Gebed en Spiritualiteit

AddThis Social Bookmark Button
Druk
PDF

Bid iemand ooit vir my?

Geskryf deur Quintus Heine on . Posted in Gebed - Gebed en Spiritualiteit

Soms as ek sukkel om te bid, wonder ek of daar dalk iemand anders is wat ook vandag vir my bid. Ons verseker so maklik vir ander dat ons vir mekaar bid. Dan wonder ek of almal wat so in die verbygaan vir my 'n belofte om gebed gee, dit regtig doen. Het dit nie maar ʼn spreekwyse geword om mense te troos nie. Bid ons regtig vir mekaar?

Op ʼn gereelde basis kom die boodskap van Heb. 7-9 by my op. In die gedeelte word verduidelik oor Christus en die Levitiese priesterskap. Vs. 26 en 27 “ Vir ons was so hoëpriester nodig, een wat heilig is, skuldeloos en sonder smet is, verwyder uit die midde van die sondaars, en verhoog bo die hemele, een wat nie, soos die hoëpriesters elke dag offers hoef te bring, eers vir sy eie sondes en dan vir die volk nie. Hy het immers eens en vir altyd ʼn offer vir die sondes gebring toe Hy Homself geoffer het.

Die funksie van die hoëpriester is om vir die volk by God in te tree. In Heb. kom bevestig God dat Jesus my hoëpriester is wat reeds met sy offer aan die kruis vir my permanent ʼn pad oopgemaak het na God. Jesus is my Hoëpriester wat elke dag vir my intree by God. Dit beteken: Terwyl ek in my daaglikse lewe besig is met verskillende dinge, weet ek dat Jesus besig is om vir my te bid. As ek deur die donker nag slaap is Jesus besig om vir my in te tree by God. Die Seun van God tree voordurend vir elke gelowige in by God. Daar word dus op hierdie oomblik vir my gebid! Jesus is besig om vir my te bid en Hy hou nooit op nie. Die wete maak my gebedslewe nie net meer aktief nie , maar maak my nog meer bewus van God se teenwoordigheid in my lewe. Soos ek nou hier sit en skrywe kom ek agter dat die wete dat Jesus nou vir my bid - ʼn glimlag op my mondhoeke plaas.

Dankie Here dat ek in my oorvol lewe kan weet dat U vir my bid. Dat daar iemand is wat heeltyd vir my bid ! Here help my om ook met vasberadenheid gereeld vir almal rondom my te bid.

AddThis Social Bookmark Button
Druk
PDF

Is ons gebede vir God belangrik?

Geskryf deur Quintus Heine on . Posted in Gebed - Gebed en Spiritualiteit

 

Ek het al dikwels van my knieë opgestaan en gewonder of my voorbidding werklik ʼn verskil maak. Dit gebeur soms dat ons kragtig bid vir ʼn saak of persoon en nooit weet wat die uiteinde daarvan is nie.

Openbaring 8 het my weer herinner hoe kosbaar ons gebede  in God se oë is. In die teks word vertel dat daar met die eindoordeel ʼn halfuur stilte in die hemel sal wees. Tradisioneel word daar twee verklarings vir die gedeelte gegee. Albei het met gebed te make en sluit baie nou bymekaar aan.

Die eerste verklaring van die stilte is dat dit ʼn heilige stilte is, in afwagting op die aankondiging van die oordeel van God. Dit is ʼn heilige oomblik. Dit is ʼn gebedsoomblik van eerbied en aanbidding. Dit is die tipe stilte waarna  Hab. 2:20 verwys  “Die Here is in sy heilige tempel; almal op aarde moet in sy teenwoordigheid stil wees”

Daar is ook ʼn tweede verklaring wat aanvullend gesien moet word. Die halfuur stilte is ʼn wagperiode, nie net om aan God eerbied te betoon nie, maar dis ʼn afwagting op die gebede van die gelowiges. JH Bavinck noem hierdie pouse, ‘n “element van vertraging”. Voordat die laaste oordeel voltrek word moet die gebede van die ware gelowiges eers in die hemel gehoor word.

