Frederick Marais vertel in die boekie "Familie is ‘n Werkwoord" hoe hy as jong predikant gedink het hy het ‘n roeping om gesinne te leer om weg te doen met die stelsel waar pa en ma die gesag is wat die besluite namens die gesin neem, en dit kinders se taak is om gehoorsaam te wees. In plek daarvan sou hy hulle leer om as gesin ‘n deelnemende benadering te hê. Hy het gedink hy sou gesinne kon leer dat as pa, ma en kinders saam besluite neem, dit met hulle goed sal gaan. Vrugtelose gesprek ná vrugtelose gesprek het hom aan die dink gesit. Hy het agtergekom dat hy nie op die regte spoor was nie, maar waarin die antwoord lê, kon hy nie uitmaak nie. Op ‘n dag het die lig deurgebreek en hy het vir homself gesê: "Jou "stupid"!, die antwoord lê opgesluit in verhoudings. Waar daar gesonde verhoudings tussen ouers en kinders is, sal dit vir hulle moontlik wees om saam besluite te neem en sal dit moontlik wees om waardes te vestig. Dit bring ons weer waar ons verlede week afgesluit het: Die waarheid is dat jy nie jou kind of enigiemand anders op enige manier kan beïnvloed om op ‘n verantwoordelike manier sekere waardes te beoefen as julle nie ‘n positiewe verhouding het nie. Stephen Covey skryf in sy boek "7 Habits of Highly Effective Families" die volgende: "One of the biggest mistakes people make is trying to teach (or influence or warn or discipline) before they have the relationship to sustain it".
As goeie verhoudings ‘n voorvereiste is vir die oordra van waardes, wat doen ons om daarby uit te kom? Die slegte nuus is dat daar nie ‘n kortpad is nie. Die goeie nuus is dat dit vir almal van ons is moontlik is. Bygesê, dit is harde werk. Dit sal boonop soms nodig wees dat ons van ou, gevestigde sienings afstand doen, om nuwe gesindhede en vaardighede te ontwikkel.