iets wat ‘n ritme van sy eie het, iets wat ons nie in die steek sal laat nie. Soos die tannie wat geweet het: watookal met haar sal gebeur, waarnatoe sy ookal geskop en verstoot sal word, die môrester sal elke dag opkom.

Drie. Die Môrester bring genesing. Waar daar donkerte is, sal daar lig kom. En eintlik is dit maar net uit ons eie pyn, wat ons leer hoe die lig lyk. Iemand het eenkeer gesê vandag se jong dokters verstaan nie die pyn van hulle pasiënte nie, omdat hulleself die kinders van die antibiotika is en nooit self regtig siek was of word nie. Dis lyding wat jou die lig laat soek, en vir jou die gesig van die Môrester wys.

En dit is Johannes se boodskap aan ons. Die Môrester is daar. Hy kom elke dag. En hy is helder lig. Die donker is nie teen hom bestand nie.

Christina Landman

Preekriglyn in Argief: http://www.communitas.co.za/leesrooster/nt/66-Openbaring/Openbaring%2022_12-21.doc

Seisoen van Luister powerPoint:  http://www.seisoenvanluister.co.za/produkte/powerpoint-en-word/kerkjaar-volgorde/kerkjaar-2012-13/files-download/754_2539eb5c79906fcdcb8bee3119d89ac1

AddThis Social Bookmark Button
Druk
PDF

Verder Geluister - Hemelvaart ~ Hand 1:1-11

Geskryf deur Pierre Goosen on . Posted in Preekstudies - Verder geluister

9 Mei 2013 ~ Hemelvaart ~ Hand 1:1-11

Dit is so sewe uur die aand en ek is op pad na een van die voorstedelike gemeentes.  Die verkeer  vloei, maar stadig.  Al die bane is vol motors.
Hoekom is al die mense op die paaie en nie by hulle huise nie?  Dan besef ek, hulle is op pad na hulle huise!  Vanoggend donker daar weg en al weer donker en nou eers weer op pad terug.  Na alle waarskynlikheid moeg na ‘n lang dag se werk. 
 
Die gedagte kom by my op, hoe kan die kerk/gemeente vanaand iets van hulle verwag. En na vyf – ses sulke dae hoe kan die kerk/gemeente Sondag iets van hulle verwag? Moeë mense soek rus en vrede.  Immigreer na binne om net asem te skep.  Om te herlaai vir die aanslag van môre. Dan besef ek net, ons sal aan ‘n ander manier moet dink om gemeente en kerk te wees!

Nie net vir die stad en sy mense nie, maar ook vir die mense in die afgeleë dele van die land.  Alleenheid, eensaamheid, moeilik bekombaarheid, droogte, verlange na kinders in koshuise op ver plekke – dit alles maak jou op ‘n ander manier moeg en laat jou soek na ‘n uitkoms.

By die gemeente gekom (die opgeroeptes is tog daar!) wandel ons in die Woord. Wat vir my uitspring is vers 8:  “Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom …”
Ek wonder oor die krag.  Om te kan konsentreer en nie ‘n ongeluk te maak nie.  Om by die huis te kom en kos te maak.  Kinders te help met skoolwerk. Vergadering by te woon.  Reg te maak vir môre se werkdag?  Dankie Heilige Gees vir die krag vir elke dag!

Maar dan val my oog op die res van die sin: “   en julle sal my getuies wees in …”

Wat ‘n verrassing.  Nie (net) krag vir die daaglikse katastrofes nie, maar om getuie te wees.  Sommer hier waar ek is – in my motor, by die huis en tussen die mense waar ek my bevind en tot in die verste hoekie waar ek nog sal kom.   ‘n Getuie dat God mens geword het.  Dat Jesus aan die kruis gesterf het en opgestaan en opgevaar het.   Sodat ons in die krag en uit die krag en van die krag van die Heilige Gees kan leef en kan getuig van sy onbeskryflike liefde vir ons.

Dit is waarin die eintlike betekenis van ons lewens lê.  Die diepste doel van ons menswees.   Bemagtig deur die hemelvaart van Christus en bekragtig deur die Heilige Gees kan ons Sy kragtige getuies wees.

