Druk
PDF

Is die dominee die kaptein of die afrigter?

Geskryf deur Frederick on . Posted in Padlangs met gemeentes - Leierskap

Ek dink daar is ‘n rolverwarring by baie predikante. Ons sien onsself as die kaptein op die veld wat die gemeente moet lei. Ons Kerkrade dink ook so en hulle meet ons toenemend aan ons prestasies as kapteins. Byna soos met sportlui voel Kerkrade daar moet ‘n prestasie-klosule ingebou word en sommer direk gekoppel word aan die vergoeding van die leraar. Hoewel min Kerkrade dit sal doen, is daar baie wat heimlik hoop hulle kan dit doen.

Op die oog af klink dit nie te dronk nie, maar as jy so ‘n bietjie daaroor dink is dit nie moeilik om tot die besef te kom dat die soort denke ons nie gaan help nie. Die probleem is nie in die eerste plek die noodsaak van verantwoordbaarheid nie. Ek dink dit is noodsaaklik en dit is jammer dat soveel predikante bang is vir verantwoordbaarheid- maar hieroor later. Die probleem le meer in die “prestasie” gedagte maar eintlik in die verstaan van die rol van die Leraar, en die probleem kom van twee kante af.

Leraars voel dat omdat hulle betaal word deur die gemeente en die gemeentelede “vrywilligers” (sic) is, behoort hulle darem die mense te wees wat “presteer “ en harder werk as die res. Hulle val dan maklik in die “activity-trap” waar hulle waarde gemeet word aan hoe besig hulle is. So verdien ek my geld, troos die Leraar hom/haarself. Kort voor lank is hulle in beheer van omtrend alles in die gemeente, en word hulle dikwels sonder om dit te bedoel die prop wat ander weerhou om ook inisiatief te neem. Ek doen dit maar liewer self, as wat ek moet sukkel om die foute wat ander maak reg te stel- hoor ek baie dikwels predikante bieg- of is dit nou brag?  Hoewel hier sistemiese en strukturele redes voor is, dink ek moet ons dieper kyk na onsself. Ons is soos ons kultuur ons leer maar te geneig om ons selfwaarde te meet aan wat ons doen en nie aan wie ons is nie. Baie leraars het nog nie tuisgekom in hulleself nie en moet besig bly om emosioneel uit die moeilikheid te bly.  Geen hersturkturering of selfs nuwe visie in die gemeente gaan daarmee help as jy nie self die reis na binne onderneem en tuis kom in jouself nie.  Ons waarde lê tog nie is wat ons doen en hoeveel ons doen nie, maar in wie ons is, soos gevorm deur ons verhouding met die Drie-enige God. Dit sal vir ons moeilik bly om ons rol nuut te verstaan as hierdie tuiskoms nie plaasvind nie.

Aan die ander kant is gemeenteleiers ook genee om met die prestasie-klosules te omhels want dan bly hulle in beheer en kan hulle die Leraar makliker “bestuur”. Die probleem hiermee lê nie in die poging om ‘n sisteem van verantwoordbaarheid te skep nie. In gemeentelike sisteme, soos enige ander sisteem, waar daar nie verantwoordbaarheid is nie, ly die verhoudings uiteindelik daaronder. Om mekaar te verskoon van afgesproke verantwoordelikhede het niks met ‘n christelike lewenswyse te make nie en is ook nie ‘n be-oefening van genade en liefde nie. Om verantwoordbaar gehou te word vir ooreenkomste is ‘n goeie en belangrike gewoonte in geloofsgemeenskappe omdat dit die uitlewing is van waardes soos betroubaarheid en respek. Die styl waarin ons dit doen behoort te getuig van genade.

Die vraag is wel: wat is die rol wat die Leraar moet vervul, en waaraan behoort ons hom of haar verantwoordbaar te hou?

