Geestelike dagboek

AddThis Social Bookmark Button
Druk
PDF

Saterdag 17 Junie Vyf kante van gebed

Geskryf deur Braam Hanekom on . Posted in Nuusperspektief - Geestelike dagboek

Vandag, op hierdie heerlike sonnige helder wintersdag in die Kaap, sommer iets eenvoudigs oor gebed.

Baie, baie boeke is al oor gebed en die verskillende kante en dimensies van gebed geskryf, maar in my stiltetyd vanoggend het veral vyf dinge weer vir my duidelik geword.

  1. Die eerste. Gebed, ware gebed is altyd `n ontmoeting met God. Dit is veel meer as woorde en `n gepaste manier van doen. Dit is daardie een heilige oomblik waar jy besef dat jy waarlik deur die genadige werking van die Heilige Gees, God regtig ontmoet en waarlik bewustelike kontak met Hom het.
  2. Tweedens. Gebed is altyd `n vorm van oorgawe. Dit is `n oomblik waar jy jouself weer oorgee aan die wil van God. Dit is `n ruimte waar jy jou verlange na absolute gehoorsaamheid aan God bekend maak en vra dat Hy jou daarmee sal help.
  3. Derdens. Daarom is gebed veel meer as praat. Dit is ook `n ruimte waar jy fyn luister, tot jy God hoor praat! Dit is `n stil ruimte waar dinge vir jou duidelik word, jy opdragte ontvang en nuwe rigting vir jou lewe ontdek.
  4. Vierdens. Dit is `n ruimte waar jy vra, maar veral dinge vir ander mense vra. Dit is `n plek waar jy intree en vir `n oomblik van jouself af wegkyk. Dit beteken nie dat jy nie jou eie seer en verlange voor God mag bring nie, maar partykeer word jou eie laste net soveel ligter wanneer jy getrou die laste van ander mense voor God bring.
  5. Vyfdens. Gebed is `n eenvoudige manier om dankie te sê. Dit is `n manier om dankie te sê vir klein en groot dinge. Dit is `n manier om God se goedheid in herinnering te roep en te onthou… en dit bring `n eie vrede en vreugde. Dit maak die hart warm.
AddThis Social Bookmark Button
Druk
PDF

Saterdag 10 Julie Sokker en vreemdelinge

Geskryf deur Braam Hanekom on . Posted in Nuusperspektief - Geestelike dagboek

Vanoggend se koerant het ons met teenstrydige opskrifte begroet.

Aan die een kant was daar die vreugde en euforie van die wêreldbeker eindstryd wat wag. SA het haar arms vir die wêreld oopgemaak en alle aanduidings is dat dit `n reuse sukses was. Die stories wat na ons toe kom is oorweldigend en maak jou trots en dankbaar om in SA te woon. `n kollega vertel dat `n taxibestuurder nou die dag by `n stopstraat oorleun na hulle kant en vir sy vrou sê: “Ai mevrou, dit is so lekker om so met mekaar te kan praat. Kan dit nie maar na die world cup so aangaan nie?” Daar is veel meer sulke ervarings om te deel.

Terselfdertyd is daar die hardnekkige gerugte dat xenofobiese haat gaan losbars net na FIFA vetrek het. “Ons is moeg vir die skurke en dwelmsmokkelaars en mense wat ons werk vat”, word gesê. Terselfdertyd sien jy die vroue en kinders wat weerloos gelaat word te midde van soveel agendas en menslike oordele dat jy nie meer weet watter kant toe nie.

As alles klaar gesê is kom daar `n paar gedagtes by my op. Ek dink aan Christus se oproep om die vreemdelinge in ons midde te verwelkom. Mag ons almal ook na die sokker, met `n gees van welwillendheid, liefde, aanvaarding en begrip na alle vreemdelinge kyk. Mag ons aan ander doen soos ons graag aan onsself gedoen wil hê. Mag die skurke uitgewys en aan die kaak gestel word, veral hulle wat hierdie broos situasie vir eie gewin wil uitbuit. Mag God ons steeds groter liefde en fyn onderskeidingsvermoë (aanvoeling) in hierdie dae gee. Gaan lees gerus weer Fil 1: 9,10. Mag Paulus se droom en gebed vir die Filippense ook vir ons in die dae waar word.

AddThis Social Bookmark Button
Druk
PDF

Woensdag 7 Julie Die sokker en vreemdelinge

Geskryf deur Braam Hanekom on . Posted in Nuusperspektief - Geestelike dagboek

Vandag was `n woelige dag met baie kante. Ek het vroegoggend in die Karoo wakker geword. Watter voorreg.