Hy die God vir ons.  Hy Immanuel.

Pierre Goosen

Preekriglyn in Argief _1: http://www.communitas.co.za/leesrooster/nt/44-Handelinge/Handelinge%2001_1-11%20eerste%20weergawe.htm

Preekriglyn in Argief _2: http://www.communitas.co.za/leesrooster/nt/44-Handelinge/Handelinge%2001_1-11%20tweede%20weergawe.htm

Seisoen van Luister PowerPoint: http://www.seisoenvanluister.co.za/images/stories/powerpoints/Handelinge1_1-11.jpg 

AddThis Social Bookmark Button
Druk
PDF

Verder Geluister: Openb:22:1-5 ~ Verruil die bos van vrees vir ...

Geskryf deur Christina Landman on . Posted in Preekstudies - Verder geluister

5 Mei 2013 ~ Sesde Sondag van Paastyd

Openbaring 22:1-5 ~Verruil die bos van vrees vir die boom van die lewe

“Ek was nooit ‘n ou vol vrese en fobies nie,” sê iemand nou die dag. “Maar deesdae is dit asof die lewe amper soort van jou vyand geword het.  Jy moet net uitkyk of jy kry ‘n klap.  En sommer ‘n groot een ook wat jou nie weer wil laat opstaan nie.  Jy voel jy het nie ‘n kans nie. Kos word roekeloos duur.  Elke dag ‘n nuwe belasting.  Jy sien net hoe iemand een oomblik groot is, en die volgende oomblik in ‘n sel sit. 

Partykeer kry jy sommer ‘n gatslag-boete vir iets wat jy gedoen het wat nie eers gevaarlik was nie. Jy’t nie eers geweet jy doen iets verkeerd nie. So, moenie worrie nie, vrees net.”  So sê die man toe.

En dit laat ‘n mens onwillekeurig weer dink aan Johannes se openbarings.  En veral aan hoe God aan hom die nuwe Jerusalem geopenbaar het.  Hier van Openbaring 21:10 af lees ons hoe Johannes die nuwe Jerusalem in detail beskryf.  Daar sal, onder andere, ‘n hoë muur om wees.  Dit sal ‘n veilige stad wees.
Maar dit sal meer as veilig wees.  Daar sal lewe wees.  Daar sal ‘n tuin in die stad wees.  En die boom van die lewe sal daarin staan.

Dadelik dink ons aan die boom van die lewe wat in die middel van die tuin van Eden gestaan het.  En wat vir die mense verbode was. 

Maar die boom van die lewe wat in die nuwe Jerusalem staan, is daar vir almal om van te eet.  Dit dra dwarsdeur die jaar vrugte, elke maand nuwes. Dit nooi jou uit om te eet. En dit word gevoed deur ‘n sterkvloeiende rivier, wat direk van God se troon af kom.

En dis nie net ‘n boom wat lewe gee nie.  Dis ‘n boom wat nuwe lewe gee.  Dit gee vrugte, en dit spruit blare uit.  Die blare van die boom bring genesing, sê Openbaring 22:2.  Dis ‘n heelmaak-boom.
Genesing is ‘n proses.  En die pad wat ons saam met God die Geneser stap, is ‘n proses. 

Iemand het eenkeer ook gesê gelukkig wees is ‘n proses, dis ‘n pad wat jy saam met die lewe loop, oor klippe en deur waterstrome.

En dis veral nou in die tyd na Paasfees dat ons onsself weer daaraan moet herinner.  Met Jesus se koms, sy lewe, sy dood en sy opstanding het die nuwe Jerusalem by ons kom woon.  God het onder ons kom woon soos nog nooit tevore nie.  Ons stap ‘n nuwe pad met God.  En dis ‘n pad van genesing.

Maar wat ons veral moet onthou in hierdie dae, is dat ons deel van die genesing is.  Ons is deel van die lewe, van lewe gee en lewe voortbring:  die blare aan die boom van die lewe wat in die nuwe Jerusalem staan, is die dinge wat ons doen om van die wêreld ‘n beter en gesonder plek te maak.

En so is hierdie visioen van Johannes ‘n uitnodiging aan ons om aan die lewe deel te neem.  Om eerder te lewe, as om die lewe te vrees.  So, in plaas van ons vrese vir die lewe te poets, kan ons eerder agente vir die lewe self word.

