Zuma ontken die vrug van medemenslike Christene
'n Mensgerigte ekonomie broodnodig vir Suid-Afrika
Suid-Afrikaners, woon in 'n land met 'n dominante Westerse kultuur, ons is as 't ware vasgespin in vry-liberale ekonomiese drade. En dis 'n bittere ironie. Die wonder van ons nuwe demokrasie word ondermyn deur wêreldwye ekonomiese kragte wat ook ons ekonomie tot nadeel van die massas beïnvloed.
Wanneer mense God wil word
Langs die riviere van Babel verlang die weggevoerde Jode na antwoorde. By alle mense is daar gewoonlik die neiging om ons te verontskuldig. Gelukkig het ‘n wyse ‘n storie oor ons menswees vertel...
Hoe kom ons vry van ideologie?
Met die teer en veer van professor Floors van Jaarsveld, jare gelede het ons gehoop dat die laagtepunt ‘n draaipunt sou wees. Nou is professor Anton van Niekerk in sy kampuskantoor aangerand...
Ons landsomstandighede kan die blaam vir sulke gedrag kry: ‘n knellende ekonomie, minderhede se toenemende onsekerheid, swak landsbestuur en tekens dat ons staatsorde weg van die onafhanklikheid van die reg en die media kan beweeg.
‘n Dieper oorsaak van sulke uitbarstings is in die manier waarop ons bewussyn geprogrammeer is. Dit gaan nie net in wat ons sien nie maar eerder in hoe ons dit sien. Die wyse waarop ons waarneem, dink en beoordeel is deurslaggewend vir ons gedrag.
Is die aggressie jeens professore as denkleiers nie juis simptomaties van ons weersin teen die hervorming van ons denke nie?
Denkleiers waarsku ons al jare teen die “ideologiese bril” waarmee ons grootgeword het. ‘n Stel aannames vanuit ras-, volks- en ander oortuigings kleur dit wat ons waarneem en bepaal wat ons as feite beskou en wat nie.
Mense uit jou eie groep se wangedrag word verskoon (“dis ons omstandighede”) maar die foute by ander mense word veralgemeen (“dis hoe hulle is”). Selektiewe waarneming bevestig jou eie vooropgestelde idees terwyl dit wat nie hierby inpas nie as uitsondering bestempel word.
Veranderinge aan so ‘n denkpatroon kan daarom nouliks uit waarneming van werklikhede kom. Dit kom deur ‘n herprogrammering van ons bewussyn. Die Bybelgetuies noem hierdie hartsverandering “bekering” en bely dat dit ‘n ingrype van God is.
Gemeentes wat ruimte vir dié werk van God se Gees maak, help mense om waarlik vry te raak. Gemeentes se navolging van Jesus kom egter teen ‘n prys – selfs meer as verbale en fisiese aanranding. Dit kos ons die kruis.
Uit die Woord: “Onthou wat Ek vir julle gesê het: ‘n Slaaf is nie belangriker as sy eienaar nie. As hulle my vervolg het, sal hulle julle ook vervolg” – Johannes 15:20.
(Uit Woord Onderweg in Die Beeld)
Om helderder te kan sien
Stakings, afdankings en opstande is ons land se winterwerklikhede. Dit word nie deur ‘n hoopvolle visie van leiers versag nie. Dit word eerder vererger deur botsende menings oor die oorsake van en die oplossings vir ons plofbare probleme.
Is die wit-swart verdeling in die oor en weer verwyte nie vanjaar skerper en gevaarliker as voorheen nie? Tim du Plessis verwys tydig na die toenemende openlike veragting en isolasie van wittes en na Max du Preez wat ‘n revolusie ruik (Beeld, 8 Julie 2011).
- Watter soort mense het ‘n land in sulke omstandighede nodig? Mense met koel koppe en warm harte wat die spanning kan ontlont en ware hoop vir al die swaarkry-mense kan gee.
- Watter soort geloofsgemeenskappe het ons nou nodig? Gemeenskappe wat nie die werklikhede van ons land op vroom wyses ontvlug nie maar onderskei waarop dit nou aankom: eenheid, geregtigheid en versoening.
- Watter soort geloofsinstelling het gelowiges nou nodig? Nie ‘n verdere gebruik van godsdiens as regverdiging van ons eie belange en behoeftes nie. Maar ‘n verlange dat God ons oë sal open vir dit wat nou van ons gevra word met die verwagting dat ons moed daarvoor sal kry.
Wintertyd is juis geskik vir hertoewyding: Om verby jou eie probleme en ervaringe die groter prentjie van ons land weer raak te sien. Om jou te probeer indink hoe armes en werkloses die verlede en die hede ervaar. Om agterdogtig oor jou eie verstaan van ons land te raak.
Kritiese ondersoek na jou eie verstaansraamwerk is ‘n afgeskeepte deel van ons geloofstradisie. Die verbod teen afgode, die profete se kritiek, die vermaning teen vermeende wysheid en Jesus se omgee vir die wat swaarkry dring ons tot herbesinning.
Met sy bekende - maar min beoefende - Bolandse gebed, Vroegherfs, help Van Wyk Louw ons bid: “O Heer, laat hierdie dae heilig word:/ laat alles val wat pronk en sieraad was/…”
Uit die Woord: “Wees baie versigtig hoe julle lewe: nie soos onverstandige mense nie , maar soos verstandiges”- Efesiërs 5: 15.
(Uit Woord Onderweg in Die Beeld)