Dit bly vir my een van die aangrypende gedeeltes oor gebed in die Bybel. Daar kom ʼn oomblik van stilte en afwagting waar die heelal wag op die gebed van gelowiges. Daar is min plekke waar die kosbaarheid van gebed so treffend beklemtoon word as juis hier in Openbaring 8.
Hier is ʼn bewys dat die gebede van God se kinders iets werd is. God se finale oordeel word eers "gepause" sodat die gebede van sy kinders  gehoor kan word. So baie keer wonder  ons of gebede werklik help. Ons wonder of dit nodig is dat ons bid. In hierdie gedeelte staan dit duidelik dat God se eindoordeel nie kan plaasvind sonder die gebede van gelowiges nie. Gebede van gelowiges is deel van God se raadsplan!

Die teksgedeelte vertel ook vir ons dat dit spesifiek gelowiges se gebed is waarop daar in Openb. 8 gewag word.
Openb. 8:3 lees “ ʼn Ander engel het toe gekom en by die altaar gaan staan met ʼn goue wierookbak. Daar is baie wierook aan hom gegee om dit saam met die gebed van al die gelowiges op die goue altaar voor die troon te offer”.
Om die teks  te verstaan is Ex. 30 en Lev. 16 relevant. Die Hoëpriester moes 2 maal elke dag kole vuur van die koperbrandofferaltaar in die voorhof neem om dit op die goue altaar in die heilige afdeling van die tempel te plaas. Terwyl die volk in gebed buite wag, het die priester twee handevol fyngemaakte wierook geneem en oor die kole vuur gestrooi sodat die geure daarvan kom opstyg. Wat sou dit beteken?

Aan die een kant was dit belangrik dat die volk en die priester se gebede gereinig moes wees, daarom moes die kole vuur van die brandofferaltaar geneem word. Dit was die altaar waarop daar vir die volk se sondes offers gebring is. Vanuit die NT gelees wys dit vorentoe na die offerhande van Jesus aan die kruis. Die gebed waaroor dit hier handel is gebed van gelowiges, wie se lewe gesuiwer is deur die offerhandeling. Gelowiges is deur die bloed van Jesus gesuiwer en nuutgemaak vanweë die offer van Jesus Christus en God se genade! So dit gaan hier spesifiek oor gelowiges, kinders van die Here se gebede. Openbaring 8 praat daarom ook van gelowiges se gebed.  Die kern is dat gebed in verhouding staan met Jesus se offer vir versoening en ons offer om ons lewe te gee! Gebed is deel van ons offer wat Jesus reeds aan die kruis gedoen het! So daar is dus stilte om te wag sodat gelowiges se gebede gehoor kan word. God wag vir sy gelowige kinders se gebede voordat hy die oordeel fel. Dit is vir my ongelooflik aangrypend.

Die teks verwys ook daarna, dat ons gebede vir die Here aangenaam is. Die wierook simboliseer dat God graag na die gebed van die gelowiges wou luister. Die aangename reuk dui daarop dat dit vir God aangenaam was om na die gebede van gelowiges te luister.

Hierdie teks is vir my ʼn wonderlike en vertroostende gedeelte. God wag op die gebede van gelowiges. Die gebed van die gelowige mens is vir God kosbaar. Ek weet hieraan mag ek nie weer twyfel nie.

AddThis Social Bookmark Button
Druk
PDF

Wat vertel jou gebedstaal oor jou verhouding met God?

Geskryf deur Quintus Heine on . Posted in Gebed - Gebed en Spiritualiteit

In ʼn onlangse artikel van Stefan Joubert praat hy oor die geloofstaal wat ons in die kerk gebruik. Hy maak die geldige punt:

– dat die tipe geloofstaal wat jy as kerkleier gebruik, iets van jou beskouing van kerk en koninkryk kommunikeer. As jou taalgebruik vol tradisionele gelade woorde is, sal jy moontlik ʼn tradisionele siening van gemeentewees hê. Die teenoorgestelde is ook waar. Hy vra daarom dat leiers ʼn koninkrykstaal moet gebruik wat getrou is aan ons daaglikse lewe voor God.


Hierdie opmerkings het my laat dink oor ons geloofstaal tydens gebed. Wat verklap die taal wat in ons gebede gebruik word, van ons siening oor God? Is dit enigsins sinvol om gebede so te ontleed en daaruit afleidings te maak of moet ons anders oor gebed oordeel?

