Druk
PDF

Kinders meet kragte met ouers

Geskryf deur Alta Marais on . Posted in Positiewe Ouerskap - Dissipline

My kind meet kragte met my – en wen

‘n Radelose ouer vertel dat haar voorskoolse kind weier om opdragte uit te voer. Hy weier onder andere volstrek om sy speelgoed op te tel as hy klaar gespeel het. Sy gee dan vir hom ‘n keuse soos: “As jy nie jou speelgoed optel nie, kan ons nie die storie lees wat jy so graag wil hoor nie.” Hy kies dan om nie die storie te hoor nie. Dit maak nie saak wat sy probeer nie – hy hou voet by stuk en gee nie in nie.

Iemand anders vertel dat sy as klein kind geweier het om in opdrag van haar ouers vir haar boetie verskoning te vra omdat sy “lelik” was met hom. Sy is aangesê om op ‘n stoel te sit tot sy kans sien om verskoning te vra. Sy het ure op die stoel deurgebring, maar kon nie beweeg word om verskoning te vra nie.

Ouers beland onverhoeds in so ‘n “oorlog” of “magstryd” met weerstandige kinders oor hulle verantwoordelikhede en pligte. Wat ouers moet verstaan is dat hulle nie die stryd kan wen nie. Kinders het al die tyd in die wêreld om die magspel te speel en jou te toets en te beproef. Al raad is om die kind oor te haal tot ‘n ander siening.

1.  Fokus op die probleem en nie op jou kind of die stryd nie, want as ma op die kind  fokus en hom beskuldig, byvoorbeeld: “Jy is ongehoorsaam/ stout”, verstaan hy dat hy die probleem is. Hy voel dan veronreg en jammer vir homself en nie oor sy ongewenste gedrag nie. Boonop sal die kind ervaar dat sy ouer onbillik teenoor hom is.  As sy in ‘n stryd tree met haar kind oor byvoorbeeld optel van speelgoed, kan ‘n volskaalse magstryd ontstaan sonder dat die probleem opgelos word. Dit help die ouer om minder emosioneel te reageer en gee perspektief as sy in haar gedagtes die probleem van haar kind skei en vir haarself sê dat hy nie die probleem is nie. Sy is vir hom lief en hy is pragtig en is nie ‘n slegte mens omdat hy nie die speelgoed optel nie. Die probleem is dat die speelgoed nie opgetel word nie.

2.  Luister eers empaties en met volle aandag na jou kind voordat jy, saam met hom, die probleem probeer oplos. Plaas jouself in sy of haar skoene en probeer verstaan waarom hy weier om die speelgoed op te tel en waarom sy weier om verskoning te vra. Op dié manier dra jy die boodskap oor dat jy waarde heg aan jou kind se siening en dat jy sy of haar redes respekteer. ‘n Mens kan nogal verras wees as jy by die rede “agter” jou kind se gedrag uitkom. Dit het geblyk dat die dogtertjie wat geweier het om verskoning te vra van mening was dat sy sou jok as sy verskoning vra. Sy was nie jammer oor haar gedrag nie, want haar boetie het haar dikwels getreiter en sy was bly dat sy ook ‘n slag met hom kon afreken!

Hoewel dit soms moeilik is om by jou kind se motiewe vir die ongewenste gedrag uit te kom, weet ouers wat die POSPAR-KURSUS voltooi het dat dit help  as jy eggo. Begin deur met ‘n belangstellende stemtoon alles wat die kind sê te herhaal:

  • Kind: “Ek wil nie die speelgoed optel nie”.
  • Ouer (met ‘n kalm, simpatieke stem): “Jy wil nie die speelgoed optel nie?”
  • Kind: “Ek wil nie en ek sal nie!”
  • Ouer, belangstellend: “Jy wil regtig nie die speelgoed optel nie”.
  • Kind: “Nee”.
  • Ouer: “Nee?”
  • Kind: “Hoekom moet ek dit nou optel en in die kamer bêre as ek netnou weer wil speel?”

Dan bevestig/ “validate” die ouer: “Ek kan verstaan dat jy dit nie wil optel as jy netnou weer wil speel nie. Kom ons maak ‘n plan. Sal dit help as ek vir jou ‘n doos gee om dit in te pak, want ek is bang as dit hier bly lê trap iemand dit stukkend. As jy ‘n ander plan het, kan ons dit bespreek.”

Met die laaste respons bekragtig / “validate” die ouer. By implikasie sê sy dat die kind ‘n punt het en dat sy dit respekteer (selfs al dink sy anders daaroor). Vervolgens gee sy ‘n rede waarom dit belangrik is om die speelgoed op te tel. Sy doen ook ‘n moontlike oplossing aan die hand en luister indien hy ‘n alternatief aanbied. So maak hulle saam ‘n plan om die saak op te los. Beide trek voordeel uit so ‘n oplossing- die ma, omdat die speelgoed opgetel word en die seuntjie omdat sy beswaar in ag geneem is en die speelgoed moontlik op ‘n plek is waar hy dit makliker in die hande kan kry.

3.  Neem die kind se ouderdom is ag. Jong kinders hou meesal nie daarvan om ‘n taak soos speelgoed optel alleen uit te voer nie. Dit help dikwels as die ouer aan die hand doen dat sy dit saam met hom sal doen.

4. Besluit wie se probleem dit eintlik is. Daar kan byvoorbeeld besluit word dat klere of speelgoed wat in ‘n kind se kamer rondlê sy probleem is en dat die ouer nie sal inmeng nie, maar wanneer dit in die woonvertrek rondlê is dit die ma se probleem, want dit is vir haar belangrik dat die vertrek netjies moet wees.

5. Lewer positiewe kommentaar as ‘n kind ‘n taak verrig. Noem wat gedoen is en gee ‘n rede om aan te dui waarom dit goed is: “Jy het jou speelgoed/ klere/ boeke/ CD’s opgetel. Dankie. Dit lyk netjies”. Ons is geneig om aandag te vestig op ongewenste gedrag en aanvaar dit as vanselfsprekend as take wel uitgevoer word.

Ek vertrou dat die wenke sal help om die klein rakkers se weerstandigheid te beheer. Dit sal gaaf wees as ouers kommentaar lewer en ook hulle wenke vir ons stuur.

AddThis Social Bookmark Button

Lewer kommentaar


Sekuriteitskode
Verfris

Alle kommentaar