GOD KIES SY SPAN
Ons gemeentes hier in Mosselbaai (NG Mosselbaai en VGK Mosselbaai) het voorheen al lekker as ‘n span saamgewerk, dienste saam aangepak, by basaars wedersyds stalletjies gehad en ondersteun. Maar ai, dan val mens gou weer uit die span uit en oefen afsonderlik op eie velde.
God as Afrigter en Keurder het egter ‘n ander plan. Want sien, daar is baie soorte nood in Mosselbaai, waaronder mense met MIV & Vigs, TB, kanker en allerlei siekes in die Provinsiale hospitaal. En die Here het uit albei kerke mense begin oproep om ‘n verskil te maak. Die Tabita-groep by die VGK het ‘n houer waarin allerlei benodigdhede vir pasiente in geplaas kan word en het ‘n span wat mense in die hospitaal besoek. Hulle het ook die Here se roepstem gehoor om mense aan huis te besoek en vat hande met Home Base Care. Die Tabita-groep het eintlik al sewe jaar gelede begin met ‘n fokus op HIV & VIGS geinfekteerdes en geaffekteerdes. Dit was veral in samewerking met die “Piet-Julies-stigting” wat fokus ondersteuning van mense met MIV & Vigs. Piet Julies het aan die siekte gesterf en toe is die stigting begin om mense te ondersteun. Die Tabitas het gou agtergekom dat die stigma van dié siekte maak dat hulle fokus wyer moet wees – ook op mense met TB, kanker en ander terminale siektes. Hulle het begin met ‘n bediening in die Provinsiale hospitaal en by mense aan huis in die hele streek. Die Omgee-bediening van NG Moedergemeente begin met besoeke by die hospitaal, veral die kindersaal, en kyk ook na praktiese ondersteuning, terwyl van ons lidmate as verpleegsters by Home Base Care ‘n pad met mense by hulle huise begin stap.