In my soeke op die Internet het ek bitter min artikels oor die taalgebruik in gebed, geloofstaal  of gebedstaal gekry. In die algemeen word die term gebedstaal sinoniem met “spreek in tale” beskou. Op slegs een plek het ek ʼn artikel oor taalgebruik in gebed raakgeloop. Dit was by die Mormone. Hulle maak ʼn groot saak daarvoor uit dat jou gebedstaal aandui hoeveel respek jy vir God het. Jy mag God nie sommer “you” nie, maar moet Hom “Thou" en "Thee”, anders toon jy te min respek. Trouens dis vir hulle so belangrik dat hulle president persoonlik daaroor ʼn riglyn gestel het. Volgens hulle verklap jou gebedstaal of jy vir God respekteer of nie. Dit was egter vir my verblydend dat min ander skrywers enigsins oor die onderwerp geskryf het. Ook in verskeie boeke wat ek geraadpleeg het, kon ek nie die tema raakloop nie. Daar kan dalk wel elders iets daaroor staan dat ek dit mis, maar die gebrek aan die onderwerp vertel vir my dat dit vir die meerderheid Christene nie belangrik is nie.

Myns insiens moet ons in gebedterme nie praat van taalgebruik of geloofstaal nie, maar van hartetaal.

Het Jesus nie in Mat 6:7, 8 gesê: “ Wanneer julle bid, moet julle nie soos die heidene ʼn stortvloed van woorde gebruik nie. Hulle verbeel hulle, hulle sal verhoor word omdat hulle baie woorde gebruik. Moet dan nie soos hulle maak nie, want julle Vader sal weet wat julle nodig het, nog voordat julle dit van Hom vra”

In die onderig oor gebed in Mat 6 het Jesus dit duidelik gestel dat dit nie jou uiterlike woorde is wat belangrik is nie, maar jou hart! Dit wat jy in jou hart wil sê, is wat tel, nie hoe dit by jou mond uitkom nie. In Mat 15:16 verduidelik Jesus hoe dit wat in jou hart is die belangrike is. In Mat 23 spreek die Here Jesus ook die Fariseërs aan oor hulle skynheiligheid, omdat uiterlike vertoon vir hulle so belangrik is. In Luk 18 skep die Fariseër die indruk dat sy gebed vir mense se ore bedoel is en nie vir God nie. Sy skynheiligheid om iets anders voor God en mense te wees, word aangespreek. Ek dink die antwoord op die vraag: Watter taal ons in gebed moet gebruik, in ons hartsgesindheid opgesluit is. Indien gebed in opregtheid en eenvoud gedoen word, maak dit nie saak watter woorde of watter terme jy gebruik nie. Die Here hoor jou hart! Rom. 8:26 gaan self sover om te sê:” Die Gees staan ons ook in ons swakheid by: ons weet nie wat en hoe ons behoort te bid nie, maar die Gees self pleit vir ons met versugtinge wat nie met woorde gesê kan word nie” Indien die taalgebruik of tipe geloofstaal van gebed enigsins vir ons belangrik word, dan gaan dit oor mense en nie oor God nie. Indien gebed oor God gaan en dit wat in jou hart is, dan maak dit nie saak of jy tradisionele taal, charismatiese taal, gereformeerde taal of postmoderne geloofstaal gebruik nie. Dit is jou hartsgesindheid wat tel! Enige reël oor taalgebruik of  teologiese afleiding vanweë jou taalgebruik, is nie so belangrik soos jou eie hartetaal nie.

Verklap ons geloofstaal tydens gebed, ons siening oor God? Dit mag dalk so wees, maar ek is huiwerig om sulke afleidings te maak omdat gebed nie vir my ore bedoel is nie, maar vir God. As ons mekaar se gebedstaal begin ontleed is ons presies daar waar die Fariseërs was- ons oordeel op die uiterlike. Wie se teologiese woorde gaan uiteindelik die norm wees wat gebruik word om so ontleding te evalueer? Ek dink ons moet volstaan dat  jou geloofstaal (tydens gebed) ʼn saak tussen jou en die Here is! Miskien sal ons moet oefen om nie te luister na die geloofstaal wat ander tydens gebed gebruik nie, maar na die opregtheid van hart!

