WAARDES HERWAARDEER – om herkenbaar kerk te wees
In Filippense 3:4b-14 getuig Paulus oor sy lewensverandering: die omkeer en herwaardeer van sy lewenswaardes. Hy verduidelik aan Christengelowiges iets oor waardes (en status); hy vertel van die status wat hom vroeër gemotiveer het en dié waardes wat hom nou dryf. Hy was eers fanaties en het die kerk vervolg, maar die heersende polities-godsdienstige en sosiale waardes van sy tyd het vir hom betekenislose drek (mis) geword. Hy het na Damaskus ’n totale omkering van waardes gemaak; ‘n nuwe waardestelsel aanvaar. ’n Mens sou ook van ’n metamorfose (μεταμορφόομαι – Romeine 12:2) kon praat; of van die “evangelie as geboorte van die nuwe lewe” (Heerden van Niekerk).
Dit gaan nie oor ’n paar oppervlakkige gewoontes wat aangeleer word nie, dit gaan oor ’n “hartsvernuwing” (soos Esegiël 36:26 verwoord). Paulus het “dit nie teen Joodsheid en sosiale stand as sodanig nie, maar teen die feit dat hierdie dinge hom verhinder om Christus te ken en te dien. Hier sou ’n mens kreatief besin oor dié dinge wat die gelowige in selfgenoegsame gearriveerdheid laat beland. Baie van die dinge is nie noodwendig verkeerd nie, maar kan beslis groei en die kennis van Christus in die wiele ry. Dorothee Sölle se ‘Death by bread alone’ illustreer hierdie punt treffend – sukses, voorspoed, gemak, eer ensovoorts (‘brood” in sy breedste sin) kan jou verstik. Jy kan nie daarvan alleen leef nie!
Aardse besittings en posisies verloor hulle waarde, want hulle is tydelik, met geen ewigheidswaarde nie herinner Jesus ons. Eers as ons ervaar ons word liefgehê dan vermurwe ons gevoel om onsself te handhaaf. Eers as ons besef dat God van my hou, dan word ek ’n nuwe mens. Jy hoef nie te presteer om deur God aanvaar te word nie, “deur jou geloof word alles wat Christus vir jou gedoen het só vir jou toegereken, dat dit is of jy dit self gedoen het (Murray Janson ). Nou wil Paulus Christus waarlik leer ken en Hom sodoende toelaat om die krag van sy opstanding ook in hom te laat werk (Murray Janson). Die waarde lê nou daarin om Christus te ken; nie oor feitekennis nie, maar “intieme, persoonlike, lewensveranderende kennis van Christus” (Heerden van Niekerk).
Dirkie Smit skryf in Geestelike waardes oor die vreemde roeping van die kerk onder andere die volgende: … Was en blý ons versoeking nie om godsdienstigheid te bevorder eerder as kerk te wees nie? Godsdiens, spiritualiteit, vroomheid, ja, opreg en ernstig, maar so dikwels eerder gedienstig aan ideologie, tydsgees en kultuur? Aan die volk en taal, people, politiek en mag? Aan heersende waardes, persoonlike strewes, voorspoed en sukses? Nié altyd so herkenbaar as kerk van Jesus Christus nie.
Volgens Henry Nouwen (In the Name of Jesus: Reflections on Christian leadership) gaan dit om God se hart te ken wat in Jesus vlees en bloed geword het. En om Jesus se hart te ken en God lief te hê, is een en dieselfde ding. Uit dié hart vloei daar strome water wat lewe gee. Wanneer Christenleiers in die wêreld met dié kennis leef, bring hulle genesing, versoening, nuwe lewe en hoop orals waar hulle gaan. ’n Lewende verhouding met Christus mond uit in die dra van vrugte (Mat 21:33-46). Dit is ’n nuwe lewenswyse wat Geesgerig (dit is, op God gerig) en Geesgedrewe (dit is, deur God gestuur en gedryf) is. Dié situasie in die land se politiek en ekonomie, die heersende waardes en persoonlike strewes maak dit moeilik, maar ons laat ons nie van stryk bring nie, ons staan vas en bly aan die Here getrou (Fil 4:1). Die Heilige Gees stel jou in staat om soos Paulus in moeilike omstandighede die nuwe lewe te lewe, Christus te ken en herkenbaar kerk van Jesus Christus te wees
.
| Volgende > |
|---|