Was later in intense gesprekke in Bellville betrokke oor die armoede situasie in ons land en die rol wat die kerk daarin kan en moet speel. Toe na Kaapstad gejaag vir `n ontmoeting met provinsiale ministers oor dreigende xenofobie aanvalle en die dag afgesluit met `n musiekkonsert op Stellenbosch. Hmmm? Te veel? Te luuks? Te vinning?

Die gesprek oor vreemdelinge spook egter by my.

Aan die een kant hoor ons die mooiste mooiste stories oor `n nuwe gees wat die sokker onder ons laat posvat het. `n Kollega vertel my dat `n taxi-bestuurder nou die dag by `n stopstraat oorleun en vir sy vrou sê: “Ai mevrou dis so lekker om so vriendelik met mekaar te kan praat, kan dit maar nie na die sokker so aangaan nie!” Daar is veel veel meer sulke stories.

Terselfdertyd het ek vanoggend met my eie oë die mense langs die N1 sien staan, opgepak om “huistoe” te gaan.

Terloops, mag ons nooit op loop gaan met gerugte nie. Dan word dit later `n selfvervulde profesie. Mag ons egter almal met `n gees van welwillendheid, liefde, aanvaarding en begrip na alle vreemdelinge kyk, nie net die “ordentlike” sokkertoeriste nie. Mag ons die skurke uitwys en aan die kaak stel, ook hulle wat hierdie broos situasie vir eie gewin wil uitbuit. Mag God ons liefde en fyn onderskeidingsvermoë gee. Gaan lees gerus weer Fil 1:9

AddThis Social Bookmark Button
Druk
PDF

Vrydag 2 Julie `n Oomblik vol lewe

Geskryf deur Braam Hanekom on . Posted in Nuusperspektief - Geestelike dagboek

Soms raak `n sokkerwedstryd vir my net te veel en terwyl miljoene vasgenael sit en kyk hoe Nederland en Brasilië dit uitwoed om `n plek in die halfeinstryd van die WB stap ek straataf.

Hier en daar hoor jy in die verte Vuvuzelas blaas. Die tarentale is egter min gepla. Die laatmiddag is verruklik mooi met die Bolandse berge wat lui lê in die winterson op die windstil dag… En ek dink aan Eckart Tolle se boek, The Power of Now. Ek dink aan die krag wat daar lê in die viering van die oomblik. Ek dink aan Christus se vermaning om ons nie oor môre te bekommer nie en saam met die voëls van die veld die oomblik te vier.

Ek stap stadig staataf en ruik die amper soet winterlug en weet daar is geen ander oomblik om te leef as die een nie. Daar is niks wat bestaan anders as dit wat nou betsaan nie. Daar is geen ander God in wie ek vrede en rus vind as Hom wat my hier en nou, opnuut aan my openbaar nie.

AddThis Social Bookmark Button
Druk
PDF

Woensdag 30 Junie Waaroor droom jy?

Geskryf deur Braam Hanekom on . Posted in Nuusperspektief - Geestelike dagboek

Vanoggend het Die Burger ons begroet met ’n opskrif: Beleggers se drome na die maan.

’n Beleggingskema wat groot beloftes rondom die wêreldbeker voorgehou het, het lelik skeefgeloop.

Ek kry die mense jammer, maar dit het my laat dink. Ons het almal groot drome, maar dit val in twee kategorieë.

Daar is menslike – jy sal dit ook wêreldse drome, passies en aspirasies kon noem. Opsigself is daar niks mee verkeerd nie, maar dit hou altyd ’n sluimerende gevaar in.

Dan is daar geestelike drome, passies en verlangens. Een so ’n verlange is ’n honger en dors na ’n groter intimiteit en eenheid met God.

Sommige sal sê dit is ’n ontvlugting uit die wêreld, maar ’n eerlike ware ontmoeting met God dryf jou altyd weer terug in die wêreld in.

Waaroor droom jy vandag en waarna verlang jy vandag?

Die Psalmdigter van Psalm 42 sing oor ’n “dors” na die Here, soos ’n bok in ’n droeë landskap smag na water... Ek bid dat jou drome sal waar word, maar ek bid dat jy God sal ontmoet soos nog nooit te vore in jou lewe nie.

Ek bid dat jy daarvoor ’n dors sal ontwikkel en daardie Water sal soek tot jy dit vind... Dit gebeur dikwels in stilte en afsondering.

AddThis Social Bookmark Button

Alle kommentaar