Druk
PDF

Verhoudings maak waardes moontlik in families

Geskryf deur Alta Marais on . Posted in Positiewe Ouerskap - Ouerskap

Frederick Marais vertel in die boekie "Familie is ‘n Werkwoord"  hoe hy as jong predikant gedink het hy het ‘n roeping om gesinne te leer om weg te doen met die stelsel waar pa en ma die gesag is wat die besluite namens die gesin neem, en dit kinders se taak is om gehoorsaam te wees. In plek daarvan sou hy hulle leer om  as gesin ‘n deelnemende benadering te hê. Hy het gedink hy sou gesinne kon leer dat as pa, ma en kinders  saam besluite neem,  dit met hulle goed sal gaan. Vrugtelose gesprek ná vrugtelose gesprek het hom aan die dink gesit. Hy het agtergekom dat hy nie op die regte spoor was nie, maar waarin die antwoord lê, kon hy nie uitmaak nie. Op ‘n dag het die lig deurgebreek en hy het vir homself gesê: "Jou "stupid"!, die antwoord lê opgesluit in verhoudings. Waar daar gesonde verhoudings tussen ouers en kinders is, sal dit vir hulle moontlik wees om saam besluite te neem en sal dit moontlik wees om waardes te vestig. Dit bring ons weer waar ons verlede week afgesluit het: Die waarheid is dat jy nie jou kind of enigiemand anders op enige manier kan beïnvloed om op ‘n verantwoordelike manier sekere waardes te beoefen as julle nie ‘n positiewe verhouding het nie. Stephen Covey skryf in sy boek "7 Habits of Highly Effective Families" die volgende: "One of the biggest mistakes people make is trying to teach (or influence or warn or discipline) before they have the relationship to sustain it".

As goeie verhoudings ‘n voorvereiste is vir die oordra van waardes, wat doen ons om daarby uit te kom? Die slegte nuus is dat daar nie ‘n kortpad is nie. Die goeie nuus is dat dit vir almal van ons is moontlik is. Bygesê, dit is harde werk. Dit sal boonop soms nodig wees dat ons van ou, gevestigde sienings afstand doen, om nuwe gesindhede en vaardighede te ontwikkel.

Goeie verhoudings is ‘n voorvereiste vir die oordra van waardes, maar goeie kommunikasie is op sy beurt ‘n voorvereiste vir ‘n goeie verhouding. Goeie kommunikasie begin, anders as wat ons soms dink, nie by praat nie, maar by luister. As ons met ons lyf, oë, ore, hart en verstand luister na wat ons kinders sê, sal dit ons help om begrip te ontwikkel vir hulle gevoelens en ervarings.  As ons dit nie doen nie, is dit asof ons  ons vasloop teen ‘n hek wat gesluit is tussen ons en ons kind. Deur empaties te luister maak ons die hek na goeie kommunikasie oop. Hierdie stap, naamlik luister, kan nooit oorgeslaan word as ons met ons kinders wil kommunikeer nie. ‘n Mens kan tog nie bo-oor ‘n geslote hek by mekaar uitkom nie.

As ons met volle aandag na kinders luister terwyl ons onsself in hulle skoene probeer plaas, dra ons twee boodskappe aan hulle oor: "Ek gee om" en "jy en wat jy sê is vir my belangrik". Eenkeer het ek ‘n onderhoud gevoer met ‘n seuntjie wat vir gedragsprobleme en swak skolastiese vordering verwys is. Anders as wat ek verwag het, het hy vir veertig minute lank ‘n intelligente gesprek gevoer. Sy ma, wat stilletjies by die deur afgeluister het (dit was die enigste keer dat ek so iets ervaar het!), het verstom gesê dat hy die middag meer gepraat het as wat hy die afgelope ses maande met haar gepraat het. Die verskil was dat ek blaamloos geluister het terwyl sy welmenend ‘n oplossing aan die hand gedoen of gekritiseer het sodra hy sy mond oopgemaak het. Sy het nooit enduit geluister nie. Kinders wil nie noodwendig hê ons moet hulle probleme oplos nie. Hulle wil hê dat ons met begrip na hulle luister. Dalk het julle ook al ervaar  hoe ‘n gefrustreerde kind uitroep as jy praat voordat hy/sy  klaar gepraat of verduidelik het nie: "Ma/ Pa jy hoor nie wat ek sê nie". Covey sê: "Seek first to understand en then to be understood".        (Word vervolg.)

AddThis Social Bookmark Button

Kommentaar  

 
#Imago VerhoudingsterapieChantelle2011-08-17 12:57
Ek en my verloofde het so baie geleer oor verhouding dinamika en kommunikasie by Kobu van der Merwe. Imago het ons gelei na n bewuste verhouding. huwelike.co.za/
Reply| Reply with quote | Quote
 

Lewer kommentaar


Sekuriteitskode
Verfris

Alle kommentaar