So ‘n blaartjie van genesing, wat sou dit kon wees?
Ek dink om iets bemoedigends vir ‘n verslae persoon te sê, dis ‘n genesende blaartjie.

En om jou werk te doen sonder korrupsie, al sou jy daarmee kon wegkom, dit maak die aarde heel.
En om nie water en elektrisiteit te mors nie, dis ‘n manier om gesond aan die lewe deel te neem, nie waar nie?

En om die goeie in die mense om jou wakker te maak, al blaf hulle honde jou in die nag wakker, dit kan soos ‘n groen blaar in ‘n dor omgewing uitspruit.

Of om ‘n partytjie vir jou ma te reël wat tagtig word.  Of om te luister wanneer ‘n jong persoon jou van sy hooploosheid vertel.

‘n Belangrike blaar aan die boom van die lewe is egter om na jouself en jou gesondheid om te sien.  Jou kop se gesondheid.  Jou hart se gesondheid.  Jou houding se gesondheid. 

Om jou vrese in te ruil … en vir die lewe te kies.

Christina Landman

Preekriglyn in Argief: http://www.communitas.co.za/leesrooster/nt/66-Openbaring/Openbaring%2021_10%2021_22%2022_5.doc

Seisoen van Luister PowerPoint: http://www.seisoenvanluister.co.za/produkte/powerpoint-en-word/kerkjaar-volgorde/kerkjaar-2012-13/files-download/748_4dc0737a632c9ac1d23e6611f5ec6e17 

AddThis Social Bookmark Button
Druk
PDF

Verder Geluister: Open 21:1-6 ~ Jerusalem vir Ubuntu!

Geskryf deur Christina Landman on . Posted in Preekstudies - Verder geluister

Sondag 28 April 2013 ~ Vyfde Sondag van Paaastyd ~ Openbaring 21:1-6 ~ Jerusalem vir Ubuntu!

Wat is “eenheid” in Zoeloe? vra ek die ouderling nou die dag. Dis ubunye, sê hy. En hoe is dit nou verskillend van ubuntu? vra ek. As allemaal hulle ubuntu saam in die kraal jaag, dan is daar ubunye, sê hy.

Ons lees in Openbaring 21:1-6 hoe Johannes sy kragtigste en mees skouspelagtige visioen beskryf. Die goue stad, Jerusalem, daal uit die hemel neer en word die nuwe aarde.

En nou het ons die gewoonte om aan hierdie stad, hierdie nuwe Jerusalem, te dink as iets gouds en groots, met skatte en ‘n goddelike lig van heerlikheid wat alles omstraal. ‘n Mens is amper geneig om aan die nuwe Jerusalem te dink as ‘n plek sonder mense.

Maar ek dink die nuwe Jerusalem is eintlik eerder ‘n baie menslike plek. ‘n Medemenslike plek. Dit gaan ‘n plek wees waar ‘n mens juis ten volle mens kan wees, omdat jou medemense, soos jy, goeie waardes gaan hê. Dis nou waardes soos eenheid, vrede, hoop en … lewe! Dis waardes wat mense inderdaad sal kan laat saamwoon soos mense!

Die hoofkenmerk van die nuwe Jerusalem gaan natuurlik wees dat dit radikaal getransformeerd gaan wees. Radikaal hervormd. Radikaal herskep. Radikaal omskep. Radikaal nuut.

Maar wat wil die nuwe Jerusalem omskep? Wat was fout met die oue, en gaan reg wees met die nuwe?

Die ou goed wat die nuwe Jerusalem gaan regstel, is die dinge waarteen die profete die volk so lank gemaan het. Vergrype (oftewel sonde); geweld teen mekaar; swak leierskap; en ongeregtigheid. En dan was daar natuurlik ook die vergrype, die geweld, en die ongeregtigheid van die Romeinse regering teenoor die Christene van daardie tyd.

Dit alles gaan verander, sê Openbaring 21:1-6.