Ek gaan probeer om ‘n invalshoek te probeer. Ef 4:11-12 sê dat daar aan die gemeente herders, leraars, apostels,profete  en evangeliste gegee is om die gelowiges toe te rus vir hulle dienswerk in die opbou van die gemeente. Die leraars rus dus ander toe vir hulle dienswerk. Die leraars se primêre funksie is daarom nie om self die dienswerk te verrig nie maar ander toe te rus- of af te rig vir hulle dienswerk. Die Leraar speel dus nie in die span as daar ‘n wedstryd is nie, hy of sy rig die ander af vir die eintlike wedstryd. Die eredienste, kleingoepe en vergaderings is oefenruimtes waar ons voorberei word vir die wedstryd op die markplein.  Kyk ‘n bietjie wat doen afrigters anders as kaptiens. Kapteins lei op hulle beste van voor af, deur hulle voorbeeld, deur harder te speel as die res en so die span te motiveer.  Die afrigter staan op ‘n afstand en kyk, sien die kwaliteite en gebreke van die spelers raak. Ja die afrigter werk op hulle manier ook baie hard, maar hulle werk anders, en kyk anders as kapteins. Want sien, ‘n agrigter mag nie op die veld gaan nie, sy of haar sukses lê nie in hoe goed hulleself die bal kan skop (die Bybel kan uitê nie) maar hoe goed hulle spelers die bal kan skop ( die Bybel kan uitlê).

Mahedra Singh Dhoni, kaptein van die Indiese krieketspan wat die naweek in die ICC Wêreldbeker se eindstryd teen Srilanka  te staan kom, vertel is vanoogend se koerant die volgende van sy afrigter, Gary Kirsten:
“Sedert Gary oorgeneem het, het dié span soos ’n gesin geword,” het die Indiese kaptein, Mahendra Singh Dhoni, gister gesê. “Die manier waarop hy elke individu bestuur het, die manier waarop hy ons laat oefen het en die manier waarop hy elkeen van ons in onsself laat glo het, word weer­spieël in die manier waarop ons speel en dis ’n fantastiese gevoel.”

Ek sit onlangs by ‘n kursus en ons praat hieroor. Een van die kursusgangers begin vertel van die inpak wat Doc Craven op hom gehad het. Hy vertel van sy kennis van die spel, sy intense belangstelling in elke speller, hoe hy een-op-een met hulle gesit ‘n strategie bespreek het en hoewel hy streng was en jou goed die waarheid kon vertel, het jy nooit getwyfel daaraan dat hy in jou glo nie! “Ek weet daar is niemand wat in my lewe ‘n groter invloed gehad het as hy nie, nie eers ‘n dominee nie”, sluit hy af.

Ek wonder of ons nie op ‘n verkeerde manier “verlief” of afhanklik is van ons werk as leraars nie. Of wat sal die rede wees waarom ons, ons “kansels” so beskerm. Ek wonder of ons dink daar sal nie meer vir ons werk wees as ons begin afrigters raak nie, of wat is die vrese wat ons weerhou daarvan om te begin glo dat die Here regtig gawes gegee het aan elk van die lidmate in ons gemeente, en dat ons die mense is wat mense moet help om die gawes raak te sien, dit te be-oefen sodat hulle in die raadsale van die lewe die Woord kan begin bring en leef.

AddThis Social Bookmark Button

Kommentaar  

 
#Communitas vir selfoneChris2011-04-04 11:11
Ons het 'n vriendeliker voorblad vir selfone geskep. Laat weet of dit op jou selfoon werk. Hierdie boodskap is met 'n Samsung Jet geskryf.
Reply| Reply with quote | Quote
 
 
#DsDanie Murray2011-04-04 17:22
Frederick
Dit is baie belangrik en ek vind sterk aansluiting. Ek het altyd gereken dat afrigting geskied deur saam te doen. Dissipelskap waar langs mense geloop word. Dit lyk dus vir my dat mens steeds 'n dissipelskap model kan volg, maar dat die fokus dan nie op die "gemeente" (eff 4) maar meer op die dissipel moet wees.
Hierby steeds nog die klem dat ek self die eerste fokus van transformasie moet wees.
Reply| Reply with quote | Quote
 