Daarmee gesê, dink ek wel dat ons daarom versigtig moet wees dat daar nie soms onwetend ʼn opgesmuktheid of  verhoogmentaliteit by ons gebedstaal insluip nie. Baie keer sal mense opmerk dat hulle sommige predikante en geestelike leiers deur hulle gebedstaal kan eien. Ek dink predikante en leiers moet daarop let dat hulle nie deur hulle gebedstaal of gebedstyl, vir ander mense ʼn struikelblok in hulle verhouding met die Here is nie. As jy bid moet jou stemtoon en woorde nie skielik hoogdrawend en anders wees as wat jou gebruikstaal is nie. As die Here Jesus daagliks in jou lewe is, en deel van jou lewenstyl is, sal jou gebedstaal nie verskil van jou daaglikse leefstyl nie. Jou gebed moet ʼn verlengstuk van jou lewe voor God wees. Jesus se woorde waarmee Hy tussen sy dissipels geleef het, was ook die woorde wat hy in gebed gebruik het!

Egtheid van gebed word altyd deur eenvoud gekenmerk. Eenvoud beteken gestroop van alle pretensies, opgesmuktheid en mensgemaakte formulerings. ʼn Eenvoudige gebed kom uit jou hart uit en moet daarom hartetaal praat.

 

AddThis Social Bookmark Button
Druk
PDF

Jou gebed veraai jou geloofsidentiteit.

Geskryf deur Quintus Heine on . Posted in Gebed - Gebed en Spiritualiteit

Hoe weet jy watter god iemand aanbid? In die Bybelse tyd is mense herken volgens die Naam wat hulle aanbid.

Gebed is ʼn universele saak wat in byna al die godsdienste op een of ander manier beoefen word. Mense se godsdienstige oriëntasie word herken deur die identiteit van die god waarvoor hy bid. As Christene roep ons God aan omdat ons glo Hy bestaan en luister na ons gebed. Ons identiteit is in die wêreld bekend omdat ons in die Naam van Jesus Christus bid.

In Hand 9:14 en 21 word die dissipels van Christus uitgeken aan hulle gebed in die Naam van Christus. Hulle word deur die omstanders genoem: "die mense wat hierdie Naam aanroep". Ons lees ook in 1 Kor. 2:1 dat Paulus homself identifiseer as iemand wat ook niks anders as Jesus Christus wil praat nie. Die vroeë Christene was duidelik wie hulle aanbid en in wie se krag hulle glo. Hulle is in die openbaar geïdentifiseer omdat hulle Jesus aangeroep het.

Ons geloofs-identiteit word raakgesien in ons gebede. Dit is ook die rede waaroor ek die vorige blog oor ons identiteit as gelowige weer opgeroep het. Jy sal mos nie vir God kan aanbid, as jy nie glo in die krag van Jesus nie.

Dit is dus belangrik dat ons besef tot wie ons bid en watter krag ons gebed dra. Dit openbaar ons geloofsidentiteit.
Rom. 10:14 "Maar hoe kan ʼn mens Hom aanroep as jy nie in Hom glo nie?...."

As jy weer huiwer om te bid, dink net weer hieroor, want jou gebed openbaar jou geloofsidentiteit.

AddThis Social Bookmark Button
Druk
PDF

Hoe lyk jou geestelike (spirituele) identiteit?

Geskryf deur Quintus Heine on . Posted in Gebed - Gebed en Spiritualiteit

Soms sukkel ons met  ons gebedslewe omdat ons nie regtig weet wie ons in Christus is nie . Dit is dus goed om die hele wete dat ons aan Christus behoort te herbesoek.

Ons identiteit kan niemand van ons wegneem nie. Omstandighede kan dit nie vervreem nie, so ook nie ons dwalinge nie. Ons is wat ons is in Christus. Ons identiteit gee ons verymoedigheid om te bid . Dit help ons om die Here op te soek in die dae wat ons nie goed voel oor ons geloof nie.   Ons geestelike identiteit bestaan onder andere uit die volgende:

1. Ons is nuwe mense in Christus

Dit is goed om van tyd tot tyd vir mekaar te herinner dat ons nuwe mense is en dat die ou dinge verby is (2 Kor 5:17). Ons kan so maklik vaskyk teen die wêreld waarin ons leef, die wêreld wat ons so graag wil annekseer. Die wêreld wil hê ons moet wêrelds wees - bekommerd ; gierig ; bang ; vrees en onderduims. Indien ons so leef, ontken ons wie ons eintlik in Christus is! Dan tree ons teen die wese van ons nuwe vryheid op. Christus het ons vry en nuutgemaak van al die wêreldse dinge wat ons vasbind. Dit is ons identiteit. Ons moet ons vryheid elke dag omarm en geniet! Dis wie ons is!