Kom ons kyk na die volgende vier dinge wat gaan verander:

  • Die nuwe Jerusalem is ‘n heilige stad (vers 2). Nou hou ons nie eintlik vandag meer baie van die woord “heilig” nie, want “heilige” mense, veral hoogheiliges, gee ons geloof partykeer ‘n slegte naam omdat hulle nie die werklike lewe in die gesig wil kyk nie, en hulle soos mense uit die baie ou tyd wil gedra wat regtig ‘n bietjie belaglik in ons dae is. Maar “heilig” hier beteken gewoon dat die nuwe Jerusalem sonder die vergrype van die vorige bedeling sal wees. Sonder die “sonde” wat mense mekaar aandoen met korrupsie, skinder, steel, verbale geweld, en nouja, al die ander sondes wat ons maar te goed ken. Hier is die verwysing na die dinge waaraan mense hulle vergryp ten koste van ander mense, en die samelewing. Die nuwe Jerusalem sal heilig daarvan wees.
  • In die nuwe Jerusalem sal daar goeie leierskap wees. Want God sal onder die mense woon (vers 3). God sal nie daarbo, daarbuite, daar ver woon nie. Hy sal onder mense woon. Daar sal ‘n noue verhouding tussen God en mens wees. Hy sal leiding en leierskap gee. En mense sal saam met Hom stap. Hulle sal deel in Sy heerlikheid.
  • Daar sal gevolglik nie meer geweld van mens teenoor mens wees nie (vers 4). God sal ons trane afdroog. Nouja, toe. Dit wil gedoen wees. ‘n Leier wat die mense se trane afdroog. Hoe het ons dit nie in ons tye nodig nie!
  • In die plek daarvan sal daar LEWE wees. God, ons leier, sal aan ELKEEN te drinke gee uit die fontein met die water van die lewe. Verniet. Nie net vir die rykes en die magtiges nie. Maar vir hulle ook. Nie net vir die verskoptes en verstotenes, die mishandeldes en mense met “gebreke” nie. Maar beslis vir hulle ook.

Ja, “lewe” sal beteken geen diskriminasie, geen ongeregtigheid, geen onbehoorlike mag nie. Wie hierdie waardes aanhang, sal lewe.

In Johannes se tyd het “lewe” beteken om “mag” te hê. Ander se lewens was niks werd nie. Hulle lewens was, in die oë van die magshebbers, ook nie die moeite werd nie. Christene is gemartel, aan die brand gesteek en gekruisig.

Hierteenoor sal die nuwe Jerusalem ‘n kontra-kultuur vestig. Dit sal ‘n plek wees waar God woon. Dit sal ‘n “heilige” plek wees, waar mense hulleself nie vergryp aan mekaar en aan besittings en mag nie. Dit sal ‘n plek wees waar almal kan deel in die “heerlikheid”, in die goeie waardes wat van God uitstraal. Dis ‘n plek waar almal sal kan lewe in hoop, in volhoubare hoop, hoop wat nie ‘n “pie in the sky” is en mense mislei nie.

Ons is nou in die 6de Sondag na Paasfees. Met Pase het hierdie nuwe bedeling aangebreek. Met Christus se opstanding uit die dood is ‘n kontra-kultuur hier gevestig. Die tyd van die nuwe Jerusalem het aangebreek. God woon onder ons. En ons moet werk om hierdie nuwe Jerusalem al hoe meer en meer hier op aarde te vestig.

Radikale transformasie, weg van vergrype af. Goeie leierskap. Volhoubare hoop. En eenheid. Ubunye, die saamwees van medemenslikheid.

Dis die nuwe Jerusalem waarnatoe ons nou moet leef.

Christina Landman

Preekriglyn in Argief: http://www.communitas.co.za/leesrooster/nt/66-Openbaring/Openbaring%2021_1-6.doc

Seisoen van Luister PowerPoint: http://www.seisoenvanluister.co.za/produkte/powerpoint-en-word/kerkjaar-volgorde/kerkjaar-2012-13/files-download/730_8b23c2c36ac49da9bff3dd03102789c4

AddThis Social Bookmark Button


priligy online

canadian pharmacymodafinilhttp://brandcialiso.com/canadian pharmacyhttp http://propecian.com/ exposedcanadian pharmacy constipation sildenafil y dapoxetinecanadian pharmacy