 
#dsGeorge2011-04-06 09:31
Frederick
Goed gestel, maar vir my ervaring te vereenvoudig. Kerklike leierskap lyk wel anders as in die sekulêre wereld, maar die beginsels van gesonde leierskap kan nie geïgnoreer word nie.
Iets wat ek mis, is die feit dat die leraar nie maar net die afrigter van die span is nie, maar die lewensafrigter is vir die "spelende span" sowel as die "nie-spelende span" wat uitgenooi en aangemoedig word om deel te word en te wees van die "spelende span."
Die eise wat in hierdie verband aan die predikant gestel word, sowel as die verwagtinge wat die gemeente, gemeenskap aan die predikant en ook die predikant aan hom/haarself het, kan soos jy dit tereg stel, alleen aan voldoen word wanneer die reis na binne eers onderneem word en die selfwaarde van die predikant eers bevestig is. Eers dan kan die gawes van die predikant ontwikkel word.
Hiermee saam die kwessie van verantwoordbaarheid. Jou verwysing na “afgesproke verantwoordelikhede”, “‘n christelike lewenswyse”, die “beoefening van genade en liefde”, “waardes soos betroubaarheid en respek” en ‘n styl wat moet “getuig van genade” draai alles om gesindhede. Die eerste en mees belangrike afrigtingstaak van die predikant is om sy span sodanig te bestuur dat positiewe gesindhede die norm van die span word. En dit is menslik gesproke ’n bykans onmoontlike taak. Mense sal positiewe gesindhede hê as hulle met die spel, die span en les bes die afrigter identifiseer. En onmiddellik bring dit die argument terug na die kwessie van “aanvaarbaarheid” en “gewildheid” van die persoon van die predikant. Ons is almal bewus van gevare van hierdie slaggat.
My vraag is in watter mate predikante toegerus is om sinvolle gemeentelike leierskap te beoefen. Kursusse word aangebied, maar dit lê nog steeds binne die persoon van die predikant om die regte leierskapstyl binne die konteks en gegewe situasie van die gemeente toe te pas. Die leiersrol van die predikant is teoreties een waarbinne die spanspelers afgerig moet word om die spelreëls te verstaan, te internaliseer en toe te pas. Die kerkbegrip van die “kerkspan” is dus aan die orde. Solank die spanspelers die wedstryd volgens hul eie of dan volgens tradisionele uitgediende spelreëls wil speel, is die afrigter (predikant) magteloos en ontstaan die werklikheid dat die afrigter hom/haar dan maar besig hou met die spelers wat wel die spelreëls van kerkwees verstaan en die spel vanuit geïnternaliseerde waardes speel. Vir die res van die span is die predikant dan nie ‘n afrigter nie, maar bloot ’n instandhouer en “tevrede-steller” van geykte verwagtinge. En so is ons dan terug by die “spelende span” en die “nie-spelende span.”
Uiteindelik kan ons waarskynlik nie loskom uit die feit dat die predikant dikwels die rol van ‘n spelende afrigter moet speel nie. Bykans soos die hoof-violis van ’n kamer-orkes wat die pas aangee, die leiding neem en ook die dirigent is. Na alles begin die predikant nie ’n span bou in ’n vakuum nie, maar moet dit gebeur binne die parameters van gewoontes en paradigmas van gister en eergister. Daar is gemeentes waar, vanweë ’n moontlike geskiedenis van bedieningsverskraling en kerklike ontnugtering, ’n nuwe predikant ’n bedieningstyl van bemagtiging kan vestig. Om gevestigde gewoontes wat primêr gebou is rondom finansiële oorlewing en/of die instemming van prominente rolspelers of meningsvormers, te verander, is egter ’n perd van ’n ander kleur.
Dit stel opnuut die vraag na die selfwaarde, selfvertroue, behoefte aan bedieningsvervulling en die rolverwagting van die predikant self aan die orde.
Reply| Reply with quote | Quote
 
 
#kan ons waardes bestuur of moet ons dit moduleerFrederick2011-04-06 17:19
George- baie dankie vir 'n baie goed geformuleerde reaksie. Ek gaan wel op een van die sinne reageer: Ek sou predikant is om sy span sodanig te bestuur dat positiewe gesindhede die norm van die span word
ek stem- maar ek wonder of dit iets is wat jy kan bestuur en wat nie deur die speler-afrigter soos wat jy dit noem gemoduleer moet word nie. waardes word nie gevorm deur strategie nie maar wanneer dit deur leiers gemoduleer word.
dankie vir die gesprek
Reply| Reply with quote | Quote
 

Lewer kommentaar


Sekuriteitskode
Verfris

Alle kommentaar