2. Ons is beeld van God .

Wat ons soms vergeet as oor ons identiteit nadink, is dat God ons herskep het na sy beeld. Dit is deel van ons DNA samestelling. Die mens se mees onderskeidende kenmerk is geleë in die feit dat hy na God se beeld geskape is. Die mens se geneigdheid om lief te hê het hy by God gekry. Alhoewel die mens daarna in sonde geval het, is die beeld van God slegs beskadig en nie vernietig nie. Jesus Christus het hierdie beeld weer kom herstel. Die feit dat die mens na God se beeld en na sy gelykenis geskape is, dui daarop dat die mens as God se verteenwoordiger aangestel is. Die herskepte mens in Christus is iemand met ’n uitsonderlike identiteit met regte en verantwoordelikhede. As Christen moet jy elke dag weet jy is verteenwoordiger van God op aarde . Jy moet met verantwoordelikheid en as ware ambassadeur optree in die moeilike tye waarin ons leef. Dit beteken jy moet liefhê- (waar die wêreld haat); jy moet glo, (waar die wêreld wanhoop); jy moet die goeie raaksien,( waar die wêreld na die negatiewe kyk). Jy moet lyk soos Jesus en nie soos die wêreld nie!

3. God is lief vir ons

God het jou lief!! In ons nadenke oor ons identiteit vergeet ons soms die basiese. As ons maar net elke dag weet dat God ons liefhet, sal ons ’n nederige ingesteldheid met die aanbreek van elke nuwe dag openbaar. Onthou dat God jou geskape het wie en wat jy is. Hy is lief vir jou! As jy dus na jouself kyk, moet jy nie deur die wêreld of jou eie gebrekkige oë kyk nie. Weet dat jy kosbaar is in God se oë- met al jou kenmerke en gawes. Moet nooit dat ander jou wysmaak dat jy gewoon en ontoereikend is nie. God kyk met liefde en teerheid na jou.

4. Ons is deel van ander gelowiges (mekaar)

Die leuen wat Satan aan ons opdis is, dat elkeen maar vir homself moet sorg en altyd kyk wat jy by ander kan kry. Wêreldse liefde lê gesetel in die “ek” . Wat kan “ek” by my optrede baat! Die identiteit van Christene is juis die van naasteliefde. Hoe kan ek my naaste dien en wat is tot sy /haar se voordeel. Ons moet met  onvoorwaardelike liefde optree . Ons identiteit hang ten nouste saam hoe ons teenoor ander optree.

Dit is egter ook ons saamleef met ander gelowiges wat vir ons identiteit belangrik is. God het ons nie gemaak om elkeen Hom op ons eie te dien nie. As gelowiges het ons mekaar se menswees en omgee nodig. Daarom mag ons nie hande los nie.

5. Ons is gemaak om God te eer!

Die wêreld is op hulself gerig, maar die Christen is daar vir God. Ons is gemaak vir Hom! Die kernbesigheid van gelowiges moet dus om God draai, om sy eer, lof en aanbidding. Ons begin, ons voortsetting en ons voleinding is in die naam van die Drie-enige God – Vader, Seun en Heilige Gees!

6. Ons doel is buite onsself!

Ons is nie gemaak om onsself jammer te kry en die heeltyd na binne te kyk nie . Ons is gemaak om 'n verskil te maak in ander en die wêreld !

Openb. 4:8 “ Heilig heilig, heilig is die Here God, die Almagtige, Hy wat was en wat is en wat kom.”

Weet , Glo en Leef die identiteit wat ons in Christus ontvang het.

Mag jy elke dag jou geestelike identiteit leef!!!


Quintus Heine

AddThis Social Bookmark Button

Alle kommentaar