Druk
PDF

Postmoderne mense is nie meer kwaad nie

Geskryf deur Christo Benade on . Posted in Padlangs met gemeentes - Gemeentes

Dankie Frederick, ek het met groot waardering jou reaksie gelees. Ek raak bewus van die multidimensionele aard van die uitdagings van die kerk en dat my eie perspektief in  ‘n groot mate eendimensioneel is. Frederick maak ‘n belangrike opmerking oor kulturele zeitgeist van die ontstaan van ons Gereformeerde DNA. Ek het verwys na die Christendom konteks van die ontstaan van ons DNA en Frederick weef die kulturele aspek van ons DNA by, m.a.w. - dat ons is ‘n kerk is met ‘n geordende Europese DNA wat funksioneer in ‘n Afrika konteks wat baie meer vloeibaar is. Wat die aspek meer kompleks maak is dat ons lidmate binne die twee realiteite leef  Aan die een kant Europese gene, maar egter gene wat muteer het in Afrika en ook nie meer tuis is in Europa nie. Frederick se voorbeeld oor die tafels klink so bekend teen die agtergrond van my verblyf in Brittanje en studies in Nederland. Ek dink dit is egter juis hierdie kulturele ambivalensie wat ‘n struikelblok is vir multikulturele gemeentes in Suid Afrika.  Die evangelie dryf ons om grense oor te steek, maar die kulturele grense is soms nog te wyd vir lidmate om oor te steek.

Ek dink daar is nog twee draaitjies wat ons kan byweef om die prentjie duideliker te maak. Ons sit aan die een kant ook met verskillende generasies in ons kerk. Boomer leraars sowel as lidmate by wie die gereformeerde tradisie en orde baie sterk figureer. Dit is ‘n kosbare skat wat, ten regte, bewaar moet word. Hulle het ‘n mooi en sterk lojaliteit teenoor die kerkverband en tradisie.  Aan die ander kant sit ons met X’ers en die generasie daarna wat baie meer pragmaties is en by wie die Gereformeerde tradisie nie so ‘n sterk rol speel nie. Hulle is lojaal tot die verhoudings wat hulle bou en nie die denominasie of tradisie nie. Hulle vra baie meer na die ortopraksie as na ortodoksie van geloof,- ‘n uitgangspunt wat nie gemaklik pas binne die gereformeerde teologie nie.

‘n Tweede draaitjie wat ek wil byweef is die skuif in die tydsgees. Ons kerk se DNA word gevorm binne die Modernisme. Ons skryf antwoorde op modernistiese vrae en ons liturgie is ingerig vir ‘n moderne mens. Nou word daar Postmoderne vrae aan ons gevra deur postmoderne mense in ‘n Postmoderne omgewing. Die ortodoksie wat vir ons so belangrik is, wat ons gehelp het om ‘n nuwe weg te baan na die reformasie, word bevraagteken en bevredig nie meer geestelik honger harte nie. Dit is dalk tyd dat ons weer Dawid Bosch en Lesslie Newbigin deeglik gaan lees. Hulle het hierdie uitdagings lank voor ons reeds raakgesien. Ryan Bolger (prof. by Fuller) maak ‘n interessante opmerking in ‘n onlangse onderhoud (http://vimeo.com/couchmode/33500507) , hy noem dat die Postmodernisme gevolg word “Global information culture” of “Participatory culture” wat gedra word deur die vooruitgang in kommunikasie tegnologie. Hierdie generasie is nie net gebruikers van inligting en kennis nie, maar is besig om inligting en kennis te skep, hulle neem deel. Hulle wil ook deel wees van ‘n Open Source kerk waar hulle help om die liturgie te skep en die teologie te vorm. Hulle wil deelneem aan die skep van geloofsbelydenisse wat kontemporêr en relevant is.

Ek dink egter dat ons nie moedeloos moet wees oor die uitdagings van ‘n Postmoderne wêreld nie. In Brittanje sien ek tekens wat my opgewonde maak. Die kinders van geharde ateïste en agnostici begin weer vra na geloof. Hulle is twee generasies verwyderd van geloof en die kerk, die struwelinge van die verlede leef nie meer sterk in hulle nie. My jongste dogter(9) vertel die vakansie van ‘n insig wat sy en haar twee boesemvriende in ICT (godsdiensonderrig) gehad het. Hulle het besef dat dit eintlik “baie strange is dat hulle drie vriende is, want, sê sy: “Max is nonreligious, Imogin is Catholic en ek is Christian” (Verskoon haar taal en teologie - die Engelse omgewing laat maar sy merke, maar ons werk aan albei!). Geloof is weer op die tafel, die geharde aggressiewe Rickard Dawkins generasie is aan die uitsterf. Hulle kinders en kleinkinders is nie meer kwaad nie, maar hulle soek sin in die lewe  en antwoorde vir hulle vrae.  Is ons reg om dit vir hulle te gee? 

AddThis Social Bookmark Button

Lewer kommentaar


Sekuriteitskode
Verfris

Alle kommentaar